4 bladsye.

Hoe Bly Jy Geesdriftig? ʼn Gesprek oor Gebrek aan Geesdrif in die Kerk

kerk

Hans:     ‘Ek dink dis maar ʼn vervelige storie in die kerk.’

Gert:      ‘Hoekom?’

Hans:     ‘Wel, tydens die erediens is die meeste mense nie baie geesdriftig nie. ’n Mens sal nou nie juis kan sê dat hulle gesigte van blydskap straal     nie. Hier en daar knip iemand selfs ʼn uiltjie. En die helfte van die mense is nie eers betrokke by Bybelstudie nie. Mense kry eers lewe as hulle na die erediens of Bybelstudie kan praat oor TV-programme, motors en sport.’

Gert:      ‘Oordryf jy nie nou ʼn bietjie nie? Daar is tog ook heelwat positiewe dinge wat mens kan uitwys? Daar is tog nie nét onverskilligheid nie?’

Hans:     ‘Ja, maar ons síén so min geesdrif. Alles is dikwels so traag. Dan is dit vir my baie moeilik om self geesdriftig en opgewonde deel te neem aan die kerklike lewe.’

Ek glo dat die inhoud van hierdie gesprek nie vir u vreemd sal voorkom nie. Dit wat Hans hier uitwys, is ʼn klag wat mens baie hoor. Waar ʼn mens buite die kerkmure baie keer entoesiasme raakloop vir Christus se saak, vind ons in die kerk dikwels onverskilligheid, gemaksug en ʼn gebrek aan opregte geesdrif vir die diens aan die Here. Hoe kan ’n mens dit verander? Moet die verandering by myself begin?

Hoe bly jy geesdriftig in die kerk?

Ware Geesdrif🔗

Wanneer die vraag gevra word, hoe jy geesdriftig in die kerk kan bly, moet ’n mens éérs ʼn ander vraag beantwoord: Hoe wórd jy geesdriftig? Daarmee saam is dit belangrik om geesdrif nie te verwar met idealisme nie.

Wat is idealisme? Dit is om, wat die geestelike lewe betref, baie ideale te hê wat jy graag verwesenlik wil sien en waarvoor jy al jou kragte inspan. Jy wil dinge in die kerk verander; mense aktief betrokke maak; jy wil die Bybelstudies laat blom; jy wil ʼn geesgedrewe evangelisasiekommissie hê wat die hele gemeente inspireer om aktief deel te neem. Jy wil baie dinge hê. Maar wanneer die werklikheid anders is en jy jou elke keer teen ʼn muur vasloop, kan jou idealisme sommer gou verdwyn en dan gee jy gou teleurgesteld moed op.

Hiermee bedoel ek nie dat dit verkeerd is om ideale te hê nie. Jy mag gerus ideale koester. Die vraag is net of jy op die regte manier begin het. Waar kry jy jou krag vandaan om aktief in die kerk te wees? Wat dryf jou? Wat inspireer jou? Ook anders gesê: ‘Wat is ware geesdrif in die kerk?’

Vir die antwoord op bogenoemde vrae wil ek jou graag verwys na wat Paulus in Efesiërs 5:18 skryf: ”Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.” In hierdie vers is ʼn groot teenstelling. In Efese was daar blykbaar gemeentelede wat hulself aan drank te buite gegaan het. Daar was gereeld heidense feeste in Efese waarby baie wyn gedrink is. Die mense het eers ordentlik op dreef begin kom wanneer die alkohol iets in hulle losgemaak het. Die alkohol inspireer hulle en die wyn maak die tonge los. Maar dit wat dan vorendag gekom het, was niks goeds nie. Paulus praat van losbandigheid, alle brieke het losgeraak. Die vuilste dinge wat in die hart van die mens is, kom uit.

Nou sê Paulus vir die gemeente in Efese dat hulle hul nie moet vol maak met alkohol nie, maar hulle moet vol word van die Heilige Gees. Hy moet jou inspireer en aktief maak. Hoe werk dit? Hoe word jy vol van die Heilige Gees? Jy moet bid daarvoor. Deur jou daaglikse gebed maak jy jou hart oop vir die Heilige Gees en Sy werk. Dit gebeur ook deur daaglikse omgang met die Bybel, die Woord van die Gees.

wyn

Dit is waarmee dit begin. Ware geesdrif is die werk van die Heilige Gees. Daardie entoesiasme is ʼn gawe van God en daarom nie in die eerste plek ʼn saak van idealisme wat sommer gou weer verdwyn of onderdruk kan word, nie. In hierdie verband wil ek graag verwys op Galasiërs 5:22 waar liefde en blydskap vrugte van die Gees genoem word. Jy kan blydskap in die kerk, geesdrif vir die diens van die HERE, ontvang.

