Bron: Kompas, 2006. 5 bladsye.

Hoe het Pelgrims Plesier?

Die Noodsaak vir dié Bespreking🔗

Hier is ʼn paar feite wat, as hulle saamgevoeg word, ʼn aanduiding sal gee oor waarom ons as Christene moet besin oor die wyse waarop ons plesier het:

  • Daar is meer as een biljoen televisiestelle in gebruik oor die hele wêreld.

  • MTV bereik meer as 257 miljoen huise en 68 streke op vyf kontinente.

  • In 1990 het die voorbladartikel in Fortune verklaar dat die belangrikste uitvoerproduk in Amerika die popkultuur is en dat, saamgevoeg, Amerikaanse rolprente, musiek, televisieprogramme en tuisvideos ʼn jaarlikse handelsoorskot van ongeveer $8 biljoen genereer.

  • Die popkultuur-vermaaklikheidsindustrie het die gevegsterrein geword vir sogenaamde “kulturele oorloë”, met nuwe groeperinge wat ontstaan om te veg vir “familiewaardes”, graderingstelsels en strenger polisiëring van die luggolwe.

Daar is vandag voortdurende debatte oor definisies ten opsigte van kuns en vermaak. Is vermaak werklik kuns? Is een van die funksies van kuns dat dit ons vermaak? Het kuns en vermaak duidelike sosiale funksies? Noukeurige studies wys nou hoe die populêre kultuur die manier waarop mense realiteit beskou, beïnvloed (studies deur Kenneth A Myers, All God’s Children and Blue Suede Shoes: Christians and Popular Culture, Crossway Books, 1989). Een van die mees fundamentele filosofiese studies oor die kulturele effek van televisie, is: Amusing Ourselves to Death: Public Discourse in the Age of Show Business, deur Neil Postman (New York, Penguin Books, 1985). Postman beskryf die skuif van die gedrukte media na die visuele in terme van hoe ons weet wat ons weet. Hy verklaar dat “soos die invloed van die gedrukte media vervaag, die inhoud van politiek, godsdiens, onderwys, ens., verander moet word om meer geskik te raak vir televisie (bl. 8). Hier is dus duidelik iets besig om te gebeur waaroor Christene moet praat.

Die titel Hoe het pelgrims plesier? gekies uit die reeks van Bybelse woordprentjies die metafoor pelgrim, omdat die skrywer glo dat dié woord die verhouding tussen die kerk (as God se geroepe, verloste kinders) en die wêreld (wat bestaan uit verhoudings en waardes wat gedomineer word deur die vleeslike bestaan wat in vyandskap met God leef en tot kulturele uitdrukking kom, veral in die kommunikasiemedia) die beste beskryf. Hy het ook die veld vernou tot een gebied van kulturele interaksie, naamlik ontspanning. Want dit is klaarblyklik hierdie gebied wat die grootste uitdaging vir die Christelike gewete inhou, waar sake van Christelike vryheid en deelname die belangrikste is.

Voordat ons verder gaan, moet net ʼn paar punte verduidelik word. Ons sal waarskynlik nie in staat wees om al die vrae te beantwoord oor of tieners MTV mag kyk of “heavy metal rock”–konserte mag bywoon nie, of dat Beavis en Butthead ons sal help om beter te dink nie. Ons prioriteit moet wees om ʼn platform te skep, ʼn verstaan en bewus wees van die funksie van vermaak in die moderne kultuur.

Eerstens vra ons dan: Wat is ʼn pelgrim? en vind ʼn antwoord in twee rigtings: die status om pelgrim te wees, en die etiek wat met hierdie pelgrimstatus saamgaan.

Dan vra ons die vraag: Wat is ontspanning? veral die rol daarvan in die moderne populêre kultuur.

Dan is ons gereed om die vraag te beantwoord: Hoe het pelgrims plesier?

