Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 4:11-17 - Ken Jou Plek

Lees Jakobus 4:11-17

Hoogmoed is ʼn moeilike sonde om teen te stry. Dit sou goed wees as ons elkeen ons eie plek in die wêreld geken het en as ons in ooreenstemming daarmee sou lewe en praat. Maar wie sal ons dié kennis gee en wie sal ons leer om dit in die praktyk toe te pas?

Dit is net die Here wat die hele wêreld in sy volledige samehang sien. Hy weet wat ons plek in die skepping is én Hy sien wat verkeerd loop omdat baie hulle nie by dié plek hou nie.

Ons lees in Jakobus van gemeentelede wat mekaar belaster omdat hulle nie die wet sou onderhou nie. Dit is een manier van kwaadspreek. Gewoonlik is kwaadspreek of laster dat jy die ander swartsmeer deur (ten regte of ten onregte) lelike dinge van die persoon te vertel. Dit is verkeerd en ons moet dit ernstig as sonde leer ken.

Oordeel🔗

Die beskuldiging van die een teen die ander dat hulle nie die wet van God sou onderhou nie - Jakobus wys daarop in vers 12 – is net so verkeerd. Ons mag dalk dink dat dit nie verkeerd is nie, want jy moet tog kan sê of die wet onderhou is, al dan nie. Dit kan egter op ʼn verkeerde manier gedoen word. Wanneer jy met groot nadruk vertel dat ʼn broeder nie die wet onderhou nie, smeer jy hom swart. Al is jy miskien reg en onderhou hy ook nie die wet nie, is dit kwaadsprekery. Boonop het jy dalk die wet op jou eie manier uitgelê en daarmee ook nog ten onregte kwaad gespreek.

Jakobus wys dit, in die lig van die hele Bybel, af. Dit is kwaadsprekery én dit is hoogmoed. Hy wat ʼn ander só beskuldig, stel homself bo die wet. Natuurlik is dit nodig om dit wat die Here in sy wet wil of nie wil nie, suiwer vir mekaar uiteen te sit. ʼn Mens moet daaroor kan praat, maar dan met die regte gesindheid. As ons in konflik die vinger na die ander wys, mis ons dié gesindheid.

Ons moet in hierdie verband die stryd wat in die tyd van Jakobus gevoer is, in gedagte hou. Christene van Farisese afkoms het aangedring op handhawing van die wet soos húlle dit gewoond was en het daarmee in baie gemeentes onrus veroorsaak. Hulle het hulle medebroeders daarvan beskuldig dat hulle die wet nie onderhou nie. Uit Handelinge 15 blyk egter dat die apostels anders hieroor gedink het. Jakobus ontmasker hierdie beskuldigings dan ook as laster en hoogmoed.

Ook vir ons dreig hierdie gevaar. Wanneer ons byvoorbeeld ander afkraak omdat hulle in minder belangrike sake hul anders as ons gedra en ons dan beweer dat hulle nie God se wet onderhou nie. Dan doen ons wat God hier by monde van Jakobus afwys. Dan stel ons onsself bó die wet en nie onder die wet nie en sê ons as regters hoe die wet moet wees. Dit is nie ons plek nie.

God alleen het die reg om te bepaal wat die wet is. Hy skenk genade aan sondaars, om Christus wil. Hy wil dit doen en Hy mag dit doen. Hy het ook die reg om almal wat aan sy wet hardnekkig ongehoorsaam is, te straf. Dit is sý plek om te bepaal wat die wet moet wees, nie ons s’n nie. Ons mag nooit probeer om sy plek in te neem nie. Wat verbeel ons ons dan, wanneer ons ander daarvan beskuldig dat hulle die wet nie onderhou nie, terwyl ons ons eie vereistes stel en met ʼn verkeerde gesindheid optree?

Planne Maak🔗

Jakobus noem vervolgens ʼn heel ander geval, maar ook daarby is hoogmoed die sleutelbegrip. Dit gaan oor die manier waarop ons planne maak.

Ons lees van ʼn selfversekerde handelaar wat daarop uit is om geld te maak en in die proses heeltemal sy plek vergeet. Sy uitsprake én die toon daarvan is heeltemal onvanpas.

As hy sou gesê het: ‘Kom ons gaan more na die en die stad (Rome, of Alexandrië). Laat ons ʼn jaar daar bly en handel dryf, miskien kan ons iets verdien’, sou sy gesindheid miskien anders gewees het. Nou sê hy: “Ons sál na die en die stad gaan. . . !“, asof hy oor alles in beheer is. ‘Ons sál na Alexandrië gaan. Ons sál daar bly. Ons sál daar handel dryf en, uiteraard, wins maak’.

Daar is nie beswaar teen planne maak nie. ’n Wyse man hou by ’n agenda. Die manier waarop dit gebeur is egter van belang. Is dit in ons hande of ons more nog lewe? Nee. Baie dinge kan gebeur. Ons is net soos rook en damp wat verdwyn. Op ’n bepaalde oomblik is ons nie meer nie, en dit kan skielik gebeur.

Kinders van God🔗

Om te dink dat ons alles kan bestuur dui op ons hoogmoed. Ons kan nie altyd sê: so sal dit gebeur nie. Wie so sê, ken nie sy plek nie. As God se kinders moet ons volgens Sy wil lewe. Die wil van God is nie maar ’n wisselvalligheid wat ons oorkom nie. Die kinders van God kan die wil van hulle Vader verlangend vertrou, om Hom na sy wil te dien. Die Christelike handelaar kom nie uit sy eie op ’n plek om daar ‘vanselfsprekend’ geld te maak nie. Hy kom daar en sien sy verblyf as ’n moontlikheid om geld te verdien. Hy kan dit doen as hy sy beroep beoefen en as die Here sy werk daar seën. Om voor te gee dat ons God nie hoef te erken nie, is hoogmoed. Hierdie is nie bysake nie. Dit gaan oor ’n sondige manier van lewe. Hoogmoedige pratery soos in vers 13 is sleg.

Met hierdie duidelike uiteensetting kan jy jou nie meer op ’n verskoning van onkunde beroep nie. Ons het geen verontskuldiging meer nie. Laat ons daarom wys wees, ons plek ken, en nie hoogmoedige uitsprake maak nie, want dit word ons tot sonde gereken. Met sonde moet ons op die regte manier omgaan; ons daarvan bekeer, vergewing vra aan elkeen teen wie ons gesondig het en soek na die vrede in Christus.