4 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius.

Habakuk en die Vraag: Waarom?

As daar dan ʼn God is, waarom gebeur daar dikwels sulke verskriklik nare dinge in die wêreld? As God heilig en regverdig is, waarom ly goeie mense dikwels onder slegte mense? Waarom laat God dit alles toe?

Die profeet Habakuk het in die verre verlede geleef. Terselfdertyd staan hy eintlik baie na aan ons. Hy het naamlik dieselfde vrae as ons gestel: waarom-vrae oor die manier waarop God die wêreld bestuur. Die inhoud van die Bybelboek wat Habakuk se naam dra, is vir ons herkenbaar en aktueel.

In hierdie artikel bespreek ek eers die inhoud van die boek. Daarna hanteer ek die vraag wie Habakuk was en wanneer hy geleef het. Laastens bekyk ons dan, met die kennis wat ons het oor die tyd waarin hy geleef het, weer die inhoud van die boek.

Die middel erger as die kwaal?🔗

Na die opskrif in Habakuk 1:1 is die eerste wat ons in die boek vind ʼn gebed (1:2-4). In sy gebed kla Habakuk oor die onreg, ellende en geweld wat hy om hom sien. Dit lyk asof die wet van die Here geen krag meer het nie. Dié Israeliete wat hulle nie meer aan God of sy gebod steur nie bedreig die regverdiges, die getroue kinders van God. Dit duur al geruime tyd, maar dit lyk asof die Here dit nie raaksien nie. Hy laat dan niks van Hom hoor nie. Hoe lank moet dit nog voortduur?

In 1:5-11 volg God se reaksie. Die Here verseker Habakuk en sy volksgenote dat Hy binnekort gaan ingryp. Hy sal dit selfs doen op ʼn wyse wat die mense verbyster sal laat staan. Hy sal naamlik die wrede Chaldeërs op sy volk laat afkom!  Hulle optrede sal hoogs effektief wees: hulle is so vinnig en sterk dat niks hulle kan keer nie.

Maar, so blyk uit 1:12-17, hierdie antwoord van God stel Habakuk glad nie tevrede nie. Inteendeel, hy verwag dat die Chaldeërs dinge erger sal maak as wat dit was. Hulle vang mense asof hulle visse of insekte is. Hulle het al hele volke uitgemoor sonder medelye. Hulle verafgood hulle eie militêre mag. As die Here deur middel van die Chaldeërs wil ingryp, is die middel wat hy gebruik, erger as die kwaal! Dit kan Habakuk geheel nie begryp nie. Dit strook mos nie met wat hy van die Here weet nie. Indien die Here ʼn heilige God is, kan Hy tog onmoontlik die Chaldeërs stuur om Sy volk te straf?

Lewe en dood🔗

Na Habakuk die tweede keer sy klag voor God gelê het, wag hy op ʼn antwoord (2:1) en daar kom inderdaad weer ʼn antwoord van God. Hierdie antwoord bevat eerstens ʼn opdrag: Habakuk moet ʼn visioen, ʼn openbaring van God, neerskryf. Hy moet dit duidelik doen, sodat mense dit sommer in die verbygaan sal kan lees (2:2).

Dit is nie heeltemal duidelik wat die inhoud van die openbaring is wat hy moet neerskryf nie. Dit sou dalk kon gaan oor God se eerste antwoord in 1:5-11, maar meesal word aanvaar dat die inhoud van die openbaring te vinde is in 2:4, miskien ook vers 5 en die verse wat daarop volg, tot die einde van hoofstuk 2. In elk geval het die openbaring wat Habakuk moet publiseer, te make met die toekoms. Dit mag dalk ʼn tyd neem voordat dit wat God hom laat sien, sal gebeur. Hy moet maar geduldig wag: dit sal sekerlik gebeur! Hiermee verwag die Here van Habakuk dat hy Hom moet vertrou. Hy moet dit aan God oorlaat om in te gryp wanneer Hy die tyd daarvoor ryp ag en ook op die wyse wat Hy wil. Dit is die houding wat God se kinders behoort te kenmerk, al verstaan hulle Hom nie en al beproef Hy hulle geduld. Slegs op hierdie manier kan hulle bly leef: ‘maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly’ (2:4b).

Hierdie lewe is nie beskikbaar vir ʼn brute veroweraar, wat maar nie genoeg kan kry van die verslaan en vernietiging van ander volke nie (2:5). Ondanks sy arrogansie sal hy bedroë daarvan afkom. Uiteindelik sal die volke wat die slagoffers van sy optrede was, met hom die spot kan dryf.

Hulle doen dit dan deur middel van vyf raaisel-uitsprake wat almal begin met die woorde: ‘Wee hom...’ (2:6-20). Die woord ‘wee’ het ʼn baie sterker betekenis as in ons uitdrukking ‘wee jou gebeente’ vandag. Dit was ʼn woord wat gebruik is as ʼn weeklag oor ʼn dooie. ‘Wee hom wat vuil gewin maak vir sy huis’ beteken: so iemand is so goed soos dood. Hy mag miskien nog heelwat vermag, maar hy is nie veel meer as ʼn lewende lyk nie.

