Bron: Kompas, 2001. 3 bladsye.

Godsdiens en Nasionalisme

In konfliksituasies, soos oorlogsomstandighede, word dikwels baie uitgesproke standpunte ingeneem. Alle onderlinge verskille wat daar mag bestaan word ter syde geskuif ten gunste van die een groot doel. Alles word in diens van die oorwinning gestel en daaraan ondergeskik gemaak. Dit is des te meer die geval wanneer dit oor oorlewing gaan soos in die Anglo-Boereoorlog.

Reg🔗

Die debat oor die vraag of die Boererepublieke die oorlog kon voorkom het deur hul beleid ten opsigte van stemreg te verlig, is sinloos. Die Britse regering se opdrag aan sir Alfred Milner was baie duidelik: die Britse gesag moes oor die OVS en ZAR uitgebrei word, goedskiks of kwaadskiks. Dat die reg in die ABO aan die kant van die Boere was, is bo alle twyfel verhewe. Selfs bittere teenstanders van die Boere, soos Mohammed Ghandi (wat self as mediese helper die Britte in Natal gedien het), erken dit volmondig.

Die Boere was self nog baie sterker daarvan oortuig dat die reg aan hulle kant was. Die oortuiging was so sterk dat hulle verwag het dat magtige lande soos Duitsland, Rusland en Amerika, Brittanje tot die orde sou roep en die reg van die republieke op onafhanklikheid sou ondersteun. Dat dit nie gebeur het nie, was vir hulle onverklaarbaar en baie moeilik om te aanvaar.

Die absolute oortuiging van hulle reg in die konflik met Brittanje het aanvanklik onder die hele bevolking en later onder die Bittereinders ’n baie sterk eenheidsgevoel teweeggebring.

Geloof🔗

Die gevoel van eenheid en onderlinge verbondenheid is nog versterk deur ’n algemene geloofsoortuiging. Op enkele uitsonderings na was die oorspronklike blanke bevolking van die twee Boererepublieke lidmate van kerke met ’n gereformeerde agtergrond en geskiedenis. Ondanks verskille in opvatting was die gemeenskaplike faktor baie sterk.

Een van die sake waaroor geen verskil van insig bestaan het nie, was die absolute soewereiniteit van God. Dit pas die mens nie om met sy Maker te twis nie. Ook al is sy dade vir ons onbegryplik, ons aanvaar dit uit sy hand en buig ons hoofde.

Hierdie erkenning van God se soewereiniteit het gepaard gegaan met die absolute oortuiging dat God die kwaad straf en die reg handhaaf. God kan die onreg nie gedoog nie en hoewel baie mense en volke dit ontken, regeer Hy die geskiedenis van volke en lande.

Hierdie twee elemente het oor die algemeen tot ’n eenvoudige oortuiging gelei: die saak van die Boere is regverdig; dus sal God sy seën daaraan verbind. Dit kan egter God se wil wees dat die volk eers deur ’n diep dal van teenslae moet gaan om daardeur gelouter en beproef te word. In die weg van volharding sal God egter uiteindelik die oorwinning gee.

Prediking🔗

Die nonkonformistiese preke van CH Spurgeon het sterk by die gedagte aangesluit. Vir Spurgeon is God ook absoluut soewerein en regverdig in sy handelinge. Ook hy beklemtoon die noodsaak van volharding en toegewyde gehoorsaamheid. Die uiteinde sal redding wees.

Ook die predikante wat die kommando’s besoek het, het in hul Skriflesing en prediking by die algemene oortuiging aangesluit. Ds Kestell vertel dat hy op kommando hoofsaaklik uit die Ou Testament gepreek het. Ds Louw, wat ook tot die einde toe in die veld was, konstateer dat hy steeds meer Ou Testamentiese tekste gebruik het namate die oorlog langer geduur het.

Dieselfde aandag vir die geskiedenisse van die volk Israel en die reddingsdade van die Here, het by die huisgodsdiens troos en bemoediging gegee. Offisiere het in hulle toesprake dikwels ’n ooreenkomstige geluid laat hoor.

