Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Jeremia 6:16 - Aanhou Reformeer

So spreek die HERE: wandel in die ou paaie, en julle sal rus vind vir julle siel.

Jeremia 6:16

pad in Israel

Die profeet Jeremia staan in diens van die HERE om vir die volk Israel te vertel waar hulle met hulle God staan en waar God met hulle staan. Die dae is donker as Jeremia in die Naam van die HERE oor hierdie dinge moet profeteer. Die noordelike tien stamme het God tot so ‘n mate met hulle afgodery vertoorn dat die Here hulle oorgegee het in die hand van hulle vyand. Hulle is weggevoer in ballingskap. Nou kom die laaste twee stamme aan die beurt. Hulle word voorgestel as ‘n wingerdstok wat afgeoes moet word (vers 9). Jeremia moet soos ‘n druiweplukker sorgvuldig gaan ondersoek instel of daar in die agtergeblewe twee stamme van Israel nog enige liefde vir die Here is.

Jeremia se bevinding lyk alles behalwe rooskleurig. Hy kom so te sê in opstand teen die Here se bevel (vers 10): Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Israel se oor is onbesnede, hulle is doof vir die woorde van die HERE. Die HERE kan praat en praat, maar dit skeel hulle nie. Hulle doen buitendien wat hulle self wil, ongeag wat God sê. Nee HERE, daar is geen enkele mooi, gesonde druif meer te vind aan die wingerd van Israel nie. Almal maak onregverdige wins. Almal, ook die geestelike leiers, pleeg bedrog. Daar is geen eerlikheid meer oor in die land nie. Selfs die kinders loop die pad van hulle ouers. Hulle leer van kleins af om net aan hulle self te dink en U, die Here asook hulle naaste te vergeet.

Ja, vir die skyn word daar nog vir die HERE geoffer (vers 20). Wierook word spesiaal uit Skeba ingevoer en kosbare kalmoes uit ‘n ver land. Dit is elke dag ‘n hewige drukte by die tempel in Jerusalem. Daar word gebid op die voorgeskrewe ure, diere vir die brand- en slagoffers word aangekarwei. Maar die lewende hartklop in die godsdiens ontbreek. As die HERE by monde van sy profete beveel om in die ou paaie te loop, dan is die volk se reaksie: ons wil nie daarin loop nie. As die HERE wagte oor hulle aanstel, as Hy hulle waarsku om reg te maak waar hulle brou, dan sê hulle: ons wil nie luister nie. Israel loop sy eie pad, die volk volg hulle eie kop — en verlaat die HERE se ou pad.

Ou Paaie🔗

Wat is hierdie ou paaie waarna die HERE verwys, en wat beteken dit dat Israel daarvan afgewyk het? In die Hebreeus word daar gepraat van ‘ewige paaie’ (deregim olam). Dit is paaie wat lankal deur die HERE vasgelê is: beproefde paaie, paaie wat standhoudend en vas is en nie verander nie.

Die eerste waaraan ons moet dink as daar na ou paaie verwys word, is die verbondswet (tora) wat die HERE as baken vir die lewe van sy kinders opgerig het (vers 19). By monde van Moses het die HERE sy tien gebooie en talle ander wette aan sy volk gegee. Elke gebod vorm deel van die ononderbroke geel waarskuwingstreep wat die HERE op die ou pad teken. Geen afgodery, geen beeldediens, geen ydele gebruik van My Naam, geen ontheiliging van My Sabbat. Die bane op die pad word sorgvuldig uitgemerk: eer jou vader en jou moeder, respekteer die lewe van jou naaste, die huwelik en eiendom en goeie naam van jou naaste. Daarom: geen doodslag, geen egbreuk, geen diefstal, geen kwaadpratery, geen verkeerde begeertes. Wie die duidelike strepe ignoreer, mis die pad en verongeluk.

geel strepe

Die ou pad van die HERE word nog verder uitgespel deur die profete van die Ou Testament (Lukas 16:29). Profete word deur die Here gestuur om die volk onder bepaalde konkrete omstandighede aan die gebooie van die HERE te herinner. Dikwels kom daar dringende waarskuwings uit die mond van God se profete: oppas, moenie dwaal nie. Sommige profete moet Godsprake aan die volk oordra, soos Habakuk en Maleagi. Ander sien gesigte en visioene — Obadja en Daniël. Profetiese vergesigte gee vir God se volk uitsig op die toestand van die pad vorentoe. Nog ander profete moet deur geïnspireerde psalms en spreuke die wil van die HERE bekendmaak. Elke profesie, elke psalm, elke spreuk, elke naggesig en Godspraak is verdere ontvouing van die pad wat God se kind moet loop.