Dit is nie eienskappe wat een persoon wel en ʼn ander persoon nie het nie. Nee, dit is hemelse geskenke wat vir ons almal gereed lê. Ons moet net daarvoor vra. In reaksie op die gebed maak die Gees ons bly en geesdriftig! Dit is nie iets tydelik nie. Die Gees wil jou elke dag aanvuur en geesdriftig maak.

So ’n sig op die werk van die Gees voorkom ook dat onsself totaal moedeloos word na slegte ervarings in die kerk. Sulke slegte ervarings sal ongelukkig nie verdwyn nie, maar jy put jou krag nie uit ideale nie, maar uit die werk van die Heilige Gees. Jy het immers ʼn onuitputlike bron tot jou beskikking! Die vuur van die Heilige Gees kan jou elke dag verwarm.

Dit gebeur nie buite jouself om nie. Paulus sê vir Timoteus dat hy die gawe van God in homself moet aanwakker (2 Timoteus 1:6). Dit is die beeld van ʼn vuur wat smeul, maar wat weer opvlam sodra dit geblaas word. Hieruit blyk baie mooi en duidelik dat dít wat die Gees ons gee, nooit vanselfsprekend sy werk doen nie. God se gawes werk altyd deur dit wat ons doen. Jy kan God se gawes ook laat verroes. Dan beteken ons niks meer in of vir die kerk nie. Ons moet hulle aanwakker deur daarmee besig te bly.

Mekaar Aanspoor in die Kerk🔗

Dit was belangrik om eers te wys hóe jy net op die regte manier geesdriftig en bly kan word in die kerk. Maar, dit verander nie juis veel nie. Veronderstel dat jy hiermee saamstem, jou laat aanvuur deur die Heilige Gees en jou hande uit jou moue steek. Dan loop jy jouself nog steeds vas in ʼn groot mate van traagheid in die kerk. Hoe kan so iets verander word? Vóórdat ons hierop ʼn antwoord probeer kry, moet ons eers soek na die oorsaak van hierdie traagheid.

Hoekom is daar so min lidmate aktief betrokke by die Bybelstudies? Hoekom is daar so min belangstelling om op die evangelisasiekommissie te dien? Hoekom is daar soveel laksheid in die kerk?

Is dit nie omdat daar in die kerk ʼn te geringe besef aanwesig is dat ons vir die Here lewe nie? Dat dit heeltemal normaal is om ons hele bestaan aan God te wy? Dat dit eie aan ʼn Christen is om God se Naam te bely, homself te offer in dankbaarheid en om te veg teen die sonde en die duiwel?

Ek glo dat in die ontbreking van hierdie besef ʼn verklaring gevind kan word vir so baie ongeïnteresseerdheid in die kerk.

Ons is mos gesalf met die Heilige Gees? Ons is mos met alles in ons verbind aan ons Here Jesus Christus, wat ons gekoop het met sy bloed? Dan is dit mos die normaalste saak in die wêreld dat ons onsself vir die HERE gee? Maar wanneer hierdie dinge nie meer in die kerk lewe nie, oorval die louheid ons en dink ons dat so ’n kerklike lewe normaal is.

Daarom lê die bestryding van traagheid in die kerk eerstens hierin, dat mense weer hierdie dinge ontdek. Mense wat ‘wel glo’, moet weer tot ’n dieper geloof gebring word, naamlik: dié geloof dat hul lewe duur gekóóp is en daarom toegewy is aan die HERE. Hulle moet weer glo, dat hulle in die kerk net normaal funksioneer wanneer hulle daar is vir Gód.

Hierdie geloof moet deur die Heilige Gees in hul harte gewerk word, deur die prediking elke Sondag en tydens huisbesoek deur die week. Slegs so kan die Gees lakse mense lewendig maak. Net op hierdie manier word trae mense weer geesdriftig. Met ander woorde: daar moet dus goed gepreek word. Daarmee bedoel ek nie dat ʼn predikant net ʼn goeie verduideliking van ʼn bepaalde teks moet gee nie (ja, dit ook!). Ek bedoel hiermee dat die preek die mense moet wakker skud, moet aanvuur en verwarm. Daarin het die predikant ʼn belangrike taak. Natuurlik kan hy nie die werk van die Gees vervang nie. Die Gees moet dit in die harte van mense doen déúr die preek. Die predikant is wel die werktuig in Sy hand. Daarom moet daar ook warm liefde in die preek deurkom. Daar moet ʼn vuur brand wat die mense warm máák ... in vuur en vlam. Sy woorde moet die harte van die mense aanraak, sodat hulle weer sién hoe ryk hulle is en hul weer vanuit hierdie rykdom begin lewe. Daar moet ʼn stuk besieling in die prediking wees wat aansteeklik werk. ʼn Smeulende vlammetjie maak jou nie warm nie, maar ’n massiewe bosbrand kan dit wel regkry. So wil die Heilige Gees die lidmate aanvuur en aanspoor.

