Bron: Kompas, 2009. 3 bladsye.

Hoe Betroubaar is ons Geskiedenisboeke?

In 2002 het daar ’n merkwaardige boek verskyn wat nogal heelwat opskudding verwek het. En nie ten onregte nie. Die skrywer, wat nie ’n historikus is nie, het, na jarelange navorsing tydens seereise, besoeke aan museums en argiewe orals in die wêreld asook ’n omvangryke korrespondensie, ’n boek geskrywe wat ’n topverkoper geword het. Dit is Gavin Menzies se “1421, the year China discovered the world”. En hy betoog en bewys dat die titel vir die volle 100% letterlik verstaan moet word: in 1421 het die Chinese die wêreld ontdek!

1421, dit is baie duidelik dekades voordat Diaz Kaappunt bereik en Columbus na Amerika gevaar het. Trouens, die verhaal van Menzies laat ons verstaan dat daar eintlik geen vergelyking getref kan word tussen die reise van Diaz en Columbus – wat so ’n prominente plek in ons geskiedenisboeke het – en die Chinese reise wat nie daarin ter sprake kom nie. Die Portugese en Spanjaarde het ’n klein aantal vaartuie, wat nouliks seewaardig was, gebruik, terwyl die Chinese groot en uitstekend toegeruste vlote uitgestuur het. Die Portugese het slegs die seeweg na Indië gesoek, terwyl die Chinese op ’n voluit wetenskaplike ekspedisie gegaan het om die hele wêreld in kaart te bring.

Columbus het eintlik maar in die duister rondgetas – of het hy dalk nie? – terwyl die Chinese ’n redelike totaalbeeld van die wêreld gehad het en oor uitstekende navigasiemiddels beskik het.

In ’n artikel soos hierdie kan onmoontlik die inhoud van Menzies se boek opgesom word. Die getal stellings wat hy daarin maak en waarvan hy met talle bewyse die waarheid aantoon, is oorweldigend. Die Chinese het in daardie jare letterlik alle oseane bevaar en die kuslyne van die kontinente in kaart gebring. Die kaarte wat geteken is en die verslae wat oor die reise opgestel is, lê getuienis daarvan af.

Dit was dus nie Columbus wat in 1492 Amerika ontdek het nie, maar die Chinese omtrent 70 jaar vroeër. Hoe betroubaar is dus ons geskiedenisboeke? En hoe betroubaar is Menzies?

Om met hom te begin, Menzies is ’n afgetrede hoë Britse see-offisier met ’n skitterende loopbaan. Hy het sy verhaal noukeurig nagevors en kom met talle bewyse ter stawing daarvan. Dit is baie interessant hoe ook eiesoortige bewysvoerings, wat normaalweg nie in historiese werke voorkom nie, gebruik word.

Sy navorsing – hy het letterlik al die reise van die ou Chinese vlote self ook onderneem – is indrukwekkend en geweldig interessant. Afgesien van onderdele waarin hy moontlik faal en interpretasies wat dalk omvergewerp kan word, is sy verhaal beslis oortuigend. Tot op hede het ook niemand nog sy bewerings weerlê nie. Dit bly dus lesenswaardige lektuur.

En nou het in 2008 van dieselfde skrywer ’n vervolg die lig gesien: “1434, the year a magnificent Chinese fleet sailed to Italy and ignited the Renaissance.” Met hierdie boek rig hy moontlik ’n nog groter uitdaging aan die gevestigde geskiedeniswetenskap as met sy eerste.

Hy beskryf in hierdie boek die reis van ’n Chinese vloot wat in opdrag van die keiser ’n besoek aan Italië en meer spesifiek die pous gebring het. Dit mag dalk alte fantasties klink, maar dit is volkome realisties. Daar was al eeuelank kontakte tussen China (veral die Mongole) en die pous. Die reise van Marco Polo en ander handelaars en ook monnike wat soontoe gereis het, lê getuienis daarvan af.

Die Chinese vloot is vergesel van ’n aantal geleerdes, ’n uitgebreide biblioteek, en talle voorbeelde van Chinese wetenskaplike prestasies. Hierdie ambassadeursvloot moes die westerse wêreld sodanig beïndruk dat hulle in die Chinese hulle meerderes sou erken en aan die Chinese keiser onderdanigheid sou betoon. ’n Voorbeeld van ’n vreedsame imperialisme en magsuitbreiding!

Die reis is origens nie om Afrika gemaak nie, maar via die Rooi See en die toe nog bestaande kanaal wat sedert die oudheid die Rooi See en die Nyl verbind het. Die reis was ’n geweldige sukses. Die Chinese kennis het ingang in die westerse wêreld gevind. Weer eens kom Menzies met ’n magdom inligting wat boeiende leesstof bied.

Vir meer indringende bespreking en uitvoerige gedokumenteerde bewysvoering verwys hy maklik na sy webwerf. Gevolglik lees die boek maklik en hou hy die spanningsvlak hoog.

In sy tweede boek is in ’n mate ’n verdediging teen kritiek merkbaar en hy neem ook veel meer gedetailleerde bewysvoering op. Daardeur lees dit moeiliker, omdat sy betoogtrant uitgerek word.

