Bron: Kompas, 2006. 2 bladsye.

Internetseks

‘Dit is ʼn nuwe gier. Almal doen dit! Van jong tieners tot pensioenarisse: om voor die internet jou klere uit te trek en virtueel te “flirt”. In die laaste tyd sien ons steeds meer berigte in koerante van hierdie en soortgelyke sedelose aktiwiteite. Seks in ruil vir ʼn “breezer”, “dokter-dokter speel” via MSN en die afneem van sekere aktiwiteite met selfone (met as doel om dit aan vriende by die skool te wys) is aan die orde van die dag.’ Dit is die kern van ʼn bydrae deur Rogier Havelaar in die Nederlandse koerant Centraal Weekblad van 19 Mei 2006.

“ʼn Nuwe seksuele rewolusie’, so het navorsers onlangs verwys na al die ontwikkelings wat plaasvind rondom veral die skimagtige, eiesoortige wêreld wat die internet in die laaste jare aan jonk en oud bied. Havelaar (voorsitter van ʼn Christelike jeugorganisasie) het die volgende kommentaar hierop gelewer:

Onlangs het die organisasies Netwerk en Nova aandag bestee aan die sogenaamde ‘M-generasie’: die multimedia-generasie. Gesels op die internet, MSN, MMS en SMS is onskuldige woorde om hierdie verskynsel te beskryf. Agter hierdie woorde skuil egter ʼn hele wêreld met sy eie gevare: deur sekere webwerwe kom jongmense in kontak met mekaar oor onderwerpe wat vir hulle interessant is: uitgaan, kleredrag, maar veral seks. Die jeug het ʼn eie kultuur waarvan die ouers niks verstaan nie. Slegs ʼn paar jaar gelede het die meeste van die jeug maar hul eerste selfoon gekry. ʼn Tyd toe veral van die ouer mense gewonder het hoe om bv ’n kompakskyf in ʼn rekenaar te sit. Die tyd het egter vinnig verander, en selfs oumas van 70, 80 jaar stuur flink boodskappe per SMS en e-pos.

Maar dit lyk asof ouers steeds nie veel verstaan van die jeugkultuur op die internet nie. Die polisie en internetverskaffers sien eers probleme wanneer jongmense onder die ouderdom van 18 jaar hul klere uittrek of mekaar uitdaag om dit te doen. Die probleem begin egter al voor dit. Dit kan reeds as ʼn groot probleem beskou word wanneer jongmense 2 tot 4 uur per dag voor die rekenaar sit om met mekaar te klets. Verder is die tipe webwerwe – van hulle is narcisties gerig – ʼn probleem.

Dit is ongesond dat jongmense tussen 12 en 25 jaar vir ure voor die rekenaar sit om te klets met ʼn meisie of ʼn seun wat ʼn paar kilometer verder woon. Die persoonlike webwerwe bevat dikwels uitdagende foto’s wat gerig is op blootstelling van individue met as doel die oes van komplimente.

Die oorsaak van die probleem is geleë in die feit dat jongmense dikwels eensaam is. Hulle verkeer in ʼn identiteitskrisis, voel dat hul ouers of ander in hul omgewing hulle nie hoor nie en vlug daarom weg in die universele wêreld van die internet. Op die internet is elkeen se lewe lekker en interessant, altans, so lyk dit. Ten slotte is dit natuurlik spannend om te kyk hoe ver die onbekende persoon aan die ander kant van die skerm waag om te gaan.

Dat daar ʼn probleem is, sal niemand ontken nie. Dat die samelewing behep is met seks, word deur ʼn aantal mense as oordrewe beskou. Dat die jeug dreig om die pad byster te raak, word al gesê vanaf die tyd van Plato. Die belangrike verskil met die hele geskiedenis voor die aanvang van die M-generasie is egter dat die jeug voorheen as ʼn groep gefunksioneer het en dinge gedoen het soos toktokkie speel en ander redelik onskuldige kattekwaad. Die M-generasie daarenteen is gerig op die eie ego. Wat dink mense van my? Wie trek vir my sy klere uit en vir wie sal ek dit doen? Die jeug doen nie meer dinge saam op straat nie, maar elkeen in sy eie slaapkamer met die gordyne toe en die deur gesluit.

Die anonimiteit rondom die internetgebruik moet verwyder word. Dit kan op drie vlakke gebeur. In die eerste plek: plaas die rekenaar in die leefvertrek van die huis, nie in ʼn donker hoekie of die kleinste kamertjie nie. As dit nie daar inpas nie, oorweeg ʼn skootrekenaar, maar nie een wat draadloos is nie, anders gaan sit u kind steeds eenkant daarmee. In die tweede plek: privaatheid is goed, ook op die internet. Maar as dit duidelik word dat daar misbruik is, moet dit moontlik wees om in te gryp. Sorg daarvoor dat jy weet watter mense hul op bepaalde webwerwe bevind en tree op teen ekstremiste (bv ou mans wat jong meisies uitlok). In die derde plek sal dit goed wees as internetverskaffers, net soos met die telefoonrekening, maandeliks ʼn oorsig van webwerwe wat besoek is, aan internetgebruikers kan stuur. Ouers sal dan swart op wit kan sien waar hul kinders ge“surf” het.

Maar om die anonimiteit rondom die internet te verwyder sal alleen nog nie die probleem oplos nie; dit neem nie die behoefte aan komplimente, spanning en sensasie weg nie. Daardie behoefte en die soeke na erkenning is ongelukkig kenmerke van ons postmoderne, individualistiese samelewing en is daarom moeilik om te ondervang. Dit is dus ʼn maatskaplike probleem wat nie sommer maklik opgelos word nie. Sonder om ʼn beskuldigende vinger te wys: ouers, vra julself af hoekom ook jul kinders hierdie behoeftes het. Dalk kan die probleem binne u eie mure opgelos word.