Bron: Kompas. 4 bladsye.

Gelowige wetenskaplike

– Op God gerigte Wetenskap🔗

Met ʼn reformatoriese lewens- en wêreldbeskouing moet ons die wetenskap as deel van ons kultuuropdrag beoefen. Daar is pragtige navorsingstrukture waarbinne ʼn gelowige wetenskaplike sy talente op God gerig kan uitleef. As wetenskaplike moet ek myself, net soos in enige ander struktuur, ook afvra of ek besig is binne die regte struktuur en of ek besig is met op God gerigte wetenskap. ʼn Gelowige wetenskaplike gaan bv. nie by die Hadron-versneller in Switserland aansoek doen vir werk nie, omdat dit God glad nie erken as Skepper nie. Dit is ʼn struktuur waarbinne hulle navorsing doen wat ʼn groot bydrae lewer tot die fisika, ook ʼn veld waarbinne gelowiges hulself kan uitleef in die regte rigting en nie in ʼn verkeerde tipe wetenskapsbeoefening verval nie (rigting). Afgesien van waarskynlik heelwat positiewe “neweprodukte”, die beter verstaan van prosesse, is die hoofdoel nie om God daarmee te verheerlik nie. By deeltjiefisika gaan dit hoofsaaklik om die verstaan van die heelal. Wat gee byvoorbeeld massa aan deeltjies en wat het alles laat ontstaan? “To uncover the deepest mysteries of the universe” (Amir D Aczel, 2010:xvi).

Dieselfde geld vir die SKA wat nou naby Carnavon opgerig gaan word. Moet ek as omgewingswetenskaplike wat besig is met omgewingstudies vir nuwe projekte, vir hulle die studie doen sodat hulle die goedkeuring kan kry om met die bouwerk voort te gaan?

Alles moet vanuit die Skrif belig word. As gevolg van die sondeval is dit uiters moeilik, omdat ons self sukkel om die Skrif duidelik te verstaan. Ons moet onsself altyd weer afvra wat wil God, hoe openbaar God Homself aan ons in Sy Woord, en in gedagte hou hoe Christus die lewe weer nuut gemaak het.

Die stryd duur voort. Dit is om reformatories besig te wees.

Ons mag dus nie toelaat dat die wetenskap voorskryf hoe die Woord van God verstaan moet word nie. Dit sou nogal arrogant wees om met die huidige vlak van kennis – en ons het gesien hoe min dit is – te beweer dat ons nou alles weet en dat alles werklik ontstaan deur middel van die “big bang”. Daar is dus geen rede waarom ons hoef te twyfel aan Genesis 1 soos wat dit gewoon daar staan nie. Dit bots nie met my wetenskapsbeoefening nie, solank ek besig is met op God gerigte wetenskap. Mag ek dan nie by die universiteit werk omdat hulle daartoe neig en soms ook doelbewus die struktuur en rigting anti-God verander nie? As gelowige wetenskaplike moet ek daar waar die struktuur verwring en die rigting verander word, juis die stryd aanknoop om die magte van chaos teen te staan. Dit mag selfs sover gaan dat dit nodig is om ʼn nuwe op God gerigte reformatoriese universiteite stig. Dit was so met die PU vir CHO. Die kerk van die Reformasie het die terrein van die natuur, van die gewone en die alledaagse lewe, weer onder Christus se regering gebring. Verder: Religie en die rede staan nie langs mekaar nie, maar ons geloof bepaal die wetenskap in die lyn van Calvyn, Kuyper, Schilder, ens. (Ad Vlot, 2002:128). Dit beteken dat die Bybel, Gods Woord, bo-oor alle wetenskappe staan, selfs ook oor die wetenskap van die teologie!!

Daarby kom dan verder dat die mens selfs ook met nuttelose wetenskap besig kan wees. Hoe word God gedien deur te probeer bewys, deur bv. die Hadron-versneller of die SKA, dat God nie bestaan nie? Alhoewel beide wetenskaplike strukture besig is met onder andere hoofsaaklik die fisika, gaan dit tog daarvan uit dat daar gekyk word na die evolusie van die heelal. Die skrywer van die boek Present At The Creation, Amer D Aczel, oor Cern en die Hadron-versneller, skryf dat die ontdekking van die sogenaamde “Higgs Boson” ʼn belangrike skakel is in die verstaan van 90% van die heelal wat nou as donker materiaal beskou word. Net na die “big bang” het die heelal geweldig vinnig uitgedy, waarna dit verder teen ʼn baie stadiger pas voortgegaan het (Amir D Aczel, 2010:34). Let ook op die titel: Present at THE creation – dit wil dus sê dat die skepping voor jou besig was om te gebeur vanuit die natuur.

