Hierdie artikel handel oor gesinsvorming, die plek van kinders in God se plan, en die doel van die huwelik.

3 bladsye.

Gesinsvorming - Ontyds of Aktueel

Daar was onlangs in Nederland ’n TV-program van die NCRV oor ’n Vrygemaakte gesin uit die jare 50 en 60: dié gesin het bestaan uit ’n vader en moeder en 12 kinders! ’n Mens sien vandag nouliks meer sulke groot gesinne. Moet ’n mens daaroor bly of besorgd wees? Ek dink dat ’n mens min kerkmense sal kry wat dit sal betreur dat daar nie meer sulke groot gesinne bestaan nie. Vandag vind ons dit al ’n enorme gesin as daar 7 of 8 kinders is. En as ’n moeder van so ’n groot gesin opnuut verwag, word daar binne die gemeente van Christus half meewarig gesê: dit hoef tog nie vandag meer te wees nie? Opvallend is dat dergelike opmerkings selfs by die ouere generasie voor­kom.

Moeders wat vroeër self ’n groot gesin gehad het en daarvan die vreugde en verdriet geken het, raai hulle dogters aan dat hulle rustig moet wees en aan hulself moet dink. Is dit begryplik?

Ek noem nog iets van vandag. Sterilisasie is “in”. Jy kan vandag iemand uit jou gemeente hoor sê: “Na die geboorte van ons vierde kind het ek my laat steriliseer. Ons het gedink dat ons gesin nou voltallig is. Buitendien ek is al 35 jaar en hoe ouer ’n mens word des te meer neem die risiko toe. Jy moet as Christen ook jou verstand gebruik.”

Ek noem nog ’n derde punt waaroor daar vandag gepraat word. Nie so lank gelede nie het daar ’n diskussie plaasgevind oor die feit dat al hoe meer pasgetroudes die begin met ’n gesin uitstel. Hulle begin hul huwelik met voorbehoedmiddels. En waarom ook nie? Waarom sou iets toelaatbaar wees na die vierde kind en nie aan die begin van ’n huwelik nie? En daar is ook heel goeie redes voor. Dit laat ’n mens nie maar daar nie.

Sluipende verandering🔗

Die voorbeelde wat ek genoem het, maak duidelik dat vandag se diskussie ietwat anders is as 25 jaar gelede. Toe daar in 1970 die eerste publikasie van die GSEV oor gesinsvorming verskyn het, het dit oor vrae gegaan soos: mag ons geboortebeperking toepas; moet ’n mens praat oor ’n maksimum of ’n optimale aantal kinders; mag jy überhaupt voorbehoedmiddels gebruik en watter. In vergelyking met die vrae van vandag lyk dit outyds. Vandag is geboortebeperking in die kerk ’n normale saak en gaan die diskussie dikwels oor onderwerpe soos wat ek in die begin van die artikel genoem het.

Ek gee ’n nuwe skets oor die huidige stand van sake op die gebied van gesinsvorming.

In die wêreld om ons heen is dit normaal om 2 of 3 kinders te hê. Ons kerk se norm lê iets hoër: 4 of 5 kinders. Dit is ongeveer die gemiddelde. Dit beteken: ons reël ons sake net so goed as al die ander, maar dan op ons eie manier. En daar word nie of nouliks meer oor gepraat! Ek herinner my dat daar so 15 tot 25 jaar gelede heftige diskussies was oor die pil en die vraag wanneer ’n Christen voorbehoedmiddels sou mag gebruik. Vandag praat ons oor die vraag wanneer ons gesin voltallig is en op watter leeftyd sterilisasie die beste toegepas kan word. Dit lyk of voorbehoedmiddels teenswoordig by ons normale gebruik hoort en dat gesinsbeplanning ’n alom aanvaarde verskynsel is. Dit beteken wel dat ons in ’n tydperk van 20 jaar ’n langsame, maar ingrypende verandering op ’n belangrike punt van ons gedragspatroon ondergaan het. Ek dink dit is goed om dit te noem. Ek wil in hierdie artikel dit verder duidelik maak hoe ek die verandering waardeer, maar vooraf stel ek vas dat ons saam baie min rekenskap gee van hierdie en ander veranderinge. En seker by ’n onderwerp soos gesinsvorming moet ons tog weet waarmee ons besig is as ons ander beginsels het as dié van ’n vorige generasie.

