3 bladsye.

Groei saam in die geloof

Saam met die kerk van alle eeue🔗

Met ons geestelike groei staan ons binne in ʼn wye ruimte, die ruimte van die kerk van alle eeue. Ons lewe vandag. En dit is ook reg so. Jy het jou eie plekkie van God ontvang. Jy lewe nie in die tyd van Keiser Konstantyn of van Karel die Grote, van Calvyn of van Abraham Kuyper nie, maar jy lewe nóu, na die jaar 2000, nà die Middeleeue, nà die Reformasie en nà die Verligting. Jy lewe in die tyd van satelliete en rekenaars, van Lady Gaga en Facebook, van Obama en United Nations.

Ons leef nou in hiérdie tyd, in hiérdie konteks, in hiérdie wêreld. Met God se hulp staan ons voor al hierdie uitdagings. Ons moenie dink dat ons alle antwoorde het wanneer jy die gedagtes, belydenisse en teologiese onderwerpe van die voorgeslagte kan napraat en opsê nie. Dit is nie goed genoeg om net die hele tyd na die verlede te verwys nie. Die kerk is nooit op ʼn outomatiese loods (“Eng: ‘autopilot’) ingestel wat vanuit die verlede ingestel is, nie.

Terselfdertyd moet ek byvoeg: In ons geestelike groei moet ons ons nie losmaak van die kerk van alle eeue, van ons voorgeslagte nie. Dit is baie belangrik om die verbindingskanale met die verlede oop te hou. Daarom is dit goed as daar ʼn voortdurende wisselwerking is tussen óns vandag en die breë skare Christene wat vóór ons hul geloof opreg uitgeleef het.

Dit is die uitgangspunt wat ons in die Bybel aantref. Die Bybel lê baie klem op die gemeenskap van die heiliges. Om in die gemeenskap van die kerk voordeel te trek uit mekaar se wysheid, geld nie slegs tussen mense van nou nie, maar ook tussen mense van nou en vroeër. Nee, die oortuigings en geskrifte van vroeër is nie outomaties meer waardevol as dit wat ons vandag vind nie. Hulle moet altyd getoets word aan die Skrif. Maar wat deur die Gees van God goed en vrugbaar was, behou sy waarde.

Dit is waarom kerkgeskiedenis ook belangrik is. So sal ons weet waar om waardevolle skatte te vind, juis met die oog op die geestelike groei in ons tyd. So sal ons ook weet van seënryke paaie èn van ou struikelblokke wat daar is. Op hierdie basis kan ons weet hoe om goeie geestelike leiding gee aan vandag se gemeentes. Om aansluiting te soek by die kerk van alle eeue, sal dikwels ʼn gunstige korreksie wees op jou eie denkwyse. Wanneer jy ʼn breër oorsig het, verstaan jy baie beter jou eie posisie en sien jy beter hoe dinge wel en nie moet gebeur nie.

In ons eie tradisie is daar byvoorbeeld eensydighede. Daarom moet ons nooit ʼn tradisie tot norm verhef nie. Ons moet ons denke altyd weer verfris en vernuwe deur te put uit die lewensbron, die Heilige Skrif. Die kerkgeskiedenis kan ons help om ook na ander punte te kyk as net na die wat reeds in ons tradisie-pakket vassit.

Tegelykertyd moet ’n mens nie jou eie tradisie afskryf en net spottend daaroor praat nie. Want elke periode in God se geskiedenis met sy kerk het haar eie waarde en behou dit ook vir die toekoms.

Laat ons bid en werk vir geestelike groei vandag, in dankbare verbondenheid en gemeenskap met die kerk van alle eeue. Ons put uit ʼn waardevolle erfenis van baie eeue, uit werk van Augustinus, Luther, Calvyn, Voetius, Jonathan Edwards, Kuyper en nog vele meer. Ons soek positiewe aansluiting by die goeie wat God in vroeëre tye al geskenk het. Dit is onmisbaar. Ons groei saam. Saam met die kerk van alle eeue.

Saam met Christene oor die hele wêreld🔗

Groei vind ook plaas saam met alle heiliges, saam met ander Christene oor die hele wêreld, saam met die “katolieke” (universele) kerk. Die kerk is immers nie net eeue oud nie, maar sy is ook wêreldwyd. Die kerk is verspreid oor die hele wêreld - wêreldkerk. Dit is so wonderlik wanneer jy na die werk van die Here kyk, dat Hy nie aan ʼn bepaalde land of kultuur gebind is nie!

Wanneer die Here God sy kerk ʼn wêreldkerk laat wees, vra dit van ons ook ʼn “katolieke” ingesteldheid. Ons moet ons begrip van God en sy Woord nie binne die grense van ons kultuur, ons nasie of ons spesifieke tradisies vaskeer nie. In God se openbaring is daar mos ʼn geweldige breedte, lengte, hoogte en diepte. Ek dink aan Efesiërs 3:17-19: Jy kan net die liefde en volheid van God verstaan, saam met alle heiliges. In Hom is daar ʼn volheid van lewe, ʼn rykdom aan heilsgeheime. Sy Woord is soos ʼn ryk goudmyn, waarin steeds nuwe aspekte en aksente ontdek word. Jy het mekaar daarin nodig.

Katoliek-Christen wees beteken dat jy jou volledig verbind aan die Woord van God. Die katolieke ruimte van die kerk is nie wyer en rekbaarder as die ruimte van die Skrif nie, dit is waar. Maar ons moet wel ons ore en oë na alle kante toe oophou! Wees bly vir die kommunikasie moontlikhede wat ons vandag het, waardeur die geestelike rykdom van ver lande ook tot ons voordeel kan wees.

