Bron: Nader Bekeken. 4 bladsye.

Gesin en Skool

In hierdie artikel wil ek aandag gee aan die kontak tussen ouers en onderwysers. Dit sal waarskynlik vir ʼn klompie mense reeds baie bekende dinge wees, maar dit is tog goed om dit as vuisreëls te gee.

Vuisreëls🔗

  • Die eerste vuisreël: die omgang tussen onderwysers mag hom kenmerk deur die rustigheid van die geloof.

    Ouers kan soms oor elke kleinigheidjie ʼn groot bohaai opskop. Of, nog erger: by elke verkeerde dingetjie wat ʼn onderwyser doen, hulle vreeslik ontstel en dan neerhalend oor hom praat voor en met hulle kinders.

    Onderwysers kan van hulle kant af swaar dra aan hul verantwoordelikheid en gedurig die idee koester dat hulle te kort skiet.

    Ons moet in gedagte hou dat onderwysers gereeld nie voldoen aan ouers se ideale nie. Ook dat hulle nie net so 'wonderlik' kan les gee soos die juffrou of meneer van die vorige jaar nie. Die HERE vra van ons niks meer as dat ons Hom loof en dien met 'alles wat in ons is’ nie. Die onderwyser hoef nie die HERE te dien met 'wat in ander is nie', maar wat in homself/haarself is. Met dit wat God aan hulle in vermoëns en beperkings gegee het.

    Is dit dan nie te min vir ons kinders nie?

    Dit is die (benoemde) skoolbesture se verantwoordelikheid om sorgvuldig te wees in hul aanstellingsbeleid. Ook om paraat te reageer op seine wat hulle bereik oor die funksionering van die onderwysers. Onderwysers moet gestimuleer en gemotiveer word om hul gawes te gebruik.

    Maar, met respek vir elkeen se verantwoordelikheid, is die Here se sorg ook daar. Hy het gesê: My genade is genoeg. Hy het dit aan die apostel Paulus voorgehou juis op die oomblik toe hy gebuk gegaan het onder die vuisslae van 'n satansengel wat in die pad van sy werk gestaan het. Net toe die apostel bewus geword het van sy swakheid en tekortkominge en orals teen sy eie beperkings vasgeloop het, het die Here hom gerusgestel. Dit is nie ʼn geval van: My genade moet nou maar net eenvoudig vir jou genoeg wees nie. Nee, my genade is genoeg.

    Die kinders wat onder die onderwyser en onderwyseresse se sorg is, is God se kinders. Hulle is gedoop. Die Drie-enige God het Homself waarborg gestel vir hulle. Onderwysers mag hierop terugval. Dit is alles gelukkig nie afhanklik van hoe intensief hulle hul inspan nie, maar van God wat Hom ontferm. Gereformeerde onderwysers weet vanuit hulleself dat hulle nie volmaak is nie. Hulle het reeds 'n groot genoeg stryd daarmee. Dit kan hulle bring tot 'n rustelose jaag na die volmaakte. Tot 'n gejaag wat hulle breek en laat ophou. Maar dit hoef nie so te wees nie. Die apostel Paulus sê aan hulle hoe hulle mag jaag na die volmaaktheid. As mense wat self deur Jesus Christus gegryp is.  As mense wat hulle rus in Hom vind met al hulle tekortkominge, en wat Hom wil dien in die onderrig aan die kinders wat Hy deur sy bloed gekoop het.

  • Die tweede vuisreël: vir die omgang van ouers met onderwysers, is dat onderwysers die ouers se vertroue verdien.

    Dit is altyd verleidelik vir die ouers om onderwysers te beskou as 'n soort van privaatdosent: "hulle werk met my kinders en moet dus aan my verwagtingspatrone voldoen". Die leuse dat die skool aan die ouers behoort, word dan so hanteer dat die onderwyser uiteindelik 'n bietjie die ouers se kneg word. Hy moet presies doen wat vir my belangrik en sinvol is vir my kind. Vanuit hierdie houding kan onderwysers ook tot verantwoording geroep word: ek wil nie hê dat jy sus of so met my kind moet omgaan nie. En onthou dat u na my moet luister, want uiteindelik behoort die skool aan die ouers!

