Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 2:14-26 - Vrugbare Geloof

Die apostel Paulus praat in sy brief aan die Romeine oor Abraham wat geregverdig is deur sy geloof. In sý brief sê Jakobus dat Abraham geregverdig is uit die werke. Hierdie (skynbare) teenstelling het teoloë eeue lank besig gehou.

Allerhande gedagtes is al geopper om hierdie probleem op te los. Van die idee dat Jakobus vir Paulus wou korrigeer moet ons vergeet. Die Heilige Gees leer ons nie teenstrydighede nie.

Ons wil dit stel dat vir Jakobus geloof die allerbelangrikste is, en wel die geloof in ons Here Jesus Christus (Jakobus 2:1). Dié geloof kan egter nie sonder barmhartigheid wees nie, want dan is dit nie ʼn saligmakende geloof nie, en wag daar ʼn vreeslike oordeel (Jakobus 2:13). ‘Geloof’ en ‘oordeel’ is die sleutelbegrippe wat die verband tussen hierdie deel (vs. 14-16) en die vorige dele vorm.

Vrugteloos🔗

As ons sê dat ons geloof het, maar dit bly by praat en daar is nie by ons barmhartigheid en liefdeswerke nie, dan het so `n geloof geen nut nie en sal die oordeel oor ons voor God se gerig onafwendbaar wees; want dit is nie ʼn lewende geloof nie; dit kan nie salig maak nie.

Die nutteloosheid van so ʼn geloof moet verduidelik word, en daarom hou Jakobus ʼn teoretiese geval voor. Daar is ʼn broeder of suster wat weens gebrek aan klere of daaglikse ete, in nood is. Dit is onmoontlik dat ons so ʼn broeder of suster wegstuur sonder om te help. Die gebed van die Here het dit mos al geleer. Jy kan nie bid “gee ons vandag ons daaglikse brood” en ander dan sonder hulp wegstuur as jy in ʼn posisie is om te help nie.

Miskien sê jy — en bedoel dit dalk ook — dat die ander maar vir hulleself kan sorg. Jy kan nie maar net die ander vriendelik op die skouer klop en sê dat hulle maar hulle daaglikse nood na die Here toe moet bring nie. Hoe goed bedoel dit ook mag wees, het sulke woorde geen nut nie. Net so min het geloof wat nie dade van liefde voortbring, enige nut nie. So ʼn geloof is dood, vrugteloos, en nie ʼn ware geloof nie.

Jakobus bring dan ʼn denkbeeldige spreker in die prentjie, wat dit wat Jakobus sê nog verder voer. Jakobus stel `n dooie geloof en werke wat die vrugte is van `n lewende geloof teenoormekaar, terwyl die denkbeeldige spreker ten onregte geloof en werke van mekaar losmaak en dié teenoormekaar stel. ‘Jy het die geloof, ek het die werke’.

Ons kan dit egter nie só teenoormekaar stel nie. Dit hoort bymekaar: geloof sonder werke is onsigbaar, word nie bewys nie. Werke op sigself is ook weer niks as dit nie uit geloof voortkom nie. Iemand kan byvoorbeeld sê dat daar geloof is, al kan jy dit nie sien omdat daar nie werke is nie. ‘Hoor, ek bely dat daar net één God is’. ʼn Belangrike belydenis, ja; maar as dit daarby bly, wéét dan dat die duiwels ook glo dat daar net één God is. Hulle kan nie anders nie, want daar ís net een God. Hulle weet van God, maar hulle het geen band met Hom nie. Hulle is ontsettend bang vir Hom, want hulle weet hoe dit met hulle gaan afloop.

Laat ons dan oortuig wees dat geloof sonder werke ʼn dooie geloof is, ʼn geloof sonder vrugte. `n Lewende geloof bring vrugte voort. Enigeen wat dink dat dit nie so is nie, het ʼn leemte in sy kennis van God.

Abraham🔗

Ons word genooi om te kyk na die voorbeeld van Abraham, toe hy Isak sou offer. Isak was die seun wat aan hom belowe is as sy nageslag en as voorvader van verdere geslagte. Abraham het geglo dat God sy belofte gestand sou doen. Uit dié geloof kom sy bereidheid om sy seun te offer. Sy geloof lei tot sy werke. As die werke uit die geloof voortkom, kom die geloof tot sy doel.

Reeds voordat Abraham vir Isak na die altaar bring, is sy geloof hom tot geregtigheid gereken. Dit het opnuut geblyk toe hy gewillig was om Isak te offer. Daar word tereg gesê dat Abraham ʼn vriend van God was. God behandel hom dan ook so.

Konklusie🔗

Vir Jakobus is daar geen twyfel aan sy gevolgtrekking nie. ʼn Mens word geregverdig uit die werke en nie uit die geloof alleen nie. Dit lyk asof dit in stryd is met wat Paulus sê, maar Paulus praat oor “werke van die wet” en Jakobus praat van werke as vrugte van die geloof. Jakobus sê duidelik: nie alléén uit die geloof nie. Wat Jakobus bedoel is: óók uit die geloof. Dit gaan in die eerste plek oor die geloof, anders sou daar nie vrugte kon wees nie. Dié vrugte kan ons net sien as daar liefdeswerke is. Sonder die vrugte is die geloof dood, en deur ʼn dooie geloof kan mens nie geregverdig word nie. Die werke van die wet waarvan Paulus praat, is om deur eie inspanning iets te presteer en te verdien. Paulus skryf ook dat dit oor ʼn lewende geloof moet gaan. Lees byvoorbeeld Romeine 6. Jakobus en Paulus spreek mekaar nie teë nie.

Jakobus gee nog ʼn voorbeeld. Ragab, die prostituut van Jerigo, glo in God en sy wys dit deur nie die verspieders te verraai nie, maar hulle te help. Sy het God gevrees en wou gered word. Dit vra sy en sy word gered. Daar was dus vrugte van die geloof en so word sy gered. Ook in hierdie verhaal gaan dit oor ʼn ware, lewende, vrugbare geloof.

Ten slotte vergelyk Jakobus die geloof met ʼn liggaam. ʼn Liggaam sonder siel is dood, dit bring nie geestelike produkte voort nie. Net so is ʼn geloof wat nie werke voortbring nie.  Dit is nie lewend nie, maar dood.