Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 3:1-12 - Gevaarlike Tonge

Tot dusver het Jakobus ʼn paar dinge gesê oor dit wat pas by die manier van lewe van hulle wat in die Here Jesus glo; byvoorbeeld dat dit in die geloof nie net gaan oor hoor en praat nie, maar ook oor dade, dit wil sê vrugte van die geloof. Dit geld ook vir ons manier van praat. Ons moet nie net ons tonge in toom hou nie, (1:26), maar ons praat én ons doen moet ooreenkomstig die wet van die vryheid wees (2:12). Nie net ons praat nie, maar óók ons doen, sê Jakobus (2:14).

Hierdie is ʼn onderwerp van heftige debat. Word ons geregverdig deur geloof of deur werke? Mense wat die leer van Paulus skeeftrek tree in gesprek met hulle wat die wet beklemtoon. Wat Jakobus sê is dít: Ons word deur ʼn lewende geloof geregverdig en in die lewe vanuit die geloof moet dit dan ook sigbaar wees (2:20,26).

Die kans is goed dat Jakobus in sy gedagtes ʼn klomp mense voor hom sien wat ʼn heftige debat voer, kerklidmate wat opgewonde elkeen hulle eie standpunt wil laat geld. Sulke heftigheid kan gemeentes laat skade lei.

Woorde is snaakse goed. Terwyl die woorde lankal nie meer gehoor word nie, kan hulle versperrings agterlaat wat later moeilik oorbrug kan word. Ons kan verstaan dat Jakobus ons wil laat nadink oor die manier waarop ons ons tonge gebruik.

Leermeesters🔗

Dit is opvallend dat Jakobus ons vermaan om nie almal leermeesters te wil wees nie. Dit was in sy tyd ʼn algemene gebruik dat rondreisende “leermeesters” hulle boodskap in sinagoges en Christelike gemeentes gebring het en daar ook gewillige hoorders gekry het. Dit het probleme veroorsaak. Paulus het die skadelike gevolge in die gemeentes van die Galasiërs gesien (Galasiërs 1:7). Petrus waarsku ook teen valse leraars (2 Petrus 2:1). So ook Johannes (1 Johannes 4:1) en Judas (vs. 4). Daar is natuurlik ook goeie predikers, getroue leermeesters, maar ook rondom hulle boodskap kan daar in die gemeentes heftige debat ontstaan.

Jakobus is deeglik daarvan bewus dat hy ook ʼn leermeester is én daarom ook van die groot verantwoordelikheid wat hy dra. Leermeesters moet nooit vergeet dat hulle voor die Here verantwoording sal moet doen nie. Hy wat ʼn mening wil verdedig en dit heftig en met nadruk wil beklemtoon, moet die groot gevaar daaraan verbonde goed besef. Ons moet onsself nooit oorskat nie. Ons bly altyd mense wat moet stry teen allerlei verleiding en elke kind van God moet dankbaar wees dat daar in Christus vergewing en versoening is. As ons aan onsself oorgelaat word, loop dinge baie vinnig vir ons skeef.

Ons moet besef hoe maklik ons val, en veral hoe maklik ons deur ons woorde tot ʼn val kom, wanneer ʼn gesprek heftig word. Die vermaning om op ons tong te let, geld natuurlik nie net vir teologiese gesprekke nie. Wie nooit iets verkeerds gesê het nie, of iets op ʼn verkeerde manier gesê het nie, sou volmaak wees. Dan sou inderdaad alles van jouself onder beheer gewees het.

Brandgevaar🔗

Jakobus laat nou met ʼn paar voorbeelde sien hoe gevaarlik ʼn tong kan wees. Ons kan met klein voorwerpe groot sake bestuur. ʼn Behendige mens kan met die stang in ʼn perd se bek die dier van rigting laat verander of met ʼn roer ʼn skip in 'n ander koers stuur.

Met die tong is dit egter anders. Dit lyk dikwels asof die tong sy eie gang gaan. Die kleine tong kan sulke groot woorde sê en oppas as dit dan verkeerd loop; dan is dit soos ʼn klein vlammetjie wat maklik ʼn groot brand stig. Die onbewaakte tong is ʼn brandgevaar. Besef tog telkens weer wat dit is wat die tong aandryf en wat met die tong veroorsaak kan word. Kyk wat die tong in die slegte wêreld rondom jou aangerig het.

Ons tong het ʼn besondere funksie in ons lewe. Wat ʼn enorme invloed het dit nie in vergelyking met die ander liggaamsdele nie. Dit kan die hele liggaam saamsleep in die ellende wat dit veroorsaak. Alles raak in dié sonde betrokke. As jy jou lewe vergelyk met ʼn draaiende wiel: opstaan, blink en versink; gebore word, groei, kinders verwek geslag na geslag. Dink net wat die tong alles in dié proses aan die brand steek.

Konsekwent🔗

Die mens het in die loop van die tyd van alles getem, selfs wilde diere van alle soorte, maar sy eie tong het hy nie onder beheer nie. Watter kwaad word daar nie met die tong aangerig nie. Ons kan ook so inkonsekwent wees. Ons gebruik die tong vir alles. Ons sing liedere waarin ons die Here loof, maar uit dieselfde mond rig ons verwensings aan ons medemens — skepsels van dieselfde God, geskape na sy beeld. Terwyl God voordurend omgee vir sy maaksel, kan ons in ʼn rusie ʼn heftige uitval hê en die vreeslikste dinge vir mekaar sê.

Die meeste mense sien dit nie so ernstig in nie. Ook Christene wissel hulle lofprysing aan God af met skerp woorde teen mense wat Hy geskape het. ʼn Mens sou dink dit is heeltemal normaal, maar ons moet besef dat so iets abnormaal is en glad nie mag gebeur nie. Daar kan nie uit dieselfde fontein soet én bitter water kom nie. Ons moet ook nie uit dieselfde mond soet én bitter woorde laat kom nie. Ons sien dit ook in ander voorbeelde uit die natuur. Bome dra vrugte wat by hulle pas. Só moet daar ook uit ons mond net dit kom wat by die geloof in ons Here en Saligmaker pas. Het Hy ons nie geleer nie: “Want uit die oorvloed van die hart praat die mond”? (lees Matteus 12:33-37).

Ons glo in Hom — laat dit duidelik word.