Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 5:12-20 - Nie Groot Woorde Nie

Jakobus het in sy brief heelwat sake bespreek wat almal te make het met onverdeelde oorgawe aan die Here, of dan ook die versuim van so ʼn oorgawe aan die Here. Nou gaan hy afrond en hy noem ʼn paar situasies waarin ʼn volgeling van Jesus Christus totaal anders optree as ʼn mens van die wêreld.

Mense is dikwels besig om bose magte af te weer of goeie magte te betrek. Die Here het ons in sy Woord geleer dat sy volk op sy sorg moet vertrou en nie by ander magte hulp moet soek nie. Ons het nie kragwoorde, beswerings en gebede - anders as tot God - nodig nie. Jakobus gee voorbeelde van hoe ons daarna moet soek in onverdeelde oorgawe aan die Here.

Waarheid🔗

Dit is nie vir ons nodig om met groot woorde te sweer dat ons die waarheid praat nie. Ons kan aanvaar dat Jakobus nie hier van amptelike ede praat nie. Dit gaan by hom oor groot woorde wat ons in ons omgang met mekaar gebruik. Ons moet dit nie doen nie. As ons opreg is, kan ons buurman op ons vertrou. Dan is ja bloot ja en nee altyd nee. By die gebruik van groot woorde dreig die sonde; van misbruik van God se Naam; om Hom aan te roep as ons nie van plan is om by ons woord te bly nie; om die Here te bedroef met kragwoorde en beswerings. Met sulke woorde roep ons ʼn oordeel op ons af.

Sorge🔗

Wanneer daar swaarkry kom, kan ons ons eenvoudig op God se sorg beroep. Wanneer ons met dankbaarheid sien hoedat ons geseënd is, van baie sorge gespaar bly, moet ons die Here daarvoor loof, ook in ons lied.

As ons siek word, moet ons ook nie, soos die heidene, allerlei magte besweer of aanroep nie. Ons moet die pad loop wat God ons wys. Die manier wat Jakobus hier aan ons voorhou is ietwat problematies. Ons het min gegewens om presies te weet wat sy advies inhou. Olyfolie, soms gemeng met speserye, was algemeen as medisyne gebruik. Ons kan dus oënskynlik sê dat ons ons medisyne moet gebruik en die voorbidding van die gemeente vra. Dit sou die regte weg wees, sonder kragwoorde en verkeerde beswerings, soekend na en vertrouend op die sorg van God.

Die kans is egter goed dat Jakobus hier iets anders bedoel. Nie enigeen moet salf nie. Die ouderlinge van die gemeente word geroep. Hulle moet salf in die Naam van die Here. Hulle moet in opregte eerbied die magtige God om sy sorg aanroep en dit uitbeeld deur die gebruik van die salfolie. Ons moet nie “ ʼn besonder begaafde” persoon of ʼn halwe towenaar byroep nie, maar hulle wat regtens in die gemeente leiding gee. Dit is ook nie hulle salwing wat genees nie, maar God se antwoord op die gebed. Ons moet ook nie probeer om met kragwoorde te bid nie. Ons vra eenvoudig God se hulp. So kom die genesing.

Jakobus voorsien die moontlikheid dat die siekte die gevolg is van ʼn sondige lewensstyl. Dit moet ook, as ons ons plek voor God ken, in gebed voor God gebring word. Die Here is, om Christus wil, bereid om te vergewe. Daarop moet ons vertrou. Omdat ons ons sondes nie mag verswyg nie, moet ons hulle bely. Die ouderlinge kan nie bid as die sieke allerlei dinge verborge hou nie. Dié dinge moet openbaar word. Dan kan opreg gebid word, sonder dat dit ʼn skynvertoning word. Dit sou verskriklik wees as ons die ouderlinge laat bid, terwyl ons nie self opreg wil wees nie. Dan kan jy ook nie genesing verwag nie.

Die Here is bereid om die gebede van sy kinders te verhoor. Ons moet dit in alle eenvoud vra. Dat ons gebed verhoor word, is nie deur ons regverdigheid nie, maar deur die bereidheid van God. ʼn Regverdige sal daarvan terugdeins om God te mislei, daarom moet ons hulle wat vir ons bid ook nie mislei nie.

Jakobus gee as voorbeeld die gebede van Elia. Hy het aansien gehad, maar dit was nie die rede hoekom God hom verhoor het nie. Dit het by Elia om die eer van God gegaan toe hy vir droogte gevra het - as ʼn duidelike teken van God se toorn oor Agab en Israel. Dit het by hom ook om die eer van God gegaan toe hy vir reën gebid het om daarmee die mag van God teenoor die onmag van Baäl te demonstreer.

Mekaar Opskerp🔗

Ten slotte roep Jakobus ons op om mekaar op te skerp. Om van die waarheid af te dwaal is om van die onderrig van die Here Jesus af te dwaal. In die hele brief het Jakobus ons daarop gewys dat die onderrig van die Here in die daaglikse lewe van Christene nodig is. Ons hoef daarom nie hier te dink aan die navolging van ʼn dwaalleraar nie, maar dit gaan daaroor om nie die leer van Christus uit die oog te verloor nie. Wanneer ons dit by mekaar opmerk, moet ons liefdevol met mekaar daaroor praat. Ons mag onsself nie bo mekaar of bo die wet van God stel nie. Ons moet mekaar aan die onderrig van die Here Jesus herinner. Jakobus doen in sy brief niks anders nie.

Bekering is ʼn groot seën. Om die weg van Christus te verlaat, eindig in die ewige dood. Terugkeer agter Christus aan, lei tot die ewige lewe. Ons vertrou dat baie sondes om Christus ontwil vergewe word. Sy dood is immers ʼn volkome versoening van álle sondes vir elkeen wat deur Hom vrygekoop is.

Só, eenvoudig en met onverdeelde oorgawe, moet ons biddend agter Christus aankom. Dan het ons nie groot woorde nodig nie, want die Here sorg vir ons.