2 bladsye. Vertaal deur  Nic Coetzee.

Genesis 3:15 - Kan Slange Praat?

Met die moontlike uitsondering van Johannes 3:16 is daar geen versie in die Bybel wat meer beslissend en bepalend is nie as Genesis 3:15: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt”. Soos Alec Motyer skryf: “Die hele Skrif  word nie vervat in elke skrifwoord nie, maar ons kan geredelik verwag dat elke heilige skrifwoord regmaak en plek maak vir die geheel. Dit is wat in Genesis 3:15 gebeur” (Look to the Rock, IVP, p. 34). Verskeie belangrike sake kom gelyktydig na vore:

Eerstens vestig dit ʼn beginsel wat dwarsdeur die Ou Testament gesien kan word; dit skep ʼn verwagting van ʼn Verlosser wat ʼn afstammeling (“saad”) van Adam en Eva sal wees.  Eva het dus, voortydig en heeltemal verkeerd, gedink dat haar eersgeborene, Kain, die vervulling hiervan is (Gen. 4:1). Net so, in ʼn doelbewuste herhaling van hierdie denke, het God se verbond met die voorvader Abraham ʼn deurlopende klank van die “saad” (Gen. 12:7; 13:15–16; 15:3,13,18; 17:7–10,12,19; 21:12; 22:17–18; ensovoorts). Niemand wat die Bybel lees kan die verbindingslyne miskyk nie: God doen iets in Israel waarvan die oorsprong  lê in ʼn belofte wat in Eden gegee is. Toe Maria ontdek dat sy swanger is, het Gabriël aan haar oor haar toekomstige seun gesê: “Hy sal groot wees” (Luk. 1:32), wat klink soos ʼn frase wat reeds teenoor Abraham en Dawid geuiter is (Gen. 12:2; 2 Sam. 7:9). Die “Hy” is natuurlik Jesus. Die Latynse Vulgaat skryf dit as “sy”, en impliseer daardeur dat dit verwys na Maria, maar hierdie was ʼn eksegese ter wille van dogma. Dit is nie die vrou wat oorwin nie, maar haar saad.

Tweedens vestig dit die parameters waardeur God sy volk sal verlos van hul sonde. Van die vroegste tye af is Genesis 3:15 die proto-evangelie genoem, want dit was die eerste teken van God se verlossende voorneme wat volg op die sondeval in die tuin van Eden. Toe Adam en Eva die terme van die werksverbond oortree het (Gen. 3:6), het God hulle nie vernietig nie (wat regverdig sou wees) maar eerder sy genadeverbond, waarin Hy aan hulle ʼn Verlosser beloof,  aan hulle bekend gestel (Gen. 3:15), iemand wat die koninkryk, wat so pas vernietig is, sal herstel. God se genade kom egter met ʼn prys: Die Verlosser sal in die hakskeen gebyt word. Dit is duidelik ʼn metafoor wat in hierdie konteks  in verband gebring word met die slag wat die slang ontvang (sy kop sal vermorsel word), maar dit is dadelik duidelik wat dit behels – die vergieting van plaasvervangende bloed. Dit is waarskynlik die rede waarom dierevel-klere voorsien is om Adam en Eva te bedek (Gen. 3:21). Bloed moet gestort word om ʼn sonde te vergewe, iets wat verklaar hoekom Abel se offerande (die eersgeborenes van sy kudde) aanvaar is maar Kain s’n (opbrengste uit die grond) nie (Gen. 4:3-5). Die pad is nou duidelik: “sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie” (Heb. 9:22)

Derdens gee hierdie versie ʼn kosmiese verklaring van die wanorde in die wêreld: Satan is aan die werk. Dit is waar dat Satan nie hier genoem word nie, maar slegs ʼn slang. Adam en Eva is verantwoordelik vir hul dade en word ooreenkomstig gestraf, maar hul handelinge is onlosmaakbaar vervleg met die slang se bose aard. Sonde kan nie net verklaar word deur “vrye wil” nie. Die slang is deel van dit “wat deur Here God gemaak is” (Gen. 3:1), maar hy is nie meer in die toestand soos God hom gemaak het nie. Genesis trek ʼn sluier oor die oorsprong en aard van hierdie rebellie (sonde het bestaan voor die sondeval in Eden) en dit word slegs gedeeltelik elders ontsluier (1 Kron. 21:1; Job. 1-2; Sag. 3:1-2; en in besonder 2 Pet. 2:4; Juda 6). Eva se sonde was nie iets binne haarself nie; dit lyk asof Gen. 3:1 sê dat dit van buite gekom het. Het die slang werklik gepraat? Hoekom nie? Maar kyk hoe hy in die Bybel groei tot hy die vuurrooi draak is van Openbaringe 12. Die slang is ʼn moordenaar en ʼn leuenaar (Joh. 8:44), en ook ʼn verleier (2 Kor. 11:14; Ef. 6:11).

Vierdens, die beginsel van die oorwinning van die koninkryk van God oor die koninkryk van die donkerte is van die begin af gevestig. Jesus sê ook by Sesarea-Filippi dat “die magte van die doderyk” onverskrokke teen die kerk van Christus gekant is, maar verseker sy dissipels dat die kerk sal oorwin (Mat. 16:18). Die verlossingswerk vind plaas in ʼn gebied wat beset word deur dodelike en onvermoeide teenstand deur Satan en sy onderdane. Die vyandigheid is van ondenkbare gemeenheid en wreedheid, en dit stel ons in gevaar as ons dit ignoreer. Die verhaal van verlossing is nie ʼn naelbytery tot die einde toe nie, ʼn verhaal waarvan die uitkoms onseker is tot op die laaste bladsy nie. Die presiese aard van die slang se uiteinde in die poel van vuur en swawel word nie openbaar gemaak voor die einde nie (Openb. 20:10), maar sy ondergang staan van die begin af vas. Christelike dissipelskap moet uitgewerk word binne die raamwerk van van ʼn sekere oorwinning eerder as ʼn verwagting van ʼn nederlaag. Ons moet toegerus en reg wees vir ʼn veldslag, maar met die sekerheid dat die beslissende geveg met die vyand reeds plaasgevind het en dat die vyand reeds oorwin is.