In Habakuk 2 word hierdie lot aangekondig vir iemand wat op ʼn oneerlike manier ryk word, iemand wat sy werkers uitbuit, bloed vergiet, ander mense dronk maak en hulle kaal ten toon stel, geen respek het vir die natuurlike omgewing nie, homself deur eie mag probeer beskerm, of vertrou op afgodsbeelde wat hy self gemaak het. Wat hy ander mense aandoen, sal met hom ook gebeur (verwys 2:18,20 en 15-16)! So sal God laat blyk hoe sinneloos dit is om te probeer om jou eie lewe gerieflik te maak ten koste van ander mense en met verontagsaming van Sy wil. Hy sal daarvoor sorg dat Sy koninklike mag wêreldwyd erken en eerbiedig word (2:14, 20).

Laat dit ook nou gebeur!🔗

Na God se tweede reaksie, in 2:2-20, volg in hoofstuk 3 weer ʼn gebed van Habakuk. Die opskrif herinner aan die psalms. Dieselfde geld ook vir die naskrif: ‘Vir die musiekleier op   snaarinstrumente.’ (3:19). Blykbaar het die Israeliete hierdie gebed van Habakuk later gebruik as ʼn gesamentlike gebed in die tempelliturgie.

Die grootste gedeelte van Habakuk se gebed bestaan uit ʼn digterlike beskrywing van die Here se koms. Alles dui daarop dat hy hierdie koms in ʼn visioen sien gebeur het. God kom so indrukwekkend en met soveel impak dat alle volke en die hele skepping daarvan in rep en roer raak. Die doel van God se koms is egter die redding van Sy volk en Sy gesalfde, die koning uit Dawid se geslag. Terselfdertyd beteken God se koms ook die definitiewe einde van die wetteloses, van wie in die vorige hoofstukke beskryf is hoe erg hulle God se getroue kinders bedreig (vers 13).

Habakuk vra in sy gebed dat die Here hierdie koms sou gou moontlik, ‘in ons tyd’, sal laat werklikheid word (vers 2), maar ook dat Hy tog Sy ontferming moet laat blyk, sodat die oordeel darem nie te swaar word nie! Dit wat Habakuk te siene gekry het oor God se koms, was naamlik so oorweldigend, dat hy nie anders kan as om te sidder nie (vers 16). Die tyd wat kom, beangs hom, maar hy sien tog uit daarna. Sterker nog: al sou omstandighede so sleg word, dat daar selfs geen kos meer is nie, sal hy aan sy God getrou bly. Hy twyfel nie daaraan nie dat die Here hom die nodige krag sal gee om vol te hou. Hy sal bly juig en jubel oor sy God en oor die redding wat Hy gee (3:17-19)

Die man en sy tyd

Tot sover dan die inhoud van die boek Habakuk. Wie was hierdie Habakuk? Wanneer het hy geleef? Die opskrif van die boek gee ons nie juis duidelikheid hieroor nie. Dit noem slegs wat sy naam was en dat hy ʼn profetiese openbaring ontvang het, wat dan verder in die boek opgeteken is.

Die betekenis van sy naam is tot op hede steeds ʼn raaisel. Vroeër is meesal gemeen dat dit iets soos ‘vashou’ of ‘omhels’ beteken. Deesdae word dit geassosieer met die naam van ʼn groentesoort. Habakuk se naam sou dan agurkie of komkommer gewees het, dus byna soos iemand vandag wie se van Olivier (olyfboom) is, of ʼn dame met die naam Rosa of Magriet.

Die opskrif gee ook geen aanduiding van die tydperk van Habakuk se optrede nie. Maar later in die boek vind ons wel enkele bruikbare verwysings. Die eerste en belangrikste is die aankondiging van die koms van die Chaldeërs in hoofstuk 1:6. Die Chaldeërs het ongeveer ʼn eeu lank bewind gevoer in Babelonië, die huidige Irak. Hulle bekendste koning was Nebukadnesar (605-562v.C.). Onder sy leiding het die Chaldese ryk ʼn wêreldmag geword, wat die plek van die Nieu-Assiriese ryk ingeneem het. Die Nieu-Assiriese ryk was vanaf ongeveer 900v.C. die belangrikste grootmoondheid in die Midde-Ooste. Dit was die Assiriërs wat ʼn einde gemaak het aan die koninkryk van Israel, die noordelike tienstammeryk.

In die boek Habakuk word daar nêrens na die Assiriërs verwys nie. Hulle rol het dus waarskynlik reeds geëindig. Verder sê die Here in 1:6 van die Chaldeërs dat Hy hulle sal laat kom. Hulle koms sal mense laat verstom staan. Daaruit blyk dit dat Juda nog nie blootgestel was aan die Chaldese leërs nie. Hierdie inligting in ag geneem, kan mens aflei dat Habakuk 1:2-11 beste inpas in die tyd kort voor Nebukadnesar die eerste keer teen Juda opgetrek het. Dit bring ons by die aanvangstyd van die regering van koning Jojakim (608-598v.C.).

