In God se voorsienigheid is daar nie ‘n verskil tussen wat Hy wil en wat Hy toelaat nie. Daar is egter wel ‘n verskil tussen God se wil en God se gebooie. Maar wat mense en Satan ook al bedink en doen – hul kan niks anders doen as wat God se raad reeds besluit het nie; hul kan slegs God gehoorsaam wees. Die skrif toon duidelik dat God se wil enkel- en eenvoudig is en dat God nie die oorsaak van die sonde is nie.

1984. 11 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 18 God gebruik die werk van die goddeloses en Hy wend hulle gemoedere op so ‘n wyse tot uitvoering van Sy oordele aan dat Hy self van elke smet rein bly

1. God se Voorsienigheid is nie 'n blote toelating nie🔗

Uit ander Skrifverwysings waar gesê word dat God die Satan self en almal wat verwerp is, na sy goeddunke buig of trek, kom 'n moeiliker vraagstuk na vore. Want die mens se verstand kan beswaarlik begryp hoedat God, wanneer Hy deur hulle handel, nie deur hulle boosheid besmet word nie - ja, hoedat Hy in al sy werk wat Hy met hulle deel, vry is van alle skuld en hoedat Hy hulle regverdig kan straf as hulle sy dienaars is.

Na aanleiding hiervan is daar 'n onderskeid uitgevind tussen doen en toelaat1 omdat hierdie knoop by baie mense die indruk gelaat het dat dit nie ontwar kan word nie, naamlik dat die Satan en al die goddelose mense so deur die hand van God geregeer word dat Hy hulle boosheid op 'n doel wat Hom behaag, kan rig en van hulle wandade gebruik kan maak om sy oordele uit te voer. En miskien sou die selfbeheersing van die mense wat deur die skynbare ongerymdheid hierin afgeskrik word, nog verskoon kon word as dit nie was dat hulle probeer om die geregtigheid van God leuenagtig en op verkeerde wyse teen elke ongunstige kenmerk te verdedig nie. Dit lyk vir hulle ongerymd dat 'n mens volgens die wil en op bevel van God verblind word, terwyl hy weldra vanweë sy blindheid gestraf sal word. Hulle keer dus hulle rug op die vraagstuk en onrwyk dit deur te së dat dit plaasvind slegs omdat God dit toelaat maar nie omdat Hy dit wil nie.2 Maar wanneer God openlik verklaar dat Hy dit doen, verwerp Hy hulle uitvlug.

Maar die feit dat die mens niks sonder die verborge wil van God kan bereik nie en dat hy niks deur sy beraadslaging kan doen behalwe dit wat God self besluit en volgens sy verborge beskikking vasstel nie, kan met ontelbare duidelike getuienisse bewys word. Die verwysing wat ons tevore uit die Psalm aangehaal het, naamlik dat God alles doen wat Hy wil,3 het beslis ook betrekking op al die handelinge van die mens. As  God dan gewis oor oorloë en vrede beslis, soos daar gesê word4 - en dit sonder enige uitsondering - wie sal dan waag om die bewering te maak dat die mens sonder die wete en bemoeienis van God deur 'n blinde drang onbesonne voortgedryf word? Maar in besondere voorbeelde sal daar meer lig vir ons opgaan.

Uit die eerste hoofstuk van Job weet ons dat die Satan hom voor die aangesig van God stel om sy bevele te ontvang net soos die engele, wat Hom spontaan gehoorsaam.5 Tog doen hy dit op 'n ander wyse en met 'n ander doel maar tog so dat hy niks kan aanpak as dit nie God se wil is nie. Hoewel daar skynbaar daarna 'n blote toelating ingeskuif word om die heilige man te verdruk, nogtans, omdat hierdie woorde waar is: "Die Here het gegee, die Here het geneem, dit het gebeur soos dit God  behaag het,"6 kan ons aflei dat God die Bewerker was van sy beproewing waarvan die Satan en goddelose rowers die dienaars was. Die Satan poog om die heilige man deur wanhoop tot raserny te dryf; die Sabeërs val hom wreed en goddeloos aan om iemand anders se goed te roof. Job erken dat hy deur God van al sy rykdom beroof is en 'n arm man geword het omdat dit God behaag het.

