Bron: Kompas, 2009. 3 bladsye.

Help, Twyfel Verteer My

Ek het in die kerk grootgeword. Alles het vir my vasgestaan: dat daar ’n God in die hemel is; dat Hy alles bestuur; dat Hy my Vader is; dat sy Seun my Verlosser is; dat sy Woord die waarheid is. Die sekerheid het egter oor tyd begin verdwyn. Ek word deur twyfel gepla. Kan dit? Mag dit? Is ek nou skielik ’n ongelowige? Die ware gelowige moet mos alles aanvaar wat God in sy Woord geopenbaar het? Is ek dan verlore? Sonder geloof is daar mos geen redding nie? Ernstige vrae. Huiweringwekkende vrae. Wat moet ek met my twyfel maak?

Werklikheid🔗

As kind van God leef ek midde-in die wêreld. In ’n sondige en gebroke wêreld. Daarom word ek aanhoudend beproef en versoek. Ek hoor nie net die stem van God nie. Daar is soveel ander stemme wat gehoor word. Teenstemme. Nie net van buite af nie, maar ook vanuit my eie hart. Dit veroorsaak stryd. Ons Kategismus praat van doodsvyande wat nie ophou om ons aan te val nie, naamlik die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur. Daarom is daar die aanvegtinge.

Ek ontmoet allerlei pragtige mense. Ordentlike mense. Maar hulle glo nie wat in die Bybel staan nie. Die vraag kan my pla: is al die mense werklik verkeerd? Is alles wat vir my geleer is, wel waar? Ek kan soms skielik vassit in allerlei vorme van twyfel. Is die Bybel werklik die Woord van God? Is alles wat in die Bybel staan, waar?

Dan is daar die harde werklikheid van die lewe. Skielik lyk dit asof my lewe inmekaarstort. Dit kan wees dat ek vir my studies druip, dat my besigheid in die moeilikheid kom, dat ek werkloos raak, dat my verhoudings stukkend gaan, dat daar ernstige siekte is of selfs dat die dood toeslaan, ensovoorts. My lewe loop heeltemal anders as wat ek gehoop of verwag het. Dan is daar die teenstem: waarom laat God dit gebeur? Waar is God met sy beloftes van seën?

Ons word daagliks gekonfronteer met die verskriklike lyding in ons land en wêreld. Dink net aan die ellende in ons buurland Zimbabwe. Ons sien beelde van uitgeteerde en verminkte mense. Ons hoor van miljoene mense wat die hongerdood in die gesig staar of wat aan vigs sterwe. Kan ons nog wel volhou dat God in beheer is? As God almagtig en liefdevol is, waarom gryp Hy nie in nie? Waar is God?

Selfs in die kerk kan daar allerlei dinge wees wat die teenstem in ons hart oproep. Die kerk behoort in hierdie onrustige en liefdelose wêreld ’n oase van vrede en liefde te wees. Ons praat so dikwels van leer en lewe wat een moet wees. Maar hoe is die werklikheid van die gemeentelewe? Wat ervaar ek van die onderlinge vrede en liefde? Ja, waar is die God van die vrede?

So is daar allerlei teenstemme wat opkom en gehoor word. Satan probeer om my van God af weg te trek. Met sy aanvalle bedreig hy aanhoudend my geloof. Ek sou so graag op al daardie vrae ’n antwoord hê. Maar dit is nie moontlik nie. Want ek is net ’n mensekind, terwyl God God is, vir Wie ons nie kan deurgrond nie. So gebeur dit dat ek een oomblik van harte God se stem aanvaar, maar dat kort daarna daardie ja teenoor God sommer deur die teenstemme oorstem word. Twyfel gryp my aan. Soms kan dit my vir ʼn lang tyd pla. Hoe moet ek dit sien? Kan ’n gelowige twyfel?

Mag Dit?🔗

Wat is geloof? Geloof volgens die Bybel is sekerheid. Om te glo is om seker te weet. Wie ken nie die omskrywing van die Kategismus nie: “’n Ware geloof is nie alleen ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie, maar ook ’n vaste vertroue…” God het gespreek, daarom is dit waar, ook vir my. Ook al sien ek op hierdie oomblik nog niks daarvan nie. Ook al lyk die werklikheid daarmee in stryd te wees. By die ware geloof pas dus in feite geen twyfel nie. Om te twyfel is mos om nie seker te weet nie. ’n Twyfelende geloof is soos koue vuur of droë water. Twyfel en geloof sluit mekaar per definisie uit.

Kan ’n gelowige dan nooit twyfel nie? Ons sou wens dat dit waar was. As ’n gelowige is ek nie vry van aanvegtinge nie. ’n Mens sou byna sê: hy wat nog nooit getwyfel het nie, het ook nog nooit geglo nie. Ons moet daagliks stry teen die swakheid van ons geloof en teen ons twyfel. Die vader van die maansiek kind erken eerlik sy innerlike stryd wanneer hy met trane uitroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” Herken jy jouself in daardie woorde? Dit verander nie die feit dat die aard van die geloof sekerheid is nie. Die geloof is seker van wat God sê en belowe. Jy het mos te doen met God wat almagtig in sy genade is, vir Wie geen ding te wonderlik is nie.

Die Bybel leer dat twyfel sonde is en uit ongeloof voortkom. Die vader van die maansiek kind vra nie of die Here sy twyfel te hulp wil kom nie. Hy noem dit wat hom in die pad staan, by die naam: “kom my ongeloof te hulp.” Wanneer Thomas hoor dat Christus opgestaan het en aan die ander dissipels verskyn het, sê hy: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” Was dit nie twyfel nie? Hoe praat Christus daaroor ’n week later? “Moenie ongelowig wees nie, maar gelowig” (Johannes 20:24-27). Twyfel is dus feitlik ongeloof.

