4 bladsye.

Hebreers 6:19 - Voor Anker

ʼn Mens sien nie ʼn anker nie. Dit lê êrens diep onder die water. Daar steek dit stewig in die grond vas. Maar jy sien dit nie. Al wat jy sien, is ʼn kabel. Dit strek vanaf die dek oor die reling.

En dan eindig dit in die water. Iemand wat dit nie weet nie, sal sê: haai, dis snaaks, daar hang ʼn stuk tou in die water. Ja, sê die kaptein dan, en jou lewe hang daarvan af.

My lewe?

Ja, kyk maar gerus. En hy wys jou waarheen lei die tou. In jou gedagtes volg jy die tou na onder. Diep onder die golwe lê die anker. Veilig en vas.

Volg nou so in jou gedagtes die tou … boontoe. Opwaarts. As Christene is dit waar ons anker is.

...en ons het dit as ʼn anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel. Hebreërs 6:19

Uit die Oog, uit die Hart?🔗

Daar bo is ons anker. Want daar is Jesus. Maar dit is nie so maklik om daaraan vas te hou nie, want ons kan Hom nie sien nie. Toe Hy na die hemel opgevaar het, staan daar: ʼn wolk het Hom voor hulle oë weggeneem (Handelinge 1:9). Die deur het toegegaan. En wat daar agter is, dit weet ons nie. En as die deur toe is, dan dink ons ook nie so dikwels daaraan nie. Dit is tog so? Almal weet dit. Dink byvoorbeeld as die onderwyser uit die klas gaan. Hy maak die deur agter hom toe en dit is net julle wat agterbly. Dan dink julle tog nie meer so direk aan hom nie? Hy is weg.

Dit gaan trouens nie slegs so by die skool nie. Volwasse mense reageer ook so. Kyk net wat het gebeur in Moses se tyd. Hy het op die berg geklim om die kliptafels in ontvangs te neem. Maar wat gebeur daar onder? Moses het uit die sig verdwyn. En na ʼn paar dae is hy vir hulle weg. Hulle weet nie wat het met hom gebeur nie. Kom, Aäron, steek jou hande uit jou moue. En daar word feesgevier agter God se rug.

Dit is hoe dit gaan. Die gordyn sak. Die deur gaan toe. En jy dink nie meer aan die een wat weggegaan het nie. Jy weet immers nie wat daar agter die deur gebeur nie!

So het dit sedert Jesus se hemelvaart gegaan. ʼn Wolk het Hom voor ons oë weggeneem. Die gordyn het gesak. En wat doen ons dan? Ja, met verloop van tyd vergeet ons van Hom. Dit kan jy sommer in alles sien in die wêreld om ons heen. Wie dink nog aan dit wat agter die deur is? Wie is met sy gedagtes daar in die hemel?

So gebeur dit in ons wêreld. En hierdie houding kom ook in die kerk voor.

Wat het geword van die belofte van sy koms? Hy sou terugkom net soos Hy weggegaan het. Wanneer kom Hy dan?

En so is daar in die kerk ook baie mense wie se harte hier op die aarde is. Hier en in hierdie wêreld.

ʼn Wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. Daarom kyk ons oë ook meestal na wat hier gebeur – op hierdie aarde. En ons kyk ons oë uit. Maar wat gebeur met ons harte? Waarom is dit nie daar in die hemel nie?

Jou Hart in die Heiligdom🔗

Waarom sou jou hart daar wees? Omdat alles daarvan afhang. Soms gaan die deur toe, maar jou aandag verslap nie. Nee, jy bly met jou hart by wat daar gebeur. Hoe gaan dit daar agter die deur?

Dit laat my dink aan ʼn vlugteling uit Iran. Daar kon hy nie bly lewe nie. Daarom het hy gevlug. Toe kom hy op Oliver Tambo-lughawe aan. En hy vra vir ʼn verblyfsvergunning. Mag ek hier bly? Dan moet daar eers besluit word. En eers ʼn voorlopige besluit.

