3 bladsye. Vertaal deur Louise Haak.

Hoe Verklaar Jy die Lewe as daar geen God is nie?

Kool🔗

Geboorte-aankondigings kan baie sê oor hoe mense dink oor die lewe. ʼn Aankondiging van ʼn geboorte in die koerant: “God het ons verbly met die geboorte van...”, spreek boekdele.

Maar dit kan ook anders. ʼn Vroeëre buurman het eendag die volgende berig in die koerant geplaas: 'Tussen die kool gekry…'. En dan het die naam van die baba gevolg. Ook is daar meegedeel dat die jong spruit ondertussen soos ʼn koolkop gegroei het. Hierdie aankondiging was nie net speels of uitdagend bedoel nie, maar het ook die persoon se siening op die lewe uitgedruk. Hy glo nie in ʼn Skepper nie. Volgens hom is mense maar net ʼn toevallige produk van 'moeder natuur'.

Hierdie “kool”-geloof is in feite maar net ʼn weergawe van die evolusieteorie. Dit het by my buurman as ʼn komplete lewensbeskouing gefunksioneer. Want, so het hy geredeneer, as ons spontaan uit die natuur voortgekom het, moet jy ook die natuur sy gang laat gaan. En as ons uitsluitlik ʼn produk van tyd en toeval is, dan is daar ook nie ʼn absolute, bo-aardse standaard waar jy jou aan moet hou nie. Die natuur is dan die een en al. Dus doen jy wat jou natuur jou ingee. Jyself is die norm. So het my buurman dan ook vanuit sy evolusiegeloof sy lewenswyse verder ingevul.

Darwin🔗

Daar is ʼn opvallende ooreenkoms tussen die vroeëre buurman en Darwin, die grondlegger van die evolusieteorie. Net soos my buurman is Darwin gelowig opgevoed. In sy jeug was hy ʼn oortuigende Christen. Hy het selfs twee jaar teologie studeer. In daardie tyd het Darwin die onbevange geloof bely in 'God wat alles gemaak het, die lug, die sonlig bly, die voëls in die bome, sorg ook vir my'.

Maar hierdie geloof in die wysheid van God moes dit op latere leeftyd aflê teen die wysheid van mense.

Tussen 1831 en 1836 het Darwin ʼn wêreldreis met ʼn seilskip, die Beagle, onderneem. Tydens hierdie reis het hy boeke van Lyell gelees. Hierdie geleerde het die opvatting oor ʼn onlangse skepping bestry. Volgens hom was die lewe op aarde miljoene jare oud. Ook het hy ʼn wêreldwye sondvloed ontken.

Onder invloed van hierdie Lyell het Darwin se geloof begin verbrokkel. Eerste het hy afgereken met Genesis 1. As die lewe op aarde al sou oud was, kon die skeppingsverhaal nooit letterlik plaasgevind het nie. Daarna het Darwin die wonders in die Bybel verwerp. Dit het nie gerym met die vaste natuurwette, wat volgens die wetenskaplikes, die natuur beheers het nie. Vervolgens het die boodskap van die evangelie ook steeds minder vir hom beteken. Darwin het ontken dat die mens ʼn onsterflike gees besit. Vir hom het geen hemel en hel bestaan nie.

Daarmee het hy ook die verlossing van die sonde deur geloof in Christus verwerp. In 1849 het Darwin geskryf: 'Ek het geleidelik my geloof in die Christendom as goddelike openbaring verloor en daarom glo ek nie in Jesus Christus as God se Seun nie.'

Darwin se visie🔗

Nadat Darwin die Bybel as Woord van God afgesweer het, het hy sy eie lewensvisie opgebou. Vir hom was die kernvraag: hoe verklaar jy die lewe as God nie bestaan nie? Sy antwoord was die evolusieteorie. Dit het hy in sy beroemde boek, 'The Origin of Species' uiteengeset, wat in 1859 verskyn het. Die evolusieteorie is op drie sleutelbegrippe gebaseer.

  1. Die stryd om die bestaan. Alle lewensvorme plant hulleself vinnig voort. In die natuur is daar nie plek vir al die nakomelinge nie. Daar is te min voedsel en ruimte.
  2. Oorlewing van die sterkstes. In die stryd om mededinging tussen al die nakomelinge sal net die bestes oorleef.
  3. Natuurlike seleksie. Van elke generasie plante en diere sal alleen die eksemplare oorleef wat die beste by hul lewensomstandighede aangepas het. Die res sterf vanself uit. Hierdie natuurlike seleksie sal vele generasies na mekaar aanhou. Op hierdie wyse sal daar ʼn steeds betere afstemming tot stand kom tussen ʼn soort en sy lewensomgewing. Vandaar, volgens Darwin, dat byvoorbeeld voëls en visse wat betref vorm en funksionering in verbasingwekkende harmonie met hulle omgewing lewe. Daarvoor is nie ʼn onsigbare hand van God nodig nie. Nee, net baie tyd en natuurlike seleksie sal self daarvoor sorg.

