Bron: De Reformatie, 2012. 5 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Huiswerk vir Gereformeerdes

huiswerk🔗

Belangrike Charismatiese Vrae aan Gereformeerde Christene🔗

By ontmoetings tussen charismatiese en gereformeerde Christene kom twee perspektiewe op die Christelike geloof soms met verskillende sienings op daardie geloof teenoor mekaar te staan. Dit kan lei tot onbegrip of hewige emosie, maar dit is ook ʼn geleentheid om goeie vrae aan mekaar te stel.

Die apostel Paulus skryf dat ons die liefde van Christus “saam met al die heiliges” moet ken (Efesiërs 3:18). Elke onderdeel van die Christelike tradisie ontwikkel sy sterk punte, maar ook sy eie blinde kolle. Daarom is dit goed dat ons as gereformeerdes die vrae van charismatiese Christene hoor, want jy kan van elke opregte Christen uit ʼn ander tradisie leer. Goeie vrae wat aan jou gestel word, help jou om opnuut na te dink oor wat jy belangrik vind.

Huiswerk🔗

ʼn Gereformeerde tradisie is nooit afgehandel nie en is vanuit die ‘semper reformanda’ (daar moet altyd weer of opnuut hervorm word) altyd oop vir verbetering. Die gereformeerde tradisie het bowendien sy eie weergawe van die ‘sola scriptura’ en by dié spreuk, ‘die Skrif alleen’ hoort ook die ‘tota scriptura’ – die begeerte om aan die héle Bybel reg te doen. Dit pas by die katolisiteit van die gereformeerde tradisie. Die gereformeerde Christendom is nie ʼn nuwe godsdiens nie, maar ʼn verfrissing van en ‘n herinnering aan die enigste ware Christelike geloof – in elk geval is dit die gereformeerde bedoeling. Daarom moet ons lewende tradisie goed in staat wees om waardevolle insigte uit ander tradisies te kan put.

Ek wil in hierdie artikel ʼn aantal goeie vrae wat charismatiese Christene vra, aan die orde stel. Daarmee wil ek nie die charismatiese standpunt oorneem nie. Dit is egter wel belangrik om kritiese vraagtekens oor ons eensydighede of swakhede te plaas, en te vra wat God ons deur ontmoeting met charismatiese Christene wil leer. Dit is ewemin my doel om deurentyd direk antwoorde op die vrae te formuleer. Dit sal miskien blyk dat ons huiswerk kry waarmee ons aan die werk moet spring.

1. Werk ons met ʼn Geslote Wêreldbeeld?🔗

Charismatiese Christene stel ons in die eerste plek voor die vraag of ons werklik oop is vir die dinamiek van die werk van die Gees en of ons nie stilweg ʼn moderne, geslote wêreldbeeld aanvaar het nie. Ons leef in ʼn sekulêre omgewing. Ek bedoel daarmee ʼn samelewing waarin die moontlikheid om sonder geloof te lewe, ʼn sterk suigkrag uitoefen. Ons wêreldbeeld kan maklik ʼn wêreldbeeld word waarin God nie ʼn plek het nie. Die alternatief naas die Christendom, ʼn lewe sonder God, lyk asof dit goed werk. Die skynbare vanselfsprekendheid van die Christelike geloof het verdwyn. Ons leef in ʼn kultuur wat die Christelike geloof deurgeleef het, die stempel daarvan ontvang het, en nou merendeels op ʼn afstand daarvan staan.

