Bron: Kompas. 2 bladsye.

Hebreers 3:1 - Christus Jesus, Apostel en Hoëpriester van Ons Belydenis

Ons moet let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus.

Hebreërs 3:1

Hier word tot die gemeente waarvan Christus die Hoof is, gespreek. Die gemeente word gehou aan die belydenis van Christus as Apostel en Hoëpriester.

Christus is die getroue Apostel en Hoëpriester. Hy stel sy gemeente nie in die verleentheid nie. Hy laat sy kudde nie in die steek nie. Alle klem val op sy getrouheid. Hy word met Moses vergelyk.

Hy het sy amp vervul soos Moses maar Hy is ook baie meer as Moses. Hy is aan sy Vader getrou wat Hom aangestel en gestuur het.

Moses was getrou as dienaar in die huis. Christus was getrou as Seun van God oor die huis. Dit is die huis wat God gebou het. En die huis, word aan die gemeente gesê, is hulle wat tot die einde toe onwrikbaar vashou aan die hoop wat daar vir hulle in Christus is.

Christus is meer heerlikheid waardig as Moses, want Hy het die huis gebou. Moses was ‘n dienaar om te getuig van wat nog gespreek sou word. Christus spreek met groot gesag, want Hy is die gestuurde van die Vader. Moses as profeet en Aäron as priester was albei deur God gestuur en gebruik om sy volk uit die slawerny van Egipte te bevry. Tog het ‘n hele geslag in die woestyn gesterf en nie in die rus van die beloofde land ingegaan nie. Hulle het hulle harte verhard. Hulle wou die nek nie onder die Here buig nie. Hulle het die Here versoek. Hulle het nie die woorde van die Here wat Moses tot hulle gespreek het geglo nie.

En hulle wat onder Josua ingegaan het in die land, het nie die rus van God gesoek nie, maar was ontrou aan God en het hardnekkig volhard om die afgode te dien.

Christus wat meer is as Moses en Aäron, en meer is as Josua, het gekom en met die sonde en die skuld van sy volk afgereken. Hy het gekom as apostel (leermeester/profeet) en hoëpriester. Hy was getrou aan sy Vader tot die dood toe. Hy het sy amp in gehoorsaamheid uitgevoer.

Dit was moontlik omdat Hy die Hoëpriester was wat in die hemelse heiligdom ingegaan het, in die hemel self, om voor die aangesig van God vir ons te verskyn. Hebreërs 9:24 en verder. Dit was ’n volmaakte offer. Want dit was met sy eie bloed. Hy het Homself geoffer om baie se sondes weg te neem.

Tydens die laaste pasga en die instelling van die brood en beker, die instelling van die brood en beker as die tekens van die offer wat Hy vir ons gebring het, het Hy sy dood verkondig. Daarmee het Hy vir ons die belydenis dat Hy die gestuurde, die gevolmagtigde Hoëpriester van die Vader is, vir ons in die mond gelê. Toe Hy sy dissipels op die opstandingsdag, die eerste Sondag ontmoet het, het Hy God se troue liefde aan hulle bevestig. Hy was dood, maar Hy het opgestaan soos Hy belowe het, Hy lewe. Sy offerwerk was afgehandel, maar Hy het opgevaar om vir sy volk in te tree. Hy het sy Heilige Gees gestuur om steeds die vrug van sy Hoëpriesterlike werk aan sy kinders te gee. So werk die Gees met die getuienis van die apostels geloof in ons harte. So word ons in ons geloof bevestig en versterk. So mond ons geloof uit in die woorde wat ons voor die mense bely.

Ons sal dus bly let op Christus wat ons Apostel en Hoëpriester is. In Christus het ons die belofte dat ons regverdig is voor God, dat ons geheilig is, afgesonder van die sonde, dat ons bestem is vir die ewige lewe. Ons spreek dit wat ons aan Christus het, ons spreek ons geloof uit in ons belydenis.

Vir die Hebreërs was die waarskuwing om in Christus te bly glo, teen die versoeking in om terug te keer na die sinagoge. Hulle roem is alleen in Christus as Apostel en Hoëpriester te vinde. Hy is baie meer as Moses, wat vir hulle bekend is. Hulle moet hulle nie verhard as hulle die stem van die Here hoor nie, want Hy is die Apostel, en sy Woord is die woorde van ewige lewe. Hy is die Hoëpriester, wat werklik met ons swakhede medelye het, wat in alle opsigte soos ons versoek is, maar wat sonder sonde is. Hebreërs 4:15 en verder. Op grond van sy offer maak Hy dit moontlik vir ons om na die troon van genade te gaan, dat ons barmhartigheid en genade kan verkry by God.

Binne die geledere van die moderne sendingbeskouing, word Hebreërs 3:1 graag gebruik. Om ’n spesifieke “apostolaatsteologie” (JC Hoekendijk) te onderskryf. Christus is dan ons Apostel, gestuurde van die Vader om omvattende vrede vir die wêreld te bring. En daarin, word dan gesê, moet ons Hom navolg. “Apostel” word so egter ’n slagspreuk waaronder die gemeente se nek gebreek word, want word gesê, die kerk is daar ter wille van die wêreld. Die kerk moet die wêreld dien. Die kerk het self geen bestaansgrond nie. Die liefde van God is vir die wêreld. Hiervoor word graag 2 Korinthiërs 5:19 aangehaal, en ook Johannes 3:16 sonder die voorwaarde van geloof. Die wêreld is so, ten spyte van die sonde, God se wêreld. Bedoelende dat die breuk wat die sonde gemaak het wel oorkom kan word sonder die offer van ’n plaasvervanger.

Maar so raak die sonde op die agtergrond. Die noodsaak van die Hoëpriester val hier weg. Die troosteloosheid van hierdie beskouing is dat Christus se plaasvervangende werk Hom ontneem word wanneer Hy as Apostel aanvaar word maar as Hoëpriester geminag word. Die vrede (sjaloom) wat Hy bring word nie in terme van sy offer en die herstelde gemeenskap met God verstaan nie, maar in terme van ’n ideaal van medemenslikheid.

Hebreërs 3 is ’n vermaning aan die huis wat deur Christus gebou word, die volk van God om mekaar aan die roeping van Christus in die hemel te hou. Dit beteken dat ons die Woord van die Here en die belydenis van Christus nie moet verag nie, dat ons die geloof nie moet verloor en verbitterd word nie, dat ons mekaar moet vermaan om nie van God afvallig te raak nie. Die kerk is die gemeenskap van heiliges, deelgenote aan Christus. Die wêreld word gered deur Christus se vergadering en bouwerk van sy kerk, deur die uitbreiding van die ware evangelie. Sy kinders is sout van die aarde en die lig vir die wêreld.