Bron: Kerk en Woord, 1999. 3 bladsye.

Jesaja 53 - God het in Sy Toorn by Ons ge-Pasga!

Dit bly merkwaardig hoedat die spot ge­dryf en in ongeloof die kop geskud word oor die diepste hart van die Christelike Godsdiens: Die versoeningsdaad wat ons Here Jesus Christus verrig het deur sy plaasvervangende offer aan die kruis, sy liggaamlike lyding en sterwe, en veral ook sy sielslyding deur die helse smarte en bange godverlatenheid – alles in ons plek. Die Eersgeborene van die huishouding het die ewige dood gesterwe in die plek van al die ander lede van die huishou­ding. So het Hy ons skuldstraf op Hom geneem sodat ons volkome vrygespreek is.

In die moderne wêreld waarin ons lewe selfs in die sogenaamde Christelike land Suid-Afrika, word hierdie kernwaarheid al hoe blatanter belaster. Vir die meeste burgers van SA het Paasnaweek niks meer as 'n uiters belangrike ultra-lang jolytna­week geword nie. Oor hierdie belastering moet Bybellesers hulle nie verstom nie; die profeet Jesaja het dit al raakgesien:

  • Jesaja 53, vers 1: Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?
     
  • Vers 2: Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
     
  • Vers 3: Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.

Dit is nie verniet dat Jesaja in vers 1 die geloofsvraag in versugting onder woorde bring nie. Want die Jode soek na tekens, en die Grieke soek na wysheid en wetenskaplikes soek vandag eksakte be­wyse. Daar is nie meer vandag plek vir sogenaamde "mitologiese bespiegelinge" nie, wie sal dit nog glo?

Daar is letterlik honderdduisende men­se wat wêreldwyd die kerk jaarliks vaarwel toeroep. En dit nie omdat die kerk soge­naamd outyds of oninteressant is nie. Die kerkverlating vind teen 'n al groter wordende tempo plaas, selfs in kerke waar die mees verregaande mensbehaaglike vermaaklikhede gepleeg word in 'n po­ging om getalle te behou.

In 'n polemiese artikel trek dr B Wentsel myns insiens die korrekte konklusie as hy stel dat kerkverlaters aan die Heilige Selfaanstoot neem (Nederlands Dagblad, 23 Januarie).

Jesaja gee meteens ook die antwoord in sy tweede vraag by vers een. Die geheim om die onbegryplike evangelie van Chris­tus te kan glo wat aan ons verkondig is, is om ook te vra aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Die ellendige siel wat met sy geniale intelligensie allerlei jakkalsstreke uithaal om die enigste Naam wat daar in die hemel en op aarde gegee is, te omseil, val eindelik met al sy rede­nasies vas omdat die eerste kwalifikasie vir 'n ongetwyfelde Christelike geloof ­naamlik God se effektiewe openbaring ­nie ontmoet word nie.

Daarsonder sou Petrus dit ook nie kon regkry om tot die belydenis te kom nie:

U is die Christus, die Seun van die le­wende God. Hy moes hoor dat vlees en bloed (hoe modern en beskaafd ook al) nie by magte is om so 'n kennis tot bely­denis te kan bring nie, maar die Vader in die hemele wat dit openbaar. Op hierdie rotsbeginsel sal die kerk gebou word, waar mense onder die openbaring van die Vader tot die gewisse kennis en die vaste vertroue kom en dit bely met leer en lewe dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God.

Ons kom dan weer terug na die hart van die volle somtotaal: Christus in sy lyding, tot ons versoening met God. Christus in sy oorwinning, tot ons lewend­making en verheerliking. En die eind­doel van al Christus se werke vir ons en aan ons en in ons — sodat God daarin verheerlik mag word.

In die Ou Testament het dit liturgies tot uitdrukking gekom in die uitgebreide offerkultus. Die plaasvervangende offers wat bedien is tot die lidmate se versoening met God het toe die kern en die hart van die godsdiens uitgemaak. Maar die volk moes gedurig daaraan herinner word dat die offerdiens roep om vervulling.

Daar moes 'n tydstip aanbreekwaar die kiloliters bloed wat jaarliks en gedurig moes vloei, ja die uitgebreide aanhou­dende massamoord van diere by die tempel, tot 'n einde sou kom, en Een Mens, die Seun van die mens, die Mes­sias, sy eie bloed eenmaal sou stort ­die eintlike ware voldoende betaling vir al ons sondes. En sedert ons hierdie heer­like gebeurtenis van die bittere smaat­dood van ons Here Jesus as 'n afgehan­delde werklikheid kon ontvang, het die offerdiens van versoening vervuld oorge­gaan na die evangeliebediening van die versoening.

