Bron: Kerk en Woord, 2001. 5 bladsye.

Judas 3 - Stry Kragtig vir die Geloof

Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Judas 3

Baie mense wat hierdie teks hoor, dink nou begin dit weer, die ou gehamer op stryd, stryd, stryd. Die vlae wapper en die baniere is styf gespan. Die strydkrete dawer en die vyand is amper verslaan. Nee, baie skuif hierdie teks liewers eenkant. Hulle dink aan woorde soos metodisme, fundamentalisme, viktorianisme, parade-mentaliteit, strydende kerkpsigose, kortsigtige idealisme.

Judas begin met die seëngroet wat spreek oor barmhartigheid, vrede en liefde. Dit klink werklik nie oorlogsugtig nie. Die woord vrede word selfs gehoor. En dan nou tog: stryd, veldslag, kragtige oorlog? Vrede vers 2, stryd vers 3 ? Is dit nie ’n teenstelling nie? Is dit nie ook iets wat jou werklik afstoot òf in die arms van een of ander opwekkingsbeweging dryf nie?

Daarom: wat is die bedoeling van Judas met sy brief?

  • Sy gekose uitgangspunt,
     
  • Die dringende noodsaak tot hierdie brief,
     
  • Die verpligte inhoud van hierdie brief.

Die Gekose Uitgangspunt🔗

Stryd is nooit die uitgangspunt in die Skrif nie. Daar word wel baie oor stryd in die Bybel gespreek. Maar dit is nooit die eerste nie. Anders sou ons in ’n werkverbond lewe. Ons staan in ’n genadeverbond, en daarom gaan nie die werk van ons voorop nie, maar die genade van God. Dit is en bly punt een. In ’n verbond is die historiese proloog punt een: “Ek is die Here wat jou uit die land Egipte uitgelei het” staan voorop. Dit is die basis. Daarom kan Judas met barmhartigheid en vrede en liefde begin. Die verbondsbelofte gaan voorop. So is dit ook in die briewe van Paulus.

As Judas skryf, gaan dit oor ons gemeenskaplike heil. Ons vertaling lees hier “saligheid” maar dit is vandag ’n onbegryplike woord. Ons sê tog nie dat God Israel uit die hand van Egipte salig gemaak het nie? Salig maak? Dit is bevry, red, verlos, uitruk! Daaroor wil Judas skrywe.

In vers 5 gebruik hy dieselfde woordstam en daar gaan dit juis oor die verlossing uit Egipte. Judas herinner sy lesers daaraan dat die Here Israel uit Egipteland gered het. In vers 23 kom die woord weer terug. Ons vertaal daar tog ook nie: ander moet julle met vrees salig maak nie? In vers 25 word God weer Redder genoem. Die redding is ’n tema in hierdie brief. Judas dink aan Christus, maar tegelyk aan die paasgebeure in Egipte. En dan word dinge baie konkreet: Jesus Christus het in die paasnag sy volk verlos, Hy, die laaste Josua! Die Christelike kerk deel in sy paasverlossing.

Judas sê: dit is die gemeenskaplike of algemene heil. Dit beteken nie dat elke mens hieraan deel het nie, maar dat die kerk deur die geloof daaraan deel het. Buite die kerk geen saligheid, geen redding nie. Maar in die kerk een algemene, gemeenskaplike verlossing.

Die uitspraak is van betekenis. Daar is gaan aanneming van die persoon by God nie. Geen rykes gaan voor nie. Ook geen blankes nie. Maar ook nie mense met meer ervarings nie. Elkeen is immers nie afhanklik van sy gevoelstoestand nie, niemand is méér gered as die ander nie. Want om gered te wees, is om verander te wees in die Paaslam Christus.

In die paasnag was daar vir Israel, wat die doodsengel verby sien gaan het omdat daar bloed aan die poste was, ’n gemeenskaplike Redding. Waarom? Omdat Israel goeie kwaliteite had? Nee, dit leer Deuteronómium wel anders. Nie om julle sterkte, nie om julle talrykheid nie, maar om die barmhartigheid van die Here, om die bloed van die Lam, en daarom was daar ’n gemeenskaplike redding. Daar was geen A, B of C klasse nie. Algemeen, kommunaal, ieder deel daarin deur die geloof. En dink hier aan die nagmaal.