Darwin gaan nog ʼn stappie verder. Hy glo dat deur natuurlike seleksie ook nuwe soorte kan ontstaan. Want, so redeneer hy, sal daar in die loop van die geskiedenis op aarde telkens ander lewensomgewings ontstaan. Gestel dat binne bestaande plante- en dieregroepe steeds enkele eksemplare daarin sal slaag om hulle aan nuut ontstane lewensomstandighede aan te pas. Daarby sal hierdie individue sodanig verander dat hulle geheel nuwe soorte gaan vorm. Op hierdie manier sou byvoorbeeld landplante uit seewiere geëvolueer wees of muise uit rotte.

Evolusieteorie🔗

Darwin het op hierdie manier ʼn meganisme uitgedink, waarmee hy die ontstaan van nuwe soorte kon verklaar. Nou kon hy sy allesomvattende evolusieteorie opstel. Daarmee wou hy, los van die Skepper, die groot verskeidenheid van lewensvorme verklaar. Hierdie evolusieteorie kom hier op neer, dat al die verskillende soorte uit mekaar voortgekom het deur aanpassing aan steeds nuwe lewensomstandighede. Eers was daar net bakterieë. Sommige daarvan het gespesialiseer in lewe op droë grond. Op hierdie manier sou landvegetasie gevorm het. Ander bakterieë het hulle aangepas by ʼn see-omgewing. Dit is hoe die seediere ontstaan het; uit visse het vervolgens amfibieë geëvolueer. Toe hulle hul by die nuwe land-omgewing aangepas het, het die reptiele verskyn. Daaruit het geleidelik die soogdiere ontwikkel en via die aap-agtiges het ten slotte die mens ontstaan.

Langs hierdie lyne het, volgens Darwin, die lewe gedurende honderde miljoene jare ontwikkel van eenvoudige bakterieë tot die uiters komplekse mens. Met hierdie revolusionêre teorie het Darwin God as skepper en onderhouer van die lewe oorbodig verklaar.

Mikro- en makro-evolusie🔗

Ons lewe nou 150 jaar later. Binne die wetenskap staan die evolusieteorie nog sterk. Beteken dit dus dat Darwin se teorie bewys is? Nee, glad nie.

Maar tog moet ons, voor ons Darwin kritiseer, eers erken dat hy ʼn belangrike ontdekking gedoen het. Naamlik, dat organismes inderdaad deur natuurlike seleksie aanpas aan ʼn veranderende omgewing. Mede daardeur is daar so baie soorte duiwe, perde, eende, ganse, honde, skoenlappers ens. Dus: natuurlike seleksie speel in die diere- en plantewêreld verseker ʼn rol. Dit is hoe al die spesiale vorme binne ʼn familie van diere of plante ontstaan. Ons noem dit mikro-evolusie. God het hierdie vorm van afwisseling in sy skepping ingebou.

Maar nou die kritiek: Darwin gaan met sy ontdekking te ver. Hy wil te veel daarmee verklaar. Hy gaan te ver as hy beweer dat deur natuurlike seleksie uit die een lewensvorm ʼn fundamenteel ander organisme sou kon ontwikkel. Byvoorbeeld honde uit katte, amfibieë uit visse, soogdiere uit reptiele. Dit word makro-evolusie genoem. Jy sal ʼn ryk verbeelding moet hê om dit te glo. Hierdie makro-evolusie is in elk geval nooit aangetoon nie.

Kletspraatjies ?🔗

Waarom is die makro-evolusie dan nog steeds so toonaangewend en populêr? Dit is omdat daar vir ongelowiges nie ʼn alternatief is nie. Wanneer jy nie glo in ʼn bonatuurlike Skepper nie, is Darwin se teorie jou enigste houvas. Dit is dan die enigste manier om die ontstaan van plante, diere en die mens te verklaar. As God die natuur nie geskep het nie, moet dit deur tyd, toeval en natuurlike seleksie plaasgevind het. Hierdie lewensvisie is al wat oorbly, as jy die Goddelike openbaring in die Bybel oor die natuur verwerp.

By Darwin was dit sy ongeloof wat gelei het tot die makro-evolusiegedagte. Hy het die wysheid van God geruil vir sy eie wysheid. By alle aanhangers van hierdie teorie vandag, is dit nog steeds die kern waarom dit draai. Vanuit ʼn Bybelse geloofsoog is die makro-evolusiegedagte egter niks meer as kletspraatjies nie. As mens dit so beskou slaan die geboorte-aankondiging van my buurman die spyker (onbedoel) op sy kop.