Ook ons, gereformeerdes, word gepla deur die neiging tot afgeslotenheid van God.

slot

Gereformeerdes in die Kuyperiaans-vrygemaakte linie is, in Nederland in elk geval, bekend as betroubare doeners; kalm en verstandig. Ons maak nie maklik ons hart oop nie, en is ook nie baie goed met geloofsgesprekke nie. Ons is maar huiwerig vir die dryfsand van belewing. Ons rig ons liewers op die objektiewe van die belofte van God en op die normatiewe van die wet van God. Die geloof is daarin veelal implisiet; dit is daar, maar met min woorde. Dit maak ons kwesbaar in ons sekulêre omgewing, wanneer ons met ʼn houding van ‘skuustog-dat-ek-gereformeerd-is’ in die wêreld staan. Hoe kan ons voorkom dat ʼn implisiete geloof verdwyn en nie aan ʼn volgende geslag oorgedra word nie? Die druk van ʼn dreigende geslote wêreldbeeld is groot en met ʼn implisiete geloof is die druk nog moeiliker om te weerstaan.

Teenmiddel🔗

Vir gereformeerdes is die Bybel die fondament. Vanuit die Bybel kan mens immers alles weerlê? Die risiko van ons siening van die Bybel is egter dat dit op sigself te staan kom. Ek lees die Bybel op my eie, los van die gemeenskap van die kerk, van die Christelike lewe, of van die sentrale oortuigings van die Christelike geloof soos die vroeë kerk dit reeds in die geloofsbelydenis van Nicéa vasgelê het. Ondertussen staan ek midde-in die wêreld en leef ek as (post)moderne mens in ʼn sekulêre samelewing wat beheers word deur neokapitalisme. Daardeur gevorm, beoordeel ek alles as selfstandige individu. As ek dan alleen is met my Bybel, die Bybel wat ʼn op sigself staande boek geword het, en die geloof min woorde het, dan word ek nie meer as Christen gevorm nie. My lewe en my lewensbeskouing is nie meer deurtrek van ʼn Christelike uitkyk nie. Daar is te min van ʼn teëmiddel teen ʼn geslote wêreldbeeld.

Dit is dus belangrik dat ons krities met onsself sal wees. Ons sien ons nugterheid graag as Christelike nugterheid en realisme oor ons geloof. Maar sou dit nie ook ʼn goedpraat kan wees van versteekte moderne rasionalisme en kleingeloof (of ongeloof!) wat nie rekening hou met die teenwoordigheid van God en sy dade in ons daaglikse lewe nie? Sou die implisiete geloof nie intussen verdwyn het en plek gemaak het vir praktiese ongeloof nie?

Lewenswyse🔗

ʼn Oortuigende Christelike lewenswyse is in ons sekulêre omgewing ontsettend belangrik. Christelike geloof is egter nie ʼn saak van oortuiging alleen nie, dit is ʼn deur die evangelie van Jesus Christus geroepe manier van lewe, waarby kragtige oortuigings wel ingesluit is, maar ook ʼn gemeenskap waarin hierdie oortuigings gevoed word. Wie in Nederland om hom heen kyk, kry die indruk dat charismatiese Christene tans beter as die gereformeerdes daarin slaag om ʼn inspirerende lewenstyl te handhaaf.

Charismatiese Christene sê dat hulle wil lewe ‘vanuit ʼn radikale openheid vir God, in die besonder vir God wat iets anders en iets nuut doen.’James K.A. Smith,1 Dit is belangrik dat ons hulle vraag hoor of ons ook so radikaal vir God oopstaan en of ons dit prysgegee het. Gee ons onsself aan God oor of is ons eintlik moderne sondige mense wat self die ‘grip’ op ons lewe wil hê en bang is om dié beheer te verloor? Wat dink ons hou die leiding van die Gees van God in (Romeine 8:9; Galasiërs 5:5; Efesiërs 6:18), en tot welke mate laat ons ons lei?

Hiermee bedoel ek nie dat daar nie kritiese vrae gestel mag word oor die manier waarop aan hierdie radikale openheid vir God vorm gegee word onder die charismatiese Christene nie. Maar ons mag nie die, tereg kritiese, vrae aan óns gerig, laat verbygaan nie: in hoeverre is ons wêreldbeeld ʼn moderne, geslote wêreldbeeld?

