Moet ons as Christene meer aandag gee aan mentorskap? Hierdie artikel wys op die voordele van informele mentorskap.

2 bladsye. Vertaal deur Dries du Plessis.

Informele Mentorskap

Jimmy het stiptelik om 08:00 by my huis aangekom om my lughawe toe te neem. Hy het dit dikwels vir my gedoen. Jimmy en sy vrou, Natalie, gaan later vanjaar oorsee om as sendelinge te werk. Hy was in ʼn klein groepie wat ek begelei het; hy en Natalie lei ook ʼn kleingroepie by ons plaaslike kerk.

Maar Jimmy het meer gedoen as om my lughawe toe te neem. Hierdie rit demonstreer my primêre benadering as mentor. Ek ry selde alleen langpad en ek ry feitlik nooit alleen lughawe toe nie. Normaalweg betrek ek iemand om te mentor, as dit enigsins moontlik is. Om in so ʼn situasie te praat oor die lewe en oor godsvrug, maak mentorskap lewendig. Dit noem ek informele mentorskap.

Kyk na die lewe van Christus volgens die Evangelies en let op Sy benadering: Jesus het met die menigtes gepraat. Hy het duisende gevoed. Hy het baie mense onderrig. Hy het sewentig uitgestuur om te getuig, maar Hy het die wêreld verander met slegs twaalf. En meer nog, Hy het hom toegelê op spesifiek drie: Petrus, Jakobus en Johannes.

Die grootste impak wat ek as onderwyser en leraar gemaak het, was nie juis om vir skares te preek of deur lesings voor klasse te gee nie, hoe belangrik dit ookal is. Dit was deur saam met daardie individue te loop, verby die klaskamer of kleingroepie, in die gewone, alledaagse lewe, en te praat oor bediening en teologie, maar ook om te praat oor hoe om vir Christus te lewe.

Ek glo in formele mentorskap en ek het dikwels met een of  ʼn paar persone ‘n afspraak om so gerig met hulle te praat. Informele begeleiding kan ten minste by die formele benadering bygevoeg word, want dit is myns insiens die beste benadering, omdat Jesus dit gevolg het.

Bestudeer die Evangelies om te sien hoe Jesus mentor was vir die twaalf. Hulle het sy hart gesien vir die hulpeloses (Mat. 9:35-38); Hy het hulle in situasies geplaas waar hulle moes dink (deur te vra wie Hy was in Mat. 16:15; sy verheerliking in Mat. 17). Hy het hulle verdedig voor die Fariseërs (Mat. 15), Hy het aan hulle opdragte gegee soos om die blye boodskap te versprei, en uiteindelik, die Groot Opdrag. Hierdie en vele ander voorbeelde het opgeduik in hulle daaglikse lewe saam met mekaar.

Die beste manier om te leer kom nie deur net te luister na jou mentor nie, maar deur te sien hoe die waarheid uitgeleef word in die begeleier se lewe. Op hierdie manier het informele mentorskap verskeie voordele:

  • Dit laat die persoon vir wie jy ʼn mentor is, toe om te sien hoe jy jou lewe lei, en omgekeerd. Ons almal kan ʼn front voorhou in ʼn geskeduleerde weeklikse vergadering, maar nie so maklik in die normale daaglikse lewe nie.
  • Dit laat direkte toepassing in ʼn spesifieke konteks toe. As ek by ʼn universiteit praat, neem ek studente wat belangstel in universiteitsbediening - ek laat hulle my boodskap kritiseer, die bediening evalueer, praat oor hoe die evangelie die kampus kan beïnvloed. Ek doen dieselfde met studentebediening of tydens leierskapkonferensies. Ek het onlangs ʼn jong man gesien wat sy PhD onder my gekry het. As student het hy my gehelp blomme plant vir my vrou, iets wat hy nog nooit gedoen het nie. Ons het daardie dag teologie bespreek terwyl ons geplant het. Hy het daardie dag onthou en my vertel dat hy sopas ʼn mooi blombedding vir sy gesin gemaak het. Ons mentorskap moet teologies en spiritueel van aard wees, en ons moet dit ook koppel aan die lewe.
  • Dit stel ons in staat om tyd saam met ander deur te bring sonder om ekstra tyd op die kalender nodig te hê. As ek tuinwerk doen, betrek ek my mentor-leerlinge. Ek gebruik hulle om takies te doen; ons evangeliseer saam; hulle help my om te skryf; ek laat hulle my selfs in my kar rondry.
  • Dit maak dit vir ons moontlik om diegene wat ons begelei in die die alledaagse lewe te sien en waar te neem hoe hulle reageer. Dit is moeilik om te sien hoe ʼn jong man reageer as dinge nie volgens beplanning gaan nie, as jy hom net weekliks in ‘n klein groepie sien. Hoe behandel hy die kelner in die restaurant? Hoe praat hy van mense in gesagsposisies? Hoe reageer hy beide op aanmoediging en teregwysing? Hoe pas hy die evangelie toe in sy lewe?
  • Dit skep by uitstek geleenthede vir bepalende oomblikke. Ek het al heel dikwels ervaar dat  ʼn jong man ʼn belangrike lewenskonsep snap tydens  ʼn rit van twee uur, meer as in ʼn formele opset.  

As jy dit nie alreeds doen nie, dink aan iemand vir wie jy mentor wil wees. Vra jouself af watter van jou aktiwiteite jou sal toelaat om die een onder jou leiding te betrek, byvoorbeeld: boodskappe stuur, jou kantoor skoonmaak, werk aan ʼn projek, tuinwerk. Dink aan gewone aktiwiteite waar jy iemand kan nooi om die pad saam met jou te loop. Pas jou lewensstyl aan om ander mense in hierdie aktiwiteite in te sluit. Terwyl julle saam  tyd deurbring, gesels oor die lewe en godsvrug, oor teologie en sy toepassing. Spoor die persone aan om ook dieselfde te doen. Immers, ʼn kragtige aspek van die Apostels se getuienis, was hulle nabyheid aan Christus, soos gesien kan word in Handelinge 4:13: “Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die Raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus” (my kursivering).