Dus moet daaroor beraadslaag word. Die deur van die kantoor gaan toe. Maar die asielsoeker besef: nou gebeur daar iets. Daarbinne word beraadslaag. Daar word besluite oor my lewe geneem.

Die deur is toe. Maar my hart is agter die deur.

Waarom sou jou hart in die hemel wees? Omdat alles daarvan afhang. Of voel ons nie soos vlugtelinge nie? Het ons nie asiel nodig nie? Ons vergis ons dalk.

Let maar op hoe die Here dit uitgebeeld het. Vanaf die begin. Hy het sy paleis in Israel se midde gehad. Die tabernakel, later die tempel. En binne-in daardie paleis was die troonsaal. Die Allerheiligste. Daar het God op sy troon gesit. God wat regverdig en barmhartig is. Wat die skuld straf en sonde versoen. Daar binne is die besluit geneem. Op die versoendeksel.

Maar wie mag eintlik daar ingaan? Niemand. Niemand mag na die koning toe gekom het nie. Verbode toegang. Eintlik het die Koning al nee gesê nog voordat jy binne was. Behalwe…

Ja, een man mag daar ingegaan het. En dan net een keer per jaar. Die hoëpriester. Maar dan moes hy bloed by hom gehad het. Kom nou maar binne, het die Koning gesê. Die offer is die straf vir die skuld. Daarom is die bloed vergewing van die sondes. Kom maar binne, het die Koning gesê. En almal in Israel het dit gesien. Daar gaan die hoëpriester binnetoe. Die voorhangsel gaan agter hom toe. Maar jy het geweet: nou gebeur dit. Daarbinne word die besluit geneem. Oor ons almal. ʼn Besluit oor lewe en dood. Kry ons verblyfsvergunning of nie?

Wat ʼn belangrike dag is dit nie! Daar binne laat sak ons lewens die anker. Die voorhangsel val toe. Jy kon die hoëpriester nie meer sien nie. Maar in jou hart was jy daar. Die Koning het vir ons ja gesê. Verblyfsvergunning vir ons arme sondaars. God het ons aangeneem. Ons lewe is in Hom geanker.

Die Anker is Veilig en Vas🔗

Voor anker. Maar hoe vas lê daardie anker? ʼn Jaar later moes die hoëpriester weer daarnatoe gaan. Weer met ʼn anker. Wat nou? Het daardie anker dan nie vas gelê nie? Ja, eintlik sou jy dit wel kon sê.

Telkens het die hoëpriester opnuut ingegaan. Maar hy het ook weer teruggekom. En dan volgende jaar weer. En na hom het sy seun dit gedoen. Jaar na jaar. So het dit gegaan met die priesters van Aäron. Hulle het ingegaan. Met die offer.

Verblyfsvergunning vir die hele volk. ʼn Lewe voor anker. Maar dit was eintlik net klein en swak ankertjies. Jy moes gedurig weer ʼn nuwe een uitgooi.

Daarom moes daar ʼn ander een kom. Een soos Melgisedek. Hy kom net een keer. En dit sal dan genoeg wees.

Nou besef ons wat het gebeur by Jesus Christus se hemelvaart. Sy werk hier was afgehandel. Die offer was klaar gebring. En toe gaan Hy weg. Maar waarheen gaan Hy? Hy gaan na die Koning. Na die ware troonsaal. Want die een daar in die tempel was maar net ʼn troontjie. ʼn Modelletjie van die groot troon. Die werk het eintlik daar in die hemel plaasgevind. Daar woon die Koning. Dit is waarheen Hy gegaan het. En ʼn wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. Die gordyn het toegeval agter Jesus. Die voorhangsel het toegegaan. En toe? Wat gebeur dan? Wat gebeur agter daardie voorhangsel? Die deur is toe. Maar ons weet wat daar gebeur. Dan staan Hy daar voor die troon.

