Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Gemeentebou en Verandering

Hoe gaan ’n gemeente op trek?🔗

Die Heilige Gees praat in die Bybel baie positief oor die kerk van die Here. Die mooiste metafore word vir die kerk en haar roeping gebruik: bruid van Christus, liggaam van Christus, skape van die groot Herder, Christus die wingerdstok, die kerk die lote. Dit is maar ’n paar voorbeelde. Paulus skryf hierdie aangrypende liefdesverklaring vir die gemeente wat dit vir hom telkens baie moeilik gemaak het (2 Kor 11:2): “Ek waak oor julle met ’n ywer wat van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid wat ek vlekkeloos na Hom toe wil bring. Die man is Christus.”

Gemeentes is op die trekpad🔗

Jesus bid sy groot Hoëpriesterlike gebed van Johannes 17. Wat opval in die gebed, is dat daar telkens sprake is van “stuur”. Die Vader stuur sy Seun in die wêreld en die Seun stuur sy dissipels as apostels (gestuurdes), en almal wat in Jesus sal glo, word gestuur. Hoe moet ons dit verstaan? Paulus help ons as hy verkondig: ons het saam met Christus gesterf, ons het saam met Hom opgestaan, saam met Hom opgevaar en ons lewe word by Hom vir ons gebêre. Ons het in beginsel reeds ons bestemming bereik, maar word nou gestuur om vir ’n tyd ons roeping op aarde te kom doen en dan weer terug na ons eintlike woning te gaan. As gestuurdes is die kerk op die trekpad, is elke gemeente op die trekpad en eintlik op so ’n manier dat ons geestelik in tente bly totdat ons by ons vaste blyplek uitkom.

Die trekpad bly nie dieselfde nie. Gemeentes verander. ’n Gemeente wat 100 jaar oud is, het nou totaal ander lidmate as by die stigting daarvan. Hulle trek anders aan, hulle taal het gegroei, in bedieningspatroon vind soms groot en ook kleiner veranderings plaas. Daar vind ontvolking van die platteland plaas en sterk gemeentes kwyn. Middestadsgemeentes verdwyn soms en sommige voorstedelike gemeentes groei vinnig. Die omgewing verander. Daar het drastiese politieke, sosiale en ekonomiese verandering in die samelewing, waarin kerklidmate lewe, plaasgevind.

Negatiewe aspekte rondom verandering🔗

Verandering is iets wat gebeur. Die Here bestuur die wêreld en ons glo vas Hy is in beheer. Onder sy beheer verander baie dinge. Maar daar is ook sondige veranderinge. Ons mense kan verander deur sondige gewoontes aan te leer. Die omgewing kan verander as gevolg van korrupsie en misdaad. Gemeentes kan, sonder om ernstig te dink, in een of ander aspek van kerkwees bloot die modes van ander navolg. Gemeentes kan sonder begronding eksperimenteer in liturgiese handelinge. ’n Gemeente kan ’n bedieningspatroon sonder Bybelse toetsing oorneem “omdat dit op ander plekke gewerk het”. Die mode om te verander ter wille van verandering kan ’n bedieningstyl word, met die motivering dat lidmate so behou of nuwe lidmate so bygevoeg kan word. Die verkeerde hantering van verandering kan dus ’n gemeente skade aandoen en nie opbou nie.

Positiewe aspekte rondom verandering🔗

Ons kerke se naam spel die balans uit wat daar in verandering behoort te wees. Ons is gereformeerde kerke, en daarom kerke wat vasstaan in die seker belydenis volgens die Woord van God. Ons is ook reformerende kerke wat voortdurend reformeer, omdat ons nooit by ’n punt sal kom waar ons so volmaak is dat ons nie meer hoef te verander nie. Belangrike aktiwiteite wat in die harte van lidmate behoort plaas te vind (en lidmate is immers die gemeente), is bekering, meer en meer verander word na die beeld van Christus sodat ons meer en meer sy heerlikheid kan uitstraal. Ons weet dat daar ’n geheimenisvolle saamgaan is van God wat ons verander en ons roeping om te verander: Laat God julle verander (’n opdrag) deur julle denke te vernuwe. Persoonlike verandering kom wanneer ons groter dink van God, van sy heerlike werk in ons, wanneer ons anders dink oor die doel van ons aardse bestaan.

’n Gemeente moet ook verander om die evangelie kragtig te kan toepas in die bepaalde omstandighede waarin God die gemeente geplaas het. Daarom moet ’n gemeente telkens die vraag vra: Waarom het die Here ons juis op hierdie tydstip op hierdie bepaalde plek ge­plaas? Die gemeente moet ook selfondersoekend vra: Wat ontbreek nog in ons geloofskennis en die uitlewing van ons geloof? Hoe moet die gemeente in hierdie opsig verander?