Daar mag selfs nie eers ʼn kompromie gesluit word oor die gesag van God se Woord en die wetenskap nie. Die sogenaamde teïstiese benadering is ʼn kompromie wat, soos in vorige artikels aangetoon is, op niks uitloop nie. Ons moet ons besig hou met mikro-wetenskap (navorsing oor hoe alles werk en daaruit sien) en nie met makro-wetenskap, wat hoofsaaklik fokus op die ontstaan van alle dinge, nie. Laasgenoemde is, om met Calvyn te spreek, nuttelose wetenskap, omdat dit nie op God gerig is nie.

Genesis🔗

As ons regtig eerlik na Genesis 1 wil kyk teen die agtergrond van SSHV en in die wete dat ons werklik skepsele is wat nie net in die sonde vasgevang is nie, maar ook nie in ander dimensies kan dink nie, dan bekyk ons dit werklik positief. Dit, saam met die regte manier om met die Skrif om te gaan, sal ons geloof en verwondering sterk laat toeneem. In ʼn vorige artikel is verwys na die konsep van ruimtetyd wat ene Van Loon na aanleiding van Einstein se relatiwiteitsteorie bespreek het. God staan buite die tyd, wat ons totaal nie kan bevat of verstaan nie, omdat Hy alles en selfs tyd geskep het. Dit beskryf iets heelwat groter as wat ons verstand enigsins kan bevat. Gelyktydige ewigheid is een van die begrippe wat Van Loon hanteer. (Radix 35, 2009:27)

ʼn Gelowige wetenskaplike is myns insiens ʼn beter wetenskaplike, omdat hy sy beperkings besef en voortdurend besig is om struktuur en rigting in sy werk te reformeer. Hy word dus nie vasgevang in anti-Goddelike teorieë nie en aanvaar Genesis omdat God so sê. Hy, in sy Goddelike alwetendheid, hou alles in stand en moet op sy Woord geneem word; ons moet ons nie verlaat op die woord wat sondige beperkte anti-Goddelike mense sê nie.

Net so moet ons ook uiters versigtig wees met die sogenaamde kreasionistiese benadering wat wel alles vanuit die Woord wil verklaar. Dit is ʼn metode wat eintlik nie die werklike vyand aanspreek nie, maar soms deur vreemde konstruksies die Bybel laat spreek met ʼn gedeelte wat nie daarvoor bedoel is nie. Dit gaan ook maar oor teorieë. Byvoorbeeld dat die sondvloed die aarde se as laat kantel het en wat die pole tot gevolg gehad het (Rehwinkel 1988:26-27). Kreasioniste wil alles probeer inpas deur alles in die Bybel letterlik te neem, en hulle hef die lang tydsverloop van die evolusionis op deur alles toe te skryf aan katastrofes soos die sondvloed. Dus is hierdie denke weg van die uniforme tydsverloopgedagte wat die evolusionis en teïsties evolusionis wil bly behou. Daar is wel die teorie van Alan Guth – “the theory of the expanding universe” – wat stel dat daar direk na die “big bang” ʼn geweldige vinnige proses plaasgevind het en dat die sterrestelsel uiters vinnig gevorm het, waarna die snelheid afgeneem het tot wat ons vandag waarneem. Dit geld net vir die heelal se skielike vergroting, die res van die evolusieproses het teen ʼn gewone stadige tempo plaasgevind, anders sou daar nie genoeg tyd kon verloop vir al die mutasies nie – van eensellige organismes tot die mens. Die een “akkommodeer” die Bybel aan die wetenskap deur die tydsverloop aan te pas (katastrofes) en die ander “akkommodeer” die Bybel aan die wetenskap deur die Bybel anders te interpreteer om so voorsiening te maak vir lang periodes van miljarde jare. Beide forseer huidige kennis en begrip in die uitleg van die Bybel. Volgens MacArthur het naturalisme die Christendom as die grootste godsdiens in die Westerse wêreld vervang (2001:11). Daar kan egter wel gestel word dat die sogenaamde Kreasioniste deeglik aantoon dat daar alternatiewe bestaan vir ontwikkeling, veral ten opsigte van die tydsverloop wat nodig mag wees vir die ontstaan van sekere verskynsels. Die herstel van die omgewing van St Helend het, soos HD Mouton dit beskryf, “... dramaties gedemonstreer hoe groot ravyne soos die Grand Canyon vinnig … kon gevorm het”, en dus nie oor miljoene jare nie (Mouton 2007:140).

Die uitbreiding van die heelal en die teorieë daaroor, wat die “big bang” insluit, word netjies bespreek en alternatiewe aangebied (Sarfatti, J, 2004:147 e.v.). Hierdie werk is hoofsaaklik geskryf teen die populêre geskrifte en praatjies van die Kanadese sterrekundige Hugh Ross, wat glo in stadige prosesse en wat op hierdie wyse die Bybel wil laat aanpas by die huidige kennis en uitgangspunte van die wetenskap. Let wel, huidige uitgangspunte!!