Wat die mens of die Satan self dus ook al doen - God hou tog die sleutel om hulle voornemens om te draai om sy oordele uit te voer.

Dit was God se wil dat die ontroue koning Agab mislei moes word. Daarvoor bied die duiwel sy hulp aan. Hy word met 'n sekere bevel uitgestuur, naamlik om 'n leuengees te wees in die monde van al die profete.7 As Agab se verblinding en waansinnigheid dan God se oordeel is, verdwyn die versinsel van blote toelating, omdat dit belangrik sou wees dat God dit as Regter sou toelaat maar nie ook sou besluit wat Hy gedoen wou hê, en die uitvoering daarvan aan sy dienaars sou opdra nie. Die Jode het die voorneme gehad om Christus te verdelg. Pilatus en die soldate gee aan hulle woedende begeerte toe. Tog erken die dissipels in hulle plegtige gebed dat al die goddelose mense niks anders gedoen het as wat God se hand en sy raad reeds besluit het nie.8 So het Petrus alreeds tevore verkondig dat Christus volgens die bepaalde raadsplan en voorkennis van God oorgelewer is om om die lewe gebring te word.9 Dit is asof hy gesê het dat God, vir wie daar van die begin af niks verborge was nie, willens en wetens bepaal het wat die jode uitgevoer het. So herhaal hy dit ook elders: "God, wat vooraf deur al sy profete verkondig het dat Christus sou ly, het dit so volbring.''10

Toe Absalom sy vader se bed met bloedskandige gemeenskap verontreinig het, het hy'n verfoeilike oortreding begaan.11 Nogtans verklaar God dat dit sy werk was, want sy woorde lui: "Jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal dit openlik en in die volle sonlig doen".12 Jeremia verklaar dat al die wreedheid wat die Galdeërs teen Juda pleeg, God se werk is.13 Daarom word Nebukadneser ook God se dienskneg genoern.14 God roep oral uit dat die goddeloses deur sy gefluit,15 en deur die geskal van sy trompet16 op sy bevel en gebod tot oorlog aangedryfword.17 Hy noem die koning van Assirië die staf van sy toorn en die byl wat Hy met sy hand in beweging bring.18 Hy noem die verwoesting van die heilige stad en die vernietiging van die tempel sy werk.19 Wanneer Dawid nie teenoor God murmureer nie maar erken dat Hy die regverdige Regter is, bely hy nogtans dat die vloek van Simeï uit God se bevel voortkom. Hy sê: "Die Here het hom beveel om my te vloek".20 Dit kom baie dikwels in die heilsgeskiedenis voor dat alles wat gebeur, uit God ontstaan, byvoorbeeld die afvalligheid van die tien stamrne,21 die ondergang van die seuns van Eli22 en baie ander soortgelyke gevalle.

Mense wat maar net effens in die Skrifte geoefen is, kan sien dat ek ter wille van bondigheid uit die menigvuldige getuienis daaroor maar net 'n paar voorbeelde aanhaal. Tog is dit daaruit meer as genoeg duidelik dat die mense onsin praat en van hulle sinne beroof is wanneer hulle blote toelating in die plek van God se voorsienigheid stel, net asof Hy in 'n wagtoring sit en op toevallige gebeurtenisse wag en asof sy oordele dan van die goeddunke van die mens afhanklik is.

