Het Kersfees net fees geword?
Het Kersfees net fees geword?
Na die grusame terreuraanvalle by Kingwilliamstown in Queenstown vroeër vandeesmaand het koerantopskrifte gevra: Lê daar 'n donker feestyd voor? Oor die terreuraanvalle kan 'n mens baie sê. Die wet van God leer ons immers om moord en doodslag asook elke ander daad van terrorisme ten skerpste af te wys; en sy liefdeswet lei ons om diepe meegevoel met die naasbestaandes van die onskuldige slagoffers te betuig.
Maar hier op die vooraand van Kersfees vra die vermelde koerantopskrifte ons aandag vir 'n ander saak. In die mond (en gedagtes?) van baie mense het Kersfees maar net as "feestyd" bekend staan. Let maar op die baie advertensies in hierdie dae waarin Kersfees blootweg as "feestyd" bekend staan. Met reg kan 'n mens vra of ons samelewing enigsins nog rekening hou met die inhoud van hierdie fees, en of dit maar net 'n fees ter wille van die fees geword het? Die antwoord van hierdie vraag begin natuurlik by selfondersoek.
'n Begrafnis-atmosfeer?⤒🔗
Onlangs was ek weer by 'n begrafnis. En soos die gebruik by ons mense is, is ons van die graf af eers kerksaal toe om tee en verversings te geniet. Die verversings blyk toe feitlik 'n feesmaal te wees, waarby die familie en vriende van die ontslapene in byna feestelike stemming lag en gesels. My eerste gedagte was: is ons mense dan so ongevoelig jeens die ontslapene? Hoekom dan so vrolik na 'n begrafnis?
Toe het ek weer 'n slag gedink. Ek het gedink aan die trooswoorde uit die Skrif wat ons in die kerk en by die graf gehoor het: die kinders van God is nie ontroosbaar nie, want ons weet dat hulle wat in Christus sterwe, by God is en reeds sy heerlike teenwoordigheid geniet. Ons begrawe dus nie in kleingeloof nie, maar in die sekerheid dat Christus reeds vir ons die dood oorwin het. Is dit dan nie rede om jubelend bly te wees nie? Ja, om selfs fees te vier nie?
'n Buitestaander wat nie die hartsgesindheid van die gelowiges ken nie, sou dit weliswaar vreemd kon vind dat die familie so gesellig saam kan kuier na 'n begrafnis. Maar dit sou wees omdat hy net die "fees" raaksien, en nie die inhoud daarvan ken nie. Wanneer die evangelie van Jesus Christus egter tot hom deurgedring het, dan eers sal hy besef dat hierdie mense nie in ligsinnigheid feesvier nie, maar juis vanweë die diepgang van hulle geloof.
Kersfees is 'n fees←⤒🔗
Die verband van bogenoemde met Kersfees is ooglopend duidelik. Dit pas by die gelowiges om van Kersfees 'n fees te maak, selfs te midde van hartverskeurende gebeurtenisse soos dié by Kingwilliamstown. Wie sou dan nie wou feesvier by die besef dat die Woord vlees geword het nie? Dat God sy eniggebore Seun in die wêreld laat kom het sodat ons deur sy dood die ewige lewe kan ontvang nie? Die Christene het beslis rede om die geboorte van ons Heiland feestelik in herinnering te bring. Dink maar aan die baie bekende danklied vir verlossing in Psalm 116 (berymd):
Ek sal u Naam met dankerkent'nis prys
te midde van die feestelike skare!
Jerusalem, ek hoor om jou altare
die lofgeluid wat tot Gods eer verrys.
Kersfees is 'n Christusfees←⤒🔗
Die gelowiges vier dus fees oor die evangelieboodskap wat met die geboorte van Jesus oor die wêreld gekom het. Maar dan so 'n fees dat buitestaanders kan sien dit is nie maar net nog 'n fees nie. Hulle moet aan ons manier van feesvier kan sien dat dit vir ons 'n Christus-fees is, dat dit vir ons by Kersfees nie om die fees gaan nie, maar om die Seun van God, die Verlosser van die wêreld. So nie, is dit vir hulle — soos by 'n begrafnis — onverstaanbaar waarom ons feesvier.
Om met Kersfees voort te gaan terwyl ons land opgaan in die vlamme van geweld, mag miskien vir die wêreld gevoelloos lyk: na ‘n donker feestyd! Terselfdertyd mag dit vir baie na 'n blote geleentheid lyk om die harde werklikheid van ons landsomstandighede met drank en pret en jolyt te verdoof.
Vir die gelowige is Kersfees egter iets anders. Onder ons huidige landsomstandighede is Kersfees vir ons 'n geloofsdaad, 'n gelowige gryp na Christus omdat Hy ons eerste gegryp het (Fil. 3:12), 'n heenwysing na Hom in wie die ware vrede vir die mensdom 'n werklikheid geword het.
Op hierdie manier is die Kersfees van die gelowige sigbare prediking vir hulle wat Jesus Christus nie ken nie. In ons blydskap moet Christus vir hulle gestalte aanneem. Ons hoor iets hiervan in Psalm 126:
Ons mond is gevul met gelag en ons tong met gejubel;
toe het hulle onder die heidene gesê:
Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen.
Mag die Here ons die genade gee om so Kersfees te vier dat andere in ons feesviering die evangelie van Jesus Christus sal sien en hoor.