3 bladsye.

Joshua 7:10-12 - Tugtoepassing Gebiedend Noodsaaklik

Toe sê die Here aan Josua: Staan op; waarom tog lê jy op jou aangesig? Israel het gesondig en het ook my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg. En die kinders van Israel sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle sal hul vyande die rug gee, omdat hulle self ʼn ban geword het. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die ban onder julle uit verdelg nie.

Josua 7:10–12

ʼn Gebed Afgewys🔗

By Ai het Israel ʼn verskriklike neerlaag gely. Die fiasko maak diep indruk op die volk. Josua en die oudstes begryp dat daar iets grondig verkeerd gegaan het in die verhouding tussen die Here en sy volk. Die gebeure het aanleiding gegee dat hulle in diepe ontreddering hulle voor God se troonsetel, die ark neergewerp het. Klere word geskeur en as word op die hoof gestrooi.

Nou dat dit vir Israel so donker geword het, word Josua voorbidder vir sy volk. Biddend worstel hy vir lig. Die Here het tog nie sy verlossingswerk gestaak nie? God het mos nie verander nie? Dit kan tog nie waar wees dat Hy sy volk oor die Jordaan laat trek het, en in die hande van die Amoriete gegee het nie? Josua wys vir God op die gevolge van wat gebeur het. Wanneer die inwoners van Kanaän van die nederlaag sal hoor, sal dit hulle moed gee om met Israel af te reken. En wat sal die Here dan doen vir sy groot Naam?

Met die eerste oogopslag lyk dit na ʼn pragtige gebed. Josua praat oor God se verlossingswerk en bring God se Naam in geding. Hy het duidelik goed geluister toe Moses telkemale vir sy volk gebid het (vgl Eksodus 32:11 ev). Die Here reageer egter fel. Josua en die oudstes moet dadelik met hierdie vertoning ophou. Sy vrae deug nie. Daar is grondig fout met die verhouding tussen God en sy volk. Dit is nie daaraan te wyte dat die Here verander het nie. Josua en die oudstes kon weet: iets het by Israel verander. Die Here het deur Moses gesê dat indien Israel sy verbond sou verlaat, sy volk deur hulle vyande oorweldig sou word (Deuteronomium 28:25,26). Die dooie liggame van die Israeliete wat by Ai lê, roep tot Josua en die oudstes: daar is gesondig! God se verbond is verbreek. Josua het die nederlaag nie in die lig van God se Woord gesien nie. Daarom deug sy gebed nie. Ware verootmoediging ontbreek. Josua het pragtige argumente. Selfs die eer van die Here word in gedrang gebring. Maar Israel se sonde word misgekyk!

Sonde Aangewys🔗

Josua kry ʼn beskamende les van God. Sy woorde is skerp. Josua kan probeer om van die skuld weg te skram, maar die Here doen dit nie. Inteendeel, die Here spel dit uit: “Israel het gesondig, en hulle het my verbond wat ek met hulle gesluit het, oortree.”

Om hierdie aanklag van die Here goed te begryp, moet ons goed verstaan wat Agan eintlik gedoen het.

Die Here het oor Jerigo ʼn totale ban uitgespreek. Nie elke Kanaänitiese stad is deur so ʼn banvloek getref nie. By ander stede kon Israel wel oorlogsbuit neem. Maar in Jerigo nie. Die hele stad met al sy inwoners moes vernietig word. Goud en silwer was die Here se deel, en moes by die tabernakelskat gevoeg word.

Met dit voor oë, besef ons die erns van Agan se sonde. Hy het pure verbondsbreuk gepleeg deur hom te vergryp aan dit wat in besonder aan die Here toegewy was. Tabernakelroof. Hy het die Here gekrenk in sy eiendomsreg.

Daarvoor kry Agan die doodstraf. Hy word gestenig. Uit die vonnis blyk hoe ernstig sy sonde was. Want op baie van die sondes was die doodstraf nie van toepassing nie. Wel op sondes waar die Here se verbond gebreek is. Die wet van Moses noem bv. egbreuk, afgodediens en sabbatsontheiliging. Vir sulke sondes kon geen offers gebring word nie. Dié was onversoenlik, omdat die verbond fundamenteel verbreek is.

In hierdie lig moet ons nou Agan se kwaad sien. Dit was nie net ’n gewone diefstal nie, maar aantasting van God se verbond. Agan het dit deeglik beplan. Dit was nie op die ingewing van die oomblik gedoen nie. Die Here noem die hele proses: geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by sy goed gevoeg. (Josua 7:11)

Heelwaarskynlik verbaas dit ons dat die Here Israel verwyt oor verbondsbreuk. Dit was tog slegs Agan wat van die bangoed geneem het? Seker, Agan het gesondig. Maar hy het dit gedoen as lidmaat van God se gemeente, Sy geheiligde volk. As so ʼn groot sondaar nou toegelaat word om ongehinderd onder die volk te verkeer, staan die hele volk skuldig in God se oë. Iemand wat so welbekend in sonde leef, mag nie plek hê in die volk nie. So iemand tas die heiligheid van die hele volk aan, trek as’t ware die hele volk in sy verbondsbreuk saam!