In ons nie (meer) Christelike wêreld kan Christus as koning die kwaad van die duiwel laat toeneem. As mense openlik die invloed van die kwaad soek en hulle oopstel vir slegte geeste dan kry die duiwel meer ruimte as wat hy vroeër in ʼn Christelike Nederland gehad het. Ek vra myself af of gereformeerdes werklik daarmee rekening hou en iets heilsaams kan bied aan mense wat in die greep van die duiwel gekom het. Ons kan die saak nie afmaak met kritiek op verkeerde praktyke van bevrydingspastoraat nie; ons moet ook ons eie wêreldbeeld kan bevraagteken.

verkyker

2. Sien ons die Aanwesigheid van God in die Gewone Lewe en in dié van Ons Eie?🔗

In ons tradisie dreig daar ʼn ‘biografiese tekort.’ Ek bedoel daarmee ʼn gebrek aan aandag vir wat God in die lewe van mense doen, ʼn gebrek ook aan die behoefte om te vertel wat God in jóú lewe gedoen het. Toe iemand my die eerste keer vra of ek weergebore is, het ek geskrik. En ek is nie die enigste gereformeerde wat dit al oorgekom het nie.

Ons teologie is gevorm deur die herontdekking van die belofte van God, teenoor die subjektivisme. Uit vrees vir subjektivisme het ons te min woorde en verhale vir iemand om te vertel oor die werking van die beloofde aanwesigheid van God, of oor die stryd waartoe die evangelie roep.

Daar is wel allerlei pogings aangewend om dit te verander. C. Trimp het byvoorbeeld Klank en weerklank geskryf. Daar word uit ander hoeke van die wêreld en uit ander tradisies geleen; die psigologiese implikasies van die geloof word met ʼn psigologiese bril benader. Tog bly die gereformeerde teologie in die belewing van baie mense ʼn statiese gegewe wat net biografies relevant is, met geen relevansie vir hoe ek my lewensverhaal vertel nie.

Wat het die Heilige Gees in my lewe gedoen? Hoe lewe ek in Christus? Hoe vorm Hy my karakter; hoe gaan ek, vanuit Hom, met myself om en met alles wat op my pad kom? Hoe sterk is die neiging nie om self, los van God, probleme op te los, en God eers te soek wanneer ons self nie meer herwaarts of derwaarts weet nie! Vir vergewing van sondes gaan ek kerk toe; vir ‘regte’ probleme na ʼn berader. Het ek my probleme opgelos, dan gaan ek na God toe. Kerklike pastoraat het oënskynlik die slag met hulpverlening verloor. Dit kom my voor asof die vorms van hulpverlening in die gereformeerde praktyk nie daarin slaag om ʼn ander pad in te slaan nie. En die gereformeerde teologie het tot nou toe min gehelp om nuwe rigting aan te moedig.

Die Aanwesigheid van God🔗

In die charismatiese tradisie is van die belangrikste vorms van hulpverlening dié wat die aanwesigheid van die Gees met die gewone lewe in verband bring. Dink aan gebedsvorme soos die ‘ministry’ gebed. Daaroor kan vraagtekens geplaas word, maar dit ís ʼn gebedsvorm waarin die hier en nou verkondigde boodskap van goeie nuus met ʼn menselewe vol vrae en probleme verbind word. Die boodskap word biddend in so ʼn lewe toegepas. Dit is ʼn gebedsvorm waarin die openheid vir die leiding van die Gees in die gebed (Efesiërs 6:18) beslag kry – miskien kwesbaar vir ontsporings, maar tog.

Gebed en salwing by siekte is ʼn ander voorbeeld. Die probleem van die siekte word daarmee eksplisiet in die heilsame teenwoordigheid van God gebring. Dit gebeur ook wel deur voorbidding in die kerk, soos ons daaraan gewoond is, of deur die gebed van ʼn pastor tuis. Tog bring die eksplisiete van die salwing, handoplegging of seën iets daarby: dit help om die aanwesigheid van God tasbaar te maak. Waarom sou ons, waar God tog sulke gebare gee, sê dat ons dit eintlik nie nodig het nie?