Ons sal veral rekenskap moet gee van die vraag watter motiewe ’n rol gespeel het by die verandering. Ek dink dat mens dan na twee kante moet kyk. Aan die een kant is daar sprake van ’n duidelike bewuswording van die eie verantwoordelikheid van man en vrou. Die verskyning van voorbehoedmiddels het ons gedwing om na te dink oor gesinsvorming en om ’n Bybelse visie te ontwikkel. Dit is ’n wins. Vroeër het hulle tog dikwels nie veel verder as ’n opmerking in ’n preek gekom nie, byvoorbeeld: dat ’n doopvont minder kinders na hom sien kom as wat God moontlik wil maak (uit ’n preek van H.J. Schilder, 1949). Of dat ons nie met die bronne van die lewe moet knoei nie. En as daar dan tog afgesien moes word van ’n nuwe swangerskap dan is totale onthouding aangeraai (nog volgens ds. G. Visee in 1960). Dit was die sogenaamde koninklike weg!

Ons kan gerus bly wees dat daar vandag baie meer oog is vir die eie verantwoordelikheid van man en vrou. Daar het meer oog gekom vir die belang van ’n goeie seksuele verhouding in die huwelik en die onnatuurlike van die vroeër gepropageerde algehele onthouding. Ons kan bly wees dat daar ’n dergelike besinning plaasgevind het oor die vraag wat die Bybel oor gesinsbeplanning sê.

Aan die anderkant is daar ook minder goeie redes, wat by alle veranderinge ’n rol gespeel het. Daar is soms ’n taamlike klakkelose navolging van wat die wêreld om ons doen. Daar word soms min geestelik, dit wil sê biddend en volgens die lig van die Bybel, gepraat oor die vraag hoe ons ons gesin moet beplan.

Ek vra my af of ons krities na ons self durf kyk. As ek mense hoor sê: na ons 4de kind het ons dit genoeg geag en ek het my laat steriliseer, dan vra ek my af op watter manier ons met hierdie dinge besig was. Sou wêreldse, materialistiese motiewe nie 'n groot rol by die besluitneming gespeel het nie! Ek besef dat ek nie moet veralgemeen nie. Daar is genoeg egpare wat baie ernstig en biddend daarmee omgaan. Maar daar is wel 'n duidelike tendens sigbaar: kleiner gesinne, later begin met kinders, eerder ophou, definitiewer maatreëls. En dit mag in elk geval nie so wees dat ons as kinders van God ons met die stroom van ons tyd mag laat meevoer nie. Ons moet ons eie posisie bepaal.

Die Bybel oor gesinsvorming🔗

Dit is opvallend hoe min die Bybel oor ons onderwerp sê. As mens na tekste soek, kom jy uit by Gen. 1:28; Gen. 3:16, Ps. 127 en 128 en in die Nuwe Testament 1 Tim. 2:15. Nou hoef die aantal tekste nie beslissend te wees nie. Dit gaan om die inhoud daarvan. Maar ook dan is dit opvallend dat ons min direkte aanwysings ontvang en seker geen gewigtige konklusies moet trek in hierdie sin nie: deur ons groot gesinne moet die bevolking van die nuwe aarde talryk gemaak word. Uit Gen. 1 kan ons wel tot die gevolgtrekking kom, dat kinders in die huwelik welkom is. By trou hoort ook om kinders te wil kry. En inderdaad: kinders is ’n seën van die Here, die mooiste geskenk wat ons van Hom kan ontvang. Dit is die uitgangspunt by ons denke oor gesinsvorming. Ons sal steeds weer moet leer om in geloof na ons huwelik en ons gesinsbeplanning te kyk, ook met die oog op die bou van Christus se kerk en die koms van sy ryk. Dan sal ons in 2018 van kinderseën bly praat. En dit mag ons ook aan mekaar voorhou, seker in ons tyd, waarin daar van kinders gepraat word as “neem” en “nie neem” nie. Ons bly dus oor gesinsvorming in positiewe terme praat: dit is ’n kwessie van blydskap en dankbaarheid om in diens van God ’n gesin te mag vorm.

Dit beteken nie dat ons maar Gods water oor Gods akker laat loop nie. Al in Gen. 1 word die mens aangespreek as ’n verantwoordelike wese. Die beteken in die woorde van Douma: geen begrip hoef ons te oorval nie en elke geboorte mag voorberei word. En ons het nie alleen ’n opdrag om kinders voort te bring nie, maar ook om hulle op te voed. En ’n verantwoorde opvoeding vra in ons tyd baie aandag en energie.