Ons leer iets van God se onverbiddelike aanklag. Nie alle sondes is gelyk en ewe ernstig nie. Daar is sondes wat die verbond breek en die verhouding tot die Here in sy kern aantas. Hulle vorm ʼn skanddaad in Israel (Josua 7:15). Dit is sondes waarmee openlik gewys word dat daar geen respek vir die Woord van die Here is nie, en dit duidelik is dat die Here nie gevrees word nie. Wanneer sulke sondes in die gemeente voorkom, moet daar duidelik en beslis stelling ingeneem word. Want dan is God se verbond in gedrang.

Baie van die wat hulle Christene noem, beskou kerklike tug as ʼn afskuwelike saak. Hulle meen dat dit onbarmhartig is om iemand van die nagmaalstafel te weer. En as die kerkraad verdere stappe neem en die ban of afsnyding van die gemeente toepas, dan is die gort gaar.

Maar hulle fokus is meer op die mense as op die Here. Die wat in sonde leef, tas die Here se verbond aan. Hulle ontheilig die gemeente. Hulle skend die verhouding tussen God en sy volk. En as die gemeente nie in aksie kom nie en die kwaad laat voortwoeker, dan staan hulle onder God se banvloek! Die kerklike tug bestaan ter wille van die sondaar. Dit is ʼn geneesmiddel. Die sondaar moet tot bekering kom. Maar die kerklike tug is ook ter wille van die gemeente. Hulle moet die kwaad uit hulle midde verwyder. Hulle moet toon dat hulle die kwaad afskuwelik vind en dat hulle vir die Here en sy verbond opkom.

Tugtoepassing Vereis🔗

Uit alles blyk dat die Here die toestand baie ernstig bejeën. As Israel nie vir Agan aanvat nie, kom hulle onder God se ban. Hulle kan verder trek, maar sonder die Here!

Dit moet ons opval dat die Here die hele volk betrek by die tug-uitoefening oor Agan. Dit is nie ʼn saak wat Josua en die oudstes kan afhandel nie. Die volk moet hulself heilig. Die volk moet hulle uiterlik en innerlik voorberei op wat gaan gebeur. Alles dui op die erns waarmee die saak behandel word.

Nadat God deur loting die skuldige aangewys het, moet die persoon met alles wat hy het, gestenig en met vuur verbrand word. Die banvloek moet in sy ergste vorm voltrek word. Self sy gesin moet sy vonnis deel. So ʼn straf was selde toegepas. Die wet van Moses het hierdie straf net geken in gevalle van baie ernstige aantasting van God se verbond. Dit is in Agan se geval aan die orde. Die banvloek word in sy ergste vorm uitgevoer. Selfs Agan se gesin kry saam met hom die doodstraf! Josua moet die hele volk daarby betrek. In Josua 7:24 e.v. lees ons dat die hele Israel vir die sondaar stenig en met vuur verbrand. Die gemeente van Israel oefen tug uit. Die gemeente kies uitdruklik kant vir die Here en toon dan ook hoe ernstig hulle dit ag as die verbond van die Here so blatant geskend word.

Tugtoepassing deur die hele Ou Testament is ʼn gemeentesaak (sien bv Deuteronomium 13:9). Aan die voltrekking van die doodsvonnis (steniging) moet die hele volk deelneem. Steeds weer klink die oproep: “so sal julle die kwaad uit julle midde verwyder.”

In die Nuwe Testament is dit nie anders nie. Paulus spreek die gemeente van Korinte aan: “Verwyder tog die slegte mens onder julle uit” (1 Korintiërs 5:13). Tereg sê dan ook Sondag 30 van die Heidelbergse Kategismus dat diegene wat met hulle belydenis en hulle lewe, hulle soos ongelowige en goddelose mense gedra, uitgesluit moet word. Ampsdraers moet daarby die leiding gee. Die kerkraad dra die verantwoordelikheid om die tug toe te pas. Die hele gemeente is betrokke by die openbare sensuur, met medewete, vermaning en gebed.

Dit alles is in lyn met wat ons in Josua 7 lees. Die gemeente kom op vir die eer van God. Hulle maak hulle vry van die kwaad wat in hul midde gebeur het. Hulle moet duidelik laat blyk hoe erg dit is as God se verbond geskend word.

ʼn Kerk sonder tug verloor die reg om ʼn gemeente van God genoem te word. So ʼn kerk lok die banvloek oor haar uit, as die kwaad in haar midde onversteurd toegelaat word. Nooit mag die gemeente vergeet nie dat bo die kerkdeure geskryf staan: “Heiligheid pas by U huis, Here, tot in lengte van dae!” (Psalm 93:5)