Bron: Kompas, 2008. 3 bladsye.

Hoe Leer ek my Kind Bid?

Gebed kan gesien word as die asemhaling van ons geestelike lewe. Of suurstof vir die gelowige.

Om kinders te leer bid, is ’n belangrike onderdeel van die geloofsopvoeding wat ons ons kinders moet gee. Om kinders te leer bid, beteken dat ʼn mens eers self moet leer bid. Eers dan kan ons dit vir ons kinders leer.

As ons bid, praat ons met God. Ons val terug op die beloftes wat Hy ons Self gegee het, in die vertroue dat Hy na ons luister.

Hoekom moet ons bid – God weet dan alles! Wat kan ons vir die Here vertel? Alles staan dan in sy raadsplan vas. God wil ’n lewende omgang met die mens hê. Hy het ons, na sy raad, so geskape dat ons sonder Hom nie kan lewe nie. Die sonde het dit versteur, maar God se ewige raad breek nie op ons sondes stukkend nie. In Christus het Hy die verhouding weer herstel. So kan die lewendgemaakte sondaars weer tot Hom kom, met Hom praat, tot Hom bid. Ons mag elke dag hierdie omgang belewe.

Die nut van die gebed is nie die verhoring van wense nie, maar om omgang met God te hê.

Is God soos ʼn programmeerder van ʼn rekenaarprogram? As die program klaar geskryf is, kan die programmeerder huis toe gaan, gaan slaap. Die program kan nou op homself aangaan.

Is God ook so dat alles wat Hy besluit het, so bly? God se raadsplan sal bly bestaan, maar dit is nie rigied nie. God bly altyd betrokke en laat Hom afbid. Dink aan Eksodus 32:14, Eksodus 33:11-17. Hoe is dit moontlik? Moses het gepleit op God se genade, lankmoedigheid en goedertierenheid.

God laat Hom wel afbid, maar Hy laat Hom nie ompraat soos ons omgepraat kan word nie. Ons verwagtings moet reg wees. By die geskiedenis van die goue kalf het Moses tot God gebid omdat hy op God se beloftes gepleit het, maar wanneer Moses in Meriba (Numeri 20) vir God vra of hy die volk tog in Kanaän mag inlei, word sy gebed nie verhoor nie. Ons moet in ons gebed op God en op Sy beloftes gerig wees en nie op dit wat ons eintlik self wil hê nie.

Wat verwag ons van ons gebed? Ons moet uitsien na die beloftes van God. God het ons baie belowe. Alles wat ons nodig het in lewe en in sterwe. Maar dit is nie altyd wat ons begeer nie, ook nie alles wat ons dink ons nodig het nie. As ons tot God roep, moet ons eers vir Hom luister. Die Here sorg dat die Skrifte vir ons geopen word tydens die preek, huisbesoek, katkisasie. Is daar gebede van regverdiges wat nie verhoor word nie? Nee, maar daar is ʼn verskil tussen onvervulde wense en onverhoorde gebede. Deur God se genade leer ons om ons wense ondergeskik te maak aan dit wat die Here wil. Ons bid nie om beter daarvan te word nie. Ons mag wel die vrug van die gebed verwag, naamlik die vrede met God.

Vrede met God beteken dat alles weer goed is tussen God en ons. Ons ervaar dat Hy al ons node en behoeftes vir Sy rekening neem. Ons lewe is van uur tot uur in Sy hand.

Baie ouers leer hulle kinders “rympie-gebede”. Dink byvoorbeeld aan “Ek gaan slaap, want ek is vaak” met slapenstyd en “Here seën hierdie kos” en “Here dankie vir die kos” by etes. Dit is goed om hiermee te begin as die kind nog baie klein is. Die kind verstaan nog nie wat hy doen nie, maar dit sal mettertyd kom. Kinders moet die roetine van ’n lewe met gebed reeds vroeg aanleer.

ʼn Goeie gewoonte kan nooit te vroeg aangeleer word nie. Sommige kinders gaan deur ’n fase waartydens hulle weier om te bid.

Moenie dat dit lei tot ’n magstryd tussen ouer en kind nie. Vat die kind se hand en bid as ouer sy gebed vir hom/haar. As dit gaan oor die gehoorsaamheid van die kind, is daar ander oomblikke waarop die stryd gevoer kan word. Kinders moet van kleins af leer om eerbiedig te wees wanneer daar gebid word. Bid is nie sommer ʼn rympie opsê nie. Bid is praat met God. Dit moet wees soos in die kerk. Voor die dominee die seën uitspreek, sê hy vir die gemeente: “Verhef julle harte tot God”. Hierdie hart tot God verhef moet ook daar wees voordat enige gebed begin, want ons maak kontak met God.

