Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

"Gereformeerd" en "Evangelies"

Die prediking van die Reformasie kan met reg as “evangelies” getipeer word. Luther het homself ook “evangelies” genoem. Hiermee word bedoel dat die kerke van die Reformasie teruggekeer het na die Skrif en die suiwere apostoliese prediking. ‘n Mens sou dus “gereformeerd” en “evangelies” as sinonieme kon beskou.

Gedurende die eeue ná die Reformasie is hierdie saak egter geproblematiseer deur ʼn verskeidenheid faktore. Tewens, reeds gedurende die 16de eeu het kontra-reformatoriese groepe soos die wederdopers ook hulself “evangelies” genoem. Gedurende die 17de eeu sien ʼn mens in die Nederlandse Arminianisme dieselfde neiging. Die Arminianisme het egter sy wortels in die vyfde eeuse Pelagianisme en latere Semi-Pelagianisme wat die mens se redding toeskryf aan sy vrye wilskeuse. Hiervolgens word die mens gered deur met God saam te werk: God doen Sy deel en die mens syne. Dit is interessant om te let op die verbindingslyn tussen die Arminianisme en die 18de eeuse Amerikaanse opwekkingsbewegings en die Engelse Metodisme. John Wesley was immers ʼn uitgesproke Arminiaan. Die Metodisme het sy pad na Amerika gevind en gestalte gevind in die herlewingsteologie en opwekkingsbewegings. In dit alles staan die vrome individu - en sy ervaring van die heil - sentraal. Hierdie ingewikkelde kerkhistoriese ontwikkeling is gaandeweg getipeer as “evangelies” en kan nie verbind word aan ‘n spesifieke kerk nie. Dit moet eerder gesien word as ʼn teologiese denkmodel wat steeds invloed het in verskeie kerke – ook in kerke van gereformeerde belydenis. Die invloed is so subtiel dat die “evangeliese teologie” soms verkeerdelik aangesien word vir trou aan die gereformeerde belydenis. Hierdie verwarring spruit sekerlik voort uit onbedoelde onkunde. Die bedoeling van hierdie artikel is om ʼn paar van die wesenlike verskille tussen die “evangeliese rigting” en die gereformeerde belydenis (wat met die Skrif ooreenstem) aan te dui. Om dit makliker te maak word die tipiese verskille langs mekaar geplaas:

1. Die individu se lewe met die Here begin by die Here se keuse vir hom/haar.

 

1. Die individu se lewe met die Here begin by sy keuse vir die Here.

2. Agter die mens se geloofskeuse lê God se keuse vir hom/haar.

2. Agter die mens se geloofskeuse lê die mens se eie vrye wil om te kies.

3.Die gelowige lewe vanuit die Here se vrye
genade.

3.Die gelowige lewe vanuit eie vroomheid.

4.Nie die gelowige staan sentraal nie, maar die belowende God met Sy toegesegde beloftewoord.

4.Die vrome gelowige, as individu, staan sentraal.

5.Christus het gesterf om dié mense wat die Vader van alle ewigheid af aan Hom gegee het, daadwerklik met die Vader te versoen. Sodoende het Hy hulle verlossing voltooi op Golgota. Hy laat dit ʼn werklikheid word in die lewens van diegene wie Hy versoen het d.m.v. die Woord en Gees waardeur Hy die geloof skep waarmee hulle die versoening ontvang.

5.Christus het vir alle mense gesterf om die
moontlikheid vir almal oop te maak. Dit hang verder af wie dit kies en aanneem. Wie dit kies, laat self die verlossing in sy/haar lewe ʼn werklikheid word.

6. Die kerk is die volk van die Verbond wat die Here self versamel in die eenheid van die ware geloof. Die fokus lê nie in gelykgesindheid nie, maar gemeenskaplike verbondenheid aan die een ware geloof. Talle is nog nie hiertoe in staat nie, bv. suigelinge, maar hulle word steeds tot die kerk, as “volk” gereken.

6. ’n Geringe waardering vir die kerk. Hier is eerder sig vir die kerk as “denominasie”: ’n klub vir gelykgesinde bekeerde individue.

7. As volk van die verbond, bestaan die kerk kragtens God se roeping en Sy verbintenis aan die kerk. Almal aan wie Hy Hom verbind het het nog nie tot geloof gekom nie. Selfs aan klein kinders het Hy Hom verbind. Die kerk leef nie uit volmaaktheid nie, maar uit genade. Dit is van kardinale belang wat presies geglo en bely word. Eenheid is slegs moontlik in Waarheid. Geen algemene kerkeenheid is
moontlik nie. Ware eenheid is slegs moontlik in die Waarheid van die ware belydenis.