    Kom u agter wat gebeur? Met die stelling dat die skool aan die ouers (meervoud) behoort, maak ek asof die onderwyser aan my as ouer (enkelvoud) behoort. Dan kyk ons egter te eng en te beperk na die verhouding tussen onderwyser en ouers. Onderwysers is nie privaatdosente wat ons vir ons kinders uitgesoek het nie, dit is dosente vir 'n hele skool, in diens van 'n hele skoolvereniging, en in wie se opleiding baie gereformeerde besinning en deskundigheid en ook baie kerklike meelewing en gebed geïnvesteer is. As ons ons kinders na die gereformeerde skool stuur, kry ons te doen met 'n gemeenskap, onder die verantwoording van 'n bestuur en gedra deur die gemeenskap van die kerk.

    Vir ons benadering tot die onderwysers beteken dit dat ons nie allereers na hulle kyk as persone waarvan ons hou of nie hou nie, maar met hulle omgaan as mense in wie ons vertroue mag hê. Dus voordat jy 'n kritiese vraag aan hulle stel, het jy eers reeds krities na jouself gekyk.

  • Die derde vuisreël: Onderwysers moet onthou dat daar 'n verskil bestaan tussen leerlinge en ouers.

    Die persoon wat die hele dag met kinders werk, dinge moet verduidelik en op gehoorsaamheid moet aandring, kan maklik en baie keer ook onbewus in sy kontak met ander, hulle wil leer en soos kinders behandel. Wanneer jy as onderwyser dan ook nog die idee kry dat jy deur middel van die kinders 'n goeie insig in die gesin kry, kan jy sommer begin voel dat jy eintlik ook 'n bietjie “leraar” in die kerk is, leraar ook van die ouers. En dit is ʼn wanopvatting. Die ouers is in die verbond deur die HERE self verantwoordelik gestel. Hulle moet dus op 'n ander manier benader word as die leerlinge.

    Ek bedoel nie, dat onderwysers geen taak ten opsigte van ouers het nie. Dit is wonderlik as onderwysers met hulle gawes en kennis in opvoeding en onderwys ouers wil help.

    Dit sou in werklikheid selfs 'n slegte saak wees as onderwysers sou sê: ek is gehuur vir 'n aantal les-ure by die skool, en dit sal ek so goed as moontlik invul en verder het ek geen belang by die leerlinge en hulle (ook huislike) situasie nie. Die skool moenie 'n leerfabriek word nie! Die onderwysers moet in hul kontak met die ouers egter wel die ouers se verantwoordelikheid respekteer. Hulle kan hul nie teen die ouers se wil opdring nie. Hul moet die ouers ook motiveer om hul verantwoordelikheid wat hul van God ontvang het, inhoud te gee.

  • Die vierde vuisreël: die kommunikasie tussen ouers en onderwysers moet so intensief as moontlik wees.

    Miskien is ek heeltemal verkeerd. Miskien lê die probleem by my. Maar op grond van my ervaring as kategeet het ek die indruk dat die gevaar van 'n tekort aan kontak op hierdie oomblik groter is as die gevaar van te veel kontak. In die tyd toe gereformeerde skole opgerig is, was die ouers se betrokkenheid by die onderwys groot. Daar was groot entoesiasme en baie geld is daarvoor beskikbaar gestel! Ons is nou in 'n tweede fase. Die skole is reeds daar. Maar het die betrokkenheid ook gebly? Daar word oor die algemeen nie meer sulke groot finansiële offers van ons gevra vir die onderwys nie. Maar hoe gaan dit met ons offervaardigheid as dit gaan oor voorbede en meelewing? Is die bywoning van ledevergaderings vir ons vanselfsprekend? En die kontak met die onderwysers?

