Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Het Mense Volgens die Skrif Regte? (Deel 2)

Bybelse Invulling🔗

My eerste artikel het ek geëindig met die stelling dat ʼn Christen nie afstand hoef te neem van die gedagte van bepaalde “regte’ wat mense sou hê nie. Die Ou Testament loop oor van die reg en geregtigheid wat gehandhaaf moet word. Die ballingskap van Israel was in geen geringe mate nie juis die gevolg van Israel se gevoelloosheid t.o.v. die reg van die wees en weduwees wat nie meer gehandhaaf is nie. Dit sou dus moontlik wees om sonder angstigheid deel te neem aan die hedendaagse gesprek oor die regte van mense. Die uitdaging is om die invulling vanuit die doelstellings en horisonne van die Skrif self konkreet te maak. Die uitstaande kenmerk van die modern verstaan van “regte”, is dat individuele subjektiewe regte as “oorspronklik” beskou word en nie as ʼn afgeleide van ʼn groter saak nie. Die werklikheid waarmee ons te doen het, is ʼn veelvoud van regte wat met mekaar versoen en in harmonie gebring moet word.

Die Ou Testamentiese taal van regte en geregtigheid, skets die omstandighede waaronder almal gesamentlik as samelewing in ʼn goeie situasie kan wees. Hierdie gesamentlike situasie mag vir enige individu voordele maar ook nadele inhou, afhangende van sy houding en ingesteldheid teenoor sy naaste. Ons moet baie versigtig wees om met een-en twintigste-eeuse oë bepaalde individuele “regte” in die Ou Testament te wil vind. Die stelsel van wat reg is in die Ou Testament pas nie altyd in die kategorieë waarmee humanistiese ideale vandag werk nie. Met name moderne individualisme, kan/mag moeilik in die Ou Testament “ingelees” word.

Nuwe Testament🔗

Wanneer in die Nuwe Testament die woord “reg” in vertalings gebruik word, is dit meesal ʼn weergawe van die Griekse word “exousia” (krag / gesag). “Krag / mag” in hierdie kontekste verwys nie na fisiese krag of mag nie, maar na die mag om wettig gesag uit te oefen – die “reg’ om gesag uit te oefen. In die Nuwe Testament kan dit verwys na die Here God se mag oor die hele skepping (bv. Lukas 12:5), Christus se gesag wat Hom deur die Vader gegee is (Matteus 28:18 – “aan my is alle “mag/reg” gegee), of ander gesag gegee aan owerhede of die apostels (bv. 1 Korintiërs 9:4 ev.). Wanneer hierdie gesag uitgeoefen word ten opsigte van iets of iemand spesifiek, sou ons dit inderdaad as ʼn ‘reg” kon beskryf.

In 1 Korinthiërs 6 en 7 beskryf Paulus hoe dit wat in ons tyd as “regte” beskou sou word, gebruik moet word. Hulle moet dit wat ons sal beskou as wetlike regte en vryhede, die reg om te trou of om ʼn regsaak teen iemand aan hange te maak, op ʼn spesifieke manier mee omgaan. In hoofstuk 8 oorweeg hy selfs die reg om om te gaan met die eet en gebruik van voedsel wat aan afgode geoffer is. Later beskryf hy hoe hy as apostel (1 Korintiërs 9) sy “exousia” (reg/gesag/mag) op versorging en voedsel, nie uitgeoefen het nie. Terwyl hy alle reg hierop gehad het, het sy liefde vir die gemeente in Korinthe hom in staat gestel om hierdie regte nie af te dwing nie. Dit is baie belangrik om te sien dat Paulus nie een oomblik ontken het dat hierdie “regte” as apostel vir hom bestaan het nie. Die gemeente in Korinthe sou geen voet gehad het om op te staan, indien hulle hom finansiële versorging wou ontsê nie. Paulus beskryf juis sy liefde vir hulle hierin dat hy van dit wat ons vandag as bepaalde regte sou beskryf, afgesien het. Hy lê teenoor die Here verantwoording af van sy apostelskap deur te demonstreer hoe hy met sy regte in liefde omgegaan en gedien het.

As Christene kan ons daarom werk met die bestaan van bepaalde “regte”. Daar is egter ʼn groter werklikheid waarbinne hierdie regte uitgeoefen word. Alles behoort aan die gelowige, maar ons behoort aan Christus en Christus aan God. Navolging van Christus stel die gelowige voor die verantwoordelikheid om te besin oor hoe omgegaan word met ons regte. Elkeen van ons gaan daarmee om as mense wat self besit word deur Christus en daarom teenoor Hom verantwoording verskuldig is van hoe ek omgaan met die regte wat aan my toevertrou word.

Christene leef nie met ʼn lewenshouding waardeur ons die grondslag van burgerlike wetgewing wil ondermyn nie. Die apostel Paulus het soms gely as uitgeworpene uit die samelewing, maar hy kon ewe goed as Romeinse burger aanspraak maak op sy regte; alles in diens van sy roeping as apostel tot eer van Christus en die diens aan ʼn kwesbare kerk. Ware morele gesag kom nie deur die bestaan van bepaalde regte te ontken nie, maar wel deur dit alles te stel in diens van God se sending in hierdie wêreld. Christus het dit “geen roof geag om aan God gelyk te wees nie”, maar het nogtans in die gedaante van ʼn dienskneg onder ons kom woon en leef. Dit lei tot sy verhoging op die troon van God as Messias.