Wat beteken dit vandag vir ons situasie? Ek noem twee dinge. Aan die een kant mag ons nie eenkennig wees nie. Laat ons met vrymoedigheid ʼn “ekumeniese” kerk wees. Ons mag nie alles met argwaan benader wat nie direk uit ons eie kring kom nie. Dit is nie ʼn katolieke houding nie. Laat ons ten volle voordeel trek uit dit wat ander Christene in die wêreld uit die Skrif gedelf en deurdink het. Wanneer iemand deur die lees van boeke uit Europa of Afrika of Asië opgebou word in die ware geloof, laat ons die Here dan daarvoor dank. Daar is niks verkeerd daarmee nie. God het ons nie verniet ʼn plek in ʼn wêreldkerk gegee nie.

Aan die ander kant is dit nie ʼn goeie ding as ons geesdrif oor ander groepe of buitelandse Christene en hulle gedagtegang ʼn eksklusiewe trek begin kry, asof die ware lig eintlik net by húlle te vinde sou wees nie. Dan beland jy gou in ʼn sfeer wat ewemin “katoliek” is.

Oor en weer kan Christene uit verskillende lande by mekaar leer, mekaar aanvul, mekaar reghelp en mekaar verryk. Ons moet dankbaar wees vir sulke ekumeniese wisselwerking!

Saam in jou eie gemeente🔗

Geestelike groei is iets wat jy saam in jou eie gemeente doen. Ek dink weer aan Efesiërs 4. Vers 16 beskryf die gemeente as “goed saamgevoeg en saamverbind”. ʼn Liggaam waar alles vassit en op sy plek is, wat deur senings en spiere bymekaar gehou word, waarin ons só saam na Christus toe groei.

Die Here plaas jou in ʼn netwerk van die plaaslike kerk, met al haar voor- en nadele, haar ‘ups’ en ‘downs.’ Hierdie netwerk se middelpunt is die samekomste van die gemeente. Hier vind jy die eerste en belangrikste middele vir geestelike groei: die prediking van die Woord, die doop en die nagmaal. En daaromheen ook ander, baie opbouende middele, byvoorbeeld: saam uit die Bybel lees en dit bespreek, saam lofsing tot eer van God ens.

’n Mens moet altyd saam groei, en altyd primêr in jou eie gemeente. Dit beteken ook dat ons onsself as gemeente moet toets en bewaak, veral ook op die volgende punt: Wat dra ons gemeente-wees by tot die groeiproses na Christus toe - met alles wat daar binne haar gebeur? Soos die prediking, kategese, pastorale werk, Bybelstudie, diakonale werk, ens.? Dra dit alles werklik by in die groeiproses na Christus toe?

Ons mag die vraag vra ten opsigte van alle werksaamhede van die predikante en ouderlinge. Ons mag ook hierdie vraag vra as dit gaan oor die onderlinge kontak in die gemeente. Dit moet vir ons ʼn groot bekommernis wees wanneer sommige ernstig gelowige mense die geestelike klimaat in ons gemeente oppervlakkig vind, as hulle die gevoel ervaar dat hulle iets daar kortkom, as hulle kla oor die lae geestelike gehalte van gesprekke en die karige resultate van Bybelstudies. Hulle laat weet jou dat hulle boeke lees en byeenkomste bywoon waaruit hulle meer geestelike verdieping en wins put as wat hulle in hul eie gemeente ontvang. Dit is ʼn pynlike teken dat daar iets nie reg is nie.

Dan is dit nie genoeg om net te sê: ‘Jou plek is hier’ nie. Ons sal eerlik die dinge onder oë moet neem. Ons groei saam. Dan neem jy dit ook ernstig op wanneer daar opregte kritiek van ʼn broeder of suster kom. Eerstens moet die predikant homself afvra: ‘Waar is die moontlike tekort in my preke?’ Daarna volg die ouderlinge met die vraag: ‘Het ons huisbesoek voldoende diepgang?’ Saam moet ons onsself afvra: ‘Is daar by ons voldoende gerigtheid op die hart van kerk-wees: die godsvrug?’ Ons moet ook na ander faktore kyk wat geestelike groei sou kon belemmer, byvoorbeeld: gemeentes wat te groot is, ongeestelike werkwyses, onvoldoende insette om kerk te wees vir die wêreld daar buite.

Juis wanneer ons só eerlike selfondersoek wil doen en ons bekeer, dan mag ons ook iets sê oor die risiko’s van onvrede binne die gemeente. Want dit is nie reg wanneer daar naas die gewone gemeentelewe ʼn ander pad ontstaan, waar mense buite hul eie gemeente ekstra geestelik aangevul moet word nie. Natuurlik stop die gemeenskap van die heiliges nie by die grense van die plaaslike kerk nie. Mens ‘groei ook saam’ met mense buite die gemeente. En dit is ook reg wanneer jy daarvoor na ʼn ander dorp ry en daar saam met ander Christene ontmoet en saam met hul luister, bid en sing.

Maar dit mag nie kompeterend wees vir die opbou en saambinding in jou eie gemeente nie. Geen kompetisie, geen elite-vorming, geen groepsvorming, geen afskeping van jou eie gemeente nie. Want jy groei saam. Allereers daar waar die Here jou ʼn plek gegee het: by broeders en susters naby aan jou.

Tenslotte🔗

Saam groei ons geestelike na Christus toe.

Saam met die kerk van alle eeue.

Saam met Christene oor die hele wêreld.

Saam in jou eie gemeente.

Laat hierdie gesamentlike geestelike groei maar bó-aan ons agenda staan. Ook by die huis!