Die Status van Pelgrims🔗

Abraham is die klassieke voorbeeld van “pelgrim en vreemdeling”. Hy was ʼn vreemdeling in Egipte (Genesis 12:10) en in Kanaän (Genesis17:8), en alhoewel hy baie ryk was, het hy geen grond besit nie buiten die graf vir sy vrou Sara. Selfs Israel het dwarsdeur die Ou Testamentiese periode pelgrims in Kanaän gebly, slegs huurders en vreemdelinge voor die aangesig van God (Levitikus 25:23). Psalm 39:13 kom tot die punt: “Hoor, HERE, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is ʼn vreemdeling by U, ʼn bywoner soos al my vaders.” In 1 Petrus 1:1 en 2:11 word die woord “vreemdeling” gebruik om te verwys na gelowiges wat geen land van hul eie op hierdie aarde besit nie, maar as tydelike inwoners leef. In die lig van hulle status moet hulle nie toelaat dat hulle gevorm word deur die waardes en standpunte wat ons lewe op hierdie aarde bepaal nie.

Die metafore “vreemdeling” en “uitlanders” word in die Nuwe Testament op twee duidelike wyses gebruik. Eerstens word die ongelowige uitgebeeld as ʼn vreemdeling in verhouding tot die hemel, as iemand wat geen deel het in die lewe van God nie (Efesiërs 2:12, 19; 4:18; Kolossense 1:21). In teenstelling hiermee is die Christen ʼn vreemdeling in verhouding tot die teenswoordige wêreld (Filippense 3:20; Efesiërs 2:19; 1 Petrus 2:9-11). In hierdie wêreld met sy vleeslike begeertes behoort Christene tot ʼn subsamelewing wat sy eie reëls het. Hulle is nie volledig geïntegreer in die omringende kultuur nie en voel ook nie tuis nie.

Die Nuwe Testamentiese skrywer van die Hebreërboek beskou die lewe van Abraham en ander Ou Testamentiese heiliges as tipies vir gelowiges, wat deur die geskiedenis heen nooit eienaars geword het nie, maar slegs erfgename (Hebreërs 11:13-16). Hierdie status van erfgename word as volg deur Paulus beskryf: “en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:17; kyk ook 4:13; Titus 3:7; Hebreërs 9:15). Eienaarskap van die erfenis is ʼn saak van hoop en verwagting.

Dit is ook belangrik om te onderskei tussen die pelgrim wat ʼn “nomadiese vreemdeling” is en die een wat ʼn residensiële vreemdeling is. Hierdie referaat konsentreer op laasgenoemde pelgrim, sodat daar nie geredeneer kan word dat die kontak tussen gelowiges en hul omgewing net oppervlakkig is nie. Ons doel is nie om so gou as moontlik deur hierdie wêreld te reis sodat die “ander kant” bereik kan word nie, maar om vol te hou met ons roeping tot die wederkoms van Christus. Vir ons doel is ʼn pelgrim dus ʼn residensiële vreemdeling, of iemand wat tydelik in ʼn land woon, terwyl hy ʼn burger van ʼn ander land is.

Die Etiek van Pelgrims🔗

Die pelgrimstatus vereis ook ʼn spesifieke lewenstyl, soos die apostel Petrus beskryf: “En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap” (1 Petrus 1:17). Hierdie opdrag word nog duideliker beskryf in 1 Petrus 2:11-12. Hier volg ʼn paar kenmerke van die pelgrim se lewenstyl:

1. Pelgrimskap behels Antitese🔗

Die residensiële vreemdeling voel nie tuis tussen die goddeloses nie. Hy ervaar teenkanting weens sy liefde vir God se gebooie en verordeninge (Psalm 119:19,54). Diegene wie se burgerskap in die hemel is (Filippense 3:20), ervaar vervreemding in die huidige kultuur. Omdat die kinders van God “uitgeroepenes” is, is hulle lewe in hierdie wêreld net ʼn “sojourn”. Die eerste term het betrekking op God en die tweede op die wêreld. Goddelike uitverkiesing bring die antitese mee. Vreemdelingskap word gevestig deur verkiesing in die verlede, en gevorm deur ons toekomstige erfenis. 1 Petrus 1:1-2 toon aan dat die status van “sojourner” die gevolg is van verkiesing, want diegene wat deur God geroep word, word onderskei van dié wat nie geroep is nie.