    Ons moet dit natuurlik ook nie oordryf nie. Dit is ook heilsaam as daar afstand is tussen die skool en die huis. Onderwysers se kinders is in die tyd wat ek op skool was, definitief nie deur hulle medeleerlinge beny nie. Hul ouers was te naby! Nie alles wat op skool gebeur hoef by die huis bekend te wees nie. Skool en gesin kan ook te naby aan mekaar wees!

    As dit gaan oor die konkrete invulling van die kontak, is die skool wat binne ʼn kerklike gemeenskap staan natuurlik die mooiste. Gesin, kerk en skool is dan so naby as moontlik aan mekaar. Daar is ruimte vir goeie samewerking en onderlinge steun op mekaar.

    By streekskole is die kommunikasielyne tussen gesin, kerk en skool uiteraard 'n bietjie langer. Op die streekskool wat ons kinders besoek, kry ons as ouers elke Donderdag 'n dubbelbladsy gedrukte A4 waarin die skoolhoof en onderwysers algemene inligting oor die skool en kinders, huiswerk en 'n kort paragraaf van elke ouderdomsgroep gee. Ek dink persoonlik dat dit 'n oulike middel van kontak vir 'n streekskool is.

    Besoeke van onderwysers aan ouers is ook belangrik. Veral as dit kinders is wat aan 'n ander plaaslike kerk behoort as hulle “meneer” of “juffrou”. Die besoeke kan die beste vroeg in die jaar plaasvind.

    Dit is vanselfsprekend dat ouers van hulle kant af die onderwysers oor alle noodsaaklike informasie moet voorsien ten opsigte van hulle kind. Dit skep slegs ekstra probleme as die onderwyser eers ingelig word wanneer daar reeds iets skeef geloop het.

    Gereelde (bv. jaarlikse) oorleg tussen onderwysers en die plaaslike predikant kan die onderlinge skakeling tussen kerk en skool ten goede kom.

    So kan daar nog ander weë en middele gevind word.

Sfeer by die Huis🔗

As dit gaan oor die verhouding van gesin en skool, van ouers en onderwysers, is nie slegs die regstreekse kontak tussen beide belangrik nie, maar ook die indirekte beïnvloeding van mekaar. Kom die sfeer by die huis die sfeer by die skool ten goede, en omgekeerd?

Ek wil my hier beperk tot die invloed van die gesinslewe op die skoollewe.

  • In die eerste plek dink ek aan die mentaliteit wat ons beheers. Wat is vir ons as ouers belangrik? Watter prioriteit leer ons ons kinders? Weet kinders dat volpunte vir die Psalmvers wat hulle moet leer vir hul ouers normaal is? En dat ouers skrik as hulle kinders met 60% vir Bybelse geskiedenis en kerkgeskiedenis op hul rapport by die huis kom? Weet kinders dat hul ouers goeie punte vir hierdie soort vakke dubbel so belangrik ag as goeie punte vir wiskunde en taal?

  • 'n Tweede saak wat vir my belangrik lyk, is of kinders ook leer om te luister by die huis. Die volke rondom Israel het omtrent almal 'n godsdiens gehad waarin alles gegaan het ʼn skouspel. Daar moes iets gesien word. Maar die God van Israel was nie 'n God wat Hom laat sien het nie, maar Hom laat hoor het (Deuteronomium 4)! Dit is nog altyd so. Die geloof is uit die gehoor. God kom met sy heil na ons toe in sy Woord. In die Christelike geloof is luister daarom 'n sentrale gedagte.

    Om te luister het ook ʼn diepere betekenis. In die verbond wat God met ons gesluit het, is Hy die Eerste. Hy het seggenskap oor ons lewe. Hy mag aanspraak maak op ons gehoorsaamheid. Ons lewe nie vir onsself en ons eie genot nie, maar vir Hom en vir sy eer. Hiermee is die doel en betekenis van ons lewe saamgevat.

