Bron: Die Kerkblad, 1995. 3 bladsye.

Hebreers 11:24 - Deur die Geloof het Moses...

Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word

Hebr 11:24

Groot Werk Begin Klein🔗

Moses was die kragfiguur in die Ou Testament. Hy was in besonder instrument in die hand van die HERE, wat die verloop van die geskiedenis letterlik verander het.

Die groot werk van Moses het egter ’n klein begin gehad - ’n nietige begin. God se begin sien ons by Moses se geboorte, toe hy as ’n swak babatjie ontvang en weggesteek is vir Farao en sy soldate. Moses se eie begin van sy roeping sien ons hier, waar hy gekies het.

Met Moedersmelk🔗

Moses het grootgeword. Hy het opgegroei in weelde en genietinge in die paleis van Farao.

Wanneer ’n kind grootgeword het, begin hy oorweeg en onderskei oor wat vir hom van waarde is. Moses het begin nadink en oorweeg en onthou. Hy het onthou dat hy ’n Israeliet was. Hy het onthou wat sy moeder hom geleer het in sy kleintyd. Ag, sy moeder sou hom so lank moontlik vasgehou het. Dat kinders tot vyf-, sesjarige ouderdom gesoog is, was nie vreemd nie - dit was eintlik die gewoonte. En die vrome Jógebed sou hom sekerlik soveel moontlik - saam met die moedersmelk laat indrink van die kennis dat hy ’n kind van God is.

Hy behoort by Israel - die volk met die beloftes van God - die volk van die genadeverbond.

Keuse🔗

En dan kom Moses tot ’n bewuste keuse. ’n Keuse beteken altyd dat bepaalde dinge van minder belang beskou word as andere. En dan word daarmee gebreek.

Aan ons word niks vertel van Moses se innerlike stryd - ook teen die magte en owerhede, die bose geeste in die lug - nie. Hy moes egter bande, wat oor jare gesmee is, deursny. Hy is die seun van Farao se dogter genoem. Hy is beskou en behandel as ’n Egiptiese prins. Die pleegmoeder het hom seker met groot liefde grootgemaak. Sy het hom ook opgevoed in die wetenskap van die Egiptenaars - wat destyds ’n hoogs ontwikkelde volk was. Sy het hom ook saamgeneem na die afgodstempels en hy het deelgeneem aan die spele in die arenas.

’n Keuse is altyd teen iets of iemand - en vir iets of iemand anders. Moses kies teen sy pleegmoeder - die dogter van Farao. Daarmee kies hy teen Egipte en alles wat dit inhou. Hy kies teen “die genot van die sonde” - vers 25. Hy kies teen “die skatte van Egipte” - vers 26. Moses kies natuurlik ook vir baie ander dinge, wat baie beter is - maar daaroor later.

Moet kan sê: Nee!🔗

Laat ons eers besin oor die groot saak dat ons “Nee!” moet kan sê vir bepaalde dinge en daarmee kan breek. Dit is van groot gewig. Die geloof stel ons voor ’n keuse - ’n lewensbelangrike keuse. Dit is ons verantwoordelikheid wat ons nie op God mag afskuif nie. Of Moses eers toe hy grootgeword het, tot geloof gekom het, en of hy van kleins af geglo het, maak wesenlik geen verskil nie. Hy moes bewustelik tot ’n geloofskeuse kom. Hy - en elke verbondskind - moes, toe hy grootgeword het, self onderskei en self kies.

Dié wat nie Glo nie - Alreeds Geoordeel🔗

Ons Dordtse Leerreëls, wat handel oor die uitverkiesing van God, stel dit só: onbegryplik genadig, maar ook vreeslik ernstig. “Om dan mense tot die geloof te bring, stuur God uit goedertierenheid verkondigers van hierdie baie blye boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Op diegene wat hierdie evangelie nie glo nie, bly die toorn van God. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof lê nie by God nie, maar by die mens.”

Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid, voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie. Kies teen die genot van die sonde en die skatte van Egipte. Jy is geen kind van Farao se dogter, wat alle losbandighede en afgode mag koester nie. Jy dra die teken van die verbond van die ware God op jou voorhoof. Jy behoort aan Hom en wag op sy beloftes. Wend jou af van die ongeregtigheid en soek die geregtigheid van Christus. Dit is die kosbare skat wat Moses gevind het. Waarteen niks in Egipte enigsins opweeg nie.

Ja, die keuse is vir elke gelowige onontkombaar. Alreeds in die paradys, na die sondeval van Adam en Eva, bepaal die HERE as Hy die duiwel aanspreek. “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou … tussen jou saad en haar saad” (Gen 3:16). Daar werp die HERE tweespalt en oorlog op die aarde. Jy moet breek met Egipte. Jy moet alleen die Christus, wat op aarde wrede en vernederende smaad sou verduur, aanhang.

Ons begin al iets sien van die “wêreldhaat” teen die volk van God - kerk van die Here. En wee hulle wat vrede maak met die wêreld en hulle verantwoordelikheid teen God vergeet, deur in broederskap met die wêreld te lewe.

Deur die geloof het Moses … die smaad van Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want by het uitgesien na die beloning. Hebreërs 11:26

Bevoorregte Volk🔗

Moses voeg hom deur die geloof by die volk van God. Die volk belewe wel op die tydstip smaad en verdrukking, maar hulle kon op die blywende guns van God staatmaak. “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees - Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen” - Romeine 9:4, 5. Só beskryf Paulus die skatte van Israel, teenoor die skatte van Egipte. Daarvoor het Moses gekies. Juis dit moes die Hebreërs in Rome in die tyd van die skrywer onthou. Hulle kon gemakshalwe maar met die wêreld meegaan, omdat hulle die smaad van Christus te moeilik vind om te dra. Die smaad van Christus het vir hulle vervolging en verdrukking beteken - en dit mag vir ons ook binnekort vervolging beteken.

Smaad van Christus Groter Rykdomme🔗

Die smaad van Christus is groter rykdomme as die skatte van Egipte. Ag, om skatte te besit is op sigself geen sonde nie. As jy dit maar sien as ’n gawe uit die hand van God. Ons lees nêrens dat die Here Job sy aardse besittings verwyt het nie. Hy het hom selfs agterna nog met veel meer aardse skatte geseën, omdat hy aan God vasgehou het. Solank die skatte maar nie die plek van die geloof inneem en dit verdring nie. Dan word dit afgod, want “alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde” - Romeine 14:23.

Kies teen die wêreld met sy humanisme, liberalisme en kommunisme. Kies teen die vermenging van godsdienste. Kies vir die God van die Skrif. Die enigste ware God.