Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Huwelikswette van Calvyn vir Geneve

Calvyn se bydrae tot die reg is grootliks verwaarloos. Calvyn het egter meer formeel in die regte opleiding gehad as in teologie en hy het waarskynlik die beste regsagtergrond gehad van al die hervormers. Dit is besonder belangrik om die huwelikswette te ondersoek wat Calvyn vir Genève opgestel het. Terwyl die meeste inwoners destyds min geweet het van Calvyn se leerstellings oor die nagmaal en uitverkiesing, kon hulle nie die vereistes aangaande die huwelik vermy nie. Aangesien die Rooms-Katolieke Kerk vir eeue die wette vir Europese huwelike bepaal het, moet ons Calvyn se wette vergelyk met die Roomse kerkwet. Calvyn was nie die eerste hervormer om oor die huwelik te skryf of om wette daaroor te maak nie; daarom moet sy huwelikswette in breër konteks geplaas word binne die bydrae van die ander hervormers.

Die edikte wat Calvyn in 1545 opgestel het, is wesenlik identies aan dié wat in 1561 deur die Geneefse regering aangeneem is. Waarom het die Stadsraad so lank geneem om Calvyn se voorstelle te aanvaar? Die mees waarskynlike antwoord is dat Calvyn se onbuigbare oortuigings veroorsaak het dat die Geneefse magistrate twee keer gedink het voor hulle sy voorstelle goedgekeur het. In elk geval, die hoofsaak van Calvyn se ‘huwelikswette’ was reeds in gebruik lank voor 1561 - die magistrate wou klaarblyklik eers die nuwe wette ’n paar jaar toets voordat hulle hulle aan Calvyn se ordonnansies verbind.

Na Calvyn se terugkeer uit Straatsburg in 1541 het die toesig oor huwelike onder die Klein Raad en die Konsistorie geval (’n soort morele raad saamgestel deur herders en ouderlinge en wat deur Calvyn gedomineer is). Die Konsistorie het allerhande soorte besware aangehoor insluitende vrae met betrekking tot huwelike, egskeidings, kontrakte en polisie-optrede teen huismoles en onwettige skeiding. Die Konsistorie het dikwels jeugoortreders gesensureer en verbied om nagmaal te vier, maar kon geen ander strawwe oplê nie. Enigiemand wat strawwe verdien het, is verwys na die Klein Raad saam met die Konsistorie se opinie oor die aangewese optrede. Dit was immers die Klein Raad wat die finale se gehad het oor egskeidings en kontrakbreukgevalle.

Nie sakrament🔗

Aangesien die Roomse kerkwet die huwelik as ’n sakrament beskou, het die Rooms-Katolieke Kerk geredeneer dat dit alleen gesag het om huwelike te beheer en wette daaroor te maak. Alle hervormde magistrate het ontken dat die kerk die grootste rol speel in die beheer van huwelike, primêr omdat hulle geglo het dat alhoewel die huwelik heilig is, dit nie ’n sakrament is nie.

Die eerste deel van Calvyn se ordonnansies handel oor die totstandkoming van die huwelik. Hier verwerp Calvyn die geheime huweliksluitings wat vir eeue as geldig aanvaar is deur die Roomse. Die Rooms-Katolieke leer oor hoe ’n huwelik tot stand kom, is in die twaalfde eeu vasgestel toe Pous Alexander III (1159-81) ’n dekreet uitgevaardig het dat die huwelik teoreties onontbindbaar was van die oomblik dat ingewillig is, maar nog nie volmaak is totdat seksuele eenheid plaasgevind het nie. ’n Belangrike vertakking van hierdie teorie was dat daar nie ’n publieke seremonie of getuies hoef te wees vir ’n verlowing ten einde ’n wettige huwelik te hê nie. Dit is weliswaar sonde om te trou sonder om die huweliksgebooie publiek te maak of sonder die seëning van die priester, maar alhoewel oortreders onderwerp is aan die geestelike strawwe, was die huwelik tog geldig. Verder was die ouderdom wanneer iemand ’n wettige kontraktuele huwelik kon sluit, 14 jaar vir seuns, en 12 jaar vir dogters. Op dié ouderdomme kon tieners bindende kontraktuele huwelike sluit sonder toestemming van hulle ouers.

Geheime huwelike🔗

Calvyn was gekant teen geheime huwelike en wel om ’n paar redes. Protestantse hervormers het geredeneer dat sulke huwelike die gebod om jou ouers te eer, verbreek. Calvyn het voorgestel dat mens nog toestemming nodig het om te trou totdat ’n man 24 is en ’n vrou 20. Calvyn was egter meer patriargaal as bv. Luther en Zwingli, aangesien hy daarop aangedring het dat die vader toestemming gee en nie die ouerpaar nie. Om regskomplikasies te vermy, het Calvyn aangedring op getuies by verlowings om seker te maak dat albei partye ingestem het.