Hy is ook meer uitgesproke. Hy is soseer deur sy bewysmateriaal oortuig dat hy tot onversigtige uitsprake kom. In die titel beweer hy dat die besoek van die Chinese vloot die Renaissance veroorsaak het. En daarmee maak hy ’n onbewysbare stelling. Hy toon wel aan dat talle wetenskaplike en tegniese ontwikkelings wat ons gewoonlik aan ’n aantal Italiaanse geleerdes toeskryf, in hoë mate deur die Chinese besoek van 1434 beïnvloed is. En natuurlik gee dit ’n verdieping van insig en kennis oor wat in daardie tyd gebeur het. Maar die Renaissance was baie meer as net wetenskaplike ontwikkelings en tegniese uitvindings. Die beeldende kuns en literatuur speel daarin ook ’n groot rol en veral die verandering van wêreldbeeld. Die Renaissance-gees is krities teenoor gevestigde opvattings. Die Renaissance-mens aanvaar uitdagings en soek nuwe oplossings. En sonder daardie openheid van gees sou die besoek van die Chinese glad nie so suksesvol gewees het nie. Wanneer die besoek honderd jaar vroeër sou plaasgevind het, sou die effek dalk totaal anders gewees het. Menzies bring dus nie in rekening dat die Chinese besoek uitstekend aangepas het by dit wat in Italië al aan die gang was. En is dit nie byna altyd die geval dat uitvindings en ontdekkings deur talle voorafgaande en gelyktydige ontwikkelings beïnvloed word nie? En nogtans word die uitvinding of ontdekking op naam van hom of haar geplaas wat uiteindelik al die aspekte verenig en dit produktief gemaak het. Veral die laaste aspek is baie belangrik.

Menzies maak in beide boeke veel werk daarvan om te betoog dat Columbus eintlik nie Amerika ontdek het nie. Hy het so baie inligting vooraf gekry dat hy maar net die reis moes maak. En daarom protesteer hy daarteen dat nog geen enkele geskiedenisboek Columbus as ontdekker onttroon het nie. Maar Menzies vertel in hierdie opsig nie iets nuuts nie. Die bestaande literatuur oor die ontdekkingsreise maak glad geen geheim daarvan dat Columbus inligting van Toscanelli in Florence gekry het nie. Net so goed as wat daar geen geheim gemaak word van die feit dat ver voor Columbus (en ook ver voor die Chinese) die Vikings al via Ysland, Groenland en Newfoundland die vaste land van Noord-Amerika bereik het nie. Ja, Columbus het – min of meer – geweet waarheen hy op pad was en waar om dit te soek. In die inligting wat hy van Toscanelli ontvang het, was daar seker elemente van die vroeëre Chinese ontdekkers aanwesig.

Maar ook al sal nuwe geskiedenisboeke oor die ontdekkingstydperk dalk krediet gee aan wat die Chinese ontdekkers van 1421 gedoen het, tog sal Columbus die ontdekker van Amerika bly en nie die Chinese admiraal Zhou Wen of die Viking Rooi Erik nie.

Die eenvoudige rede daarvoor is dat die reise van laasgenoemde geen blywende resultaat of gevolge gehad het nie. Die reis van Columbus wel. Dit is nie sy verdienste nie, maar dit maak sy reis wel belangwekkend. Belangrik genoeg om tot vandag in die boeke gestaaf te word.

Dan bly nog die vraag wat in die opskrif gevra is: hoe betroubaar is ons geskiedenisboeke? Wanneer ’n mens verwag dat ’n geskiedenisboek alles wat in die verlede gebeur het, noukeurig moet vertel, dan is geen enkele boek betroubaar nie. Elke skrywer maak ’n keuse op grond van die bedoeling wat hy met sy boek het. Dit is volkome aanvaarbaar. Dit is ’n ander ding wanneer die keuse bepaal word deur ’n voorafgaande opvatting wat dan deur die boek “bewys” moet word. Dit is dikwels die geval wanneer vanuit politieke oortuigings geskrywe word. Dan is die gevaar groot dat inligting wat nie in die verhaal “pas” nie, eenvoudigweg uitgelaat word. Hierdie boeke word daardeur onbetroubaar.

Nuwe navorsing, ook dié van Menzies, kan ou inligting aanvul, vroeëre interpretasies verbeter en gevolglik tot ’n nuwere weergawe van ’n ou verhaal aanleiding gee. Maar ook die nuwe weergawe van die ou verhaal hoef nog nie die einde van die saak te wees nie. Ook daarin kan mettertyd weer verbetering aangebring word. Soos in die verlede gesê is: die geskiedenis is ’n diskussie sonder einde.

En tot hierdie diskussie het Menzies baie beslis ’n uiters merkwaardige en baie leesbare bydrae gelewer. Die Europese ontdekkingsreise vorm spannende leesstof wat deur geen avontuurroman geëwenaar kan word nie. Die werklikheid het altyd iets voor op die verbeelding. Menzies gee ons ’n nuwe spannende verhaal van reise wat tot dusver in ons literatuur onbekend was. Hy verryk daardeur ons kennis, gee aanvullende verklarings vir gebeurtenisse uit die verlede en insig in agtergronde. Dat hy in sommige uitsprake ongenuanseerd is, sal ons hom graag vergewe, want hy het ons ’n tweetal baie interessante boeke gegee. Hierdie boeke kan aan u menige plesierige uur in die komende vakansietyd besorg.