Nou maak die bediening van die Woord, die hoorbare Woord, die sigbare Woord en die voelbare Woord (Woordver­kondiging, sakramente en dissipline) die kern en hart uit van die Nuwe Testamen­tiese godsdiensbeoefening. Steeds staan die versoeningswerk in die hart van die hele godsdiensbelewing. Daarom dat alle evangeliebediening so gekonstrueerd soos die Skrif self, gedurig en altyd van Chris­tus getuig en dan Christus as die gekrui­sigde. Buite hierdie sentrale werklikheid is enige welbehaaglike godsdiensbeoefe­ning voor God geheel onmoontlik.

Dan is daar die merkwaardige, dat die geïnspireerde insigte van die profete hul eie begrip van wat hulle verkondig het, ver te bowe gegaan het. Sodat ons in die Ou Testamentiese profesie sekere dimen­sies van Christus se lyding selfs duideliker beskrywe hoor, intensiewer geteken sien as selfs hoedat dit in die viervoudige ge­tuienis daarvan (die vier Evangelies) in die Nuwe Testament beskrywe is.

Dit is veral merkwaardig dat die Ou Tes­tament veel breër praat oor die sielslyding en die helse smarte wat Jesus belewe het, en van figuurlike uitdrukkingswyses ge­bruik maak om sy aanvegtinge te be­skrywe. In die Nuwe Testament hoor ons eerder die sigbare en hoorbare getuienis aangaande die vervulling van die dinge wat die profete deur die Gees gedrewe geprofeteer het. Dit is wat ons by die knegliedere in Jesaja 50-55 aantref. Sy uitwendige en liggaamlike belewenis van God se toorn word beskrywe met:

Hy het geen gestalte gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg het; Hy het ons krankhede op Hom geneem. Hy is terwille van ons oortredinge deurboor, verbrysel, verwond, mishandel, ens.

Maar dan hoor ons ook die sielslyding; sy siel het die skuldoffer aangebied, sy siel het moeitevolle lyding gesmaak deurdat Hy hulle skuld gedra het, Hy het sy siel uitgestort in die dood en is saam met die oortreders getel en die sondes van baie gedra en het vir die oortreders gebid (lees die hele Jesaja 53).

Rufinus, het in 307-309 nC iewers tydens sy verblyf in Aquileia in die voet­spore van al die apostels en hulle leerlinge, die Ou Testament sterk Christologies ver­klaar. Volgens hierdie metode het hy vanuit die Ou Testament 'n verklaring gegee waar­om die kerke van die Nuwe Testament dit as 'n Bybelse simbool aanvaar het om te bely dat Jesus betreffende sy sielslyding neergedaal het na die hel.

Rufinus sê: "Dat Hy neergedaal het na die hel is welbewese voorspel in die Psalms waar dit gesê word: 'U lê my neer in die stof van die dood'" (Psalm 22:16b), en ook: "Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil" (Psalm 30:10) en ook "Ek het neergedaal in die diep modder waar daar geen bodem is nie" (Psalm 69:3, 15, 16).

Uit die aanhalings volg die afleiding dat hierdie bewoording — veral soos vanuit die Psalms nie letterlik verstaan moet word nie, maar liries en digterlik beskrywend, net soos die uitdrukking dat Hy die aarde op sy pilare gegrondves het of dat die HERE my herder is. Agter hierdie digterlike uitdrukkings sit 'n hele ryke betekenisskat wat moeilik anders on­der woorde gebring sou kon word. Daar sit die onsigbare en onbekende angswek­kende wat deur die digters in bekende begrippe omskryf is.

Onder skrifgetroue verklaarders was daar nog altyd volledige eenstemmigheid dat hierdie lydingsfrases in die Psalms sterke Messiaanse verkondiging van die Lyding van Christus is. Tereg verklaar en bely ons die betekenis hiervan dat Chris­tus naas sy liggaamlike lyding (wat enige mens net soos Hy sou kon nadoen en in baie gevalle al oortref het ook) wat sy medekruiselinge saam met Hom en net soos Hy ondergaan het, ook die sielsly­ding van God se wraak gesmaak het, al die angste van die hel en bange godver­latenheid gely het (wat geen mens kan doen en deurstaan nie).

Nou bly dit steeds weer die basiese: Voor alle morele voorskrifte, en voor alle gedrags­reëls, en voor alle kon­krete toepassings moet daar eers die gelowige hartsverheffing wees, die realisering van die werklikheid dat dit wat vir die mens onmoontlik was, deur God self bewerk is. Die mees onmoontlike sce­nario: 'n ware en onskuldige mens, tegelyk ware en ewige God, twee nature in een persoon verenig, onvermeng, ongedeeld, ongeskeie, onveranderd, wat namens al die verlostes, God se tydelike en ewige, liggaamlike en sielstraf, ten volle dra en oorwin en aan ons skenk sodat ons dit nie hoef te smaak nie, ja hierdie mees onmoontlike scenario, dit het God as die enigste en eintlike scenario in vervulling laat gaan.

Nou kan ons dus die groot omkerende MAAR jubelend bely:

Maar nee, daar is vergewing altyd by U gewees: daarom word U met bewing reg kinderlik gevrees.