Beteken dit nou dat jy, wanneer jy twyfel, skielik ’n ongelowige is? Is die vader van die maansiek seun ’n ongelowige? Hier moet ’n mens duidelik onderskei tussen die ware geloof en die ware gelowige. Per definisie aanvaar die ware geloof alles wat God in sy Woord geopenbaar het. Met die ware gelowige is dit anders. As ware gelowige moet ek my dit daagliks toe-eien. Dit gaan nie vanself nie. Dit is ’n daaglikse stryd, met val en opstaan.

Twyfel maak ’n mens nie gelukkig nie. Dit kan my verteer. Dit ontneem my baie troos. Die ergste is egter dat twyfel God beroof van die eer wat Hom toekom. Ek maak asof God onbetroubaar is. Ek gee gehoor aan die teenstemme, aan Satan se versoeking, asof Satan meer betroubaar as God is. Is dit nie verskriklik nie? Wat moet ek daarmee maak? Sluit die put nou bo my? Is ek dan verlore, sonder hoop?

Wat Gemaak?🔗

Die Bybel wys op die pad uit hierdie verskriklike moeras van twyfel en sonde. Wat doen ’n mens as hy in ’n diep en donker put beland? Die enigste wat jy kan doen, is om na bo te kyk en om hulp te skreeu. Jy kan nie jouself red nie. Jy het hulp nodig. God wil help. Daarom moet ek altyd weer na God toe vlug. Hy is die Enigste wat my kan help. En Hy wil my ook help. Het Hy nie gesê nie:

Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.

Hier sien jy die weg uit die diepte uit. Gaan na God toe. Aanvaar sy hulp. Hoe help God my dan? Hoe bevry Hy my van twyfel?

Hoe gee Hy my weer sekerheid en vertroue? Hy doen dit deur die evangelie. Die Heilige Gees werk die geloof immers in my hart deur die evangelie. Wat moet ek dan doen om te glo? Ek moet hierdie middel van genade gebruik. Luister na die Woord van God. Lees dit. Laat ander dit vir jou lees. Laat ander jou aan God se woorde herinner. Luister na die prediking. Moenie jou daaraan onttrek nie, ook al voel jy dat dit jou nie nou raak nie. Dit is juis hoe God die geloof in jou wil werk en versterk. Dit is hoe Hy jou sekerheid en vertroue wil gee.

’n Mens kan net vertroue in ’n persoon hê wanneer jy die persoon goed ken. Dit geld sekerlik ten opsigte van God. Dit is daarom vitaal dat ek Hom meer en beter uit die Bybel leer ken. Wat doen ’n mens wanneer jy honger is? Honger vir die genade en liefde van God? Honger vir die bevryding van twyfel en sonde?

Wat maak jy wanneer jy honger is en daar brood beskikbaar is? Dan neem jy tog van die brood? Dan gaan jy nie net bid: Here, ek is honger, gee my dat ek kan eet van die lewende brood. Ja, dit bid jy ook. Maar dit is nie al wat jy doen nie. Want die Here het die brood reeds gegee. Jy het dit reeds tot jou beskikking: die Bybel. Die Woord van God. En in die Woord ontvang jy: Jesus Christus, die brood van die lewe.

Om die Woord as genademiddel te gebruik, is nie maklik nie. Dinge is nie onmiddellik duidelik nie.

Dit is ook nie nodig nie. Daarom moet jy ook nie ongeduldig word wanneer iets nog nie vir jou duidelik is nie. Jy moet ook nie dink dat jy beter weet en ophou om te lees en te luister nie. Dinge gebeur nie alles onmiddellik nie. Jou geloof gaan ook deur ’n proses, ’n groeiproses. Jy begin om meer en meer te verstaan. Jy leer om die Here beter en beter te ken. Jy leer steeds beter wat jy van God mag verwag, hoe jy op Hom kan vertrou. Jy ontdek en glo meer en meer dat die Woord van God waar is. Waar ook vir jou.

Naas die Woord het God ook die sakramente as genademiddels gegee. Daarom: gebruik jou doop. Onthou wat God daardie tyd vir jou belowe het. En nog steeds vandag belowe. Daardie tyd was jy net ’n baba.

Maar God het toe reeds geweet hoe jy sou wees. Tog het Hy nie gesê: los daardie kind maar uit, want hy is dit nie werd nie. Nee, Hy het gesê: die belofte is vir jou. Hy het jou by die naam genoem. En almal in die kerk kon dit hoor. Die Here het werklik vir jou bedoel. Hy het jou sy beloftes gegee. Watter beloftes? Dat jy ’n kind van God mag wees. Dat die Here Jesus deur sy bloed jou sondes wil wegneem. Dat die Heilige Gees in jou wil woon en jou wil vernuwe. Neem goed kennis daarvan. Aanvaar dit. Vertrou daarop. Ook wanneer jy weer in sonde val of verstrik raak in die bande van twyfel. Hy wil jou Vader wees. Hy wil jou sondes vergewe. Hy wil jou lewe vernuwe. Gryp dit vas. Dit is hoe jy jou doop gebruik.

Op daardie manier wil God jou geroep om hulp beantwoord. So wil Hy die rustelose siel tot rus bring. Soos ’n baba aan moeder se bors rus en tevredenheid vind. So keer die vertroue, die sekerheid, terug.