En dan is daar in die derde plek ‘n baie tasbare manier waarop die Here sy ou paaie bekendmaak. Ons ken Hom uit sy werke. In Psalm 78 word ons opgeroep om na die roemryke dade van die HERE in die geskiedenis te kyk en dit aan ons kinders te vertel. Israel moet maar net in hulle verlede delf. Die HERE het hulle altyd gedra in tye van nood. Die volk was nooit uitgelewer aan een of ander willekeurige mag nie. Ook ons, kerk van Jesus Christus, moet in ons geskiedenis kyk. God het in Christus onder ons kom woon. Hy maak Homself en Sy wil aan ons bekend. Deur evangelieskrywers en apostels leer Hy ons presies hoe ons vir Hom kerk moet wees. Hy beduie wat ons optrede in die samelewing moet wees.

Bowendien sien ons hoe die HERE na die afsluiting van die Bybel die pad met sy kerk verder loop. Kerkreformasie in die sestiende eeu. Sinode van Dordrecht 1618/19. Kort daarna die koms van Jan van Riebeek in die Kaap. Die Groot Trek, die slag van Bloedrivier, die ontstaan van Boererepublieke. Dié dinge is meer as net blote feite uit die verlede. Dit bring ons onder die indruk van God se groot dade in ons geskiedenis. Ons leer die ou paaie van die HERE ontdek, hoe Hy op sy unieke manier die evangelie van verlossing in donker Afrika inbring en instandhou.

Om saam te vat: wat is die ou paaie van die HERE? Dit is die HERE se duidelike wil, soos wat Hy dit dwarsdeur die Bybel, en ook in die gebeure van elke dag, bekendmaak. Dit is paaie wat dwarsdeur al die eeue dieselfde bly en daarom goed bekende, vertroude paaie is. Dit is veilige paaie, waarop ons voorouers in geloof geloop het en waarop ons nou in vrede mag verder loop.

Roeping🔗

In Jeremia 6:16 word vier bevele gegee wat aandui wat die roeping van die gelowige met betrekking tot die ou paaie van die HERE is:

  • Staan op die weë

  • en kyk

  • Vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is

  • en wandel daarin

Staan, kyk, vra, wandel.

Die eerste bevel: staan op die weë! Dit beteken: leef nie met ‘n dolle gejaag blindelings en onbesonne voort nie, maar hou kort-kort stil. Maak voorraad-opname: van waar af kom ek, waarheen is ek op pad? Waarheen beweeg ons as gesin, as gemeente, as volk? Daar is verskillende paaie om te loop, watter een is goed en reg? Beweeg ons dalk saam met die breë stroom, word ons ongemerk meegevoer deur verkeerde elemente, land ons op syspore — of nie? Hou stil: dit is ‘n opdrag in die gejaagde lewe.

En kyk: dit is opdrag nommer twee. Watter paaie loop waarnatoe, wat is die konsekwensies van watter pad? Daar moet geëvalueer word. Ons moet krities kyk. Eerstens na onsself, na ons eie optrede — en dan ook na die optrede van ander. Ons moet in geloof die gebeure van die dag toets. Met die Woord van God as onfeilbare liniaal moet ons alles meet wat om ons aangaan. Niks mag sommer vir soetkoek opgeëet word nie, want dan kyk ons nie.

verskillende rigtings

Daarmee saam loop die derde bevel: vra na die ou paaie. Vind uit wat die HERE oor sake sê. Doen navorsing in Gods Woord. Bestudeer die hele Bybel. Bid vir insig en wysheid. Kry so duidelikheid oor tergende vraagstukke. Moet nooit jou skouers in onkunde optrek nie.