Hierdie vervreemding ontstaan omdat die huidige kultuur gedomineer word deur lewensbeginsels wat vreemd is vir die gelowige. Die kind van God is gebore uit die Gees van bo (Johannes 3:3, 8). Mense wat aan die huidige tyd behoort, is van hierdie wêreld (1 Johannes 4:5). Hierdie antitese is ʼn natuurlike korrelaat van ons pelgrimstatus. Die antitese is beide temporeel (die gelowige is vervreem van sy vorige lewenswyse) en latitudineel (dié wat uit God gebore is, is vervreem van diegene wat nie uit die Gees gebore is nie).

2. Alhoewel ons as Pelgrims nooit “Tuis” voel in die Moderne Kultuur nie, herken ons tog ons Plek en Roeping in die Hedendaagse Samelewing🔗

Christus het nog nie teruggekeer om sy erfenis te verdeel nie. Daarom werk ons, terwyl ons wag. Aardse verhoudings is die arena van ons arbeid, geskape deur God om met dankbaarheid ontvang te word. Ons vertoef net op hierdie aarde, maar staan nog steeds onder die heerskappy van Christus waar Hy aan ons ʼn taak gegee het. Alhoewel ons dus nog nie “tuis” is nie, is ons wel in ons element. Die verkondiging van die evangelie en die versameling van God se kerk is nog nie volledig nie. Tot dan het die Christen nog ʼn roeping in hierdie aardse verhoudings.

Die uitdrukking “tot dan” beskryf die eskatologiese oriëntering van die Christelike lewenstyl. Ons werk terwyl ons wag. Ons hele lewe word regeer deur Goddelike beloftes, in so ʼn mate dat ons status as tydelike inwoners ons nooit die toestemming gee om ons poste te verlaat nie.

3. Die kerk van Jesus Christus Leef te Midde van Moeilikhede en Probleme (alhoewel Sy Erfgenaam is van die Ewige Lewe en baie Seëninge), maar kan nou reeds ʼn Voorsmaak geniet van die Ewige Lewe, en dit stel haar in Staat om te geniet van God se Goeie Skepping🔗

Omdat die volheid van die lewe nog moet kom, kan Christene nou baie dinge ontbeer, hulle hoef nie dit wat die wêreld najaag, te soek nie. Tog kan gelowiges voluit geniet van hul Skepper en sy skepping. Met geopende mond kan hulle sy glorie en wysheid besing; hulle oë sprankel van genot as hulle nou reeds van sy goedheid en gawes geniet.

Die dimensies van Christelike pelgrimskap reik terug tot die skepping en vooruit na die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die toekomstige dimensie wat met die woord “voorsmaak” beskryf kan word, verskaf afwagting en spanning in ons lewenstyl as tydelike inwoners. Ons besit alreeds soveel in Christus, en tog, die volheid en sondeloosheid van die eienaarskap behoort nog nie aan ons nie. Hierdie “amper – maar nog nie”-eienskap van die pelgrimbestaan is deel van die Christelike bestaan, van die geskiedenis en van die kerk se identiteit dwarsdeur die hedendaagse tyd tot die wederkoms van Christus. Christene het hierdie spanning probeer “oplos” deur óf die “huidige” as finaal te beskou (moet met ywer aangryp wat ons kan) óf deur die ontkenning van enige ware genietinge in die “huidige” (stel alle plesier uit totdat ons in die hemel kom). Hierdie pogings verwyder effektief alle spanning tussen hierdie en die toekomende wêreld, en daarmee verdwyn enige werklike betekenis van ʼn pelgrimslewe in die hedendaagse tyd.