7. Die kerkbegrip word geweldig verskraal. Alles draai om die enkeling en sy heil. Kerkgrense word gerelativeer. Almal dien mos maar dieselfde God. Daarom die drang om kerke bymekaar te bring. Dit is van mindere belang wat presies geglo en bely word. Grense moet afgeskaf word. Almal wat die ervaring van verlossing ken, die hoort mos bymekaar.

8.Die Verbond staan sentraal omdat God self die inisiatief neem in Sy verhouding met Sy kerk.

8. Die Verbond is betekenisloos of funksioneer slegs nomineel.

 

9.Die doop is die uitroepteken agter God se belofte. Hierdie belofte kom ook die kinders van gelowiges toe.

9.Die volwasse “geloofsdoop” is die uitroepteken agter die individu se geloofskeuse. Die kinderdoop het weinig waarde.

10.Wat voorop staan is wat die Here aan Sy
gemeente in Sy Woord toesê.

10.Wat voorop staan is wat die individu van die geloof ervaar.

11.Die geloofslewe ken ook trane, hartseer en mislukkings. Terwyl die gelowige stik aan
die sterwe van die ou mens, loop hy reeds met
die lomp voetjies van die nuwe mens.

11.Geloofsblydskap moet daagliks sigbaar wees. Ewigdurende opgewektheid. Die geloofslewe is ‘n sukses-verhaal – ’n onrealistiese stuk triomfalisme.

12.Die sing van Psalms verkry voorkeur bo die opwekkingslied omdat dit vanuit die Skrif die geloofslewe van die gelowige veel meer ewe-
wigtig beskryf.

12.Die vrye opwekkingslied verkry voorkeur bo die Psalms. Dit gaan oor die ervaring van “lekker” sing.

 

13.Die volle skopus van die Skrif kom in sig.
Die volle Raad van God word aan die gemeente uitgelê, veral ook aan die hand van die belydenisgeskrifte.

13.Die boodskap van die Skrif word versmal tot sekere lieflingstemas soos bv. die wedergeboorte, die werk van die Gees, die wederkoms, heiligmaking ensovoorts.

14.Sig op die Woord: Die fokus draai weg van
die ervaring en belewenis van die individu na die Woord toe. Die werk van die Gees in/deur die Woord staan bó die werk van die Gees in die mens se hart. Die verhaal van God se groot dade in Christus staan bó die van die mens.

14.Sig op die Woord: Biblisisme: vir alles moet daar ‘n spesifieke teks wees. Die fokus verskuif weg van die Woord na die subjektiewe vrome hart. Daar word gefokus op die werk van die Gees in die mens se hart pleks van te fokus op die werk van die Gees in/deur die Woord. Die mens se bekeringsverhaal staan sentraal.

15.Vir geloofsekerheid word die mens verwys na die vaste belofte van die Woord en nie na sy eie hart en ervaring nie. Nie die geloof opsigself staan voorop nie, maar die Woord waarin die geloof sy vastigheid mag vind. Geloofsgroei vind nie reglynig plaas nie. Dit gaan gepaard met stryd en skommeling.

15.Die gelowige word altyd weer teruggewerp op hom/haarself vir sekerheid en nie op die belofte van die Here nie. Die mens moet in sy eie hart en in die egtheid van sy ervaring die vastigheid vind. Daarby vind geloofsgroei met sukses plaas.

16.God se vrye genade maak die mens se keuse moontlik. Geloof is ‘n genadegawe kragtens die verkiesing en verbond. Die méns is nie die beslissende faktor in die heil nie, maar die lewende God. Genade is nie slegs ‘n algemene hulp aan alle mense wat hulle in staat stel om te kies nie. Genade wek die
verlore mens daadwerklik op uit die dood en
stort die geloof uit sodat die mens
tot geloof kan kom.

16.Die mens se keuse word ten diepste nie gedra deur God se verbond en verkiesing nie. Geloof is nie ‘n genadegawe uit die krag van die verkiesing nie. Die mens word die smid van sy eie heil. Genade help slegs die mens, maar dit hang ten diepste af van die vraag of die mens wil saamwerk of nie!

17.Opsommend is die vraag: Hoe kom God
tot die mens? Die Skrif antwoord hierdie vraag duidelik. God kom skenk Sy heils-belofte aan gelowiges en hulle kinders sonder om eers vooraf waardigheid in die mens te soek. Hy skenk dit uit vrye guns aan die onverdienstelike mens. Die sakramente is die
sigbare waarborg van hierdie toesegging van
Sy guns waarin Hy Homself skenk. Dit wat
BELOOF is, roep om GELOOF. Dit moet omhels word. Die mens hoef nie aan allerlei voorwaardes te voldoen alvorens die belofte aangeneem word nie. Deur die Woord skep die Gees die geloof en daarom kom die mens tot geloof en bekering.

17. Opsommend is die vraag: Hoe kom die mens tot God. Die antwoord: Die mens kies uit vrye wil.