2. God bestier deur Sy Voorsienigheid die planne en dade van alle mense🔗

Wat die verborge gemoedstemminge betref waarvan Salomo praat wanneer hy sê dat die koning se hart hierheen of daarheen gebuig word soos dit God behaag23 - dit kan uitgebrei word oor die hele mensdom en dit dra net soveel krag asof hy gesê het dat alles wat ons in ons harte bedink, volgens 'n verborge inspirasie van God op sy doel gerig word. En as God inderdaad nie binne-in die verstand van mense gewerk het nie, sou daar nie met reg gesê kon word dat Hy die spraak van waaragtiges en wysheid van ou manne weggeneem het24 en dat Hy die hart van die vorste van die aarde wegneem sodat hulle op ompaaie kan ronddwaal nie.25 Dit wat ons dikwels lees, het dieselfde strekking, naamlik dat mense vreesbevange is namate hulle harte deur sy skrik beetgepak word.26 So het Dawid uit Saul se kamp uitgegaan sonder dat iemand daarvan geweet het, omdat die slaap van God op hulle almal geval het.27 Maar daar kan niks duideliker verlang word nie as wanneer God so dikwels verklaar dat Hy die verstand van die mens verblind, hulle met duiseligheid slaan,28 hulle met 'n gees van slaap dronk maak,29 waansin by hulle inboesem en hulle harte verhard.30 Baie mense skuif dit ook op sy toelating af, net asof Hy sou toelaat dat mense wat deur Hom verlaat en verwerp is, deur die Satan verblind word. Maar aangesien die Gees uitdruklik verklaar dat blindheid en waansinnigheid deur die regverdige oordeel van God veroorsaak word,31 is so 'n oplossing gans te waardeloos. Daar word gesê dat God Farao se hart verhard, ja, verswaar en onbuigsaam gemaak het.32 Sommige mense dryf met onsmaaklike gehekel die spot met hierdie spreekwyses, want terwyl daar elders gesê word dat Farao self sy hart verhard het, word sy eie wil as oorsaak van sy verharding gestel.33 Net asof hierdie twee aspekte nie uitstekend met mekaar ooreenstem nie - al sou dit dan op verskillende wyses wees, naamlik dat die mens self ook optree wanneer hy deur God tot optrede gedryfword. Sover dit my aangaan, keer ek hulle beswaar teen hulleself. Want as verharding blote toelating beteken, sal die drang tot hardkoppigheid nie eintlik in Farao selfwees nie. Hoe ydel en dwaas sou dit nie origens wees om dit so te verklaar asof Farao slegs maar toegelaat het dat hy verhard word nie.

Hierby kom nog die feit dat die Skrif die deur vir sulke uitvlugte sluit. "Ek sal sy hart vashou", sê God.34 So sê Moses ook van die inwoners van die land Kanaän dat hulle in oorlog uitgegaan het omdat God hulle harte verhard het.35 Dit word ook deur 'n ander profeet herhaal: "Hy het hulle hart verander om sy volk te haat."36 Net so verklaar Hy in Jesaja dat Hy die Assiriërs teen die bedrieglike volk sal stuur en dat Hy aan hulle bevel sal gee om te roof en te plunder.37 Hy doen dit nie omdat Hy goddelose en verharde mense wil leer om Hom spontaan te gehoorsaam nie maar omdat Hy hulle sal buig om sy oordele uit te voer net asof hulle sy bevel ingegrif in hulle harte dra. Daaruit blyk dit dus dat hulle volgens die bepaalde beskikking van God aangedryf is.

Ek erken wel dat God dikwels deur die diens van die Satan in verworpe mense werk, maar dan werk Hy so dat die Satan deur God se aandrywing sy rol vertolk en slegs so ver gaan as wat dit hom gegun word. 'n Bose gees maak Saul onrustig, maar daar word gesê dat die Gees van God kom, sodat ons kan weet dat Saul se waansinnigheid uit die regverdige wraak van God voortkom.38

Van dieselfde Satan word gesê dat hy die sinne van die ongelowiges verblind.39 Maar waaruit ontstaan dit nou anders as dat die werking van die dwaling in hulle uit God self voortkom, sodat hulle leuens kan glo omdat hulle weier om die waarheid te gehoorsaam? Volgens die eerste redenasie word daar gesê. "As 'n profeet leuenagtig gespreek het: Ek, God, het hom verlei".40 Volgens die tweede redenasie word gesê dat God self die mense aan 'n verkeerde gesindheid oorgee en hulle in skandelike begeertes werp,41 omdat Hy die besondere Bewerker van sy regverdige wraak is maar die Satan slegs sy dienskneg.

Maar omdat ons hierdie saak sal behandel wanneer ons in die tweede boek die vrye of slaafse oordeel van die mens bespreek, lyk dit vir my asof ek nou bondig genoeg gesê het soveel as wat die onderwerp vereis. Bondig saamgevat: Wanneer daar gesê word dat die wil van God die oorsaak van alle dinge is, word sy voorsienigheid as Bestierder in alle beraadslagings en werke van die mens gestel, sodat dit nie alleen sy krag vertoon onder die uitverkorenes wat deur die Heilige Gees gelei word nie, maar ook die verworpenes tot gehoorsaamheid dwing.