En die vierde bevel: wandel in die ou paaie. Leef volgens die wil van God. Pas God se onveranderlike beginsels toe in ‘n wêreld wat voortdurend aan die verander is. Behou sin en rigting in die gejaagde lewe. Wys die koers ook vir die mense om jou aan — veral vir hulle wat in totale duisternis van ongeloof leef. Wees op die voorpunt van vooruitgang, moenie agter die tyd raak nie!

Tydsgees🔗

‘Staan op die weë en kyk; vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is; en wandel daarin’: dié viervoudige opdrag is in ons tydsgewrig van ontsaglike belang. Want wat is vandag die oorheersende neiging, in watter atmosfeer leef ons? Die ou paaie word opgebreek; opwindende nuwe snelweë word gebou. Enigiets wat nuut en anders is, is reg. Hoe meer obskuur en waaghalsig jy is, hoe meer gekruide taal jy kan gebruik, hoe meer wys jy dat jy volwasse is en die dinge van ‘n kind afgeskud het. God se Woord is nie meer norm nie, maar die moderne mens met sy gevoelens en strewes is self die norm. Die vastigheid van God se Woord moet plek maak vir die veranderlikheid van die avontuurlustige mens wat oor niks meer seker is nie. In dit alles word die verlede met een penstreep doodgetrek — asof dit van nul en gener waarde is. Daar word amper alleen maar negatiewe kritiek uitgespreek oor alles wat ons voorouers gedoen het. Hulle wandel op die ou paaie word totaal verkleineer. Dit is ons tydsgees. Dié gees sluip oral in: in die gesin, in die kerk, in skole, in die politiek — oral.

Dié gees was ook oorheersend in Israel, in die dae van Jeremia. Daar word welbewus van die Here se ou paaie afgedraai, en ‘n nuwe koers word ingeslaan. Aan die buitekant was daar nog godsdienstigheid te sien: die offers word geoffer. Maar intussen pleeg profeet en priester bedrog. Ware kennis van God en liefde vir God ontbreek. Daar word met bravade gesê: ons wil nie loop op die pad van die HERE nie, ons wil nie na Hom luister nie. Jeremia moet die verdwaalde verbondsvolk hard tot orde roep: keer terug na die HERE se onveranderlike weë! ‘Dogter van my volk, omgord jou met ‘n roukleed en wentel jou in die as, want anders kom die oordeel van God — skieliker as wat ‘n mens ooit kan besef.’

Jeremia se oproep spreek ons direk aan. Ons moet ons nie laat verblind deur die sogenaamde volwassenheid van ons tydgenote nie. In wese is hulle onvolwasse, onseker en bang, soos kinders wat geen vastigheid het nie. Ons moet erns maak met die HERE se weë wat vir alle tye geld en wat altyd vastigheid gee. Die tyd en die ruimte is daar om dit te doen! Elke Sondag roep die Here ons na beide eredienste toe. Elke week verplig Hy ons kinders tot positiewe deelname aan die katkisasie. Hy soek ons rondom sy Woord: tydens huisgodsdiens, by Bybelstudie. Die vraag is: waar staan ons, watter inset lewer ons om in ooreenkoms met die oproep van die HERE te staan, te kyk, te vra, te wandel? Hierdie vrae moet ons in eerlikheid voor die HERE beantwoord. Waar nodig, moet ons koersaanpassings maak. Dit is ‘n kwessie van oorlewing. Die kans dat ons weens ‘n gebrek aan deurleefde Godskennis ten gronde gaan is baie groter as dat ons weens broodgebrek sal sterf.

Pad Waarheen?🔗

Waarnatoe lei die ou paaie van die HERE ons? Dit word in ‘n kort sinnetjie vir ons geleer: ‘julle sal rus vind vir julle siel’. Dit is ‘n belofte wat die HERE gee. Die mens wat Sy paaie soek en daarin wandel, sal rus vind. Die Here Jesus neem die belofte oor in Matteus 11: ‘Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele. Want my juk is sag en my las is lig’.

