3 bladsye.

Gereformeerde Gesinslewe word Belangriker

Etenstafel

In ’n tyd van stroomversnellings is dit belangrik dat die gelowige besliste vaste ankers het om aan vas te hou. Natuurlik is die belangrikste anker wat God ons gegee het, die geloof. Hiervan is Hebreërs 11 en 12 seker die kragtigste getuie in die Bybel. Ter ondersteuning van die geloof het God egter nóg ’n belangrike anker gegee wat ons nie mag verwaarloos en vergeet nie. Dit is die anker van die huisgesin. Sonder die anker van die huisgesin kan ’n mens maklik in die geloof vereensaam. Daarom het God in sy genade dit juis so bewerk dat ons nie as individue deur die geloof aan Hom verbonde is nie, maar juis binne die verband van huisgesinne.

Huisgesinne in die Bybel🔗

Van die begin van die kerk af het God geopenbaar hoe belangrik dit vir gelowiges is om deel van ’n huisgesin te wees. Hy het Eva gemaak as ’n hulp wat by Adam pas, juis omdat “dit nie goed is dat die mens alleen is nie” (Génesis 2:18). Aan hulle het Hy die opdrag gegee om kinders te hê sodat die aarde vol kan word (Génesis 1:28). Die eerste huisgesin waarvan ons weet, het as gevolg van die sonde in afguns en moord tussen broers gelei. En Kain se straf vir sy moord op Abel was dat hy ver weg van sy mense ’n swerwer sou wees (Génesis 4:11). Dit was ’n teken daarvan dat hy God se genade sou ontbeer.

So kan ’n mens deur die geskiedenis van die Ou Testament gaan. Daar was die groot gesinne van Jakob en van Job. ’n Groot huisgesin was in die volk Israel beskou as ’n seën van die Here. Dink maar die bekende Psalm 127:3, en Psalm 128:3 wat sing van kinders soos olyfboompies rondom die tafel van elkeen wat deur die Here geseën word.

Maar dan was daar ook die kinderlose egpare, soos Abraham en Sara, wat so hartstogtelik na ’n kind van hul eie gesmag het. Hulle het dit as genade uit God se hand beleef dat Hy uiteindelik ’n kind aan hulle gegee het, net soos later met Hanna gebeur het en ook met Sagaria en Elisabet. Van die Bybelse tye af was kinderlose egpare, alleenlopers en enkelouers dus deel van die kerk.

Telkens sien ons dat God besondere genade aan die gesinloses bewys. Psalm 68:6 sê dat God ’n Vader van weeskinders en ’n beskermer van weduwees is. Vir Anna, wat na ’n kort huwelik van sewe jaar haar lewe lank ongetroud gebly het, gee Hy die genade om Christus te sien en van Hom te profeteer (Lukas 2:36). Gesinlose gelowiges ontvang dus besondere genade van die Here. Waarom? Omdat hulle die ondersteuning van ’n huisgesin moet ontbeer.

Geloofsondersteuning uit die Huisgesin🔗

In Deuteronómium 6:6-7 kry ouers die uitdruklike opdrag van God om sy Woord by hulle kinders van kleintyd af voortdurend in te skerp. Dit is die verbondsopvoeding waardeur God dit so bewerk dat elke kind Hom van moedersknie af leer ken. Die ondersteuning wat dit aan die geloof van so ’n kind bied, is onbeskryflik groot. Op hierdie manier het Timotheüs ook later sy “ongeveinsde geloof” van sy grootmoeder Loïs en sy moeder Eunice ontvang, waarvan Paulus in 2 Timótheüs 1:5 skryf.

Benewens die verbondsopdrag aan elke ouer, leer ons uit bogenoemde ook die troosvolle feit dat elkeen se verhouding met die Here nie maar sy of haar eie saak is nie. Dit is ’n saak waarby die hele huisgesin belang het.

  • Daarom is dit bitter noodsaaklik dat gelowige huisge­sinne gereeld met mekaar oor geloofsake praat, byvoorbeeld by huisgodsdiens.

  • Selfs die gesin se gereelde dankbare saamwees rond­om die etenstafel is onderskraging van elke gesinslid se geloof.

  • En dan natuurlik die feit dat hulle saam kerk toe gaan. Die kerk bestaan immers nie uit ’n klomp los individue nie, maar juis uit gesinne. So word die gesin se geloof saam gebou.

Gesin Bybellees

Juis die feit dat lede van die huisgesin nie los individue is nie, het belangrike implikasies vir die gedrag van broers en susters teenoor mekaar. Broers en susters het ’n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Anders as Kain wat gevra het: “Is ek dalk my broer se wagter?”, behoort broers en susters na mekaar om te sien. ’n Positiewe voorbeeld hiervan is in Hooglied 8:8-10 vir ons opgeteken, waar die broers die eer van hulle klein sustertjie wil beskerm, en sy op haar beurt onderneem om haar behoorlik te gedra. Dink ook aan Psalm 133 waar Dawid ’n loflied sing op broers wat in vrede saam woon.