3. Die Eerste beswaar, naamlik dat daar teenstrydige wilsluitinge in God voorkom, word deur Skrifgetuienis sowel as deur die getuienis van Augustinus weerlê🔗

Aangesien ek egter tot dusver slegs die aspekte voorgedra het wat in die Skrif openlik en ondubbelsinnig aan ons geleer word moet die mense wat nie aarsel om ongunstige brandmerke van oneer op hemelse uitsprake af te druk nie, gerus maar ondersoek instel na die aard van die oordeel wat hulle daarin aanwend. Want as hulle onder die dekmantel van onkunde lof vir hulle selfbeheersing soek, kan daar dan nog groter hooghartigheid bedink word as om een enkele woordjie teen die gesag van God in te bring? "Dit lyk vir my anders", of: "Ek hou nie daarvan dat dit geopper word nie". Of as hulle openlik laster, watter voordeel sal dit dan vir hulle inhou om die hemel met hulle venyn aan te val? Dit is wel nie 'n nuwe voorbeeld van brutaliteit nie, omdat daar nog altyd in voorafgaande eeue goddelose en onheilige mense was wat met rasende monde teen hierdie deel van ons leer geblaf het. Maar hulle sal in werklikheid agterkom dat die uitspraak wat die Gees eenmaal deur die mond van Dawid gemaak het, nog waar is, naamlik dat God oorwin wanneer Hy geoordeel word.42 Dawid berispe die mens onregstreeks vir sy dwaasheid omdat hy vanuit sy eie gemors met so 'n teuellose willekeurigheid nie alleen met God twis nie maar homself ook die gesag aanmatig om God te veroordeel. Intussen leer hy hulle kortliks dat die laster wat hulle teen die hemel uitbraak, God nie bereik sonder dat Hy sy geregtigheid toon deur die newels van hulle laster uitmekaar te skeur nie. Ook ons geloof, wat op die Heilige Woord van God gebou is en die hele wêreld oorwin,43 verag hulle newels vanuit die hoogte. Want hulle eerste beswaar44 word met gemak weerlê. Hulle sê naamlik dat, as niks dan sonder die wil van God plaasvind nie, daar dan twee teenstrydige wille in Hom aanwesig is, omdat Hy dan in sy verborge raadsplan 'n beslissing sou vel wat Hy openlik in sy wet verbied het. Voordat ek egter daarop antwoord, wil ek graag hê dat my lesers weer gewaarsku moet wees dat hierdie bespotting nie teen my nie maar teen die Heilige Gees gedraai word. Dit is sekerlik die Heilige Gees wat die volgende belydenis aan die heilige man, Job, voorgesê het: "Soos dit God behaag het, so het dit geskied."45 Toe hy deur rowers geplunder is, het hy God se regverdige roede in hulle onreg en boosheid herken. Wat sê die Skrif elders? Eli se seuns het hulle vader nie gehoorsaam nie, omdat die Here hulle wou doodmaak.46 Ook 'n ander profeet roep uit dat God, wat in die hemel is, alles doen wat Hy wil.47 En ek het alreeds duidelik genoeg aangetoon dat God die Bewerker van al die dinge genoem word wat sy sensors slegs deur sy onverskillige toelating wil laat geskied. Hy getuig dat Hy lig en duisternis skep, dat Hy goed en kwaad maak48 en dat daar geen onheil voorval wat Hy nie self geskep het nie.49 Ek vra hulle nou om te sê of Hy sy oordele teen wil en dank uitoefen. En tog leer Moses dat iemand wat toevallig deur die val van 'n byl gedood word, deur God uitgelewer is in die hande van die een wat hom doodmaak.50 So sê die hele kerk in Lukas dat Herodes en Pilatus saamgesweer het om te doen wat God se hand en raadsplan reeds besuit het.51 En as dit in elk geval nie God se wil was dat Christus gekruisig moes word nie, waarvandaan sou ons verlossing dan kom?

