Bron: Kerk en Woord, 1994. 3 bladsye.

Jona 3 - Nineve se Bekering 'n Spieël vir God se Volk

Lees Jona 3

Die boek Jona is vol wonderbaarlike dinge, al vier hoofstukke.

Die wonder van die groot vis spreek ons ongetwyfeld die meeste aan.

Maar die wonder dat God sy weerbarstige instrument, Jona, nie in ’n hoek smyt en Hom wend tot ander troue profete nie, is nog groter.

Hy laat nie die dienskneg los wat Hy eenmaal geroep het nie. God is Jona onbegryplik genadig.

Maar tegelykertyd het God hom so ook teruggedwing in sy spore - stilswyend dog onverbiddelik. Hy sit Jona onder die hoogdruk van sy liefde. As Jona hom kom kry, lê hy, op die strand van die land waarvandaan hy per skip gevlug het, so bedremmeld, sy klere stinkend van die vis se ingewande.

God bestraf hom nie. Hy verwyt hom nie sy gebed sonder skuldbelydenis nie. Al wat hy te hore kry, is: “Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en verkondig die boodskap wat Ek jou sal sê.” Ninevé - daar is jou werkplek, Jona. Maak dat jy sonder versuim daar kom!

Soms is ons sulke ampsdraers soos Jona, vol verskonings vir die versuim van ons roeping. Ons het redenasies en nogmaals redenasies, maar intussen begrawe ons onder al die woorde ons eintlike opdrag. Deur watter dieptes het die HERE nie met Jona gegaan voordat hy die HERE gehoor het nie.

En soms moet die HERE ons ook deur dieptes heen ontvanklik maak vir sy bevel. Soms moet ons dieselfde bevel verskeie male hoor voordat ons daaraan gehoor gee. Ja, as die HERE ons ons amps­versuim direk sou toereken, ons hoogmoed, ons luiheid, ons gemaksug, ons onwil, ons heerssug, dan sou daar geen enkele dominee meer op die preekstoel gestaan het en geen ouderling of diaken meer in die kerkraadsbank gesit het nie.

Ja, die wonder van God se geduld, van sy genade met sy diensknegte is ’n groter wonder as die wonder van Jona in die vis.

Ninevé🔗

Jona se reis na Ninevé, meer as 1000 km, moes hom weke lank geneem het. Maar hy kon nie anders nie. God het hom na Ninevé gedryf.

En so kom Jona in Ninevé - wêreldstad van daardie tyd. Jona 3:3 sê: “ ’n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet....”

Die 1933-Vertaling praat van ’n ‘ontsaglike groot stad’. Maar in die grondtaal lui dit ‘ ’n groot stad van God’, dus nie net geweldig groot in die oë van die mense nie, maar ook volgens die maatstaf van God.

So het God oor Ninevé gedink; Jona 4:11 herhaal dit.

Ninevé, ’n groot stad van God - so sou ons dit nooit wou sê nie. Ons sou wou sê: Ninevé, daardie duiwelse stad met al sy verskriklike ongeregtigheid. Van Pretoria of Johannesburg of Durban of Kaapstad, waar ook gedobbel en gedrink en gespeel en gelag word, sê ons dit ook. Soveel mense wat nooit aan God dink nie.

Sonder om twee keer te dink, skryf ons sulke wêreldstede af. Maar soos Ps 24 van die aarde en sy bewoners sê, so sê Jona 3:3 ook van Ninevé: ’n groot stad van God. Sulke stede met al hulle sede­lose mense wil die HERE nie sommer goedsmoeds omkeer en verwoes nie. Nee, hulle gaan hom ter harte. En soos by Ninevé wil Hy deur middel van die prediking van sy Woord alles doen om hulle te bereik. Hy wil hulle so graag spaar en hulle red van ondergang.

Jona het drie dae nodig gehad om God se boodskap op die belangrikste strate en pleine te laat hoor: ‘Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes’. Radikaal, hard en so koud soos klip. Jona voorsê hul alge­hele uitwissing.

‘Verwoesting’ is ook die woord vir die omkering van Sodom en Gomorra. Dus geen verkondiging van genade en die Mes­siaanse heil nie.

En net so onsimpatiek soos Jona se bood­skap was sy persoon self. Jona is absoluut die teenstelling van die prediker wat wor­stel en bid vir die behoud van die mense vir wie hy preek. Niks sou hom groter plesier gee as om te sien hoe God Ninevé tot op die laaste stoppel verteer nie!