Wat is Ontspanning?🔗

In die lig van hierdie agtergrondskets van die aard van die Christen se “tydelike verblyf”, bekyk ons nou die saak van ontspanning in die Christelike lewe. Maar voordat ons die vraag “Hoe het pelgrims plesier?” kan beantwoord, moet ons eers kyk na die aard en plek van ontspanning in die moderne lewe. In sy boek Redeeming the Time: A Christian Approach to Work and Leisure (1995), plaas Leland Ryken sy analise van ontspanning langs ʼn soortgelyke bespreking van arbeid. Hy kombineer twee dinge wat vir meeste mense in afsonderlike kompartemente hoort, naamlik arbeid en ontspanning. In feite verkry arbeid en ontspanning baie van hul betekenis van mekaar in plaas van afsonderlik. Hulle het duidelik ʼn betekenisvolle invloed op mekaar.

Ontspanning kan op verskillende maniere gedefinieer word (Ryken, 23-28):

  1. In verhouding tot tyd, is ontspanning eenvoudig vrye tyd. Dit is nie-arbeid, omdat dit nie onder ʼn verpligting staan nie. Die “vryheid” van ons ontspanning word dikwels bepaal deur subjektiewe faktore, bv. persoonlike plesier in die nie-arbeidsgerigte aktiwiteit.

  2. Om te sê dat ontspanning nie-arbeid is, beteken egter nie dat dit onaktiwiteit is nie. Ontspanning is dikwels die najaag van spesifieke aktiwiteite, bv. kulturele sake, rekreasie, stokperdjies, sosiale verhoudings en vermaak.

Die Funksie van Ontspanning as Deel van Kultuur🔗

Ontspanning verhef die lewe. Dit lewer voordele soos tevredenheid met ons lewensomstandighede, persoonlike verryking, ontvanklikheid vir skoonheid, feesvierings en kulturele ontwikkeling. Die mens praat van ontspanning in terme van rus, herstel van vermoeiing, ontwikkeling van jou geestelike lewe, ens. Net soos werk dien om ʼn persoon se identiteit in die wêreld te vorm, so vervul ontspanningsaktiwiteite ʼn sielkundige en sosiale rol in persoonlike selfverwesenliking. Ons onvermoë om hierdie waarheid geredelik te aanvaar, is miskien ʼn aanduiding dat ons nog nie genoeg verantwoordelike betragting gedoen het oor die ontwikkeling van ontspanningsaktiwiteite nie.

ʼn Belangrike sosiale funksie van ontspanning is die instandhouding van gemeenskappe. Dink bv. aan die gesin. Gesinsvakansies skep herinneringe wat, of hulle oorgedra word na die volgende geslag of nie, tog intergeslagtelike identiteite kan vorm. Die industriële sektor besef wel die belangrikheid van ontspanningsaktiwiteite in die bou van ʼn goeie besigheidspan.

Ryken identifiseer verskeie etiese standpunte wat van plesier ʼn bedenklike aktiwiteit maak. Dit mag wees dat een of meer van hierdie standpunte in ons spesifieke subkultuur funksioneer en dit word dus kortliks genoem.

Die geniet van plesier word teengestaan deur bv. ʼn “nuttigheidsetiek”, wat net aktiwiteite waardeer wat ʼn meetbare, sigbare effek het: beter gesondheid, groter inkomste, ens. Mense met ʼn sterk werksetiek is geneig om ontspanning net te regverdig in die lig van sy waarde om produktiwiteit te verhoog, maar ontspanning se werklike effektiwiteit lê daarin dat dit verby die vereistes van lewe en arbeid gaan en ʼn soort dankbare genot bewerkstellig.

ʼn Ander morele reaksie wat vyandig staan teenoor ontspanning is die etiek van “selfverlaging” (moet nie verwar word met selfontkenning nie). In hierdie etiek is daar geen plek vir plesier nie. Maar plesier is intrinsiek tot ontspanning, om goed te voel is ʼn belangrike element van pret. In ʼn etiek waar daar geen ruimte is vir plesier nie, word ontspanning en spel die eerste slagoffers.