Maar God is nie daarom met Homself in stryd nie, en God se wil word ook nie daardeur verander nie, en God gee ook nie voor dat Hy nie wil doen wat Hy wil nie. Hoewel sy wil enkel en eenvoudig is, lyk dit vir ons veelvuldig, omdat ons vanweë die swakheid van ons verstand nie kan begryp hoe Hy nie wil hê dat iets moet gebeur nie of wel wil hê dat iets moet gebeur.52

Toe Paulus gesê het dat die roeping van die heidene 'n verborge geheimenis is, voeg hy 'n bietjie later by dat die veelkleurige53 wysheid van God daarin geopenbaar54 is. Moet ons ons dan verbeel dat daar in God self enige veranderlikheid voorkom net asof Hy sy raadsplan sou verander en asof Hy dit met Homself nie eens is nie, bloot omdat die wysheid van God vir ons afgestompte sinne menigvuldig (of veelvormig, soos 'n vertaler van ouds dit weergee) voorkom? Ja, wanneer ons nie kan begryp hoe God wil dat iets wat Hy ons verbied om te doen, nograns moet gebeur nie, moet ons eie swakheid ons te binne skiet, en terselfdertyd moet ons daaroor nadink dat die lig wat God bewoon, nie sonder rede ontoeganklik genoem word nie,55 omdat dit in donkerheid gehul is. Alle godvrugtige en ingetoë mense sal dus vrede hê met Augustinus se opvatting dat die mens soms te goeder trou iets wil doen wat God nie wil nie, byvoorbeeld as 'n goeie seun wil hê dat sy vader moet bly lewe, maar dit God se wil is dat hy moet sterwe.56

Maar aan die ander kant moet ons ook daaraan dink dat dit moontlik kan gebeur dat die mens ter kwader wille iets wil wat God ter goeder wille ook so wil, byvoorbeeld as 'n slegte seun wil hê dat sy vader moet sterwe en God dit ook wil. So wil die eerste seun iets wat God nie wil nie, en laasgenoemde wil iets wat God ook wil. Tog is die vroomheid van die eerste seun eerder met God se goeie wil in ooreenstemming, hoewel hy iets anders wil as die tweede seun wat in sy goddeloosheid dieselfde as God wil. Slegs dit is van belang, naamlik watter wil die mens en watter wil God pas en op watter doelstelling elk van hulle se wil gerig is sodat dit goed- of afgekeur word. Want God volbring sy goeie wil deur die slegte wil van slegte mense. 'n Rukkie tevore het Augustinus inderdaad gesê dat die afvallige engele en alle mense wat verwerp is, deur hulle afvalligheid gedoen het wat God nie wou hê nie - ten minste sover dit hulIe aangaan; maar sover dit die almag van God aangaan, sê hy dat hulle glad nie anders kon nie, omdat God se wil aangaande hulle juis ook geskied het, hoewel hulle teen God se wil handel. Daarop roep hy uit: "Groot is die werke van God, en gesog is sy werke in alles wat Hy wil.''57 Die gevolg is dat op wonderbaarlike en onuitspreeklike wyse iets wat selfs teen sy wil geskied, nie sonder sy wil geskied nie, omdat dit nooit sou geskied het as Hy dit nie toegelaat het niet Hy laat dit ook nie teen sy wil nie maar volgens sy wil toe, en as goeie God sou Hy nooit toegelaat het dat kwaad geskied as Hy as Almagtige nie ook in staat was om die goeie uit die slegte voort te bring nie.

