Bron: Wegwijs. 3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

God die Almagtige

“Ek Glo in God die Vader, die Almagtige”🔗

Só begin ons wanneer ons ons geloof uitspreek. En dis nie verniet nie, want mens kan nie oor God praat sonder om daaraan te dink dat Hy die Almagtige is nie.

Dit is juis die verskil tussen ons en God: ons loop sommer gou teen beperkinge vas, maar God kan alles doen. Dit is ook die verskil tussen die HERE, die God van Israel, en die sogenaamde gode wat deur die volke om Israel vereer is: die afgode is niks en kan niks doen nie, terwyl God groot, nuwe, wêreldveranderende dinge doen.

In die tweede deel van die profesieë van Jesaja kom dit aangrypend na vore.

By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.Jesaja 40:25, 26

En ook:

Ék het verkondig en verlos en dit laat hoor, en daar was geen ander god onder julle nie; en julle is my getuies, spreek die HERE, en Ek is God. Ook van vandag af is Ek dit, en niemand red uit my hand nie; Ek werk, en wie kan dit keer?Jesaja 43:12, 13

Uit Sy Hande, In Sy Hande🔗

Die eerste sinnetjie van ons geloofsbelydenis gaan verder: “die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde.” Hierdie koppeling is ook nie verniet nie. Dat God alles kan doen, sien mens eerstens daarin hoe Hy hierdie hele wêreld gemaak het. En as die hele wêreld uit die hand van God kom, kan jy daarop reken dat Hy ook alles in sy hand hou. Niks en niemand is te groot of te magtig vir hom nie.

Ek praat met opset oor God persoonlik, God die Almagtige. Ons glo nie in die almag van God nie, ons glo in God die Almagtige. By alles wat ons verder oordink, moet ons hieraan vashou: almag kan nie losgemaak word van wie God self is nie. Kyk maar na die tekste uit Jesaja hierbo: wat God deur sy mag doen, bewys wie Hy is.

God die Almagtige: in die hele Bybel word daar só oor Hom gepraat en gesing. Wanneer die HERE aan Abram verskyn, openbaar Hy Hom só:

Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.Genesis 17:1

God die Almagtige vra eerbied en vertroue. In die verband van Genesis 17 gaan dit oor die belofte wat God aan Abram gee: “Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ʼn menigte van nasies word” (Genesis 17:4). Daarmee beloof Hy iets wat bo die gewone, menslike vermoë is. Abram en Saraï is altwee al te oud om – biologies beskou – ʼn kind te hê. Mens sou kon sê dat dit in die Bybel ʼn vaste bewys van God se mag is, dat Hy aan kinderlose egpare tog ʼn kind beloof én gee.

Groot en Klein🔗

So kom die almag van God op heel persoonlike, menslike vlak na vore. Maar God toon ook sy mag in groot gebeurtenisse en natuurverskynsels, wanneer Hy die groot vloed stuur om die verdorwenheid van die mense te bestraf (Genesis 6-8), of wanneer Hy die water van die Rooi See in twee splits om die volk Israel op droë grond te laat deurtrek (Eksodus 14). Aan die voorbeelde sien ons dat die mag van God nie opsigself staan nie; God wend sy mag aan in die uitvoering van sy planne. Dit is die mag waarmee Hy straf, maar veral ook die mag waarmee Hy verlos. In die Psalms word hierdie mag van God besing, die mag waarmee Hy bevry en red uit alle nood.

Hierdie lyn word in die Nuwe Testament deurgetrek, en die almag van God kry ʼn besondere inhoud. Ons het begin by God die Vader, die Skepper van hemel en aarde. In die evangelie hoor ons van God die Seun, wat kom om ons te verlos. En dan vertel die evangelie van die magtige tekens en wonders wat Jesus gedoen het om te bewys dat Hy die Seun van God is en dat die koninkryk van God aan die kom is.