Soos in  alle  protestantse kwessies het Calvyn ook daarop  gestaan dat die huweliksgebooie   loop - aankondigings moes op drie verskillende   Sondae   in   die kerk gemaak word om te ver- seker dat daar geen besware teen die huwelik is nie. Dit was besonder belangrik om te weet of een van die partye alreeds getroud was - magistrate wou bigamie vermy. Daar moes ook vasgestel word of die partye nie te naby familie was om te kan trou nie. Calvyn het nie die alte streng Roomse siening gehuldig nie, maar by Lev. 18:18 volstaan. Die verbod dat mense wat saam egbreuk gepleeg het verhinder word om later te trou, is uit die Roomse kerkreg oorgeneem.

Calvyn het dit ook by die Roomse oorgeneem dat die huwelik bindend is, nie net vanaf die huwelik nie, maar reeds vanaf die oomblik van wedersydse instemming. Calvyn het ook gestel dat daar twee stadiums was in die vorming van ’n huwelik - verlowing en huwelik. Anders as die Roomse het Calvyn geleer dat die huwelik voltrek is nie by samekoms nie, maar by die bevestiging van die huwelik in die kerk. Calvyn het ’n duidelike onderskeid getref tussen verloofdes en eggenote, deurdat verloofdes nie saam mog gebly het nie. Desnieteenstaande, mog die verloofdes nie sommer van plan verander en nie trou nie. Hofrekords wys dat paartjies wat vryelik ingestem het in die teenwoordigheid van getuies en met die ouers se toestemming, wel moes trou. Kontrakbreuk - gevalle wat die meeste voorgekom het, was waar klaers gepoog het om die ander party so ver te kry om die ooreengekome huwelik te eerbiedig en te voltrek. Die meeste klaers het verloor omdat daar geen getuies was nie.

Drink op huwelik🔗

Alhoewel Calvyn gewaarsku het teen oppervlakkige huweliksbeloftes, is dit bekend dat protestantse howe paartjies al beveel het om te trou as hulle ’n heildronk op die huwelik gedrink het. In hierdie ritueel het die een wat die versoek rig, ’n drankie aangebied - partykeer wyn, maar meesal water - aan sy voornemende verloofde en gesê: “drink dit in die naam van die huwelik”. In die populêre kultuur het dit beteken dat as jy die drankie aangeneem het, jy die huweliksaanbod aanvaar. Lede van die reformatoriese Konsistories het hierdie ritueel baie ernstig opgeneem. Op meer as een geleentheid het die Neuchatel-konsistorie vroue beveel om die huwelikskontrakte na te kom wat deur ’n drankie beseël is, alhoewel hulle geen mondelinge aanvaarding uitgespreek het nie.

Paartjies kon vrygestel word van verlowings slegs onder baie spesifieke omstandighede, bv. as die man mislei was om te dink sy verloofde is ’n maagd terwyl sy dit nie is nie, wanneer een van die partye die land verlaat voor die troue en as een van die twee aan ’n aansteeklike siekte ly. Calvyn het hier duidelik melaatsheid in gedagte gehad. Geen ander hervormer het siekte genoem as grond om 'n verlowing te verbreek nie. Calvyn, aan die ander kant, het gesê dat die nie-betaling van ’n bruidskat en soortgelyke sake nie genoeg is om ’n verlowing te verbreek nie.

Bruidskat🔗

In ’n tydperk waarin eiendom van oorweldigende belang was in die keuse van ’n huweliksmaat, het Calvyn gepoog om die heiligheid van die huwelik te verseker. Ten spyte van sy siening het meer as een man voor die Konsistorie verskyn wat nie met die verlowing wou voortgaan nie omdat sy verloofde nie die beloofde bruidskat betaal het nie. Drie keer voor 1561 het die Konsistorie en die Klein Raad bepaal dat die troues moet voortgaan ten spyte daarvan. In 1562 het ’n man die regters oortuig dat die beloftes wat hy gemaak het, voorwaardelik was. Calvyn het voorgeskryf dat huweliksooreenkomste direk gemaak moet word, sonder enige voorwaardes – ’n bepaling wat nie in vorige huwelikswette gevind is nie - en gevolglik was die man nie verplig om met die vrou te trou nie. Aan die ander kant het die Konsistorie weer die geldigheid van voorwaardes erken as dit nagekom is. Die mees algemene voorwaarde wat neergelê is ten tye van die verlowing, was dié van die ouerlike toestemming. As haar ouers dit nie erken het nie, sou die howe die huwelik nie as geldig erken nie.

*('n Vertaling van sy artikel "The marriage Laws Calvin Drafted for Geneva" in "Calvinus Sacrae Scripturae Professor" -red: Neuser, 1994:245-255, uitgesonderd voetnote)