4. Die Tweede beswaar, dat God dan die oorsaak van die sonde sou wees, word deur duidelike Skrifgetuienis weerlê🔗

Soword hulle tweede beswaar ook weerlê; ja, dit verdwyn vanself! Hulle sê naamlik dat as God nie alleen van die hulp van goddelose mense gebruik maak nie maar ook hulle planne en gevoelens beheer, Hy dan die oorsprong van alle sondes is en dat mense daarom verdoem word sonder dat hulle dit verdien as hulle God se besluite uitvoer, omdat hulle dan aan sy wil gehoorsaam sou wees. Want die wil van God word verkeerdelik met sy gebod verwar. Almal stem tog saam dat sy wil volgens ontelbare voorbeelde heeltemal van sy gebod verskil. Want hoewel dit God se wil was om Hom met hierdie skanddaad op Dawid se owerspel te wreek toe Absalom sy vader se vrouens onteer het, het Hy tog nie die bose seun gebied om bloedskande te pleeg nie,58 behalwe miskien ten opsigte van Dawid, soos hy ook van die vloek van Simeï sê. Want terwyl hy bely dat Simeï hom op Gods bevel vloek,59 prys hy dit glad nie as gehoorsaamheid nie - asof hierdie onbeskaamde hond aan die bevel van God gehoorsaam sou wees; maar hy erken dat Simeï se tong God se roede is, en verdra sy straf geduldig. Ons moet dus vashou aan die beginsel dat wanneer God sy verborge raadsplan deur goddelose mense uitvoer, hulle nie daarom te verontskuldig is asof hulle sy gebod gehoorsaam wat hulle in elk geval opsetlik en na willekeur skend nie. Maar die verkiesing van koning Jerobeam is 'n uitmuntende bewys om te illustreer hoe die bose werke van die mens uit God is en tog deur sy verborge voorsienigheid geregeer word.60 In sy verkiesing tot koning word die ligsinnigheid en dwaasheid van die volk streng bestraf omdat hulle van die orde wat deur God ingestel is, afgewyk en uit ontrou van die huis van Dawid afvallig geword het. En tog weet ons dat dit God se wil was dat hyas koning gesalf moes word. Na aanleiding hiervan, en ook in die woorde van Hosea, kom daar skynbaar 'n teenstrydigheid voor, omdat God enersyds daaroor kla dat die koninkryk sonder sy wete en sonder sy wil opgerig is,61 maar elders verklaar dat Hy Jerobeam in sy toorn as koning aan die volk gegee het.62 Hoe sal die twee stellings nou ooreenstem, naamlik dat Jerobeam nie uit God koning was nie en dat hy tog deur God as koning aangestel is? Só naamlik dat die volk nie van die huis van Dawid afvallig kon word sonder om ook die juk wat hulle deur God opgelê is, af te werp nie en omdat die vryheid om Salomo se ondankbaarheid te straf tog nie van God weggeneem is nie.63 Ons sien dus dat God nie hulle ontrou wil nie maar tog hulle afvalligheid met 'n ander doel regverdiglik wil. Daarom word Jerobeam bo alle verwagting deur sy heilige salwing tot die koningskap gedwing. Daarom sê die heilige geskiedenis dat sy vyand deur God verwek is om Salomo se seun 'n deel van sy koninkryk te ontneem.64

My lesers moet sorgvuldig op albei aspekte let: omdat dit God behaag het dat sy volk deur die hand van een koning geregeer word, was dit teen sy wil dat sy volk in twee geskeur het; en tog het die begin van die skeuring uit sy wil ontstaan. Want die feit dat die profeet met sy woorde en die teken van sy salwing Jerobeam, wat hoegenaamd nie aan so iets gedink het nie, tot die hoop op die koningskap aanpor, geskied nie sonder dat God daarvan bewus is of teen sy wil nie, omdat Hy gebied het dat dit so moes gebeur. Tog word die weerspannigheid van die volk bestraf omdat hulle, asof dit teen die wil van God is, van die nageslag van Dawid afvallig geword het. Om hierdie rede word later bygevoeg dat, toe Rehábeam die versoeke van die volk hooghartig verag het, dit ook deur God gedoen is om die woord wat Hy deur die mond van sy dienskneg, Ahiá, gespreek het, te bevestig.65 Kyk hoe die heilige eenheid teen die wil van God verskeur word en die tien stamme tog volgens God se wil van die seun van Salomo vervreem word!

Hierby moet nog 'n verdere soortgelyke voorbeeld kom, naamlik toe die kinders van koning Agab met die instemming van die volk, of liewer met hulle bystand, doodgemaak en sy hele nageslag uitgeroei is.66 Jehu vertel wel tereg dat niks van die woorde van God op die aarde geval het nie maar dat Hy alles wat Hy deur die hand van sy dienskneg Elia gespreek het, ultgevoer het. En tog bestraf hy die burgers van Samaria nie sonder rede omdat hulle hulle daarvoor beskikbaar gestel het nie. Hy sê: "Is julle regverdig? As ek teen my heer 'n sameswering gesmee het, wie het dan al hierdie manne doodgemaak?"67

