Bron: Die Kerkblad 2001. 3 bladsye.

Hoe lees ons die Bybel?

Die Bybel is volgens 'n onlangse wêreldwye opname steeds die topverkoper van alle boeke ter wêreld - maar die mees ongelese topverkoper. Mense moet dus sover gebring word om die Bybel te lees. Die taak van die kerk is dus nie net om Bybels te versprei nie, maar ook om daarvan werk te maak dat mense hulle Bybels léés.

Ewe belangrik is dat die Bybel rég gelees word. Want 'n verkeerde lees van die Bybel, so waarsku die apostel Petrus in 2 Petrus 3:16, lei tot mense se ondergang. Hoe moet die Bybel dan gelees word?

By die afgelope Klein Karoo Nasionale Kunstefees is daar deur 'n paar teoloë juis oor hierdie onderwerp 'n openbare gesprek gevoer: Hoe moet die Bybel vandag gelees word? Miskien sou 'n beter gesprekstema wees: Hoe moet die Bybel vandag toegepas word? Elke tydvak het immers sy eie vrae en probleme wat nuwe antwoorde verg.

Maar as dit kom by hoe die Bybel gelees moet word, is daar bepaalde leesreëls wat bo die tyd uitgaan. Hierdie leesreëls word nie sommer willekeurig van tyd tot tyd gewysig nie, aangesien hulle direk verband hou met die unieke aard van die Bybel self. 'n Bietjie meer aandag word egter nou gevra vir die leesreëls self.

'n  Openbaringsboek🔗

Die heel belangrikste reël vir Bybellees is dat elke Skrifdeel binne sy verband gelees moet word. Hierdie reël is eie aan die gereformeerde manier van Skrifverstaan. Wie 'n Skrifwoord uit verband ruk, doen die Skrif geweld aan.

Hoe dra 'n mens dan sorg dat jy die Bybel wel binne sy verband lees? Elke Skrifdeel moet binne sy historiese verband gelees word.

Maar dit is nie al nie. Die Bybel is nie net 'n historiese Boek nie. Dit is ook - en veral - God se Openbaringsboek. Daarom is die eis vir gesonde Skrifverklaring dat die Bybel gelees moet word binne sy Openbarings-historiese verband.

Deur die Bybel "God se Openbaringsboek" te noem, word gesê dat God daarin dinge openbaar maak - dinge wat andersins vir ons verborge is. In Artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis word duidelik uiteengesit wat God in sy Woord openbaar:

  • In die heel eerste plek maak Hy Homself aan ons bekend. Hoewel ons sy krag en goddelikheid duidelik in sy skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld kan sien, maak Hy Homself nog duideliker en meer volkome in sy Woord aan ons bekend.
  • Tweedens maak Hy aan ons bekend wat Hy wil hê ons moet doen om Hom te eer en verheerlik.
  • In  die  derde  plek  openbaar  Hy  aan  ons  alles  wat  tot  ons  saligheid  dien  -  ons  verlossing  in Jesus Christus.

Kortom: in die Bybel maak God aan ons bekend alles wat ons moet glo en ook alles wat Hy wil hê dat ons as verlostes vanuit die geloof moet doen (NGB art. 7).

Wat ons moet glo🔗

Die belydenis "Ek glo" is twee klein woordjies, maar dit is gelaai met 'n magtige inhoud. Dit vat immers alles saam wat God van Genesis 1 tot Openbaring 22 oor Homself en ons saligheid bekend maak.

Die kortste samevatting van alles wat ons glo, het ons in die Twaalf Artikels van ons geloof. Maar die Artikels word nêrens net so in die Bybel aangetref nie. Hulle is nie net so uit die Bybel uitgehaal nie. Elkeen van die artikels is geformuleer na lang en deeglike bestudering van die Skrif, sodat hulle nie maar net op 'n teks hier of 'n teks daar berus nie, maar gegrond is op 'n verskeidenheid van Skrifuitsprake wat oraloor in die Bybel gevind word.

