Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Hoe Langer hoe Meer

Wanneer ouer mense die jonges in die stryd van die geloof welkom heet by hulle openbare geloofsbelydenis, ontstaan die vraag of daar ooit ʼn einde aan die stryd kom. Niks is vermoeiender as om met ʼn stryd aan te hou en nie verder te kom nie. By die werk van die Gees in die gelowige is die vraag of daar ook geestelike groei kan wees, dus belangrik.

Die woorde in die titel kom uit die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5, paragraaf 2. Daar word geskryf oor die gelowiges wat in hulle daaglikse stryd voortdurend hulle toevlug tot die gekruisigde Christus moet neem en hulle sondige natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige geloofshandelinge. Hierby, sê die Leerreëls, moet die gelowige vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang.

Dit kom my voor dat die Dordtse Leerreëls hier met duidelikheid en erns oor geestelike groei praat. As die gelowige hierdie weg volg wat daar gewys word, is daar vir die gelowige voortuitgang in die stryd wat hy stry. Ons vind dieselfde woorde ook in antwoord 115 van die Heidelbergse Kategismus, waar daarvan gepraat word om gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter te leer ken sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word. Ook hier blyk die tema van groei in die geestelike lewe in die Gereformeerde belydenis.

Die Bybel🔗

Die Bybel self praat ook onbevange hieroor. Die apostel Paulus vermaan byvoorbeeld die Korinthiërs om hulle van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig, en die heiligmaking in die vrees van God te volbring (2 Korintiërs 7:1). Op ander plekke word gepraat van die najaag van die heiligmaking. Dié woorde dui onteenseglik op ’n strewe na volmaaktheid. Ook die woorde van Petrus in 2 Petrus 3:18 oor toename in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus, spreek vanself. Kennelik praat die Bybel oor vordering in die stryd van die geloof. Wanneer ons nadink oor die werk van die Heilige Gees in ons, betaam dit ons dus om te dink oor die vraag op watter manier die ‘hoe langer hoe meer’ in die lewe van die gelowiges beleef word.

Risiko🔗

Dit mag wees dat die tema van geestelike groei nouliks deur sommige van ons gebruik word en deur ander dalk selfs met argwaan bejeën word. In die lig van die Bybel is daar nie rede voor nie. Ons moet versigtig wees wanneer mense te geredelik sê dat hulle nie vooruitgang in die lewe van die genade ken nie. Gesprek oor geestelike groei hou ewenwel ’n risiko in, naamlik dat die tema van hierdie geestelike groei los te staan kom van die lewe uit die genade van die Here Jesus Christus. Die heiliging van die lewe mag nooit ’n maatstaf word wat los staan van die geloof in die werk wat Christus volbring het nie. Dit is geneig om in die praktyk te gebeur. Ons praat van die goeie dade van iemand as ons wil aandui hoe diep sy of haar geloof is. Of ons word aan die werk gesit om as gemeentelede ons geloof in praktyk toe te pas en só geestelik te groei. Dit is die risiko wanneer ons praat oor geestelike groei.

H.F. Kohlbrugge het in sy tyd die risiko van ’n heiligingsleer wat tot ’n sedelike ideaal lei, skerp ingesien. In die verband gebruik hy in ’n preek oor Romeine 7:14 die nou bekende woorde: ‘Gooi weg u heiligingskrukke, ver weg. U sal nie die berg Sion daarmee op kom nie. Ruk af die vodde waarmee u u wonde toehou, en wys u soos u is aan Hom wat heilig en regverdig is’. Die risiko is vandag ook aanwesig, byvoorbeeld in ’n prediking wat daarvan uitgaan dat alle hoorders reeds Christene is wat die ideaal in hulle daaglikse lewe moet waar maak.

Groei in genade🔗

Die juiste belewing van die geestelike groei vloei voort uit ’n lewe naby aan die genade van Jesus Christus. Hoe mooi is die beeld van die wynstok en die lote van Johannes 15. Net die lote wat in Christus bly, sal vrug dra. Wie in Christus bly en Hy in hulle, sal veel vrug dra, want sonder Christus is ons tot niks in staat nie. Geestelike groei is nie is nie die groei van eie vermoë nie, maar groei deur die Heilige Gees in die genade van die Here Jesus Christus. Hierin is geestelike groei dan ook heeltemal verbonde aan die geloof in Jesus Christus. Los van geloof in die werk wat Christus volbring het, kan ons nie tot geestelike groei geroepe wees nie. Met ander woorde: die oproep tot geestelike groei moet inherent deel wees van die verkondiging van die genade van die Here Jesus Christus. Ons vind dan ook in die Nuwe Testament hierdie vermaning ingebed in die verkondiging van die genade. So kan ons Petrus met vrymoedigheid naspreek dat gelowiges soos pasgebore kindertjies sterk moet verlang na die onvervalste melk van die Woord, om daarmee te groei in genade tot saligheid (1 Petrus 2:2).