As ek my nie vergis nie, het ek duidelik verklaar hoe die skuld van die mens hom in een en dieselfde werk openbaar waarin ook die geregtigheid van God skitter. Vir mense met 'n ingetoë verstand sal die volgende antwoord van Augustinus altyd genoeg wees: "Toe die Vader sy Seun oorgelewer het en Christus sy liggaam en judas die Here, waarom is God dan in hierdie oorlewering regverdig en die mens skuldig? Dit is net omdat die rede vir dieselfde optrede, nie dieselfde rede is waarom hulle dit gedoen het nie.''68 As dit sommige mense dan nog hinder dat ons sê dat God geen instemming met die mens toon wanneer die mens iets wat hy nie mag doen nie, wel op sy regverdige aandrang doen, moet die vermaning wat Augustinus elders leer, tog in hulle gedagtes opkom: "Wie sou nie sidder voor sy oordele wanneer God in die harte van die goddelose mense doen wat Hy wil, en hulle dan tog volgens hulle verdienste vergeld nie?''69

En in die geval van Judas se ontrou sou dit ewe min geoorloof wees om die skuld vir sy sonde aan God toe te skrywe omdat dit ook sy wil was dat sy Seun aan die dood oorgelewer moes word en omdat Hy Hom ook in die dood oorgegee het, as wat dit sou wees om die lof vir ons verlossing aan Judas toe te skrywe. Gevolglik leer dieselfde skrywer ons elders dat wanneer God dit ondersoek, Hy nie vra waartoe mense in staat was of wat hulle gedoen het nie, maar wat hulle wil was, sodat hulle van hulle raad en wil rekenskap moet gee.70 Mense vir wie dit na 'n onverbiddelike benadering lyk, moet 'n bietjie nadink oor hoe aanvaarbaar hulle eie stompsinnigheid is wanneer hulle 'n onderwerp wat deur duidelike Skrifgetuienis bevestig word, verwerp omdat dit hulle begrip te bowe gaan, en wanneer hulle ons daarvoor verkwalik dat sake te berde gebring word wat God nooit deur sy profete en apostels sou laat leer het as Hy nie geweet het dat die kennis daarvan nuttig is nie.