Die Huisgesin as Kleingroep in die Gemeente🔗

Eintlik is elke huisgesin ’n klein stukkie kerk op sy eie. In hierdie tye waarin so dikwels van kleingroepbediening gepraat word, moet ons onthou dat die Godgegewe klein­groep in die kerk die huisgesin is:

  • In die huisgesin word die gemeenskap van die gelowiges in sy mees intieme vorm beleef.

  • In die huisgesin word daar daagliks saam gebid, saam bely, saam gedank vir God se genade.

  • In die huisgesin spreek God se Woord op die mees direkte manier binne in die leefwêreld van die gelowiges.

  • In die huisgesin word ook die tug van die Here in sy mees basiese vorm beleef. In Efésiërs 6:4 word ouers vermaan om hulle kinders “op te voed in die tug van die Here” en in die boek Spreuke word kinders by herhaling vermaan om te luister na die tug van hulle vader (bv. Spreuke 4:1).

Om die kleingroep van die huisgesin gereeld te besoek, is dus ’n onontbeerlike deel van die bedieningswerk van elke bedienaar.

Hoe dan gemaak met enkellopendes (ongetroudes, weduwees, wewenaars, geskeides)? God betoon besondere genade aan hulle deur hulle geloof op ander maniere in stand te hou.

  • Jongmense wat die huis verlaat om te gaan werk of te gaan studeer, word steeds gedra deur die verbondsopvoeding wat hulle elkeen in die huisgesin ontvang het, soos die jong Timótheüs wat kon bly in wat hy van kleins af geleer het (2 Timótheüs 3:15).

  • Maar juis omdat sulke jongmense die koestering van ’n huisgesin ontbeer, word die gemeente vir hulle as’t ware ’n plaasvervanger vir die huisgesin. Hulle word in die gemeente in werklikheid deel van die “huisgesin van God” (Efésiërs 2:19). Daarom behoort die gemeente waarin hulle is, besondere pastorale aandag aan sulke enkellopendes te gee (Titus 2:4-6).

  • Nie net die jonges nie maar ook die bejaardes behoort met besondere pastorale aandag in die huisgesin van die gemeente betrek te word (1 Timótheüs 5:1, 2), sodat ook hulle die koestering van die geloofsgemeenskap, die kameraderie, die saambid, die saam-eet, selfs die immer-noodsaaklike tug op hierdie manier kan beleef.

  • Daar kan selfs aan gedink word om die ouer weduwees by besondere dienslewering in die kerk te betrek (1 Timótheüs 5:9, 10), sodat hulle tog wel hulle eie waarde en nut vir die huisgenote van die geloof kan ervaar.

Sulke gevalle is natuurlik die uitsondering. Die grootste deel van die kerk bestaan steeds uit huisgesinne. Die huisgesin is en bly immers uiters belangrik vir die voortbestaan en groei van die kerk. Saam met sending en evangelisasie is natuurlike aanwas van huisgesinne die manier waarop God sy kerk vermeerder.

Die Opdrag om Huisgesinne te Vorm🔗

Daarom mag die Here se opdrag aan gelowige ouers om kinders te hê nie verwaarloos of geïgnoreer word nie. Want juis deur die kinders van die gelowiges wil die Here sy kerk binne die lyn van die verbond laat groei.

Groei

In hierdie verband moet daar teen twee uiterstes gewaak word: geen gesinsbeplanning nie en geen kinders nie. Beide is ewe onverantwoordelik. Gebrek aan gesinsbe­planning lei dikwels tot ouers wat nie vir hulle kinders kan sorg nie. In 1 Timótheüs 5:8 word van sulke ouers gesê dat hulle “die geloof verloën het en slegter as ’n ongelowige” is.

Aan die ander kant is ouers wat opsetlik nie kinders het nie (hier word nie gepraat van ouers wat nie kinders kan hê nie of wie se gesondheid dit nie toelaat nie) ewe onverantwoordelik. Hulle skuif die manier waarop God sy kerk laat groei, opsy en ignoreer sy opdrag om deur die verbondsopvoeding van kinders deel te hê aan die vermeerdering van die kerk.

Daarom is dit belangrik dat in die hele vraagstuk oor die dalende lidmatetal van die kerk gelowige ouers vir wie dit enigsins moontlik en wenslik is, opnuut sal besin oor hulle gesinsverantwoordelikheid voor die Here.

Bowenal is dit die taak van ouers en kinders om waarlik te doen wat God van ’n gelowige huisgesin verwag. Want so bou God sy kerk.