Gevolge🔗

Die groot aandag vir die Ou Testament het aanleiding gegee tot ’n baie sterk eksemplariese Skrifuitleg. Daar is ’n baie direkte verband gelê en ooreenkoms gesoek tussen die geskiedenis van die volk Israel en die Afrikanervolk. Die vergelykings het baie reglynig geword: soos die Here sy volk Israel uit Egipte gelei het so sal Hy ook die Afrikanervolk red van die onderdrukking en vervolging deur Brittanje. Soos die profete die volk Israel opgeroep het om trou te wees aan die Here, met die belofte van seën daaraan verbind, so moet die Afrikanervolk terugkeer tot die diens van God en dan sal God uitredding gee.

Hierdie sienswyse was nie net gemik op die bemoediging en volharding van die Bittereinders nie. Dié doelwit het uiteraard wel ’n rol gespeel, predikante en offisiere het dit as hul taak gesien om die veggees lewendig te hou. Daar was egter ’n dieper oortuiging wat ’n “is-gelyk-aan-teken” laat plaas het tussen die verbondsvolk Israel van ouds en die Afrikanervolk van die dae. Die ooreenkoms tussen die Ou Testamentiese verbondsvolk Israel en die kerk van die Nuwe Testament het na die agtergrond geskuif. Die verband is nie ontken nie, maar die verbintenis het geloop via die volk.

Die standpunt word ook duidelik as ’n mens lees hoe die verbond wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het, ’n verbond word tussen God en die Afrikaner, waaruit dan volg dat die Afrikanervolk ook die karakter van ’n kerkvolk moet kry. Die eksemplariese vertolking het selfs sover gegaan dat ’n mens lees dat een voorganger ’n vergelyking gemaak het tussen die Ou Testamentiese gebruik om as teken van rou die klere te skeur en die geskeurde klere van die Bittereinders wat as teken van rou oor die sonde van die Afrikanervolk moes dien.

Hierdie baie uitgesproke standpunte mag uiteraard nie sommer algemeen vertolk word nie. Tog was dit nie tot insidentele voorvalle beperk nie, daar is baie getuienis dat die gedagte redelik wyd aangehang is.

Dingaansdag🔗

Een van die mees opvallende verskynsels is die Dingaansdagvieringe. Na die slag by Bloedrivier op 16 Desember 1838 is dié dag slegs in beperkte kring gevier. Eers nadat op 16 Desember 1880 die groot saamtrek en klipstapeling by Paardekraal plaasgevind het, het die viering van hierdie dag stadig maar seker momentum gekry. Dingaansdag is dit genoem. Kort voor sy dood in 1871 het Sarel Cilliers verklaar dat dit die bedoeling was dat hierdie dag as ’n Sabbat gevier moes word. Dié gedagte het min ondersteuning gekry en in 1894 het die ZAR-regering nog geweier om hierdie vakansiedag as ’n sabbat te erken. In die OVS het Dingaansdag eers in 1894 ’n openbare vakansiedag geword en ook daar is die versoek om dit as ’n sabbat voor te skryf in 1898 deur die regering afgewys.

Dingaansdag het om verklaarbare redes tydens die oorlog steeds meer belangstelling gewek. Dit is egter opvallend dat die eerste Dingaansdagherdenking in oorlogstyd, die van 1899, wat een dag na die geweldige oorwinning by Colenso gevier is, slegs deur enkele honderde burgers bygewoon is.

In die volgende jare, toe die nood gestyg het, het die viering begin verander. Dit het dae van verootmoediging geword vir hulle by wie die godsdienstige en nasionale gevoelens saamgevloei het. JF Naudé praat in hierdie verband van ’n Volkssabbat (wat dit ook al mag wees), soos wat dit die bedoeling van die voorvaders was.

In ander kommando’s, soos die van Ben Viljoen, is daar in die oggend ’n biduur gehou en is die dag verder met atletiek en perdewedrenne deurgebring.

