Bron: De Reformatie. 1 bladsye.

God is Koning

kroon

God is Koning. Hy het absolute soewereiniteit oor alles wat geskape is. Maar vanaf die sondeval erken die mens Hom nie meer as koning nie. Die mens is nie meer onderdanig nie en  steur hom niks aan Sy gebod nie. Hy maak eenvoudig asof daar geen God is nie, asof daar niemand is wat die absolute seggenskap oor sy lewe het nie.

God blý dan nog steeds koning.  Hy het gesag en Sy mag word geensins deur die mag van die sonde vernietig of beperk nie. Ná die sondeval is God nog in dieselfde mate soewereine koning as wat Hy daarvoor was. Hy laat die mens egter lewe volgens dit wat vir hulle goed en reg lyk. God laat die mens hulle eie gang gaan. Dit is Hy wat toelaat dat die mens Hom nie as koning erken nie en hul nie buig onder Sy wet nie. Hy gryp nie in om hulle te bring tot erkenning van Sy koningskap nie.

In die paradys was Hy soewereine koning. Hy openbaar Homself ook so. Hy toon aan Adam en Eva Sy koningskap, met al die seëninge wat daarmee saamgaan. Daarom erken hulle Hom ook as koning en buig hul voor Sy wet neer.

Maar nadat die sonde in die wêreld gekom het, openbaar God hom nie meer as koning nie. Hy openbaar nie Sy volle genade en ook nie Sy groot toorn nie. Die mense het Hom uit die oog verloor en vir soverre as wat God nog Sy koningsheerskappy wys, sien hulle niks daarvan raak nie. Hulle is blind daarvoor. God gryp dan ook nie met Sy sterk hand in nie. Hy dwing nie die erkenning van Sy koningskap af, goedskiks of kwaadskiks nie. Hy behou wel sy koninklike heerskappy, maar Hy oefen dit nie uit nie, tenminste nie só dat die mense dit erken nie. Hy wys nie dat Hy koning is nie. Tenminste nie aan die oorgrote deel van die wêreld nie.

Slegs in Israel (in OT) toon Hy Sy koningskap. Hy het aan Israel gesê dat hulle Sy volk is en dat Hy hulle koning is. Daar toon Hy weereens wat teokrasie beteken, wat dit inhou dat God regeer. Hy toon hoe groot die genade daarvan is en hoe swaar die verantwoordelikheid.  Israel ken God weer as hulle koning en noem hulself daarom: Sy volk. Tussen God en Israel is daar weer ‘n liefdesverhouding. Daarom word dit ook sigbaar hoe heerlik en hoe gedug die koningskap van God is. Want die volk se rykdom is hul Koning! Daarom is Israel begenadigd: God is weer koning by hulle. Dit wil sê: Hy maak Homself weer as koning bekend aan hulle. Hy laat die genade van Sy koningskap weer skitter en Hy eis weer die erkenning van Sy koninklike wet: Hier toon Hy weer sy koningskap in seën en gerig. Hier laat Hy sy koninkryk kom. Dit wil sê: Hy laat Sy koningseën en Sy koningsreg hier weer geld.

Is Hy dan nie koning van die wêreld nie? O ja, Hy het mag oor álles en Hy heers soewerein oor die wêreld. Hy doen dit egter so, dat die mense dit nie agterkom en erken nie, sodat hulle nie Sy koninklike genade proe en voor Sy wet buig nie. Hy is definitief Koning in die wêreld, maar geen Vader nie. Daar is geen liefdesband nie. Daarom word Sy koningskap ook nie sigbaar sódat die mense dit erken nie.

Israel erken God dus wel as koning van die hele wêreld. Deur Sy openbaring sien Israel dus wel dat Hy ook dáár heerskappy het. Maar aan die ander kant bely hul dat God slegs die koning van Israel is en dat Hy daar Sy mag uitoefen in genade.