Ook op die huisbesoeke moet gepraat word, met oud en jonk, oor die toewyding van die lewe aan God en die persoonlike omgang met die HERE. Dit moet indringend en reg op die man af gebeur. Op hierdie manier word gemeentelede gestimuleer om offers te bring, om tyd en krag vir die gemeente te gee, byvoorbeeld vir Bybelstudiewerk.

Ek sou dus allereers die aandag wil vestig op die belang van die werk van die ampsdraers. Hul moet hul geleentheid tot dienswerk ten volle benut. Op hierdie manier kan die Heilige Gees self te werk gaan in die gemeente en vuur maak in die harte van mans, vrouens, seuns en dogters. Dan sal die bereidwilligheid groei om jou in te span vir die kerk van Christus en dan kom die besef dat jy moet betrokke wees en daar nie ʼn ander moontlikheid is nie. Maar dit alles begin met die gelóóf, die geloof wat deur die Heilige Gees in ons harte gewerk word deur die Woord van God. Wanneer dít ontbreek, kan jy net so wel ophou werk in die kerk.

Ons moet dus altyd by die begin begin. Net so min soos ’n mens regkom met allerlei ideale in jou persoonlike lewe, net so werk dit ook in die kerk. Die Gees doen die werk. Dit is nie ʼn sinnetjie wat ons passief maak nie, maar wel een wat ons wys hóé die kerk ʼn lewende, geesdriftige kerk kan wees. Die Gees doen die werk, maar Hy werk déúr mense, deur gebed en omgang met die Bybel, deur die prediking en die huisbesoek. Ons sal altyd weer uit hierdie bronne van die Gees moet put. Dit is die enigste goeie medikasie wat help teen die siektes van ongeïnteresseerdheid en traagheid in die kerk.

Nugterheid is ook Belangrik🔗

Wanneer ons praat oor ʼn gebrek aan geesdrif en deelname in die kerk, moet ons wel nugter bly. Ons moenie dink dat ons iewers ’n volmaakte kerk gaan vind nie. Ons moet onthou dat die kerk uit sondige mense bestaan. Dit sal ons daarvan weerhou om ongegrond optimisties te wees en ʼn perfekte kerk te verwag. Die kerk is nie die eindproduk van volmaakte gelowiges nie, maar die vergadering van verloste sondaars wat nog elke dag moet stry teen die doodsvyande – sonde, duiwel en eie vlees. Dit geld vir ons almal in die kerk. Daarom moet ons nie die kerk afskryf as ons bepaalde probleme sien nie. Ons weet almal hoe vinnig dit kan gebeur! ’n Mens moet altyd besef dat die kerk ʼn volk is waarvoor die Here Jesus sy bloed gestort het en slegs dáárom is dit kosbaar. Hierdie kerk mag jy liefhê en daarvan mag jy ʼn lewende lidmaat wees.

Dit is nie altyd maklik nie. Jy kan teleurgesteld raak in mense. Jy kan teen baie onwilligheid en luiheid vasloop. Jy kan jou vererg vir mense wat skaars aandag gee tydens die erediens en mense wat swyg tydens Bybelstudies. Maar jy bly jou insette lewer, omdat jy al hierdie mense saam sien as Christus se volk en omdat jy Hóm sien wat sy gemeente bou deur sondige mense soos ek en jy.

Wees ʼn Lewende Lidmaat🔗

Aan die einde van die artikel wil ek jou as leser vra om bewustelik jou plek in die kerk in te neem. Wees ʼn lewende lid daarvan!

pad

Hoe? Eerstens: deur die kenmerke van ʼn regte Christen te vertoon. Kyk byvoorbeeld na Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Volgens daardie artikel is jy ʼn lewende lidmaat van die kerk wanneer jy die enigste Heiland Christus aanneem, wegvlug van die sonde en geregtigheid najaag.

Jy moet die ware God en jou naaste liefhê, nie regs of links afwyk van die regte pad nie en jou ou natuur met sy werke kruisig. Jy moet ook voortdurend jou toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus ... slegs in Wie jy vergewing van sondes ontvang.

Wanneer jy dit alles jou eie gemaak het, glo ek, het jy jou hande vol. Maar dit is nie erg nie, laat dit maar so wees. Wees maar so ʼn opregte Christen. Moenie skaam wees oor jou rykdom of dit ignoreer nie. Straal jou geloof uit, in die kerk en buitentoe. Laat mense maar by jóú sien dat die erediens en die viering van die Nagmaal vir jou ʼn fees is. Wees betrokke by kategese en Bybelstudies. Laat die blydskap van geloof uit jou straal. Dit kan tog nie anders as om ʼn aansteeklike uitwerking te hê nie? Jou vuur sal ander dan mos ook verwarm en geesdriftig maak?

Wees so ʼn blye Christen en leef elke dag deur die krag van die Heilige Gees. Hierdeur word verveeldheid en traagheid verdryf. Wanneer ons almal so optree, kry ons nie ʼn volmaakte nie, maar wel ʼn lewende kerk. Dan voel ons saam túis in die kerk!