    Maar om te luister is ook iets wat glad nie normaal is in hierdie tyd waarin ons leef nie. Vandag se mens stel nie meer so daarin belang om te luister nie. Hy wil sy sê kan sê. Almal moet na hóm luister! Gehoorsaamheid het iets baie verveligs geword in hierdie wêreld. Jy moet tog van die lewe kan geniet sonder om daardeur gerem te word?

    Waar staan ons op hierdie punt met ons gesinne? Wat leer ons ons kinders? Onderwysers kan kla oor die feit dat kinders sleg luister. Dit word ook opgemerk in die katkisasieklas. Jy moet die vraag 'n paar keer in die klas herhaal omdat hulle dit eenvoudig net nie gehoor het nie! Of omdat hulle dink: ag, die dominee sal dit seker nog 'n keer herhaal. Dit het verseker te doen met ons televisie- en videokultuur. Die mense leer slegs om te kyk en laat hulle so vermaak. Luister, moeite doen en gehoorsaam wees, is besig om totaal vreemde verskynsels te word. Hoe gaan dit by ons op hierdie punt? Leer ons ons kinders nog om te luister?

  • 'n Derde punt waarop ons onsself moet toets, is die gejaagdheid van die lewe. Ons besige en bruisende lewe het sy aantreklikheid, maar ook sy nadelige kante. Alles hardloop maar net aan en dit hou nooit op nie. Ons is almal ewe besig en gejaagd. Hoeveel rus is daar nog in ons gesinne? Is ons vrouens nog moeders in Israel? Of is hulle, wanneer die kinders by die huis is, eintlik te besig met allerhande sake en moet die kinders in die huishouding inspring, omdat ma dié ure wat seun en dogter by die skool is, permanent besig is met betaalde of vrywilligers-aktiwiteite? En as ma wel die hele dag by die huis is, waarmee vul sy haar dag? Is daar orde en reëlmaat in haar dagpatroon? Lees sy nog? Dan bedoel ek: word daar nog goeie lektuur gelees? Dit het by sommige van ons al ʼn bekende gesegde geword dat die belangrikste rede hoekom ons deel moet wees van ʼn Bybelstudiegroep is, omdat ons anders nie by Skrifstudie uitkom nie. Dit verraai ons hartseer situasie. Want dit is ongelooflik belangrik dat moeders moet weet wat vandag aangaan. En as hulle hul grondig verdiep het in die moderne lewensgevoel en in die Woord van die HERE, dan het hulle regtig iets om aan hulle kinders oor te dra. Jy is benydenswaardig wanneer jy tyd het om aan hierdie soort sake aandag te gee.

    Rustigheid by die huis en goeie leiding van die ouers kom die kinders ten goede. Die skool kan slegs getuig daarvan! Onderwysers bemerk baie gou as daar rustigheid en orde tuis is.

Veral in die sake wat ek laaste genoem het, lê volgens my die geheim van die gereformeerde skool. Vir die band tussen die gesin en skool is die klasbesoeke van ouers of die saamlees van die skoolkoerantjie nie beslissend nie. Die beslissende is die vraag of daar in ons gesinne die liefdevolle ontsag vir God, ons Vader, gevind word. Om 'n gereformeerde skool te kan bly, is dit van kardinale belang dat die gesinne gereformeerd is.

Ons kan baie tyd en energie steek in die vraag na die presiese verhouding van ouers en onderwysers. Maar baie belangriker is of ons ons saam wil onderwerp aan die Skrif en gebonde voel aan die belydenis van die kerk. Baie belangriker as om presiese reëlings met mekaar te hê en bevoegdhede te bepaal, is die aandag wat ons saam gaan gee aan die onderwys van die Skrifte. Laat skoolverenigings, ouers en kerklike gemeentes hulleself maar vir hierdie saak voluit gee. Want die vrees van die Here bly tog maar die begin van die wysheid.