Die Swakheid van God🔗

Daar is egter ook ʼn ander sy. Jesus het nooit ‘brute krag’ laat sien nie (God doen dit nie). Hy voltooi sy verlossingswerk deur Homself oor te gee in die dood. Jesus vervul die beeld wat Jesaja 53 al geteken het van die Kneg van God.

Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?

Met dié vraag begin die hoofstuk in vers 1. Maar die vervolg is anders as wat mens sou verwag.

Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, ʼn man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ʼn mens sy gelaat verberg. Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel. Hy [is] afgesny ... uit die land van die lewendes…, [t]er wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.vs. 2, 3, 5, 8

Dit lyk soos ʼn verhaal van ʼn mislukking; net soos dit na ʼn mislukking lyk wanneer Jesus aan die kruis gespyker word. Is dít nou die openbaring van die krag van die HERE? Jesaja 53 sluit af met ʼn nuwe verrassing:

Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; ... as sy siel ʼn skuldoffer aangebied het, sal Hy ʼn nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.vs. 10

Juis deur swak te word, te ly, gebreek te word deur ons sondeskuld, behaal Jesus die oorwinning oor die sonde en die dood. In 1 Korintiërs 1:25 vat Paulus dit met dié woorde saam: “Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.” Deur Jesus Christus ontdek mens dat die mag van God van ʼn heel ander orde is as die fisieke, brute mag wat ons in ons mensewêreld ken.

Oor die Heilige Gees kan mens dieselfde sê. “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is” (Johannes 3:8). Die magtige werk van die Gees om mense opnuut gebore te laat word, vind plaas in die verborgene van die mensehart. Daar is geen geweld by nie; met sagte, maar onweerstaanbare, drang spreek die Gees jou aan, oortuig Hy van sonde, geregtigheid en oordeel (Johannes 15:8-11). Tereg praat die Dordtse Leerreëls hier van “ 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God ...  in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie” (III/IV, Artikel 12). Die skepping van die wêreld, die opstanding uit die dood, die bekering van ʼn sondaar tot God; dít is die groot bewyse van God se mag. Dit is dan ook in hierdie verband dat Jesus die bekende woorde, op hulle verskrikte vraag “Wie kan dan gered word?” aan sy leerlinge rig: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik” (Markus 10:26-27).

ʼn Mag om te Vertrou🔗

Ons kyk terug op wat ons in kort bestek uit die Bybel oor die almag van God geleer het. Almag is nie ʼn abstraksie nie, dit is direk verbonde aan wie God is: Vader, Seun en Gees, Skepper, Verlosser en Vernuwer. Hy toon sy mag in die wêreld wat Hy geskape het, in die klein dingetjies en die grotes. Sy mag word besonder getoon in Jesus Christus, wat tot die dood toe swak word om só die mag van sonde en dood te verbreek. God se mag kom naby ons deur sy Gees wat ons dooie harte tot nuwe lewe wek.

Die mag van God is rede om Hom te vertrou en alles van Hom te verwag. Ver bo ons eie vermoë en reëlreg teen alle magte wat ons omring, gebruik God sy mag om ons te red en om hierdie wêreld tot sy bestemming te bring.

  1. Lees Psalm 136. Skryf voorbeelde neer uit die Psalm van God se almag in die geskiedenis van Israel.
     
  2. Probeer om op dieselfde manier as die psalmdigter bewyse van God se almag in ons eie tyd te sien en te verwoord.
     
  3. Moet jy eers glo voor jy sulke bewyse van die almag van God kan sien?
     
  4. Wie is God die Almagtige vir jou?
     
  5. Bemerk jy in jou eie lewe iets van die almag van God?
     
  6. Was jy al teleurgesteld in die almag van God?
     
  7. Bespreek in julle groep die volgende stellings:
  • ‘Mag’ is in ons wêreld so ’n besmette woord dat ’n Christen dit eerder nie moet gebruik nie, veral nie in verband met God nie.
  • Die almag van God vul net die ‘gaps’ in ons mense se kennis en vermoë.
  • Geloof in die almag van God is nie meer relevant in die tyd waarin wetenskap en tegniek alles verklaar en beheers nie.