Die volgende verse van die boek, vanaf 1:12, het moontlik in ʼn later tydperk van Jojakim se regering ontstaan. Uit 2 Konings 24:2 kan mens aflei dat Nebukadnesar eers bendes van Chaldeërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete teen Juda uitgestuur het, voordat hy self ook teen Jerusalem opgetrek het. In Habakuk 3:16 lyk dit of die term ‘...die volk deur wie ons aangeval is’ verwys na hierdie bendes.

Alle wetteloses word vermaan🔗

Habakuk se optrede kan dus beste geplaas word tydens die regering van koning Jojakim, vyftien tot twintig jaar voor die verwoesting van Jerusalem deur Nebukadnesar. Die onreg en die geweld waaroor Habakuk kla in 1:2-4 pas ook goed in hierdie tydsbestek. Dit geld ook vir die wandade wat genoem word in 2:9-12. Daar word iemand vermaan wat, deur middel van korrupsie, vir homself ʼn veilige vesting bou. Dit stem ooreen met die verwyt van die Here aan koning Jojakim in Jeremia 22:13-19: Jy bou jou huis met onreg, met mense wat jy sonder betaling laat werk; jy is net daarop uit om jouself te verryk ten koste van ander, om mense onskuldig dood te maak, te verdruk en af te pers.

Inhoud van die boek Habakuk

1:1                               Opskrif

1:2–2:20                      Klagtes van Habakuk en antwoorde van God

                        1:2-4    Habakuk se eerste klag: onreg in Juda

                        1:5-11 God se eerste antwoord: Ek stuur die Chaldeërs

                       1:12-17                        Habakuk se tweede klag: middel erger dan die kwaal

                       2:1       Habakuk berei voor op God se antwoord

                       2:2-20  God se tweede antwoord

                          2:2-5 Inleiding

                        2:6-20  Vyf uitsprake

3:1-19                          Gebed van Habakuk

                       3:1       Opskrif

                       3:2      Habakuk se gebed: Doen dit tog in ons tyd

                       3:3-15 Beskrywing van God se koms

                     3:16-19a Reaksie van Habakuk: Ek sal in die Here jubel, juig in God

                    3:19b  Naskrif

Die tweede uitspraak of weeklag, in 2:9-12, lyk dus of dit aan koning Jojakim gerig is. Hierdie uitsprake vorm verder die grootste gedeelte van God se antwoord op Habakuk se klag oor die optrede van die Chaldeërs in 1:12-17. ʼn Mens sou verwag dat die Here in hierdie uitsprake sy oordeel oor die Chaldeërs sou aankondig. In sommige gedeeltes van hoofstuk 2 lyk dit dan ook so. In vers 8 byvoorbeeld gaan dit oor die plundering van baie volke. Dis wat Nebukadnesar en die Chaldeërs gedoen het. Koning Jojakim het daarvoor nie oor voldoende mag beskik nie. Maar ander gedeeltes, veral vers 9-12, het weer eerder op Jojakim betrekking.

Hierdie probleme hoef ons egter nie te verbaas nie. Die hele teksgedeelte dui self daarop dat so iets verwag kan word.  In hoofstuk 2:6 word immers aangekondig dat die oordeel alle hooghartiges sal tref, sodat hulle slagoffers hulle later sal bespot. Die Here het self hierdie uitsprake juis raaiselagtig geformuleer sodat ons verplig word om daaroor na te dink.

Die uitsprake is nie gerig tot een bepaalde groep van wettelose mense nie. Nêrens word die wat bedoel word by die naam genoem nie. In hoofstuk 2 maak die Here geen onderskeid tussen die volke nie. Dit is nie so dat hy die Chaldeërs veroordeel en die Judeërs kwytskeld nie, en ook nie andersom nie. Niemand kan by die aanhoor van hierdie woorde by voorbaat beweer: ‘Hierdie oordele raak my glad nie: dit geld net vir só en só.’

Die Here rig Hom tot elkeen wat kies vir ʼn lewe van wetteloosheid en misdade. En dit is presies die antwoord wat Habakuk nodig gehad het! Hy het nie begryp waarom die Here die Chaldeërs gebruik om die bose in Juda te bestry nie. Daardie middel is dan nog erger as die kwaal! Maar nou hoor hy ook dat die Here nie daarmee sal volstaan nie. Alle wetteloses, aan watter volk hulle ook al behoort, is reeds ter dood veroordeel. As dit vir die Judeërs geld, dan ook vir die Chaldeërs. God gebruik hulle net as sy werktuie. Maar die beteken nie dat hulle maar kan maak wat hulle wil nie. As hulle dan nog slegter as die Judeërs optree, sal hulle nie hulle straf vryspring nie.

Op hierdie manier ontvang Habakuk antwoorde op sy waarom-vrae. God kondig aan dat Hy sal ingryp. En dit op ʼn wyse wat Habakuk volledig sal bevredig: alle onreg sal aangespreek word. God se kinders sal regtig verlos word. Dit sal egter nie gebeur sonder dat die regverdiges daardeur geraak word nie. Hulle sal ook moet ly onder die oordele wat die wêreld sal tref. Daarom is daar vir hulle slegs een uitweg: die weg van geduld, volharding en blywende vertroue op God.