Opsommend, om die rol van ontspanning in kultuur te verstaan, kan ons kultuur beskryf as ʼn altydveranderende stel voorwerpe, institusies, modes, verhoudings, smake, gewoontes en voorliefdes, almal saamgevat in mense en assosiasies, in geboue en boeke, in humor en kuns, in kos en plesier. Ontspanning floreer net as mense glo in die deugdelikheid van plesier en menslike tevredenheid. Dit verdroog as mense lui is, of hulself besig hou met wat nuttig is, of toegee aan “selfverlaging”.

Ontspanning en die Populêre Kultuur🔗

Daar is egter ʼn meer deurdringende aanslag teen ons hedendaagse ontspanning en dit kom in die vorm van die “popkultuur”. In sy beskrywing van hoe die “popkultuur” die moderne samelewing beïnvloed, dui Kenneth Myers op die nuutheid van die populêre kultuur teenoor bv. edel- of volkskultuur. Beide laasgenoemde vorme van kultuur word gedryf deur konvensies wat dissipline vra. Om deel te neem aan hierdie vlakke van kultuur, moet jy bekend wees met en onderworpe wees aan hulle tradisies.

In teenstelling hiermee, verskaf die “popkultuur” onmiddellike bevrediging sonder die noodsaak vir dissipline of familiariteit. Die boodskappe en vorme van “popkultuur”, wat sy uitdrukking vind in “rock and roll” en die televisie as medium het, benodig min aktiwiteit of moeite. Dis dan ook die rede vir die krag en deurdringingsvermoë van die “popkultuur” in die moderne samelewing.

Populêre kultuur is baie meer as net ʼn reeks van afleidings; dit is in wese ʼn kultuur van afleiding. Die Industriële Rewolusie van die vorige eeu het veroorsaak dat daar meer vrye tyd was, en daarmee saam toenemende verveling wat net oorkom kan word deur kragtiger vorms van afleidings. Die veertig-uur-werkweek het ons gelaat met meer tyd en geld. Die toestelle van “popkultuur” – TV, VCR, CD-spelers, rekenaarspeletjies en DSTV – verskaf aan ons oneindige kitsnuwighede.

In die moderne “popkultuur” word ontspanning gevul deur vermaak. Televisie, musiek en rolprentteaters verskaf die nuwe en die onmiddellike. Hierdie vorm van vermaak/ontspanning maak staat op onmiddellike toeganklikheid en beroep hom op sentimentaliteit. Dit is markgedrewe en daarom hoogs individualisties en egalisties. Die morele boodskap van die populêre kultuur neig na relativisme. “Popkultuur” het ʼn groot gelykmaker geword: Madonna se uitkyk op die huidige omgewingskrisis dra net soveel gewig as dié van ʼn wetenskaplike by die WNNR, en Elton John is net so ʼn belangrike simbool van nasionale deugsaamheid as Winston Churchill.

Die enkele, mees betekenisvolle medium van gedeelde realiteit in ons hele hedendaagse samelewing is die televisie. In die televisie leef en beweeg ons en beleef ons. Die moderne kultuur gee aan TV die rol wat eens vir God gereserveer was, naamlik die bepaling van realiteit. Die beeld, eerder as die woord, het die basiese eenheid van kommunikasie geword. Maar die tipe kennis wat hulle oordra, verskil baie. Beeldkennis is intuïtief en onmiddellik. Woordkennis is abstrak, analities, liniêr en logies in vorm. Dis maklik om te verstaan as ons besef dat ʼn beeld nie waar of vals kan wees nie. Beelde kan net ʼn verhaal verteenwoordig, nooit ʼn argument nie. Beelde is deurlopend nie-veroordelend en stel geen eise nie.

Dit sal egter onregverdig wees om televisie net te veroordeel. Omdat dit so ʼn kragtige middel van kommunikasie in die moderne samelewing geword het, het dit, behalwe vermaak, ook ander gebruike. Ons moet leer om die krag, die beperkings en die uitsaaimoontlikhede van televisie te verstaan. Elke uitvinding het sy voor- en nadele, en net soos met elke ander wetenskaplike uitvinding, plaas hierdie stuk tegnologie ook ʼn groot verantwoordelikheid op ons.