2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

In God se Gesin Aangeneem Oor die aanneming tot kinders van God

kerkdiens

Paulus se brief aan die Efesiërs is ʼn wonderlike verslag van evangeliese leerstellings en praktyk. Hy skryf aan die gelowiges in Efese om hulle te herinner aan die heerlike werklikheid van hul verlossing en die groot verantwoordelikheid wat op hulle rus: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het” (Ef. 4:1).

Paulus kan nie aan hierdie temas dink nie behalwe in die konteks van lofbetuiging aan en verwondering oor die God van Wie al die seëninge van verlossing kom. “Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3). Paulus gebruik die woord seën in die vorm van ʼn byvoeglike naamwoord, ʼn werkwoord en ʼn selfstandige naamwoord. God is geseënd. Hy het ons geseën. Hy het ons al die seëninge gegee. In Christus het God vir ons gedoen wat ons nooit vir onsself sou kon doen nie, en Hy verdien al die eer daarvoor.

Onder al die seëninge wat ons van God ontvang het, is die seën van aanneming. Ons is ingebring in die gesin van God en is kinders van God gemaak. Van God het ons die “Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’. Dit beteken Vader (Rom. 8:15). Sover dit ons status aanbetref, is ons nie meer “vreemdelinge en bywoners” van die volk van God nie, maar “lede van die huisgesin van God” (Ef. 2:19). Die Christene in Efese mag dalk nie natuurlike verwantskappe met die nageslag van Abraham hê nie, maar God het in Sy genade die probleem van hul spirituele vervreemding uit sy verbond aangespreek deur hulle Sy seuns en dogters te maak.

In die openingsgedeelte van Efesiërs word ons aandag gevestig op vier sake wat verband hou met ons aanneming. Die eerste is dat ons vooraf bestem is vir hierdie nuwe status. “In Sy liefde het Hy ons, volgens Sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus Sy kinders te wees” (Ef. 1:5). God het self  ʼn begin gemaak met ons aanneming, en die besluit om ons Sy kinders te maak is geneem voordat ons of die wêreld bestaan het. Daar is ʼn vasbeslotenheid – ʼn doel – van God se kant om sy gesin te vergroot deur rebelle en sondaars in die gesin in te bring. Dit is een ding vir menslike ouers om te besluit om iemand aan te neem wat by die gesin sal pas en die gesin sal versterk; God, aan die ander kant, neem dié aan wat presies die teenoorgestelde van Homself is. Die tweede aspek van aanneming is dat ons “God moet prys vir Sy wonderlike genade” (Ef. 1:6). Ons aanneming in God se gesin is nie soseer dat dit tot ons voordeel is nie. In die eerste instansie is dit iets wat die reputasie van die God en Vader van ons Here Jesus Christus, wat gekies het om ook ons God en Vader te wees, verhoog. Al die eer kom Hom toe. Ons aanneming was Sy keuse, en dit konsentreer op sy eer en verheerliking. Maar God het, deur sy genade en guns, hierdie seëning aan ons gegee sodat Hy deur die eindelose duur van die ewigheid geprys sal word.

hande en gesin

Die derde fokus van Paulus se leerstellings oor aanneming is dat dit in Christus is. Paulus gebruik die sinsnede “in Christus” of “in Hom” ongeveer tagtig keer in sy briewe. Daar is geen spirituele seëning buite Christus nie. Maar as ons eers in Hom is, is daar geen spirituele seëning wat nie aan ons behoort nie. Kyk na die veelvoudige klem hierop in Efesiërs 1:3-6: Ons is “in Christus” geseën (Ef. 1:3); ons is “in Christus” uitverkies (Ef. 1:4); ons is “deur Jesus Christus” bestem om Sy kinders te wees (Ef. 1:5);  ons het Sy wonderlike genade ontvang wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het (Ef. 1:6). Die hele saak van ons aanneming vind sy middelpunt en betekenis in Jesus Christus.

Bowendien, as ons wil weet dat ons aangeneem is in die gesin van God, moet ons na Jesus Christus kyk. God het geen fokuspunt of grond waarop hy ons status as Sy aangenome kinders kan vasmaak nie, behalwe op wat Hy gedoen het in sy eniggebore Seun. Hy het die een Seun wat Hy in alle ewigheid gehad het, na die wêreld gestuur met die doel om sy gesin te vergroot, sodat Hy baie kan laat deel kry aan sy heerlikheid (Heb. 2:10). Om aangeneem te wees is om in staat te wees om te staan waar Jesus altyd gestaan het, na God te kyk en Hom “Abba” te noem. Jesus, wat vir God altyd aangespreek het as “My Vader” leer sy volk om te sê “Ons Vader”.

Dis ʼn glorieryke, heerlike, ontsagwekkende, en verootmoedigende leerstelling. Ons, wat vyande van God was, word kinders van God gemaak, omdat die Seun van God uitgesonder is om as vyand beskou te word; Hy is ʼn vloek gemaak ter wille van ons, sodat nie-Jode ook deel kan kry aan die seën van Abraham (Gal. 3:14) – die seën waarin God sê: “Jy is Myne.”

Laastens is ons aangeneem sodat ons die kenmerke van die gesin kan dra. Ons is uitverkies om heilig en onberispelik te wees (Ef. 1:4). Dit is die wesenskenmerke van God se kinders. Hulle word eenkant gehou om “bo alle verdenking te staan en opreg te bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense” (Fil. 2:15). Daar kan geen aanneming wees sonder oordrag van die familie-kenmerke nie, en ook nie sonder die inplanting van ʼn nuwe stukrag tot heiligheid en vroomheid nie.

Toe my kinders jonger was, het dit het my altyd groot plesier gegee as een van ons seuns sê: “Ek wil graag soos my pa wees.” Ek weet nie van iets wat beter bewys dat ons aangeneem is in God se gesin nie, as om te wens dat ons, meer as enigiets anders, meer soos ons Vader wil wees. Dit is die hoofsaak waarom Hy ons aangeneem het.