En ek het ʼn Lam gesien staan asof Hy geslag is (Openbaring 5:6). En Hy het gekom en die boekrol geneem uit die hand van Hom wat op die troon gesit het. Die Koning het ons versoek goedgekeur. Ons arme sondaars kry verblyf. God neem ons aan. Ons lewe is voor anker by Hom.

Hoe nodig is dit nie dat ons dit vir mekaar sê nie! Want anders verloor jy weer jou houvas. En hoe dikwels gebeur dit nie ook in die kerk nie. “ʼn Wolk het Hom voor hulle oë weggeneem”. Daarom kyk ons oë ook meestal veral na dit wat hier gebeur. En jy kan seker aanvoel dat ʼn mens jou behoorlik daarmee kan vergis. Kyk na ʼn skip. Dit lê voor anker. Maar die see gaan tekere.

Soms dink jy: ons vergaan! Al U golwe spoel oor my. ʼn Passasier kom op die dek, sien die woeste see en roep uit: Sal ons dit oorleef?

En die kaptein sê: ons lê voor anker. Moenie bang wees nie. Jy sien dit nie. Jy sien net daardie stuk tou. Maar aan die punt daarvan is ons houvas.

Dit is die evangelie vandag. Die see van die wêreld gaan tekere. Soms dink jy: ons vergaan! Al U golwe spoel oor my. En jy sien en hoor die vraag in baie mense se lewens: sal ons dit oorleef? Christus se antwoord is: moenie bang wees nie. Jou lewe lê voor anker.

Jy sien dit nie raak nie. Ons sien net Christus se belofte. Maar aan die punt daarvan is ons houvas. Agter die voorhangsel. Dit is dan ook waar jou hart moet wees.

Maar soms is die see glad nie onstuimig nie. Dan is dit heerlik op die see.

Jy geniet sommer van alles. En dan kom weer ʼn passasier op die dek. Hy sien ʼn stuk tou. En hy dink: wag ʼn bietjie, so kom ons nooit vorentoe nie. Hy het geen idee wat aan die punt van die tou vas is nie. Dus vat hy ʼn byl en kap die tou los. En dan dryf die boot. Eers rustig. Later wild. Hy dryf weg.

En daar is niemand wat hom keer nie. Hy vergaan.

Dis nou dwaas! Wie kap dan nou ook ʼn ankertou middeldeur?

Dit gebeur as jou hart nie meer daar is nie. Christus is daar en ons is hier. Ons is hier. Hy is daar. Maar later word dit net: ons is hier. Want jy sien Hom nie. En daarom dink jy ook nie dikwels aan Hom nie. Wat help dit jou dat Hy in die hemel is?

Om te Hoop, is om Voor Anker te gaan Lê🔗

En tog: dit bly onsigbaar. Ja. Dit is nou maar hoe ʼn anker is. En daarom noem God “hoop” ook ʼn anker. Dit is wat dit beteken om te hoop. Jy sien dit nie. Geloof is om seker te wees van die dinge waarop ʼn mens hoop. En ʼn bewys van die dinge wat ʼn mens nie sien nie. Ja, dit is waar: ʼn Wolk het Hom voor ons oë weggeneem. Maar wat doen jy dan? Vaar jy verder met hierdie oë van jou as jou kompas? Of bly jou hart by Hom? Dit is hoop.

Miskien sou jy dit nie ʼn anker wil noem nie. Want vir ons gevoel is daar in hoop altyd ʼn mate van onsekerheid. As dit nou maar goedgekeur word! Ja, so sit die asielsoeker en wag. In spanning. Sal ek mag bly? Ek hoop maar so. Ag asseblief, laat hulle vir my hier ʼn plekkie gee. Dit is nie hoe ʼn Christen hoop nie. Waarom nie? Omdat ons die hoëpriester ken. Jesus. Hy wat in die middel van ons lewens kom staan het. Wat in alles aan ons, sy broers, gelyk geword het. Wat ook meegevoel het met ons swakhede. Wat vir ons God se liefde gebring het. Ja, wat self vir ons die pad na die troon gewys het. Dit is waarheen jy moet gaan, sê Hy. En as jy daarheen gaan, sal ek sorg dat die Koning jou aanvaar. Vertrou maar daarop.