Die Moraliteit van Regte🔗

Die argument dat die Bybel nie in terme van regte praat soos ons dit vandag ken nie en dat daarom die hele konsep van menseregte vreemd aan ons geloof is, is nie ʼn baie sterk argument nie. Die vraag is nie of ons deur woordstudies sinonieme in die Ou-en/of Nuwe Testament kan vind nie.

ʼn Belangriker vraag is of die gesprekke oor regte enigsins inpas by ʼn Christelike lewensbeskouing. Meerdere hedendaagse regte-gesprekke het duidelike klanke van egoïsme, losbandigheid en selfs vyandiggesindheid. Kortom, dit het ʼn verwoording geword vir ʼn lewenshouding wat spreek van ʼn onchristelike ingesteldheid. In die manier waarop menseregte funksioneer, word dit diensbaar gestel aan individualisme teenoor gemeenskap, outonomie teenoor wedersydse diensbaarheid, en konfrontasie word aangewakker teenoor die soeke na ʼn lewe vanuit konsensus.

Individualisme🔗

Moderne denke oor regte gebruik as uitgangspunt die individu. Die taal van regte, is die taal waarin individuele belange bevoorreg word bo gemeenskaplike belange. In konstitusionele denke is die doel van regte dan ook juis die beskerming van die individu teen die regering wat oorywerig kan word om gemeenskaplike belange na te jaag. As voorbeeld kan ons die gemeenskaplike belang in nasionale veiligheid gebruik. Die najaag van nasionale veiligheid kan die individuele reg om die regering te bevraagteken in gedrang bring. Gevaarligte begin flikker wanneer regte hanteer word as meer belangrik as gemeenskaplike belange of wanneer die bestaan van gesamentlike belange selfs ontken word.

Outonomiteit en Onderwerping🔗

Outonomie en heteronomie word maklik teenoor mekaar gestel deur denke vanuit individuele regte. Outonomiteit is ʼn manier om ʼn stel reëls vir jouself daar te stel waarmee jou eie lewe beheer kan word. Heteronomie is onderlinge onderwerping aan mekaar. Die taal van regte het ʼn natuurlike voorkeur vir outonomiteit, aangesien die aanspraak op ʼn reg ʼn natuurlike afskerming is teen ʼn ander se inmenging in my lewe of teen ʼn ander se aansprake op my.

Moderne interpretasies van outonomiteit neig daarom daarna om in konflik te kom met moraliteit. Die rede hiervoor is dat outonomiteit gesien word as die wenslike kapasiteit om standaarde van moraliteit vir jouself vas te stel. So word daar byvoorbeeld aanspraak gemaak op ʼn reg “tot morele onafhanklikheid”. Individuele regte identifiseer verder outomaties daardie aspekte van elkeen se lewe waarin die individu vry is om ʼn eie moraliteit te vorm. Op hierdie manier word daar byvoorbeeld aanspraak gemaak op ʼn reg tot pornografie, aangesien jy nie in die privaatheid van jou eie woning onderwerp mag wees (sic!) aan die wense van ander nie. Vryheid het hier ʼn natuurlike tendens na morele losbandigheid.

Konflik en Kompromie🔗

Regte soos ons dit in die samelewing ken, is ontwikkel in die konteks van juridiese regspraak. Een van die belangrikste funksies van regspraak, is die oplossing van dispute. Dit gebeur gewoonlik in die Westerse wêreld nie deur onderhandeling en kompromie nie, maar deur die handhawing van bestaande regte van een van die partye. Wanneer regte geplaas word binne die morele sfeer, ly verhoudings met mense onderling byna noodwendig. Die rede hiervoor is dat verhoudings floreer wanneer mense mekaar gee waarop die ander geregtig is, maar ook spontaan selfs meer gee as bewys van goedgesindheid. Teenoor hierdie onderlinge inskiklikheid, lei die aandrang op persoonlike regte tot onbuigsaamheid in onderlinge verhoudings. Elkeen het reg om te gee en te ontvang niks meer en niks minder as wat die reg vereis nie. Gegewe die sondigheid van mense, lei dit gedurig tot persoonlike konflikte.

Gevolgtrekking🔗

Dit is geen illusie dat die taal van regte selfvernietigend en –verterend is nie. Wanneer alle aansprake op regte konsekwent deurgevoer word, lei dit noodwendig tot konflik. Die vryheid van regte kan nie losgemaak word van moraliteit nie. Verseker is daar ʼn funksie en verstaan van regte wat spruit uit die wysheid van die Skrif en daarom ʼn uiters belangrike morele funksie vervul. ʼn Verantwoorde gebruik van die taal van regte sal wees om die mense te identifiseer wat aanspraak maak op spesifieke regte, en dan die verantwoordelikhede teenoor hierdie mense wat voortspruit uit die regte, te formuleer. Die reg wat die Here wil beskerm is die reg waarin ons wedersydse verantwoordelikhede teenoor mekaar nakom tot voordeel van gemeenskaplike belange.