Bron: Kerk en Woord, 1996. 4 bladsye.

Josua 1:6-9 - "Wees Sterk en Vol Moed..."

Moses beveel dit aan Josua in sy laaste lied. (Deut 31:23). Die HERE self druk dit driemaal op Josua se hart. (Jos 1:6,7,9). En die volk Israel antwoord Josua daarmee (1:18).

Dis duidelik elke keer ’n bevel van die HERE.

En dit was vir Josua ’n baie nodige bevel. Want voor die ore van die hele Israel is dit aan hom opgedra om God se volk Kanaän binne te lei. Josua moes van toe af daarmee besig gewees het.

En die woorde van vs 9, “wees nie bevrees of verskrik nie”, suggereer dat Josua nie onverskrokke en vol selfversekerdheid voor hierdie geweldige taak gestaan het nie.

Inteendeel!

Juis daarom het God hom moes aanspoor. Wees sterk en vol moed!

Laat ons ons ’n oomblik voorstel waarvoor Josua gestaan het:

  • Hy moes die taak wat Moses jarelank vervul het oorneem. Dit was onafgehandel. Moses het ontydig gesterf. Die dood van Moses moes in die hele volk, maar veral in die lewe van Josua, ’n verskriklike leemte gelaat het.
     
  • Die dertig dae van rou oor Moses was verby. Josua moes nou optree. Daarom God se aansporing.
     
  • Seker, hulle sou nou ’n langgekoesterde ideaal in vervulling sien gaan: hulle mog hulle erfenis in ontvangs neem. Hoeveel kere moes hulle nie gedroom het van die langverwagte dag nie! Uiteindelik na soveel jare se swerwe kom die rus waarvan God eeue terug met hulle oorgroot-oupa, Abraham, gepraat het.

Moes dit nie ’n fees gewees het om van God te hoor: “Maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan hier...”, nie? Dit was tog duidelik vir Josua die amptelike verklaring van God dat die land op daardie moment nou hulle s’n was. Hulle het die erfenis in hande gehad. Hulle kon hulle voetsole maar daarop neersit! Soos ’n Grootkoning aan sy vasal het God aan Josua as leier dié geskenk in hande gegee.

Ja, dit was voorwaar ’n blye boodskap. Maar nog het dit nie beteken dat Kanaän soos ’n ryp appel in hulle skoot sou val nie. Dit sou nog steeds ’n militêre operasie wees.

Daar was sewe volke in Kanaän - menslik gesproke almal veel sterker as Israel. En hulle sou nie toelaat dat hulle land sonder slag of stoot van hulle afgeneem word nie.

Nou moes Josua die voortou neem aan die spits van ’n hardnekkige volk. Die kinders was nie beter as hulle vaders nie. As daar iemand was wat Israel geken het, was dit Josua! Vergeet nie die hele geskiedenis met die tien onwillige verspieders nie!

Wat ’n geweldige taak het daar vir hom voorgelê! Met ’n moeilike volk moes hy onbekende gevare tegemoetgaan.

Met 1996 het ons ’n nuwe jaar ingegaan. ’n Tyd lank het die werk stil gestaan. En nou roep die HERE ons om die onbekende toekoms tegemoet te gaan en ons taak aan te pak.

Hy roep predikante om te preek, om die jongmense te onderrig. Hy roep die ouderlinge om toe te sien dat die gemeente in die spoor van die preke hou, om met God te lewe, om waarlik hulle taak as profeet, priester en koning, hulle Christenskap uit te leef in hierdie land. Om hulle kinders dit te leer.

’n Nuwe jaar boesem altyd onsekerheid, huiwering in. Gesondheidsprobleme, werksprobleme, ’n dreigende operasie of geldkrisis - al sulke dinge kan ons die gevoel gee dat ons lewe wesenlik verander het. Miskien het ons onherstelbare foute gemaak. En dan die kultuurveranderinge wat daar in ons land gekom het. Al sulke dinge maak die lewe moeiliker, onsekerder.

Tree ons dit nie met al groter weifeling tegemoet nie? Skrik ons nie daarvoor terug nie?

Kyk, te midde van dit alles spreek die HERE ons vanmôre met hierdie geskiedenis van Josua aan:

Hy sê vir Josua: Moenie bang wees nie, Josua! Pak jou taak. Ek het dié land aan julle gegee. Niemand sal voor jou standhou nie.

En sit die HERE nog krag by sy versekering. Hy verwys daarna hoe Hy Moses altyd bygestaan het. Wat ’n magtige opdrag moes Moses nie vervul nie. Maar Josua het met sy eie oë gesien hoe die HERE Moses gedra het.

Daaruit moes Josua weet dat die HERE sy diensknegte nooit aan hulleself oorlaat nie. Al is Josua se vyande die sterkste ter wêreld, hy sal altyd kan sê: Die wat by ons is is méér as wat by hulle is.

Want wat beloof die HERE aan Josua?

Hy sê: “Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie”. Letterlik: Ek sal jou nie laat inmekaarsak nie. En by die woorde sien mens as’t ware hoe God sy dienskneg onder die arms beet het en hom orent hou. Josua sal die stryd kan volhou. Hy sal ongeskonde daardeur kom. Want God sê verder: “Ek sal jou nie verlaat nie...”

Kyk, dit beteken: Jy is swak, maar Ek laat jou nie aan jou swakheid oor nie. Hulle mog die mindere van hulle vyande wees, maar God laat hulle nie aan hulle lot oor nie. Al wat hulle moet doen, is om hulle opdrag uit te voer, die taak ter hand te neem.