Hier ontmoet ons Jona in sy ware ge­daante. By hom is ook iets van die Fari­seërs, van verregaande verwaandheid oor Israel se uitverkiesing: Hulle het daarmee gepronk dat hulle die ware kinders van Abraham is. Ons Israeliete het reg daarop om God se witbroodjies te wees. En die goedere van die verbond wat Hy aan ons geskenk het, kan nog nooit met die vuile heidene, honde het hulle hul genoem, gedeel word nie.

Daarom dat Jona ook soveel plesier daarin gehad het om aan Jerobeam II uitbreiding en voorspoed te boodskap.

Maar Israel en Jona moes leer dat hulle geseën is, nie ten koste van die heiden­volke nie, maar ten bate van hulle. Hulle moes leer hoe nikswerd hulle in hulleself is, niks beter as enige ander volk nie. Anders was hulle vleesliker, onbekeerliker as enige ander volk.

Daarom was God se bedoeling met die hele sending van Jona om hom en sy volk te beskaam: Die heidense skeepslui was hom in alle opsigte voor, selfs die kaptein. Want dié was so verbaas, byna veront­waardig dat hy by die slapende Jona niks van godsvrees sien nie.

Netso beskamend is dit wat Jona 3 vertel - dat Jona se boodskap die Nineviete soos ’n mes in hulle hart getref het. Hulle reageer onmiddellik. Die tweede groot wonder wat hier in die derde hoofstuk staan, is: Na één dag se preek, het die manne van Ninevé God geglo en ’n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee.

Selfs die koning. Hy verruil die troon vir die ashoop en vir veertig dae gaan hy sy onderdane voor in ware skulderkenning en berou. En hy roep ’n nasionale tydperk van verootmoediging uit van vas vir mens en dier!

Hy roep hulle op om ernstig tot God te roep en dat hulle hul elkeen van hulle verkeerde weg moet bekeer. Die koning neem as’t ware Jona se werk verder uit sy hande. Hy word self ’n Jona. Nee, ’n nog beter profeet. Jona het slegs die oordeel van God gepreek. Die bevel van bekering en geloof het totaal ontbreek, iets wat tog altyd met die prediking gepaard moet gaan. Maar die koning laat iets hoor van ’n moontlikheid van genade:

‘Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom sal afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?’ Nee, hy is nie seker of God hulle genadig sal wees nie. Maar hy sluit die moontlikheid ten minste nie uit nie. Dit is niks minder as ’n beroep op God se barmhartigheid nie. Net soos Jona is hy prediker van God se komende oordeel oor Ninevé.

Oordeel🔗

Maar terwyl Jona daartoe gedwing is, verkondig die koning dit vrywillig, uit vrees vir die HERE. Ook by daardie heiden is meer eerbied vir God as by die profeet van God en die volk van God. Ja, die manne van Ninevé het God geglo... tot so ’n mate selfs dat die koning aangedring het dat elkeen konkreet sy verkeerde doen en late moet prysgee.

Daar is dikwels smalend gepraat oor die bekering van Ninevé. In sommige geskrifte word daarna verwys as een van die duidelikste voorbeelde van ’n geloof wat net vir ’n tyd was, nie egte geloof nie. Maar in Luk 11:32 stel die Here Jesus die geloof van die manne van Ninevé vir die onbekeerlike Jode van sy dae tot ’n voorbeeld!

By die mense van Ninevé het dit aan die lig gekom wat die onoorwinlike krag van die lewende Woord van God bewerk. Want dit staan daar so aangrypend: ‘En God het hulle werke gesien, dat hulle hul bekeer het van hul verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en hy het dit nie gedoen nie.’

God wou dat Israel hulle so sou laat aangryp deur sy Woord. In dieselfde dae is daar ook in Israel gepreek deur Hosea en Amos. Ninevé se goddeloosheid was groot, Israel s’n nie minder erg nie, die gruwels van hulle weelderig lewe. Hul boodskap was dieselfde vir Israel as Jona s’n vir Ninevé: In korte tyd sou God ’n einde maak aan hulle bestaan!

Die vreeslike was egter dat Israel hulle niks daarvan aangetrek het nie. Ons lees nêrens van hulle bekering nie, of dat die koning hulle opgeroep het tot berou en bekering nie. Maar te midde van hul onbekeerlikheid demonstreer die HERE dan vir hulle hoe lewend en kragtig sy Woord is - dit doen ongekende wonders. Terwyl Samaria swyg, sit Ninevé en huil.

Die Manne van Ninevé het God Geglo🔗

Die God van Ninevé leef nog. Nog nooit het Hy so soos juis nou die volle krag van sy Gees en Woord tot ons laat kom nie. Laat dit nie van ons gesê word dat die geslag van Ninevé in die dag van die oordeel sal opstaan en ons veroordeel nie.