Bron: Kompas, 2008. 3 bladsye.

Grepe uit die Geskiedenis van die Vroeë Kerk

Die artikelreeks Relevant kerkwees begin met ʼn uitsig op die geskiedenis van die kerk. Nog voor die kerk openbare erkenning ontvang het (312) en nog voor die Christelike godsdiens amptelik dié van die Romeinse Ryk geword het (384), was daar aandrang om die evangelie en die geloof méér relevant te laat wees. Tot beswil van die kerk. In hierdie eerste bydrae in verband met die geskiedenis van die kerk word daarop gefokus hoe hierdie aandrang gedurende die eerste vier eeue vergestalt is. ʼn Fassinerende prentjie ontvou.

1. Moraliteit en Spiritualiteit🔗

Die doelbewuste inslag om aan relevansie te wen, kan teruggevoer word na die geskrifte van Christene uit die tweede en derde eeue. Die opsigtelike teologiese skuif na die klem op waardes en moraliteit (die Didaché, 120) of spiritualiteit en mistiek (Ignatius, 110) in die apostoliese vaders se briewe, is byvoorbeeld hiervan uitdrukking. Daarmee is aansluiting gevind by gangbare opvattings oor die positiewe rol van godsdiens in gemeenskappe, maar die Bybel se verkondiging van genade en begenadiging het op die agtergrond beland.

2. Verantwoorde Skrifkritiek en ʼn Aanvaarbare Godsbeskouing🔗

Die Bybel self is uit die staanspoor dikwels deur nie-Christene by die samelewing onder verdenking gebring. Of die Bybel werklik die enigste betroubare bron is waarin die lewende God Homself openbaar, is openlik bevraagteken en uiteraard nie aanvaar nie.

Die bewyse het ontbreek. Teen ongeveer 140 het Marcion, ʼn invloedryke en geleerde seun van ʼn biskop, gemeen dat die kerk in hierdie verband goeie gesig kon behou deur Skrifkritiek toe te pas. Wat hom betref, het die Bybel sy ontstaan te danke aan die Joodse godsdiens (die Ou Testament) enersyds, en andersyds aan dié van die eerste Christene (die Nuwe Testament). Op historiese gronde moes die twee testamente geskei word. Elkeen het immers ʼn eie ontstaansgeskiedenis én ʼn eie godsbegrip. Onderliggend aan die Ou Testament skuil ʼn ongenaakbare en wraakgierige god. Hierteenoor spieël die Nuwe Testament ʼn liefdevolle en versorgende god.

Binne die Hellenisties-Romeinse beskawingsmoraal was eersgenoemde onaanvaarbaar, terwyl laasgenoemde weer goed afgegaan het by die mense van sy tyd. Marcion het gevolglik die Ou Testament (en dié se vermeende god) verwerp. Net die geskrifte van Lukas en Paulus was aanneemlik, omdat daarin ʼn god van liefde aan die bod gekom het. Op hierdie manier het hy geglo dat hy die kerk aan beduidende betekenis gehelp het.

3. Begeestering🔗

Nog in min of meer dieselfde tyd was Montanus die sienswyse toegedaan dat die verhouding tussen God en mens op ʼn regstreekse goddelike inspraak in die binneste van die mens berus. Dit het hy toegeskryf aan die werk van die Heilige Gees. Die gees van die mens vat hande met die Gees van God. Die kern van die Christelike geloof bestaan dus in geestelike belewing, iets wat nie vreemd was aan ander godsdienste nie. In hierdie begeestering lê dus die aantreklikheid van die Christelike geloof. Montanus het nie net die Bybel oorbodig gemaak nie, maar ook die onlosmaaklike verband tussen die Bybel en die Heilige Gees onderspeel. Wat ons tema betref, veronderstel sy oortuiging gevolglik dat geloofsrelevansie die relativering van die Bybel as openbaringsbron meebring.

4. Aansluiting by die Gnostiek🔗

In die vroeë kerk was daar ook Christene wat oortuig was dat die Christelike geloof versoenbaar was met insigte van die filosofie, veral daardie soort filosofie wat religieuse kennis as ʼn fundamentele uitgangspunt vir die ontsluiting van die totale werklikheid (ook die bo-natuurlike) aanvaar het. Die gnostiek, uitgepak in soveel verskillende skakerings, het gewilde verklarings vir die realiteit aangebied. Daar is ʼn materiële wêreld, maar ook ʼn bo-reële een. Wie kennis (gnosis) van laasgenoemde verwerf en in ʼn bewuste verband daarmee staan, kan in volkome harmonie met die werklikheid in sy totale omvang leef. Hierdie kennis is bekombaar by godsdienstige gemeenskappe, waar ʼn mens deur middel van bv. rituele, kultiese praktyke, afsondering, meditasie en die vereenselwiging met ʼn verlossersfiguur (wat tussen die twee wêrelde beweeg) daaraan gehelp word.