Schimmelkop🔗

Die grootste Dingaansdagviering tydens die oorlog was die van Sondag 16 Desember 1900. Dit was drie dae na De la Rey se oorwinning by Nooitgedacht. ’n Aantal Wes-Transvaalse kommando’s saam met hul vroue en kinders uit die omgewing was betrokke, altesaam ongeveer 2000 mense. Na ’n ernstige vroegoggendbiduur het die skare, met die Vierkleur en die offisiere vooraan, Schimmelkop, naby Nooitgedacht, bestyg. Halfpad teen die kop uit het ds. Kriel uit Psalm 24 voorgelees: Wie mag die berg van die Here opgaan? Daarna het almal singend uit Psalm 146 die kop verder uitgeklim.

Op die top het ds. Kriel die skare voorgegaan in die herbevestiging van die gelofte van 1838. In die toesprake van De la Rey, Smuts en Beyers is baie aandag gegee aan die wording van die Afrikanervolk en die verwaarlosing van die gelofte in die verlede. Na die toesprake het die hoorders die geleentheid gekry om hul instemming met die gelofte te betuig deur elkeen ’n klip te bring vir ’n gedenkteken. Spoedig het daar ’n hoë klipstapel verrys wat die naam Ebenhaeser gekry het. Slegs enkele burgers het geweier om aan hierdie teatrale optrede, soos hulle dit genoem het, deel te neem. Maar van die weieraars is bekend dat hulle hulself as agnostici beskou het. Ander burgers wat wel deelgeneem het, getuig later dat dit meer uit groepsdruk as uit oortuiging gedoen is.

Hoe dit ook al mag wees, die gebeure by Schimmelkop het baie duidelik die nou verweefdheid van godsdiens en nasionalisme by die burgers op kommando na vore gebring.

Uitsprake🔗

Die leiers se toesprake op Schimmelkop was vol van skuldbesef oor sondes wat hulle as volk teen God gepleeg het. In sy toespraak op Schimmelkop het genl. Koos de la Rey die stelling gemaak dat ’n volk wat trou aan homself is, trou aan God is. Hierdie uitspraak beteken per implikasie dat iemand wat ontrou aan die volk is, wat soos die wapen-neerlêers die nasionale saak verraai, verraad teenoor God pleeg. Dit is altyd gevaarlik om ander mense ‘by implikasie’ woorde in die mond te lê wat hulle nie gespreek het nie, maar die algemene gedagte lyk tog nie te ver gevoer nie. Genl. CR de Wet het by geleentheid van teenslag verklaar dat God sy volk soos die tarwe wou sif. En president Steyn het so vroeg soos Oktober 1900 reeds die gedagte geuiter dat diegene wat die wapens neerlê vir ewig verlore is, en dat dié wat in die stryd volhard, tot God se uitverkorenes behoort. Ds Burger het die president egter tereggewys oor hierdie uitspraak, maar die voorval toon wel aan tot watter gevolge die vervlegting van godsdiens en nasionalisme kon kom, selfs by verantwoordelike leiers.

Lesse🔗

Kan ons uit die verlede iets leer? Wat is die sin van herdenkings en van die studie van (kerk)geskiedenis? Net so goed as wat dit gevaarlik is om eksemplaries met die Skrif om te gaan, kan ’n mens ook die geskiedenis misbruik om hedendaagse propaganda te maak. Om lesse uit die verlede te neem, kan ’n gevaarlike besigheid wees, maar die verlede is tog wel tot ons lering.

Dit is duidelik as ’n mens kyk na die verwarring van godsdiens en nasionalisme. Dit het altyd voorgekom as dit met die Afrikanervolk sleg gegaan het, as daar ondergang gedreig het. Dit was die geval in 1838 in 1880, tydens die ABO en in die eerste dekades van die vorige eeu. Ook vandag kan ’n mens bekommerd raak oor die toekoms van die Afrikaneridentiteit, sy taal en sy tradisie. Dit bly tog kosbare skatte om te bewaar. Ons sal egter versigtig moet wees om nie in dieselfde slagyster van vermenging van godsdiens en nasionalisme te trap nie – en die gevaar is beslis nie denkbeeldig nie. Ons sal moet bly besef en uitleef dat ons in die eerste plek deel uitmaak van God se volk wat Hy uit alle volke, tale en nasies vergader en dat vir ons ’n Vaderland op die nuwe aarde wag.