Dit is nie goed as die kind vashaak by die “rympie-gebed” nie. Soos kinders ouer word, kan hulle die rympie-gebed aanvul. Dit sal gaandeweg verander in ʼn “vrye gebed”. Dit moet in die laerskoolperiode gebeur. Baie tieners se slaapkamers is “geen toegang-areas”. Veral vir ouers. Dit wil nie sê dat daar dan nie meer oor geloofsake en gebed gepraat kan word nie, maar as die tiener dan nog nie kan bid nie, is ons waarskynlik te laat.

Ouers moet die kinders leer bid. Ons eie gebed is ʼn voorbeeld vir hulle. As ʼn moeder tydens middagete saam met die kinders bid, sal haar woordkeuse eenvoudiger wees as bv saans wanneer almal saam aan tafel is. Dit is reg so.

Praat met die kind oor die gebed, oor wat in ʼn gebed behoort te wees. Daar kan gevra word waarvoor gebid moet word. Daar is ʼn hele aantal onderwerpe waarvoor gebid kan word. Om te voorkom dat dit nie ’n gewoonte word nie, kan ʼn bidrooster gemaak word, waarby die hele gesin betrek word.

Onderwerpe kan Wees:🔗

  1. Die gesin, familie: moeilikhede, siektes of juis aanleiding tot blydskap. Moenie die gebed gebruik om die kinders nog ʼn slag te vermaan oor die stoutigheid wat hulle die dag aangevang het nie. Dit is nie waarvoor die gebed bedoel is nie en dit is ook nie liefdevol nie. Kom ons sê dankie vir God se genade van vergewing.

  2. Siekes: By siekte bid ons meestal vir genesing. Hoe moet ons dan bid as iemand dodelik siek is? Bespreek hierdie gevalle met jou kinders. Ons kan bid of God die sieke krag sal gee om sy/haar siekte te dra.

  3. Nuwe dag: Ons mag God dank vir die wete dat Hy die komende dag by ons sal wees. Die hele gesin mag daarvan oortuig wees. Skool: Die werk wat by die skool deur onderwysers gedoen word, is nie altyd maklik nie. Hulle het ons gebed nodig.

  4. Op pad skool/werk toe: Bid dat God ouers en kinders op hulle pad sal bewaar en dank ook bewus daarvoor dat Hy ons gebede verhoor het.

  5. Kerk: Die hele week word daar aan kerk- en gemeentesake gewerk. Die dominee doen sy werk in die gemeente, hy maak sy preke, die kerkraad vergader, daar is huisbesoeke, Bybelstudieverenigings. Dit is belangrik dat ons God vra vir die werking van die Heilige Gees om hierdie werk met wysheid te doen.

  6. Regering: Ons voel dalk dat ons regering onchristelik is en ons dus nie vir hulle hoef te bid nie. Tog is die regering deur God aangestel. Hulle het ons gebed nodig. Dit is die regering se opdrag dat ons veilig kan woon en God kan aanbid. Daarom moet ons hierdie regering in ons gebede aan God opdra.

  7. Wêreld: Daar is baie wat in die wêreld gebeur waarvoor ons kan bid: natuurrampe, politiek geweld, ensovoorts.

Daar is geen vaste reël oor hoe ʼn mens moet bid nie. Ons moet ons kinders leer om sekere onderdele altyd in die gebed te noem, nl.: aanhef, lofprysing, dankie sê, voorbidding, skuld bely en vergewing vra, amen. Ons kan kinders leer om die gebed met Onse Vader, Getroue Vader of Onse Vader wat in die Hemel is te laat begin. Die grond van ons gebed is dat God deur Christus ons Vader geword het. Ons aardse vader sal ons dit wat ons nodig het, nie weier nie. Ons Hemelse Vader sal dit sekerlik ook nie doen nie.

Dan kan die kind met ’n lofprysing voortgaan. Die Here is die belangrikste. Hy was eerste daar en het alles gemaak. Die kind bely hoe goed, magtig, geweldig, groot God is. Daar is baie om die Here voor te prys, bv die natuur, of die verstand wat ons gekry het. Die kind kan dit in sy/haar eie woorde doen of deur ’n Psalmgedeelte aan te haal.

Om te voorkom dat die kind se gebed ’n verlanglysie word, sal dit goed wees as hulle ná die lofprysing God sal dank. Daar is algemene goed waarvoor gedank kan word, bv die reën wat ons gekry het, dat ons skool toe mag gaan. Daar is ook spesifieke goed waarvoor die kind kan dank, bv ʼn maatjie wat weer gesond is, ouma wat kom kuier het.

Dan kom ons by voorbidding. Ons mag vir al ons liggaamlike en geestelike behoeftes bid. Die kind leer dat daar gebid moet word vir dit wat regtig nodig is, met die vaste vertroue dat God alreeds weet wat ons nodig het.

Bid beteken ook skuld bely en vergewing vra. Kinders moet leer om selfondersoek te doen, om so vergewing te kan vra.

Kinders mag die gebed eindig met amen. Dit wil sê, dit is waar en seker, want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek dit in my hart voel dat ek dit van Hom begeer.

Leer jou kinders om so te bid.