Dit is trouens opvallend dat daar in die Bybel min sprake is van groot gesinne (ten minste wanneer dit gaan oor kinders van een vrou). Dit sal saamhang met verskillende faktore. Langdurige en inten­siewe borsvoeding verhinder ’n hele ruk ’n volgende swangerskap. Jy mag dus sê dat die Here God self so ’n middel gegee het en dat daardeur gesorg word dat ’n vrou na die geboorte van ’n kind nie te gou opnuut swanger word nie. En ek wil byvoeg wat dr. Hoek sê dat die vrou in die tyd al rondom haar 40 ste jaar in die oorgangstyd gekom het.

God se voorsienigheid en ons verantwoordelikheid sluit mekaar in. En saam met die Here, in gebed om wysheid, moet ons in ons eie gesin ons weg soek.

Balans🔗

Vanuit die gegewens wat ons uit Gods Woord kry, kyk ek nog ’n keer na die praktyk. En ek wil tegelyk die vraag beantwoord hoe ek die sede rondom die gesinsvorming waardeer. Vir my is dit oorwoë gebeure. Ek vind dat ons op ’n aantal punte duidelik vooruitgegaan het. Die besinning oor die onderwerp het baie konkrete resultate opgelewer wat in diverse publikasies vanaf die jare 70 terug te vind is. Ook die nadruk op die eie verantwoordelikheid van ouers is ’n duidelike winspunt. Daar hoef nie angstig en krampagtig oor gesinsvorming gepraat te word nie, asof jy voortdurend op die randjie sou balanseer of jy sonde doen. Die gebruik van voorbehoedmiddels mag sonder skuldgevoel ’n plek hê om die verantwoorde en sorgvuldige gesinsvorming en ons hoef nie mekaar op te saal met: as daar op die oomblik geen kind mag kom nie, is onthouding die koninklike weg.

Ek glo dat dit ook goed is om hierdie verandering in benadering positief te noem en dit vas te lê. Op dié punt het daar vooruitgang gekom in ons denke in vergelyking met die jare vyftig en sestig. Die gereformeerde sede verander en dit hoef ons lank nie altyd te verontrus nie. Dit blyk hier.

Dit neem nie weg - en dit andersyds - dat ek by ’n aantal ontwikkelinge bepaald nie staan en juig nie. Ek is van mening dat gesinsbeplanning vir ’n aantal mense in die kerk beteken: ons vind 4 kinders ’n mooi getal en na die 4e is ons gesin voltooi. Dan bly daar daarna genoeg ruimte vir ander sake soos ’n hertoetreding tot die arbeidsmark, sodat ons finansieel ook meer moontlikhede het. Ek mis daarby die geestelike benadering, om saam met die Here die weg in die huwelik te vind. Ek dink dat dit ’n belangrike gevaar vir die kerk is as ons die materialistiese en egoïstiese denke van ons nie deursien en weerstaan nie. As daar nie na die wil van die Here gesoek word, maar eie welsyn die norm word, is ons prinsipieel nie anders besig as die mense van twee-kinders-en-’n-hond nie. Teen dié agtergrond kan kleiner gesinne ’n slegte teken wees. Dan is gesinsvorming nie meer ’n saak van seën en opdrag, waarmee jy gelowig besig is nie en waarin jy eers God se Koninkryk soek, maar ’n saak van berekening en kortsigtigheid. En dit is belangrik om ’n vinger daarop te lê.

Ek sou daarvoor wil pleit om die gesprek oor gesinsvorming gaande te hou. Dit blyk ’n aktuele onderwerp, omdat daar steeds nuwe gesinne gevorm word. Ons het danksy die diskussies van die afgelope 25 jaar goeie lektuur beskikbaar. Laat ons aan die hand daarvan met mekaar in die gemeente oor gesinsbeplanning in gesprek bly en mekaar so voortdurend opskerp. Nie angstig nie, nie krampagtig nie, nie veroordelend nie: wel openlik en eerlik. Aan sulke gesprekke het ons ’n dringende behoefte.

Gesinsvorming met ’n goeie gewete is gelukkig moontlik. Laat die gesprek daaroor gaande bly, in die eie huwelik en in die gemeente van Christus.