Geleenthede in ’n fase van verandering🔗

Gelowiges in byna elke gemeente in Suid-Afrika beleef ingrypende veranderings. Hulle word blootgestel aan veranderende maniere van denke. Wat altyd seker was, soos byvoorbeeld werk vir goedopgeleide jongmense, is nou onseker. Die regeringsverandering van 22 jaar gelede het nog steeds ’n uitwerking op byna alle lidmate van gemeentes.

Die onstuimige landsomstandighede dui nog steeds op vinnig veranderende oorgangsjare. En juis hierdie fase van drastiese verandering bied geleenthede aan gemeentes. Net enkele dekades gelede het Afrikaanse kerke ’n voorspoedfase beleef, waarin sterk bande tussen lidmate binne gemeentes en gemeentes onderling bestaan het, ’n fase van bondgenootskap. Alles was goed gestruktureer en almal het goed gevoel oor hulleself en hulle gemeente en die kerk in die algemeen. Toe kom die onstuimigheid, ’n fase van onsekerheid en oorgange. Die vorige fase se patrone verander, denke, emosies en ervarings word geskud deur omstandighede wat drasties verander.

Hoe gaan ’n gemeente op trek in hierdie bepaalde fase? Sommiges trek dadelik laer, selfs gemeentes trek hulle terug in die veilige geslote bekende manier van doen. “Alles verander, die gemeente moenie nou ook verander nie!” Ander ry die golf van verandering so erg dat selfs blywende beginsels in die slag bly. Sonder besinning word met sogenaamde nuwighede geëksperimenteer. Niemand sal egter kan stry dat gemeentes in ’n krisis gekom het nie. En uit ervaring weet gelowiges dat ’n krisis, groei kan beteken.

Eenvoudig gestel ruk ’n krisis aan ’n gelowige en aan ’n gemeente soms so erg dat ’n donker tyd toesak. Dink maar aan iemand wie se lewensmaat sterf, of ’n kind wat permanente beserings opdoen. In die krisis van ’n gelowige is daar veral twee wonderlike belewenisse: die Here se kragtige werk in ’n stukkende mens en die konkrete liefde en ondersteuning van medegelowiges. Na so ’n fase bestaan die moontlikheid sterk dat so ’n persoon en gemeente sterker is as wat hy/sy in die veilige bondgenootskapsfase was en nou in ’n innige gemeenskapsfase leef, met God en met die naaste.

Herbesinning en beplanning nodig🔗

Gemeentes kry die geleentheid om in die krisisfase selfondersoek te doen. Dit beteken dat elke gemeente weer opnuut haar identiteit in Christus kan ontdek en geniet. In gelowiges se plek het Christus die wet vervul, die pad na die regstreekse gemeenskap met God oopge­maak, die gemeente bekragtig met die Heilige Gees, met dieselfde kragtige werking waarmee Christus uit die dood opgewek is, in die selfondersoek verdwyn negatiewe gedagtes oor die gemeente en ’n opgewondenheid breek deur. In die krisisfase behoort die gemeente toe te spits daarop om innige gemeenskap met God deur Christus te hê.

Alle vorme van Woordbediening en gebede behoort hierop toegespits te word. Die identiteit van die gemeente behoort deur die oë van die buitekerklike so beleef te word dat hy/sy getuig: God is waarlik by julle en daarom wil ek ook daar wees. Kliniese, lesingagtige prediking maak plek vir die inbring van gelowiges deur die prediking, gebede en die lied in die heilige teenwoordigheid van ’n liefdevolle en regverdige Vader.

Die gemeentebou in die krisisfase behoort ook toe te spits om gawes, geleenthede en energie uit te wys aan lidmate sodat hulle aan mekaar die liefde van Christus konkreet deur kan gee. Want Christus stel die norm van liefde vir Hom só dat wanneer stukkende mense besoek, getroos, versorg word en aan hulle nuwe perspektief vir die lewe gegee word, dan is dit so goed asof die gemeente dit aan Hom doen.

In drasties veranderende tye is die roeping van die kerk juis nie om soos ’n skilpad wat skrik in haar dop te kruip nie. Dit is nie wat die naam “Dopper” beteken nie. Die roeping is juis om uit te gaan en die skatte van die gereformeerde waarheid en die gereformeerde praktiese liefde aan ander deur te gee. Wanneer in krisistye laer getrek word, dan is die uitwerking daarvan dikwels dat daar in die laer onderling getwis word. Dit is helende medisyne om die lewewekkende evangelie aan ander met woorde en dade deur te gee, want dan spoel die krag van die helende en sui­werende evangelie self deur die gemeente

Toespitsing in gemeentebou in tye van verandering🔗

Drie eenvoudige fokuspunte kan die gemeente help om in ’n eie omgewing met ’n eie lewenskonteks vir gemeentebou te beplan:

  • om te groei in ’n dieper verhouding met God,
  • in ’n dieper verhouding met mekaar,
  • en in ’n opgewondenheid om aan elkeen wat die Here op die pad van die gemeente (dus elke lidmaat) bring, die evangelie te praat en te doen.

Dan is die gemeente op trek met die verwagting dat sy op die trekpad kan doen waarvoor sy in hierdie tyd gestuur is.