Bron: Kerk en Woord. 2 bladsye.

Jeremia 31:31-34 - Pinkster: in 'n Nuwe Verbond met die Here

...’n nuwe verbond... Ek gee my wet in hulle binneste... en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees..

Jer 31:31-34

Jeremia verwys in Jer 31:32 na God se verbond met Israel by Sinai.

Daar het die HERE Israel ontsaglik bevoorreg: Hy het Sy Naam aan haar verbind, Homself verbind om haar God te wees en Israel sy volk te maak.

By Sinai het Hy in ’n blywende huweliksverhouding met Israel getree.

Hy het dié volk in Egipte aan die hand gegryp en haar in vryheid uitgelei.

Jeremia sê: Die HERE was vir dié volk haar “baal”, d.w.s. haar heer, haar gebieder. Die woord verwys na ’n intieme huweliksband - soos wat Sara met haar heer, Abraham gehad het, 1 Pet 3:6.

Israel het haar Redder, haar Man, se liefde egter vertrap. Sy, die bruid, het van haar Man, die HERE weggeloop, soos ’n slegte vrou. Haar houding was deurgaans een van ontrou, van afval, van geestelike hoerery. Dit was Israel se antwoord op God se liefde. Israel het voortdurend haar huweliksverbond met God verbreek. Hosea moes dit met sy eie lewe afbeeld.

Die boek Jeremia was vir hierdie ontroue bruid, Israel, één volgehoue waarskuwing: God gaan sy oordeelsdreigings (Deut 28) uitvoer as julle jul nie bekeer nie. Hoe nader die wegvoering na Babel gekom het, hoe dreigender was Jeremia se preke. Hy het self daarvan inmekaar gekrimp!

Maar Jeremia het ook God se genade gepreek, al was dit net vir ’n klein oorblyfseltjie uit die tien en die twee stamme. Met hulle sou die HERE ’n nuwe begin maak! Jer. 31:10 vat dit so saam: Die Groot Herder van Israel versamel weer sy kudde. Hy bring hulle terug in hulle land.

En mees verrassende nog is: Die HERE sluit dan met die huis van Israel en die huis van Juda ’n NUWE VERBOND.

Dan aanbid die Tienstammeryk die HERE nie meer by Jeróbeam se twee kultusplekke, Dan en Bet-el, en die Tweestammeryk in Jerusalem nie, maar die oorblyfsel wat die HERE terugbring, is één volk, deur die Woord saamgebind in die nuwe verbond.

Dit was dieselfde ou verbond: die kernbelofte: “Ek sal vir jou ’n God wees en jy sal my volk wees”, het presies dieselfde gebly. Maar die ou verbond is met nuwe en groter glans herstel. Die terugge­keerdes sou meer geniet as wat Israel by Sinai ontvang het. Met intensiewer krag sou God hulle aan Hom bind.

Hoe kon dit alles? Jer 31:34 gee die antwoord: “Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”

Dit is die fondament van die nuwe verbond. God se genade, sy vergewing!

Daarvoor het God sy Seun gestuur. Hom het God in ons vlees laat boet vir die sondes. So het ’n nuwe verbond met beter beloftes moontlik geword.

Daarom het die Here Jesus in die verraadsnag die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe testament (verbond) in my bloed.”

Dit wat op die Groot Versoendag deur die twee bokke afgebeeld is, het in Christus werklikheid geword. Christus is die Middelaar van ’n nuwe en beter verbond. En hierdie verbond sluit nie alleen die huis van Israel en die huis van Juda in nie, maar almal dwarsoor die wêreld wat in sy Seun glo, kry ’n plek in die nuwe verbond. Dit wat God met die terugkeer van die ou verbondsvolk uit die ballingskap begin het, loop uit in die kerk van die Nuwe Testament. God bring sy volk in ’n nuwe verbond saam uit alle volke, nasies en tale. Alles op grond van Christus se offer.

En nou verstaan ons dat die inhoud van die nuwe verbond die inhoud van die ou verbond by verre oortref: Hy gee sy wet in hulle binneste, Hy skryf dit op hulle hart, en Hy maak dat hulle almal, klein en groot, Hom ken (vs 33 en 34).

Dit is die rykdom van die Pinksterfees: In die ou bedeling was God se volk onmondig. Toe het God sy volk opgevoed deur middel van verbondsmiddelaars. Die volk is geleer deur tussengangers soos die profete en priesters. Die kennis van God en van sy Thora was in die hande van enkele “deskundiges”.

Pinkster, en die nuwe verbond, beteken: Nou gaan die HERE sy volk meer direk, meer indringend leer. Eségiël sê dit so:

En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in julle binneste.

Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem, en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. Eségiël 36:26-27.

Ook in die OT het die Heilige Gees die geloof in mense se harte gewerk. Maar sedert Pinkster werk Hy veel ryker en breër.

As die verhoogde Christus sy Heilige Gees stuur, is die priesters nie meer nodig nie. Die gemeente hoef nie meer die wet van die Here te gaan haal by die verbondsmiddelaars nie. Hulle is nie meer kinders wat geleer moet word nie. Die kerk is nie meer leke in die kennis van die Here nie.

Nou geld die woorde van 1 Joh 2:20 en 27: “Julle het die salwing van die Heilige en weet alles     … Dit is nie nodig dat iemand julle leer nie. Soos die Heilige Gees julle van die Here geleer het, so moet julle in Hom bly.”

Pinkster beteken: Die hele gemeente, groot en klein, is in alle dinge onderrig, is gesalf. Tot die swakstes weet oor Wie dit gaan. Die Heilige Gees van die verhoogde Christus kom in die prediking en kategese, in huisbesoek met beter beloftes as dié in die OT sy wet op die harte van die gemeente skryf. En so is ons sedert Pinkster Christene, profete en priesters en konings. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees in die prediking kan dit nie anders as dat ons die Here ken nie. Die Gees het Sy woord geskrywe in ons hart, d.w.s. in ons geheue.

Nou kan ons nie anders as om ons aan Hom te gee nie. Want deur sy lering kan ons seker wees van die versoening van ons sondes. Maar onthou, hierdie nuwe verbond is alleen waar as ons hierdie heerlike beloftes in die geloof aanneem. Dan staan ons in die nuwe verbond, is ons mondige mense wat hulle roeping vervul - op alle terreine van die lewe God se volk.