Die belofte aan Josua is nie ’n tydlose of algemene belofte wat enigeen somaar vir homself kan toe-eien nie. Nee, hierdie belofte van God is verbind aan ’n spesifieke opdrag. God het aan Josua ’n heel spesiale taak gegee.

En alleen solank Josua daardie opdrag vervul en daardie pad gaan, sal die HERE hom nie begewe en nie verlaat nie. Daardie belofte mag Josua met hom saamdra. Dit sou hom staande hou. Daarop kon Josua bou solank as wat hy sy roeping in alle erns aanpak. Maar as hy sy amp sou versaak, sou hy alleen en reddeloos staan in die lewe. Dan was hy God se heerlike versekering ook kwyt.

Josua kon weet: die intog in Kanaän is geen haglike onderneming nie. Dit is alreeds ’n voldonge feit. Die lankverwagte land is hulle GEGEE. Die welslae van hulle militêre onderneming is ’n voldonge feit.

God het sy eie bestaan op die spel geplaas.

As Hy nie sou woord hou nie, kon Hy maar ophou om te bestaan.

Aan die trou van God kon Josua hom vasklem om onbevrees en vasberade Israel die beloofde land binne te lei. Hy is nie van die taak ontslae om die stryd aan te pak nie. Maar hy mag weet dat die HERE oral waar hy gaan, met hom sal wees.

Op grond van God se trou, word dit dan ook ’n bevel: “Wees sterk en vol moed...”

Hy mag deel wees van die volvoering van God se eeue-oue heilsplan.

Kyk, so mag en moet ook ons die onbekende toekoms tegemoetgaan. Die kerk is vandag veel nader aan die voltooiing van die groot heilsproses wat God met Israel op die oog gehad het.

Die Here Jesus het intussen gekom. En sy terugkoms om die heil van sy volk te voltooi, is aanstaande.

Nou mag baie in ons lewe en in die geskiedenis wegval, maar sy belofte oor sy kerk bly standhou! As Josua sy opdrag kry om die volk Israel in die beloofde land binne te lei, dan klink die volle bevel egter so: “Wees sterk en vol moed... om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg jou beveel het. Wyk daarvan nie links of regs af nie...”

As die HERE vir Josua sê: Wees sterk en vol moed, of soos hier letterlik staan, dapper en standvastig, dan is dit nie ’n kwessie van liggaamlike en geestelike moed wat Josua moet besit nie.

Nee, die HERE verwag van hom dat hy onversetlik moet wees in die hou-van-die‑HERE-se-gebooie, of soos hier letterlik staan, die Thora!

Die wet van Moses, die Thora - dit is wat Josua en die volk gedurig in gedagte moet hou.

Kyk, Israel moes die verskriklike heidendom in Kanaän binne. Daar sou hulle lewe bedreig word deur die ontsettende verleidelike Baäl- en Astartediens.

Maar nou het die HERE byvoorbaat aan hulle sy pragtige Thora laat ons sê: sy Vaderlike onderwysing - gegee. As hulle daaraan sou hou, sou hulle rein bly, sou hulle geen vermenging met die goddelose lewenswyse van die Kanaäniete hoef te vrees nie. Hulle lewe in Kanaän sou slaag. Hulle sou hulle heilige afsondering - dat hulle God se eiendom is, kon bewaar!

Al wat nodig was, was dat hulle noulettend volgens die HERE se verbond en voorskrifte sou lewe.

Die HERE leer ons dat Josua en Israel se konkrete vyande self in Kanaän nie die gevaarlikste was nie. Wat die grootste gevaar ingehou het, was hulleself. Hulleself kon dalk van die pad van die Skrif, van die pad van die verbond afdwaal.

Ons leef in ’n tyd van ontsaglike gevare. En daar is mense wat ons gedurig daarvoor waarsku.

Seker, ons moenie gevare wat ons van buite bedreig geringskat nie. Ons moet ons vyande ken. Maar dit op sigself kan ons tog nie behoue anderkant laat uitkom nie.

Duisendmaal belangriker is die vraag of ons die HERE aan ons kant het. En ons kan alleen van die ondersteuning van die HERE verseker wees as ons noulettend doen wat sy Woord sê, as ons waarlik in die verbond met Hom lewe en daarin groei.

Kyk, in Jesus Christus het God ons verlossing geskenk. In Hom het God ons afgesonder om sy verbondsvolk, sy kerk, te wees. Ons is geheilig!

Maar nou mag ons nie anders as waardig hierdie verlossing lewe nie. Ons moet as verlostes die opdrag wat die HERE ons in die verbond gee, sien.

En deur niks mag ons ons van dié pad laat afdwing nie. Ons moet dié stryd - wat ook ’n stryd teen ons ou natuur is met alle krag aandurf.

Ons moet ons ook rein bewaar van die wêreld. Ons moet glo in die Here Jesus en in nou lewensgemeenskap met Hom alles in ons lewe aanpak.

Dan kan vyande - wie hulle ook al is maar kom. Hulle kan dreigend teenoor ons kom staan. Hulle kan ons alles wil ontneem. Maar in dit alles weet ons één ding: Die HERE sal ons nie begewe en nie verlaat nie.

As ons egter nie so wil lewe nie, is ons sy heerlike belofte ook kwyt.

Dan mag ons hierdie woorde nooit eers in ons mond neem nie.