Die duidelike vraag wat die charismatiese tradisie aan ons stel, is hoe ons bewus bly van die aanwesigheid van God in die gewone lewe en hoe ons mekaar help om vanuit dié kragtige aanwesigheid te lewe. Dit is nie net dat ‘ministry’, genesing en spreek in tale die band van die aanwesigheid van God met die lewe sigbaar wil maak nie. Gepaard daarmee gaan die vraag hóé God se aanwesigheid ter sprake kom. Dit bring my by die volgende twee punte.

3. Is daar net Aandag vir Kruis en Lyding, of ook vir Oorwinning in Christus?🔗

Dit is miskien ietwat oordrewe gestel, maar gereformeerdes benadruk veral die kruis, en die charismatiese Christene die oorwinning. Nou kan gereformeerdes tereg vir die charismatiese Christene vra wat hulle doen met die gegewe dat ons in die lyde van Christus deel. Sulke vrae word byvoorbeeld gestel oor Neil Anderson se Overwinning over de duisternis.2

oorwinnaarskrans

Maar wat hy wel in die boek doen, is om duidelik te stel wat die verhouding is tussen ons lewensverhaal en die goeie nuus van Jesus Christus. Ons kritiseer nie ʼn teologie soos dié van Anderson omdat dit eensydig is nie. Eerder ʼn teologie wat eensydig die verhouding tussen die lewe van Christus en ons lewe uiteensit, as ʼn teologie wat hieroor swyg. Kritiek veronderstel ʼn beter alternatief. Die vraag van charismatiese Christene aan gereformeerdes bly steeds wat ons doen met die oortuiging dat ons in Christus meer as oorwinnaars is (Romeine 8:37). Op watter manier kry daardie ‘deel hê’ in die oorwinning, ʼn plek in ons spiritualiteit? So lank as wat gereformeerdes beklemtoon dat ons sondig is en dat selfs ons beste werke met sonde bevlek is; dat God, danksy Jesus, ons sonde vergeef en ons dankbaar moet wees, het ons ʼn ewe eensydige teologie, wat ʼn verarming van ons eie gereformeerde tradisie inhou. ʼn Teologie wat nie weerstand bied teen selfhaat of oppervlakkige, goedkoop vergiffenis nie, is ʼn slegte teologie. Die uitdaging is om met ʼn beter alternatief te kom. Dit is naamlik beide: ons deel in die lyde van Christus, ons neem ons kruis op en volg Hom, maar terselfdertyd is ons in God geborge en deel ons in die oorwinning. Hiermee saam is ook meer as kritiek nodig: ons moet ons eie verhaal beter vertel. Wat beteken dit dat ons nog deel aan die lyding van Christus, maar terselfdertyd ook in sy oorwinning?

4. Gebruik ons net die Taal van Vergewing, of Praat ons ook van Genesing en Bevryding?🔗

In watter woorde kom die heil ter sprake? Die gereformeerde teologie en spiritualiteit word geken aan die gesprek rondom die bieg en die Roomse regverdigingsleer. Die heil kom dan ter sprake in terme van (on)skuld, geregtigheid, wet, oordeel, voldoening, vergewing en regverdiging – die Bybelse taal van die wêreld van die regbank.

Charismatiese Christene gee aandag aan genesing en bevryding. Ons hoef nie hulle praktyke van genesing en bevryding oor te neem om onsself af te vra: wat beteken dit dat die Bybel ook in terme van genesing en bevryding oor die heil van God praat? Bybels gesien beteken verlossing in die eerste plek bevryding uit slawerny. Dit is nie verniet dat die Bybel so baie verskillende beelde gebruik om in verskillende situasies verskillende mense in hulle harte te raak met die goeie nuus oor Jesus nie. Wat doen óns met die rykdom? Wat doen dit aan my om myself te sien as iemand wat genesing nodig het, én kry, of wat uit onvryheid bevry word? Charismatiese Christene herinner ons aan die rykdom van Bybelse taal oor die heil.