Spiritualiteit🔗

Nog ʼn benadering is ʼn uitvloeisel van die denke dat daar wel iets moet wees wat rigting sou gegee het aan evolusie. Dit word nie God genoem nie, maar spiritualisme. Dit word goed omskryf in die boek War of the Worldviews. Hierin word twee duidelike standpunte verdedig: ene Chopra wat beweer dat daar in alles ʼn gees is wat rigting gee, en dan Mlodinow wat beweer dat daar niks is wat nie deur die natuur ontstaan het nie. Chopra beweer dat, as ons mooi wil luister deur middel van byvoorbeeld meditering, ons wel een kan word met hierdie gees wat in alles teenwoordig is. Vir die sogenaamde tradisionele Godsdiens is daar uiteraard geen plek nie. “Die groot kwessie is om weg te beweeg van God as ʼn eksterne krag na ʼn god van innerlike ondervinding, van Godsdiens na spiritualiteit”, en dan die opmerking: “Jy en ek sal bepaal of God ʼn werklike toekoms het” (Chopra: 2011:260). Hierdie denke is redelik algemeen en dit sluit aan by die Oosterse gelowe. Chopra, so blyk aan die einde van die boek, was ʼn Boeddhis.

Opsommend:🔗

  • Genesis 1 is deel van God se Woord en ons moet deur middel van ernstige studie en besinning deur sy Woord gelei word om die verwronge strukture en die verkeerde rigting uit te ken en deur sy krag hierteen positiewe wetenskap beoefen;
  • Dit is ons kultuuropdrag om besig te wees met op God gerigte arbeid in sy Koninkryk tot eer en verheerliking van sy Naam;
  • Die lyn: skepping – sondeval – verlossing – herskepping, gee vir ons die heilshistoriese lyn op grond waarvan ons optrede (kultuuropdrag) gesien moet word;
  • Die sondeval het die mens se posisie ten opsigte van God en die skepping dramaties verander met kosmiese gevolge;
  • Die mens se gevalle staat het tot gevolg dat ons alles met verkeerde motiewe aanpak, tensy ons deur Christus se verlossing ons rigting en motiewe suiwer, sodat ons deur sy Gees werklik op God gerig optree;
  • God se Woord is suiwer en ten volle, dit is die mens wat dit nie kan verstaan en korrek toepas nie;
  • Daar is ʼn stryd tussen lig en duisternis, orde en wanorde, en ons is soldate as gelowiges in die stryd hier op aarde;
  • Die mens se verstaan van die natuur, ander dimensies, ens. word gerig deur ʼn besondere lewens- en wêreldbeskouing wat ons, in die lyn van Bavinck, Dooyeweerd, Vollenhoven en Schilder, die reformatoriese lewens- en wêreldbeskouing noem;
  • Dat ons in die lyn van die reformasie ons kultuuropdrag as wetenskaplikes uitvoer met die nodige nederige beskeidenheid wat pas in die lyn wat God die Vader erken as Skepper en Onderhouer van alles wat daar is;
  • Dat sy Woord die hoogste gesag is en dat alle wetenskappe, wat sondige menslike aktiwiteite is, aan sy Woord gemeet word en nie andersom nie;
  • Dat ons Genesis 1 moet aanvaar as letterlike gebeure, net soos wat ons aanvaar dat Christus op water kon loop, sy maagdelike geboorte, en vele ander voorbeelde. As ons dit nie nou vanuit die wetenskap kan verklaar nie, is dit ʼn teken van ons sonde en beperktheid. Alle strukture, waaronder die wetenskap ressorteer, moet aan die Bybel getoets word.

Bronnelys:🔗

  1. Aczel, AD. Present At The Creation. Crown publishers, New York, 2010.
  2. Chopra, D en Mlodinow, L. War of the Worldviews. Harmony Books, USA, 2011.
  3. Calvyn, J. Institusie, boek 1, hoofstuk 15, paragraaf 4 – vertaling Sizoo.
  4. Geertsema, S. Gods scheppend handelen en natuurwetenschap. In: Radix, Kwartaalblad Gereformeerd Wetenschaplijke Genootschap, 35, 2009.
  5. MacArthur, J. The Battle for the Beginning, Creation, Evolution and the Bible. 2001.
  6. Mouton, H. Skepping en Evolusie, onversoenbaar. Mills Litho, 2007.
  7. Rehwinkel, AM. De Zondvloed. 1988: 8 ste druk.
  8. Sarfatti, J. Refuting compromise. Master books, USA, 2004.
  9. Stoker, H. Oorsprong en Rigting. Tafelberg Uitgewers, 1967.
  10. Van der Walt, BJ. The eye is the lamp of the body. Worldviews and their impact. Printing Things, Potchefstroom, 2008.
  11. Van der Walt, BJ. Visie op die werklikheid. 1986.
  12. Vlot, A. Tijd voor de ewigheid. 2002.
  13. Wolters, AM. Creation Regained, Biblical Basics for a Reformational World View. Eerdmans Publishing, 2005 (2nd ed).
  14. Zeger, W. God of Darwin, Kan wetenschap om de Bijbel heen? Geen datum, Uitgeverij Ipenburg, Westerwalstraat 8, 8081 CZ Elburg. (Erien@ipenburg.net)