2 bladsye.

God se Berou

see en lug

Party mense het ʼn probleem met die tekste waarin van God se berou gepraat word. Ons verwys na Genesis 6:7 as inleiding op die geskiedenis van die sondvloed, Eksodus 32:13-14 as antwoord op die gebed van Moses om die volk Israel nie uit te roei nie, en ten slotte 1 Samuel 15:11 in verband met die sonde van Saul. Die Here het berou daaroor gehad dat Hy Saul as koning aangestel het. Ons kan nie ontken dat die woord berou in verband met God gebruik word nie. Ons mag nie probeer om hierdie tekste onder die mat in te vee nie. Ons moet probeer om sulke tekste in hulle Bybelse verband te verstaan. Dit wil sê: ons moet hulle aanhoor as woorde oor God, die Ewige en Onveranderlike. Ons kan nie aanneem dat hierdie woorde in die Bybel daarop dui dat daar ʼn teenstrydigheid is in die wyse waarop daar oor God gepraat word nie. Dan sou ons ʼn gesplete, ʼn verdeelde God in die Bybel aantref.

Ons wil dit anders stel: die onveranderlikheid van God kan daarteen standhou dat daar oor berou gepraat word. God Self kan in sy onveranderlikheid dit verdra dat daar oor sy berou gepraat word. Die berou van God het te make met mense se sondes (Saul, die bewoners van die aarde voor die sondvloed) en met die bedreiging van die oordeel wat Hy aangekondig het. God reageer met straf op mense se sondes. God reageer op die gebed om sy oordeel af te wend. Hy gee aandag aan die gebed van mense wat vra of Hy die gerig nie (of nog nie nou al) wil uitvoer nie. Hy laat Hom verbid (2 Kronieke 33:13), ook sonder dat sy berou daarby eksplisiet ter sprake kom. ʼn Duidelike voorbeeld daarvan dat God sy toorn nie tot uitvoer bring nie, is die reeds aangehaalde teks Hosea 11:8, 9. Juis dan word oor God se heiligheid gepraat. Die heiligheid is die eintlike rede hoekom die oordeel (nog) nie voltrek word nie. 

Ons het reeds gesien: God se heiligheid sê dat God werklik God is, ook in sy barmhartigheid en heiligheid. God reageer op die sondes en gebede van die mense. God se ewigheid verlam nie ons verantwoordelikheid nie. God se onveranderlikheid verhinder Hom nie om op ons dade te reageer met ʼn wonder wat ons nie verdien het nie. God doen dit in getrouheid aan sy wese, aan Homself. God verloën nie sy wese as Hy van berou praat nie. Sy berou hou altyd verband met sonde en met die bedreiging van oordeel. Dit kom ter sprake waar mense hulle teen God misgaan en sy gerig verdien. God se berou het ʼn plek in die lewende omgang van God met skuldige mense. Sy berou is altyd ʼn reaksie op sonde wat Hy aantref en op wat mense met ʼn beroep op sy genade en barmhartigheid Hom vra om nie te doen nie, ofskoon dit regverdig sou wees. Dit was verdien. God is met mense besig en bewoë, in die kwaad en in die gerig wat hulle verdien. As God berou het, beteken dit dat God met mense worstel. Ook in sy berou betoon Hy Homself as die God van die verbond. Dit is nie so dat God se berou God onregverdig laat optree nie – dit mag ons glad nie dink nie. God se berou bewys sy lewende betrokkenheid by die doen en late van mense in hulle sonde en nood. God se berou doen geen afbreuk aan God se betroubaarheid of sy waaragtigheid nie. Daaroor word daar juis in Eksodus 34:6 (na 32:10-14) gepraat en in Psalm 57:11 en Psalm 138:2. Ook in die Nuwe Testament kom ons die waaragtigheid van God se Woord teë (Romeine 3:4; sien ook Johannes 3:33). Jesus noem Homself die troue en waaragtige Getuie (Johannes 14:6; Openbaring 3:14).

gebed

Noudat ons van Jesus praat, wil ons vra: hoe sou die Vader die Seun kon gestuur het as Hy nie sy besluit herroep het oor die absolute oordeel wat as straf oor die sonde aangekondig is nie? As God nie sy besluit verander het nie, dan het die geskiedenis in ewige duisternis geëindig. Dan sou God se regverdigheid voltrek gewees het. Waar sou ons God se barmhartigheid dan in die geskiedenis sien? Die berou van God hang daarmee saam dat God sowel regverdig as barmhartig is. Die twee sluit mekaar nie uit nie. Die heilige eenheid daarvan is God se geheim. So is dit ook die geheim van God se wese dat daar van sy berou gepraat word. Sy berou doen geen afbreuk aan sy onveranderlikheid nie. Niemand kan met ʼn beroep op God se berou Hom van ongeregtigheid of onbetroubaarheid beskuldig nie. God, die Skepper en Verlosser, die Ewige is die Onveranderlike. Sy berou toon hoe Hy as die betroubare God in bewoënheid betrokke is by mense in skuld en nood. Hierdie God, enig en onveranderlik, het juis as bewys daarvan sy Seun gestuur. Hy mag genoem word die getroue en waaragtige getuie van sy vader, die ewige en onveranderlike God. Iemand wat in leer of lewe ʼn probleem het met God se berou, moet luister na Johannes die Doper en doen wat hy sê: sien die Lam van God. Die Lam kan gesien word, en binnekort ook in die hemel (Openbaring 5:6).