Die sagte juk en die ligte las waarvan die Here Jesus praat is presies dieselfde as waarna die HERE in Jeremia 6 verwys. Wie noukeurig navraag doen na die ou paaie van die HERE, en die goeie weg loop, trek vir homself ‘n juk aan. Inderdaad, want wat gebeur met jou as jy nie met die breë stroom saamloop nie? Hoe word jy bestempel as jy in ‘n sogenaamd vernuwende wêreld by die ou paaie van die Woord bly? Ons hoef hieroor nie lank te wonder nie. Daar word gereageer as die gelowige die liniaal van die Woord uithaal. Sommige reageer volwasse, beskaafd - ander minder volwasse, afbrekend, onbeskaafd. Nietemin dra alles daartoe by dat ons ‘n las het om te dra.

Maar, die las is lig en die juk sag — so sê die Here Jesus. As ons eerlik balans opmaak, bemerk ons dit. Wie die ou pad van die HERE onvermoeid in ‘n nuwe wêreld loop, het oneindig baie sekuriteit. Ook al is daar teenkanting — jy weet dat jy aan die HERE gehoorsaam is. En wat weeg swaarder as juis dit?

juk

‘Julle sal rus vind vir julle siel’ — dit is ‘n ryk belofte. Daardie belofte realiseer as ons met volharding die pad van die HERE ken en daarin loop. Kennis is mag, kennis gee rustigheid. Baie vrae leef in ons gemoed oor wat moontlik kan kom. Op sigself is dit nie verkeerd om sulke vrae te stel nie. Wat meer is: hulle moet gestel word, anders kom ons nie ons verantwoordelikheid na nie. Die HERE wil nie hê dat ons ons kop in die grond steek en van die beste hoop nie. Ons het verstand ontvang om Godgerigte planne te maak. Ons ontvang elke dag liggaamskrag om daardie Godgerigte planne uit te voer. Maar nou: wie werklik rus wil hê oor die toekoms, moet uitvind wat God van hom verwag. Hoe meer ons van ons kant ons verantwoordelikheid nakom deur God se paaie na te vors en te loop, hoe meer rustigheid kry ons. Ons raak so doenig met God se wil, dat daar nie tyd is om te bekommer oor wat die vyand alles sogenaamd kan vermag nie.

Dit is feite. Elke keer as ‘n mens die Bybel bestudeer en ‘n stuk gegroei het in jou kennis van die HERE, of elke keer as jy ‘n preek gehoor het waarin die pad van die HERE weereens duidelik uitgestippel is, skep jy moed. Jy kan die nuus kyk en die gebeure evalueer sonder om senuweeagtig te raak. Want eintlik, so kom ons agter, is die nuutste ontwikkelinge op alle fronte reeds oud. Is dit wat die wêreld meen nuut is, nie lankal voorsê nie? Het die HERE nie eeue gelede al die nuuswaardighede uitgewys nie? In geloof het ‘n mens dus rede om rustig te wees met betrekking tot die toekoms, want — jy werk in hoogste rat. Jy doen wat God van jou verwag.

Die teenoorgestelde is ook waar. Wie nie met die HERE se wil vir die lewe besig is nie, het rede om bekommerd te wees. Die bedrieglike profete en priesters in Israel lei die volk om die bos. Hulle mond is vol van vredespraatjies. Hulle het goedkoop raad vir die volk wat die Here verlaat het. Hulle sê net: vrede, vrede — alles is reg, moenie bekommer nie. Intussen is daar geen vrede nie. Intussen is die HERE besig om ‘n volk uit die noorde teen hulle gereed te maak. Die volk en hulle leiers sal hulle fout nog agterkom. Die kamma-vrede sal ontmasker word as die vyand uit die noorde kom om hulle met geweld weg te voer.

Goedkoop vrede, dit is vrede sonder God, laat jou gevaarlike lugkastele bou. Daarom: laat ons nie daardeur verblind word nie. Toets die woord van elke leier, die beleid van elke party, die beginsels van elke organisasie aan die Woord van God. Gebruik u geloofsbelydenis as enigste maatstaf — dan het u sekerheid oor wat u te doen staan. Dan leer ons om ware vrede te onderskei van alle namaak. Ons leer insien dat vertroue op God standhoudend is, terwyl die prinse van die wêreld met al hulle planne moet kom en gaan. Ons kry rustigheid in ons gemoed wat deur niks en niemand versteur kan word nie.