Iets van hierdie agtergrond van die Twaalf Artikels word duidelik as 'n mens kyk na Sondag 9 tot Sondag 22 van die Kategismus, waarin elk van die artikels verklaar word. Die Skrifverwysings by elke Sondags-afdeling wys dat elke artikel van ons geloof in werklikheid 'n hele klomp Bybeltekste aan mekaar verbind - tekste uit die Ou en die Nuwe Testament.

Hierin het ons 'n voorbeeld van hoe ons die Bybel moet lees. Dit is nie reg om ons geloof op net een teksie erens te grond nie. Ons moet altyd vra: Wat sê die Bybel elders oor hierdie selfde saak?

'n Openbaring wat in die geskiedenis ontvou🔗

Skrif moet met Skrif vergelyk word. Maar die vergelyking moet ook op 'n baie spesifieke manier gedoen word. Dit moet 'n openbaringshistoriese vergelyking wees.

Daarmee word gesê dat ons in gedagte moet hou dat God se openbaring, soos ons dit in die Bybel het, nie altyd en orals eenders is nie. Dit is konsekwent dieselfde openbaring - God weerspreek Homself nooit nie - maar Hy bied dit nie orals op dieselfde manier aan nie.

Dit is so veral omdat God in sy wysheid nie eensklaps alles volledig gegee het nie. Die rykdom van sy openbaring is immers so groot dat 'n mens nie alles gelyk kan hanteer nie. Daarom het God in die loop van die geskiedenis die gordyn bietjie vir bietjie aldeur verder gelig. Soos 'n blomknop mettertyd al verder oopgaan, ontvou die Skrif openbaring van Genesis af met verloop van tyd al verder, totdat ons aan die einde van Openbaring kan terugkyk om die volle rykdom van wat God in die Bybel openbaar, te oorsien. Om die Bybel openbaringshistories te lees, beteken dus dat jy allereers 'n oorsig moet kry oor wat die Bybel op verskillende plekke alles oor die betrokke saak vir ons leer. Hierdie Skrifuitsprake moet dan so aan mekaar verbind word dat rekening gehou word met die groeiende lyn van die openbaring - die ontvouende blomknop.

Deur die openbaringslyn so deur die hele Bybel na te speur, kan 'n mens dan 'n geheelprentjie vorm van wat die Bybelse openbaring oor die betrokke saak is. Omgekeerd, moet elkeen van die afsonderlike Skrifuitsprake dan weer binne sy verband met die geheelprentjie verstaan word.

Van Ou na Nuwe Testament🔗

As voorbeeld kan ons Sondag 12 van die Kategismus neem. In dié Sondagsafdeling bely ons wat ons glo oor Jesus as die Christus - die Gesalfde.

Dadelik val dit 'n mens op dat Christus nie eers in die Nuwe Testament aan ons geopenbaar word nie. Al is dit nie by name nie, leer die Ou Testament op verskeie plekke op verskillende maniere hoe en wat die Christus sal wees wanneer Hy kom. Psalm 45, Deuteronomium 18 en Jesaja 55 is maar van die enkele Ou-Testamentiese tekste wat onderaan dié Sondagsafdeling gelys word. Vanuit die Ou Testament word die groeiende openbaringslyn van Christus as hoogste Profeet, enigste Hoëpriester en ewige Koning dan deurgetrek tot by Openbaring 22:10-11.

Op dieselfde manier vra ons ook wat die wil van die Here is oor alles wat ons as sy kerk vandag moet doen. Al kry ons nie 'n direkte Skrifwoord wat vir ons klinkklare antwoord gee nie, het ons nog die hele Skrif. Deur die lyn van God se openbaring deur die geskiedenis na te volg, werp Hy vir ons lig op die saak.

By finale antwoorde sal ons in hierdie bedeling nooit uitkom nie. Maar juis daarom het God sy Woord gegee, om die dinge wat vir ons sondige oë en gedagtes verborge is, te openbaar. Sy Woord is lewend en kragtig, want God self spreek deur sy Gees telkens wanneer ons lees. En die Gees dring daarop aan dat ons sy Woord reg sal lees.