5. Hoe Neem ons met ons Liggame aan die Erediens Deel?🔗

Die Bybel en ons eie liedere leer ons dat ons God ook met ons liggame eer. Klap met die hande (Psalm 47:2), hande ophef (Psalm 63:5), neerbuig (Sefanja 2:11), en koordans (Psalm 150:4) is maar ʼn paar voorbeelde. Knielbanke het lankal uit ons kerke verdwyn. Byna niemand kniel meer nie. Wie leer dit nog vir sy kinders?

Met die verdwyn van kniel, is die gereformeerde tradisie weer iets van die liggaamlike deelname aan die erediens kwyt. Weinig het in die plek daarvan gekom. Rondom ons bloei ʼn kultuur van liggaamlikheid, maar in die kerk dreig ons om agter te bly met ʼn gesekulariseerde stokkerigheid. Wanneer God ons met ʼn liggaam skep, kan ons nie, met ʼn beroep op die afsterwe van die uiterlike mens en die vernuwing van die innerlike mens (2 Korintiërs 4:16), sê dat ʼn gebrek aan liggaamlikheid goed is nie. Wie sing ‘Ek sal my neerbuig na u paleis, die oog na bowe’ sonder om werklik neer te buig, is sekulariserend besig: die sprake van die geloof verloor realiteitswaarde. Die charismatiese tradisie herinner ons aan al die oproepe wat die Bybel doen om God met ons liggame te eer. Wie sien hoe mense in hulle aanbidding die hande na God uitstrek, merk wat dit aan jou doen om jou hande op te hef en daarmee kwesbaar en oop voor God te wil staan; besef hoe belangrik so ʼn herinnering aan ons liggaam is. Met ʼn Godgeskape liggaam in die kultuur van liggaamlikheid rondom ons, staan ʼn lewenswyse wat aan die liggaam ʼn plek gee in die aanbidding van God, sterker en meer Bybels as een wat neig om die liggaam te vergeet.

6. Is die Erediens daar om te Leer of ook om te Vier?🔗

Predikante en kerkgangers stel die vraag wie voorgaan meesal in die vorm van ‘wie preek?’ In die belewing van ons eredienste lê daar groot klem op die preek. Preek, maar ook gebede, is dikwels die kenmerkende elemente van die erediens. Die element van viering is in ons kerkdienste minder op die voorgrond. Dit hang saam met wat vroeër opgemerk is: ons bring ons eredienste grotendeels sittend deur, sonder dat die liggaam in beweging kom. Ons musiekkultuur is vir baie ook nie stimulerend om die vierings-karakter van die kerkdiens meer tot sy reg te laat kom nie.

Charismatiese Christene stel aan ons die vraag of ons daaraan dink om in ons kerkdienste meer ruimte te gee aan aanbidding. ʼn Kombinasie van meer of langer gebede met musiek wat jou meevoer, kan nie sonder meer afgewys word nie – dit sou dui op ʼn verkeerde behoefte aan belewing. Om te smaak dat God goed is (Psalm 34:9) moet jy tyd neem. Musiek en samesang kan deur God gegewe middele wees om jou in die regte stemming te bring. Dink aan Elia wat vir ʼn siterspeler gevra het om in die regte stemming te kon kom om te kan profeteer (2 Konings 3:15).

Hierdie artikel is nie ʼn pleidooi om charismaties te word nie, maar om die gereformeerde tradisie vars en Bybels te hou. Dan is goeie vrae wat charismatiese broers en suster ons vra, meer as werd om oorweeg te word.

Endnotes🔗

  1. ^ Thinking in Tongues
  2. ^ Soos Els Nannen doen in Werkelijk vrij?