Bron: Die Kerkblad 1995. 2 bladsye.

Het die moderne mens mondig geword?

man met krukke

Vroeg in hierdie eeu het daar 'n eienaardige huwelik plaasgevind: tussen die evolusionisme en die humanisme. Miskien is dit tog nie so vreemd dat die twee by mekaar sou uitkom nie. Want in 'n sekere sin is die evolusionisme en die humanisme maar net twee kante van dieselfde munt — die evolusionisme met sy onwrikbare vertroue in die ontwikkeling van alle dinge en die humanisme met sy onwrikbare vertroue in die mens.

Ewenwel, die kind wat uit hierdie huwelik gebore is, was die idee van die mondigheid van die mens — mondigheid ten opsigte van God. Daarmee word gesê dat die mens ontwikkel het tot op die punt waar hy nou selfstandig is en God nie meer nodig het nie. Godsdiens was maar net 'n fase wat die mens in sy ontwikkeling deurgemaak het, 'n tydperk waarin hy God (of die idee van 'n godheid) as 'n kruk moes gebruik om oor die weg te kom. Maar nou het die mens mondig geword. Hy kan daardie kruk weggooi en op eie voete die toekoms ingaan. Hieroor het professor H. van Riessen 'n baie insiggewende boek geskryf, met die titel "Mondigheid en de machten" (1971).

Hierdie ekstreme idee van die "mondigheid van die mens" is ooglopend maar net 'n ander manier van sê dat God nie bestaan nie. Daarom verwerp die Christen dit sommer met die intrapslag.

Variasies  op  die  tema🔗

Maar idees van hierdie aard laat hulle nie maklik afskud nie. In die mediese wetenskap hoor ons dat 'n virus wat gedurig van voorkoms verander, moeilik is om van ontslae te raak. Sodra wetenskaplikes die virus geïsoleer het, verander hy en begin die soektog weer van voor af. Hierdie selfde vermoë om telkemale aan te pas en in 'n nuwe gedaante op te duik, vind 'n mens ook by die idee van die "mondigheid van die mens." Gedaantes wat die mondigheidsvirus aanneem, is:

Die Christendom het mondigheid ten opsigte van God en sy Woord bereik. Volgens hierdie standpunt het die Christendom in sy onmondige stadium nog naïef geglo dat die Bybel die norm vir ons geloof en lewe is. Maar nou het ons so ver ontwikkel dat ons die Bybel al minder nodig het. Die Bybel het bloot 'n stel "oorbruggingsuitsprake" gegee om 'n onmondige Christendom oor die brug te help. Maar nou dat ons oor die brug is, kan ons maar vir die Bybel 'n mou aanpas of selfs in geheel opsyskuif.

'n Onmondige Christendom het vasgehou aan die idee dat die God van die Bybel die enige ware God is en dat alle ander godsdienste vals en heidens is. Nou het ons egter so ver ontwikkel dat ons weet dat almal maar dieselfde God aanbid, elkeen net onder 'n ander naam en in 'n ander godsdienskultuur.

Die "mondige mens" is so ver ontwikkeld dat ons op ons eie alle boosheid en onreg in die wêreld kan oorwin. Dit wat ons nie met die wetenskap en tegnologie kan regdokter nie, sal ons met geld regstel of om die onderhandelingstafel besleg. Hoe ook al, die Bybelse leer dat "almal onder die sonde en voor God doemwaardig is" (Rom. 3), geld nie vir die mondige mens nie. Ons het Jesus Christus nie meer nodig nie. Ons het ons eie verlossers geword.

boeie🔗

Die  moderne  mens  steeds  slaaf  van  die  sonde🔗

As ons egter eerlik na die laat twintigste-eeuse samelewing kyk, is dit duidelik dat die beskouing wat hierbo beskryf is, die moderne mens totaal oorskat. Die idee dat die mens self besig is om boosheid en onreg te oorwin, word weerlê deur toenemende berigte van moord en doodslag en geweld wêreldwyd. Die onlangse amptelike syfers oor moord en misdaad in Suid-Afrika spreek tragiese boekdele: in die afgelope jaar alleen 15 000 moorde in ons land!

Bo alle twyfel staan dit vas: die mens het nie deur "ewolusie" sy ou sondige natuur ontgroei nie. Van nature is die mens steeds slaaf van die sonde. Die moderne mens het die verlossing van Jesus Christus net so nodig as aan die begin. Sonder God staan ons nie een 'n kans om die sonde en die boosheid en die onreg te oorwin nie.

In  Christus  mondig  —  teenoor  die  sonde🔗

Met God is dit egter anders! Maar dan moet ons ons nie voor God probeer groothou nie. God verwag van ons om voor Hom soos kinders te wees (Matt. 18:3, 4). Slegs as ons kinderlik afhanklik is van ons hemelse Vader, en ons saligheid net in sy Seun soek, en die nuwe lewe (beter as die oue!) van die Heilige Gees verwag, kan ons die boosheid oorwin.

Ja, in Christus bereik die mens ware mondigheid. Hieroor skryf professor Van Riessen uitvoerig in die boek wat hierbo vermeld is. Maar die mondigheid wat ons in Christus bereik, is nie mondigheid teenoor God en sy Woord nie. Dit is mondigheid ten opsigte van die sonde en die wêreld. In Christus geregverdig, deur die Gees geheilig, is ons nie meer slawe van die sonde nie (Rom. 6:16), maar regeer ons oor die sonde en oor ons eie begeertes (HK Sondag 12).

Veel eerder as "mondige mense" wil ons kinders wees — kinders van God. Want net kinders van God is mondig in hierdie wêreld." Julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!" (Rom. 8:15).