Getuienis in Mediese Praktyk
Getuienis in Mediese Praktyk
As die Here die negende gebod gee, raak Hy daarmee die hart van die mediese professie aan. Geen valse getuienis gee, my naaste se eer en goeie naam bevorder, die waarheid lief hê en op reg wees in wat gesê word: dit kom alles tot binne-in die spreekkamer. Daar waar die dokter en die pasiënt praat oor siekte en gesondheid, waar die verpleegster die pasiënt inlig oor ’n siekte in die saal en waar die arbeidsterapeut die gestremde kind se moeder oor haar kind se vordering inlig.
Die grondwoord in die negende gebod is getuienis. Uiteraard dink ons direk aan ’n hofsituasie. Maar die Heidelbergse Kategismus kleur die woord getuienis breër in as net die gereg en voeg daaraan toe dat in alle ander handelinge ek die waarheid moet liefhê en opreg wees in wat ek sê en bely.
Tussen die dokter en die pasiënt is daar ’n sekere vertroue. Daar is ’n beroepsgeheim. Alles wat die pasiënt aan die dokter vertel is nie publieke kennis nie. Sekere vrae word slegs in die dokter-pasiëntverhouding gevra. Inligting oor die pasiënt se siekte word soms slegs in hierdie verhouding bespreek. As daar geen publieke gevolge aan verbonde is nie, word die dokter verbind om mediese inligting geheim te hou, tensy anders met die pasiënt ooreengekom. Die rede is om die pasiënt se eer en goeie naam te verdedig en te bevorder.
Die saak word anders as inligting in die dokter-pasiëntverhouding ’n ander party direk kan skade aandoen. As ’n pasiënt vigs het, is dit die dokter se plig om aan die pasiënt die dringendheid van ’n gesprek met die eggenote te bespreek. Die eggenote moet ingelig word. Daartoe is die dokter verplig. ’n Pasiënt met ’n aansteeklike siekte moet aangemeld word, in belang van die publieke gesondheid. Hier gaan die belang van die gemeenskap bo dié van die individu. Die regering verplig dokters om ’n sekere lys van siektes aan te meld ten bate van die publieke gesondheid. Cholera is daarvan ’n voorbeeld. Kindermishandeling moet aangemeld word. As ’n pasiënt sterf en ’n doodsertifikaat uitgereik moet word, is die dokter verplig om aan te dui of die oorsaak aan natuurlike oorsake te wyte is. Verder moet die doodsoorsaak genoem word. As daar ’n moontlikheid van ’n onnatuurlike oorsaak van dood is, moet dit aangedui word.
As ’n busbestuurder met epilepsie ondanks duidelike advies van sy dokter nie ophou om sy werk as bestuurder van ’n bus te doen nie, is die dokter moreel verplig om die Beroepsgeheim te verbreek. Die verbreek van die beroepsgeheim kan dus in sommige gevalle ook in belang van die pasiënt en die gemeenskap om hom wees.
Die beroepsgeheim beteken nie dat die dokter inligting van pasiënte weerhou nie. Indien ’n lewensbedreigende siekte vasgestel word, is dit die dokter se verantwoordelikheid om die pasiënt behoorlik in te lig oor die konsekwensies daarvan sover dit menslik moontlik is. Dit mag beteken dat daar ook met die familie gepraat word oor die implikasies van die siekte, sodat die pasiënt daardeur gedien mag word. Maar die reël is altyd dat die pasiënt weet wat oor hom aan ander deurgegee word.
Die beroepsgeheim moet dus in die lig van die breë verstaan van die negende gebod gesien word. Christen dokters in die tweede wêreldoorlog het geswyg oor die adresse van Joodse kinders wat deur medeburgers versteek is. Die plig om te swyg kan dus vérstrekkend wees. Die swygplig is selfs na die dood van ’n pasiënt geldig.
Lindeboom, gewese internis in Nederland, beskryf die beroepsgeheim as iets meer as ’n spelreël van die beroep. Dit het volgens hom te make met die eerbiediging van die persoonlikheid van die sieke, soos wat die sieke hom of haar in volle vertroue aan die dokter openbaar. Met hierdie beskrywing kom ons al nader aan die negende gebod waar ons gevra word om die eer en goeie naam van die naaste te bevorder en opreg te wees in alles wat gesê word. Want met die beroepsgeheim word die persoonlike belang van die pasiënt gedien. Die dokter beskerm die pasiënt deur teenoor ’n derde te swyg. Maar daar is ook ’n sosiale belang wat hiermee gedien word. Die samelewing moet weet dat die doktergeheime wat aan hom toevertrou is, bewaar (Douma, 1997).
’n Dokter moet dus weet waaroor om te swyg teenoor ’n derde party, maar ook weet wat hy juis wel moet sê teenoor die pasiënt.
Moet die dokter die waarheid aan ’n pasiënt met ’n ongeneeslike siekte vertel? Vroeër is die beginsel van ‘de pia fraus’ gehuldig. Die sogenaamde vroom bedrog.
Omdat dit vir die pasiënt baie moeilik is om so ’n boodskap te hoor word dit liewer verswyg, verberg of as minder gevaarlik voorgestel. Byvoorbeeld om te sê dat dit ’n geswel is wat die neiging het om uit te brei, terwyl dit ’n kwaadaardige kanker is. Die negende gebod verbied egter alle vorme van lieg en bedrieg. Daar kan geen terapie in die leuen of halwe waarheid wees nie. Dit is nie altyd maklik om die waarheid te verwerk nie. Dit beteken egter nie dat dit nie ook heilsaam kan werk nie. Die rede vir die vroom bedrog is dikwels die onvermoë om met die waarheid van die dood om te gaan. Daarom die verberging daarvan.
Maar om slegte nuus oor te dra vra gehoorsaamheid aan die wet van die liefde: wat die negende gebod eis. Die waarheid lief hê en op reg wees. Daar hoor ons die woordjie liefde. Die waarheid in liefde en in sorg vir die pasiënt oordra. En so gee die negende gebod vir ons die oplossing van die probleem. Die waarheid kan op sigself liefdeloos wees. ’n Slegte prognose aan ’n pasiënt meedeel kan op ’n baie liefdelose manier geskied. Koud, klinies en arrogant. Dit het met liefde weinig te make. Maar om ’n slegte tyding op ’n liefdevolle manier te bring mag beteken dat alles nie dadelik vertel word nie, maar geleidelik. ’n Opvolgbesoek om rustig te kan praat en te verduidelik. Nie onbarmhartig die waarheid hanteer nie, en ook nie ’n vroom leuen nie. Want by die negende gebod is die liefde vir die naaste prioriteit. Die waarheid word in liefde ingekleur, juis ook in die spreekkamer, op die hospitaalbed en in die teater.