Want ons wysheid moet niks anders wees nie as om alles wat in die Heilige Skrif aan ons geleer word, sonder uitsondering met ootmoedige leergierigheid te omhels. Aangesien dit duidelik is dat mense wat hulle hardkoppig daarteen verset, teen God kef, verdien hulle nie om verder weerlê te word nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Lombardus, Sententiae 1.45.11 (MPL 192-643).
  2. ^ Inst. 1.17.2. Calvyn, Calumniae nebulonis cuiusdam de occulta Dei prouidentia.... ad easdem responsio, 1558 (OC 9:278, 301). Dit is teen Castellio gerig. Calvyn word aangekla dat hy leer dat God twee wilgesindhede het, en verdedig hom teen hierdie klag.
  3. ^ (Ps. 115:3).
  4. ^ (Ps.46:9, 10).
  5. ^ (Job 1:6).
  6. ^ Job 1:21.
  7. ^ Kon. 22:20, 22 (1 Kon. 22:20,22).
  8. ^ Hand. 4:28.
  9. ^ Hand. 2:23.
  10. ^ Hand. 3:18.
  11. ^ 2 Sam. 16:22.
  12. ^ 2 Sam. 12:12.
  13. ^ Jer. 50:25 (1:15).
  14. ^ Jer. 25:9; 27:6).
  15. ^ Jes. 10:5 (7:18; 5:26).
  16. ^ (Hos. 8: 1).
  17. ^ Jes. 5:26.
  18. ^ (Jes, 10:5, 15).
  19. ^ (Jes. 28:21; Jer. 7:14).
  20. ^ 2 Sam. 10:10 (16:10,11).
  21. ^ 1 Kon.11:31.
  22. ^ 1 Sam. 2:34
  23. ^ Spr. 21:1.
  24. ^ Eseg. 7:26. In die teks staan libium (lip), wat hier met 'spraak' vertaal word. Vgl. die Fr.vert: . .. qu'il oste la langue à ceux qui parient bien. (Benoit 1:256). Calvyn se verwysing in die teks wyk aanmerklik af van die Vg.: ... et lexperibit a sacerdote et consilium a senioribus. Só lees ook Munsteriana en die Afr, vert.
  25. ^ (PS. 107:40).
  26. ^ Lev. 26:36.
  27. ^ 1 Sam. 26 (26:12).
  28. ^ (Deut. 28:28; Sago 12:4; Jes. 29:14).
  29. ^ (Jes, 29:10).
  30. ^ (Rom. 1:21; Ex. 14:4,8, 17).
  31. ^ Rom. 7:21 (1:21).
  32. ^ Ex 8:15 (9:12; 14:4; Munsteriana 138).
  33. ^ (Ex. 8:15).
  34. ^ Ex. 4:21.
  35. ^ Jos, 11:20.
  36. ^ Ps. 105:25.
  37. ^ Jes. 10:9 (10:6).
  38. ^ 1 Sam. 16:14.
  39. ^ 2 Kor. 4:2,4.
  40. ^ Eseg. 14:9.
  41. ^ Rom. 1:28.
  42. ^ Ps. 51:6 (Vg. 50:6).
  43. ^ Joh. 5:4.
  44. ^ Hy het Castellio, Pighius en eiusmodi canes hier in gedagte.
  45. ^ Job 1:21.
  46. ^ 1 Sam. 2:25.
  47. ^ Ps. 115:3.
  48. ^ Jes. 45:7.
  49. ^ Amos 3:6.
  50. ^ Deut. 19:5.
  51. ^ Hand. 4:28.
  52. ^ Hierdie tema kom ook voor in Calvyn se polemiek teen Pighius. Kyk De aeterna Dei praedestinatione. . ". hoc mode duplex affingitur Deo uoluntas ..., waar Calvyn uitdruklik Pighius se beskuldiging dat hy 'n dubbele wilsuiting by God leer, ontken (OC 8:301).
  53. ^ DoAunoCXLAov.
  54. ^ Ef. 3:10.
  55. ^ 1 Tim. 6:16.
  56. ^ Augustinus, Enchiridion ad Laurentium, hfst. 101 (MPL 40:279 e.v.). Calvyn verwys hier woordgetrou na Augustinus.
  57. ^ Ps. 111:2 (110:2 Vg.). Vir die verklaring van hierdie woorde van Augustinus kyk sy Enchiridion, hfst. 100 (MPL 40:279 e.v.) en sy Enarratio in Ps. 110:2 (MPL 37:1464).
  58. ^ 2 Sam. 16:22.
  59. ^ 2 Sam. 16:10 (16:11).
  60. ^ 1 Kon. 12:20.
  61. ^ Hos. 8:4.
  62. ^ 2 Hos. 13:11.
  63. ^ (1 Kon. 11:27,31).
  64. ^ 1 Kon. 11:23 (11:35).
  65. ^ 1 Kon. 12:15.
  66. ^ 2 Kon. 10:7.
  67. ^ (2 Kon. 10:9).
  68. ^ Augustinus, Ep. 93.2.7 (MPL 33:324; CSEL 34:451).
  69. ^ Augustinus, De gratia et libero arbitrio ad Valentinum 21.42 (MPL 44:907).Augustinus, Enarr. in Ps. 61:22: Discutit Deus quid quisque voluerit, non quid potuerit (MPL 36:746; CCSL 39:791). In sy kommentaar op 1Joh. 4:9 (in Ep. Ioannis ad Parthostract. 7.7) sê Augustinus dat dit nie op die daad self aankom nie maar op die gees en wil waarmee dit gedoen word: Non quid faciat homo considerandum est, sed quo animo etvoluntate faciat (MPL 35:2033).
  70. ^ Augustinus, Enarr. in Ps. 61:22: Discutit Dëus quid quisque ooluerit, non quidpotuerit (MPL 36:746; eest 39:791). In sy kommentaar op 1 Joh. 4:9 (in Ep. Ioannis ad Partbos tract. 7.7) sê Augustinus dat dit nie op die daad self aankom nie maar op die gees en wil waarmee dit gedoen word: Non quidfaciat homo considerandum est, sedquo animo et ooluntate faciat (MPL 35:2033).