Dit is Christelike hoop. Veilig en vas.

As ons dan nou so ʼn hoëpriester het, laat ons dan nader tot die troon van die genade (Hebreërs 4:15-16). Natuurlik bly dit onsigbaar. Maar Hy het ons tog ook iets laat sien van dit wat agter die voorhangsel gebeur. Dit is waarvoor Hy daardie model hier op aarde gegee het. En waarom Hy presies verduidelik het hoe dinge by God se troon gebeur. Kyk, hier is die Allerheiligste. Hier is die troon: die ark. Met die versoendeksel. En hier is die Heilige. En tussen die twee hang die voorhangsel. En nou kom die hoëpriester wat die offer gebring het. En hy kom met die bloed deur daardie voorhangsel. En hy sprinkel dit op die versoendeksel. En so versoen Ek die sonde. So sê Ek, die groot Koning, ja vir sondige mense.

Daar was ʼn dag dat hulle dit gevier het. En daar het ʼn dag gekom dat Hy dit waar gemaak het. Hulle het die hoëpriester sien weggaan. Maar ons ken Hom. Hy is nie ʼn vreemdeling nie. Hy het onder ons gewoon. Sy werk was maar net klaar hier. En daarom het Hy na die Allerheiligste gegaan. “En ʼn wolk het Hom voor hulle oë weggeneem”. Die voorhangsel het agter Hom toegeval. Maar ons weet wat daaragter gebeur.

Hy het die anker vasgemaak aan die troon van God. Dit is wel onsigbaar. Maar die troon staan vir ewig vas. Dit sê heelwat oor die anker van jou lewe. Dit is veilig en vas.

Die Harte Omhoog🔗

Veilig en vas. Dit sê ek ook as ek sien waarheen my hoop lei.

In my gedagtes loop ek langs die tou… boontoe. Daar is ons anker.

Eintlik moet jy dit telkens weer doen: in jou gedagtes die tou boontoe volg. Want ons harte haak so maklik hier vas. En wat daar agter die wolk gebeur … ons staan nie genoeg daarby stil nie. Die voorhangsel val elke keer weer toe.

Maar daarom moet ons ons harte omhoog rig. Daar waar Jesus Christus is. Natuurlik, dit is hoekom ons kerk toe gaan. Ja, maar jou hart moet nie net in die kerk omhoog gerig wees nie. Ook as jy met die gewone lewe besig is.

Die hart omhoog. Soos die asielsoeker. Sy hart is agter die deur: dit is waar dinge gebeur. My lewe hang daarvan af. So soek ons verblyfsvergunning: ons harte in die hemel.

ʼn Tuiste vir ʼn ellendige lewe. Laat ons harte daar agter daardie voorhangsel wees. Nee, nie in onsekerheid nie: as dinge maar regkom. In vertroue. Hoop op God. Ons ken Hom tog? En dan kom daar ook verwagting in ons lewe.

Binnekort sal die deur oopgaan. En dan sê Jesus vir jou: Kom maar binne. Kom maar binne na die Koning toe. Hy het vir jou ja gesê. Ek het wel weggegaan. Maar dit was nodig om vir jou plek te berei. Ek het dus maar net voor jou uitgegaan. ʼn Voorloper.

So werk hoop in ʼn Christen se lewe. Dit is ʼn anker wat Christus vasgemaak het aan die troon van God. Maar nie net dit nie. Ek voel dat Hy van sy kant af trek. Daar op die troon. Daar trek Hy my lewe na Hom toe.