Bron: Die Kerkblad, 1981. 2 bladsye.

Gereformeerde Kerke vra Drie Dinge van die Regering

Die Parlementêre verkiesing is verby. Ag, dankie tog is die sug wat baie van ons geslaak het. Nou kan ons weer rustig werk.

Maar daarmee is die kerke nie meer onbetrokke met die regering van die land nie. Inteendeel, vir die kerk is die staat van uiterste belang. Juis die Gereformeerde Belydenis spreek hom duidelik pertinent uit oor die landsregering. Ons lees dit in artikel 36 van die Neder­landse Geloofsbelydenis. Ons lees dit nie maar slegs nie, maar derduisendes voor ons en selfs miljoene Gerefor­meerdes oor die wêreld bely dit. Voor God en die gemeente het hulle elkeen, êrens op 'n sekere datum ja daarop gesê.

Kerke met hierdie belydenis het baie belang by die verkiesing van 'n regering, nie in die eerste plek oor die uitslag daarvan nie, maar of hierdie regering, ongeag watter politieke partye aan bewind is, aan God en Sy Woord gehoorsaam sal wees!

Oor hierdie saak is daar geen kompromie nie. Daar is geen duimbreed op hierdie aarde waarvan God nie sê nie: Myne! (A. Kuyper.)

Natuurlik is dit totaal onmoontlik om in hierdie artikel enigsins 'n volledige oorsig oor die kerke se belydenis oor die staat te gee. Hoogstens kan ons die drie belangrikste grondbeginsels noem. Daar is nog baie meer. Ten minste hierdie drie dinge van die Gerefor­meerde Belydenis, vra ons van ons owerheid:

1. God Drie-Enig moet Alle Eer kry🔗

Dit is juis die unieke eienskap van die Gereformeerde Belydenis: Die God van die Heilige Skrif alleen moet alle eer ontvang. Hy is die Drie-enige God. Dit is die mees kenmerkende eienskap van die Calvinistiese Reformasie wat selfs 'n slagspreuk geword het: 'Soli Deo gloria' – ­aan God alleen die eer! In Calvyn se Institusie kom dit voortdurend soos 'n refrein. En dit is juis die belangrikste ding wat in die politieke staat bely moet word. Die hele staat sal ontwrig word, as die eer van God nie die hoogste doel is nie (Institusie XXVII: 245, 246). God se glorie en eer moet altyd die eerste plek inneem. Dit geld ook van die magistrate. Hulle is deur God self aangestel en daarom moet die Naam van God hulle hoogste sorg ontvang (XXIX: 532). Die regering is deur God Self ingestel en daarom is dit billik dat hulle alles sal doen om God se eer te handhaaf en te verdedig. Hulle is Sy stadhouers en regeer alleen deur Sy genade (IVXX: 4-6 en 9 met baie Skrifgedeeltes).

Die eer van God is die eerste grondbeginsel van die Gereformeerde Belydenis oor die staat en dit is die eerste ding wat die kerke van die regering vra. Hulle bid ook dat die owerheid dit konsekwent teenoor almal sal handhaaf – selfs in die aangesig van die heidene volgens die eis van die Evangelie. Nie dwingend met die swaard­mag nie, maar oortuigend met die Christelike liefde.

2. Die Regering is aan God se Woord Gebonde🔗

Hoewel die uiterlike seremonies van die Ou Testament vir die Nuwe Testament afgeskaf is, is God se wet nooit afgeskaf nie. Hoewel ons vry is van die politieke wette van Moses, is die grondbeginsels hiervan nooit afgeskaf nie (Institusie XXVIII: 63). Calvyn stel dit baie duidelik: Die wet van God is nie verswak nie. Die seremonies is met Christus se koms afgeskaf, maar die leer van die wet met belofte, verbond, reël van die lewe, is ewig blywend (XXVI: 209, 245).

Die Tien Gebooie is daarom so uiters belangrik. Hieraan moet ons dankbaarheidslewe in Christus altyd getoets word. Niemand kan dit uiteindelik ontwyk nie; ook nie die regering van 'n staat nie.

God sluit met Sy Woord geen ooreenkoms met die heidendom nie. God erken nie ander wêreldse sedewette as wat Hy in Sy Woord gegee het nie. God aanvaar ook nie wêreldse regsbeginsels wat Hy nie in Sy Woord gegee het nie.

En as 'n regering daarop roem dat hy 'n Christelike regering is, moet hy in sy eie wetgewing ook buig onder die Woord van Christus. Dan gaan dit nie oor eie politieke gewin nie, maar juis 'ook om die Woordbe­diening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan.' Daar moet ruimte wees vir God se Koninkryk. Die owerhede moet 'die koninkryk van Jesus Christus bevorder, die Woord van die evange­lie orals laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.'

Dit alles bely die Gereformeerde kerke in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hulle verwag dit van die regering.

3. Die Onderskeid tussen Kerk en Staat🔗

Hoewel die 'burgers' (lidmate) van die kerk nooit van die burgers van die staat geskei kan word nie, moet die regering van die kerk en die regering van die staat duidelik onderskei word.

Die Gereformeerde Belydenis ken nie so-iets soos 'n KERKstaat soos by Rome met sy pouslike stelsel nie. Dit ken ook nie so-iets soos 'n STAATSkerk wat dikwels in die kerkgeskiedenis na vore kom en selfs in ons eie vaderland bestaan het nie. Die kerk in die Kaapkolonie was bv. in die 19e eeu 'n staatskerk.

Ook hieroor, die onderskeid tussen die regerings van die kerk en die staat, het Calvyn die Bybelse perspektief gegee:

Die kerk besit nie die swaardmag nie en sy geestelike strafmaatreëls (die kerklike tug) het 'n heeltemal ander doel as die staat se strafmaatreëls. Die kerk mag niks vir homself toe-eien wat eie is aan die owerheid van die staat nie; maar ook die regering mag nie die kerk se werk uit die kerk se hande neem nie (Institusie IVII: 3).

Die grense tussen die terrein van die kerk en die ter­rein van die staat moet duidelik bewaar word. En albei, die kerk en die staat moet hierdie grense eerbiedig. Dit is nie die kerk se taak om die Parlement met betogings en geweld tot besluite te dwing nie. Dit is ook nie die staat se roeping om kerkrade en sinodes tot besluit­neming te dwing nie.

Albei, kerk en staat, moet wetsgehoorsaam wees – aan die wet van God, die Woord van God. Daaraan moet elkeen sy eie regering en werksaamhede toets!

Vir kerk en staat, vir tyd en ewigheid, is die Woord van God die enigste rigsnoer. Die stryd van die kerk sal namate die voleinding nader, steeds moeiliker word. Maar ook die Christelike regering se stryd sal moeiliker word. Die Antichris sal juis die internasionale politiek gebruik om die kerk te vernietig. Die dier uit die see (die volkerewêreld) sal met alle mag toeslaan (Openbaring 13). Ten slotte sal dit op aarde vir die kerk onhoudbaar word. Die vrou (die kerk) sal vir die draak (Satan) moet vlug na die woestyn (Openbaring 12).

Maar die laaste woord word deur Christus die Koning gespreek wanneer Hy sal kom om die lewendes en die dooies en alle regerings te oordeel.