Vir diegene wat die Christelike geloof wou verdedig as ʼn saak wat ʼn bestaansreg van sy eie het, was die akkommodering van en aansluiting by die gnostiek ʼn aangewese opsie. Dit sou teenspraak hokslaan. Hulle wou aantoon dat die Christelike geloof en sy aansprake wesenlik ooreenkom met die uitgangspunte en eienskappe van alle ander godsdienste en geloofsgemeenskappe. Daar is dus afdoende rede vir ʼn sinvolle staanplek in die samelewing, asook die rol wat hierdie (Christelike) vorm van geloof en religie gespeel het. Die bestaansrede vir die kerk en die Christelike geloof lê dus in die algemene verskynsel van godsdiens, wat die doel het om die mens aan ʼn bo-natuurlike wêreld deel te laat kry, sodat die lewe self méér sinvol geleef kan word. Religieuse ekumene is die platform waarop relevansie en belang te vinde is.

Min Christene het hulle egter vereenselwig met die gnostiek, wat niks anders is nie as die klassieke oorsprong van die hedendaagse New Age-beweging. Hierdie aanvaarding kon hulle nie opoffer aan die belydenis dat die Vader die hemel en die aarde geskep het, en dat die Seun, op grond van sy verdienste, die enigste Verlosser van die sonde en die dood is nie, en dat Hy in sy begenadigende werk deur die Gees en die Woord dit aan ons toereken nie. Dit gaan om geopenbaarde Godskennis, en nie toegang tot religieus-filosofiese geheimenisse nie.

5. Die Mensheid van Jesus Christus🔗

Tog was daar nog een ingrypende ontwikkeling waarmee die kerk gekonfronteer is. Hierdie keer het dit nie van buite gekom nie, maar van binne. Die probleem het ontwikkel rondom die belydenis van die Drie-enige God. Volgens die netjiese teoloog uit Alexandrië, wie se hart vir die sending geklop het, moes versigtig omgegaan word met hierdie belydenis. Daar moes fyn onderskei word. Kyk, het Arius geredeneer, as ons ongenuanseerd bely dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees God is, veronderstel ons by diegene wat aan ʼn veelgodedom vashou, die bestaan van drie gode. Dan stort ons sending in duie, omdat daar geen goeie redes is om die Christelike geloof te aanvaar nie. Dit kan eenvoudig geakkommodeer word sonder om harte te verander. So beroof ons ons geloof van sy eie relevansie. Sy motief was om die sending met ʼn aanvaarbare teologie te beskerm.

Arius wou dus, ter wille van relevansie, teologies gaan onderskei en ook skei. Sy probleem was die ewige Godheid van Christus. Wat hom betref, moes toegegee word dat Christus nie op dieselfde manier ewig is as die Vader nie. Hy is iewers gegenereer, voor die skepping van die aarde, maar nie voluit ewig nie. In hierdie sin is hy ondergeskik aan die Vader en kan ʼn monoteïsme gehandhaaf word, sonder om Jesus Christus met die spreekwoordelike badwater uit te gooi.

Hierdie teologiese konstruksie het nog verdere voordele ingehou. Arius het geredeneer dat dit die enigste aanvaarbare grond is waarom Hy werklik histories mens kon word. Die historiese Jesus kan dus voluit gehandhaaf word. Dit veronderstel sy generering of skepping. God is immers onveranderlik en kan nie volledig mens word nie. Die Vader, het hy gemeen, het inderdaad nie mens geword nie – die (later) gegenereerde Seun kon en het wel. Die historiese Jesus het dus die wegspringplek geword vir nadenke oor Hom en oor sy werk. Maar, dit was ook die eindpunt. Sy Godheid het in die slag gebly. By die Konsilie van Nicéa (325) is Arius se oortuiging verwerp en beslag gegee aan die Belydenis van Nicéa, wat ons vandag nog bely.

Maar, Arius se gedagtes het hulle inslag in die kerk behou. Nadenke oor Christus wat sy vertrekpunt in die historiese Jesus neem, en Hom omvorm tot bv. ʼn weerlose babatjie by Kersfees, of “Liewe Jesus” in kinderbybels, of die rewolusionêr van die bevrydingsteologie. Relevansie dus, maar binne kategorieë aangepas by menslike insigte en behoeftes wat hom vereenselwig met inbeeldings gebaseer op die mensheid van Christus.

6. Samevatting🔗

Dit het nou tyd geword om ons oorsig op die verskillende gestaltes wat die aandrang op kerklike relevansie gedurende die eerste vier eeue geskep het, saam te vat. Relevansie is gevind in etiese waardes en moraliteit. Ander het dit weer in mistiek en spiritualiteit gaan opsoek. Charismatiese begeestering sonder verankering in die Bybel het by sommiges hoog op die prioriteitslys gestaan. Die aansluiting by en akkommodering van algemeen geldende filosofiesreligieuse insigte kon nuwe moontlikhede bied. Neem uit die Skrif wat inpas en goed is, en bou die kerk daarop, was vir Marcion ʼn goeie en relevante uitgangspunt. Met die vasklem aan die mensheid en historisiteit van Jesus van Nasaret kon prakties-teologies nuwe grond geploeg word.

Die vergestalting van ʼn soeke na kerklike relevansie destyds het konsekwensies ingehou vir die bediening van die evangelie in terme van die Skrifopenbaring. ʼn Bedreiging het daarin geskuil. Tog is die kerk sonder die toedoen van ʼn mens voortgaande versamel, onderhou en beskerm en is sy nie prysgegee aan die verleiding van relevansie nie. Fassinerend, om die minste te sê.