Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 2:1-13 - Sonder Aansien van die Persoon

Suiwer en onbevlekte diens voor God is dit: om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek. Dit is seker vir ons duidelik.Maar wat as ons in reaksie op sulke mense se omstandighede, eers die persoon aansien?

Hierdie saak lê Jakobus na aan die hart en het alles te doen met die onderrig van ons Here Jesus. Dit gaan hier oor egte naasteliefde, op ʼn manier wat eintlik nie so gemaklik en natuurlik vir ons kom nie. Ons moet verseker weet dat, om in die Here Jesus Christus te glo, nie kan saamgaan met aansien van die persoon nie. Ons moet teen dié kwaad stry.

Die Here Jesus word hier die Here van die heerlikheid genoem. Dit is ʼn Goddelike titel wat Hom toekom, want Hy is die Seun van God. Ons moet wat Jakobus hier sê baie ernstig opneem, want dit is die onderrig van hierdie Here wat hy oordra.

Die onderrig gaan oor ʼn soort diskriminasie, naamlik minagting van die armes en eerbetoon aan die rykes.

Diskriminasie🔗

Ons kom ʼn kerkgebou van destyds binne. Daar is maar min sitplekke en net die vooraanstaandes het stoele. Die res van die gemeente staan, of sit op die grond. Nou kom daar ʼn man van aansien binne. Hy dra mooi klere en versiersels. Of hy gelowig of ongelowig is, weet ons nie, maar hy word met eerbied ontvang. Dan kom ʼn arm mens in, weereens herkenbaar aan sy klere, skamel en vuil. Hy word met baie minder eerbied ontvang. Die ryk man kry ʼn ereplek, ʼn goeie sitplek. Die arme moet maar op die grond sit.

Die onderskeid wat hier gemaak word, is verkeerd. Jy oordeel sleg soos `n slegte regter. As armes en rykes verskillend behandel word, raak die gemeente op die manier onderling verdeeld. Ons moet besef dat God in sulke gevalle heeltemal anders oordeel. Die Seun van God leer dit duidelik.

Jakobus neem dit baie ernstig op. Hy praat nadruklik en met bewoënheid: “Luister, my geliefde broeders . . . “ God het die armes uitverkies. Die broeders kan dit maar net beaam. Uit vrye genade kies God mense uit diegene wat deur die wêreld verbygegaan word. Hulle is deur die geloof erfgename in Christus en saam met Christus beërf hulle die Koninkryk.

Die gemeente het destyds grotendeels uit armes bestaan — “nie baie magtiges, nie baie edeles nie” (1 Korintiërs 1:26). Net enkeles, soos Josef van Arimathéa, of Cornelius, was ryk.

In die gemeente mag daar nie ’n onderskeid tussen arm en ryk bestaan nie, want God wil nie dat daar só oor mense geoordeel  word nie.

Onreg Teenoor die Volk van God🔗

Deur so ’n onderskeid kry die armes nie die nodige respek nie. Die gebod van die naasteliefde word só oortree. Die armes is ook dikwels diegene wat bedroë daarvan afkom wanneer die ryk klas die gereg tot hulle eie voordeel draai. Die rykes in die gemeente was nie veronderstel om dit te doen nie, maar in die samelewing het dit wel plaasgevind. Daar is baie pynlike voorbeelde hiervan. Die Here het die gelykenis vertel van die onregverdige regter, en die profete het ook al daarvan gepraat.

Heidense maghebbers, lede van dié hoë klas, het die Christene vir hulle geloof in die Here Jesus Christus vervolg. En het die Sanhedrin, ook van dié klas, dit nie verbied om in die naam van Jesus Christus te spreek nie? Hulle het verkeerde dinge oor die Seun van God en sy dissipels gesê, en op die manier die naam van Jesus gelaster.

Deur die rykes wêrelds te vereer en die armes wêrelds te verag, sondig ’n mens teen die liefdesgebod. Die Here Jesus self het die hoofsom van die wet en die profete gegee. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” is dus ʼn koninklike gebod. Om armes te verag en net rykes te eerbiedig, gaan hierteen in. Daarom is hierdie vorm van aansien van die persoon sonde.

Die Hele Wet🔗

Ons mag  hiermee nie handel asof dit van minder belang is nie. In die eerste plek is dit die onderrig van ons Here Jesus self. Verder is hierdie hoofsom van die wet ’n koninklike gebod. Derdens is die oortreding van één gebod immers gelyk aan die skending van die hele wet. Daar is één Wetgewer met één goddelike wil en om dit op één punt teen te gaan, is gelyk aan skending van die één wil.

As voorbeelde voer Jakobus egbreuk en doodslag aan. Dit is vir ons normaal  om dit as groot sondes te beskou. Die moordenaar en die egbreker het altwee die wet van God oortree en nou kan ons nie sê dat dit wat ons verkeerd doen minder ernstig is nie. Wat vir egbreuk en doodslag geld, geld vir al die gebooie, ook vir die koninklike gebod. Dit gaan teen die wil van God in; dit is uitermate ernstig.

Die onderrig en die offer van die Here Jesus bring ons na vryheid. Die wet wat Hy ons leer, waarvan die liefdesgebod die hoofsom is, is die wet van vryheid. Wanneer ons deur die werk van Christus vry geword het, sal ons volkome na dié wet lewe. Dit sal ons ideaal in die lewe wees. Ons sal ook ooreenkomstig die gebod geoordeel word. Die gelykenis van die skape en die bokke is hier ter sake.

Jakobus sluit met ’n algemene vermaning af. God se oordeel is onbarmhartig oor die onbarmhartige. Dit sluit aan by wat die Here Jesus sê: “Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word” (Matteus 7:2).

Is ’n onregverdige onderskeid tussen armes en rykes nie ’n onbarmhartige oordeel nie?