As die nagmaal ’n versekering van u eie heilstand is, ja, dan verseker die nagmaal by die een soveel persent, by die ander soveel persent. Maar die nagmaal is ingestel by die paasmaal. En Christus is die Manna. En die een Israeliet het eweveel manna gekry as die ander. Hy wat baie ingesamel het, het niks oorgehad nie en hy wat min ingesamel het, het nie te min gehad nie      (Ex. 16: 18). Alles gemeenskaplik, net soos die eerste gemeente in Jerusalem.

Daar is ’n kommunale heil. Dit lê vas in Jesus Christus. En die nagmaal verseël dit. Daar is wel verskillende charismata, gawes. Maar die héil as sodanig in Christus is vir elkeen gelyk. Judas sê: hy doen moeite, wend ywer aan. In Grieks: spoudé, vergelyk ons woord: spoed. Dit kom ook in die bevestigingsformulier voor: Dat die ampsdraers ywerig moet wees in die bediening.

Maar nou moet ons nie dink: Judas is van plan om oor die gemeenskaplike heil te skryf en nou kom hy later op ’n ander idee. Hy gaan oor stryd skrywe. En dit staan los van die gemeenskaplike heil. Want so is dit nie.

Die drie keer wat hy nog oor “om te red” spreek, bewys dat die redding (deur Christus) die onderwerp in hierdie brief bly. Judas kies nie ’n nuwe tema nie. Ook as hy oor stryd gaan spreek, hang dit juis met die redding saam. Ons trek ook hier die lyn deur na die nagmaal. Ons is mense van departementalisasie. Alles in vakkies. Ons werk môre. En gaan oormôre uit. Maar skryf ons bo alles: ons gemeenskaplike heil? Ons Pascha is vir ons geslag? Dit is tog die basis van alles? Die nagmaal mag nie op ’n eiland staan nie. Dit moet hom ook aan alle sektore van ons lewe meedeel. Judas skrywe en beplan om te skrywe oor die gemeenskaplike verlossing.

Die Dringende Noodsaak van Hierdie Brief🔗

Die nood is my opgelê, sê Paulus. Wee my as ek anders doen. So spreek Judas ook. Dit herinner aan Jeremia wat in die gevangenis sit en eintlik maar tou wil opgooi. Dan word dit in sy hart as ’n brandende vuur. Hy moet. So is dit ook met Judas. Hy moet nou skryf. Hy haas hom. Spoed­bestelling. Vanwaar die haas? Vers 4 gee die oplossing.

Dwaalleraars het ingesluip. Onwettig het hulle die gemeentehuis ingesluip. Hulle is plakkers, onwettige plakkers op die “Crossroads” van die gemeente. Amalekiete, Moabiete wat nie eers in die vergadering mag kom nie. Bileam-mense en Korag-teensprekers.

Nou is hier, dink ek, die punt wat alles beheers in verband met die algehele indruk wat Judas maak. Sê maar rustig: dit lyk of ’n klein terriër staan en blaf na die maan. Hy skel oor waterlose wolke en dwaalsterre, maar is dit nie ’n vergeefse gerammel met woorde nie? Is daar noodsaak? En moet dit dan so?

Ons kan dit ook omdraai. Baie mense stel by voorbaat vas dat hulle geen stryd wil nie. Dus - so konstateer hulle - daar is geen noodsaak nie. Hulle wil tot vrede dus skakel hulle die noodsaak van oorlog uit.

Maar Judas sê: die vrede, die barmhartigheid, die liefde, maak dat daar wel ’n noodsaak vir stryd is. In verband met barmhartigheid word dit in verse 22 en 23 duidelik ontvou. God het barmhartigheid wat Hy aan ons gee. Op grond van daardie barmhartigheid moet ons diegene wat ’n verkeerde leer aanhang, red. Dus hulle weer betrek by die gemeenskaplike heil. Dus vanuit liefde, vrede en barmhartigheid spruit die ywer en noodsaak om te skryf voort.

Daar is barmhartigheid en onbarmhartigheid. Wie is barmhartig? Dis nie die man wat nie waarsku nie, maar juis hy wat waarsku. En niemand moet nou sê: Watter harde taal of terme gebruik hy nie. Want hy handel uit noodsaak, die nood is hom opgelê, hier staan hy, hy kan nie anders nie.

Voorgangers in die gemeente moet uit liefde en barmhartigheid lewe. Nie net predikante nie, maar ook ouderlinge. Dit beteken dat hulle die noodsaak tot bepaalde dinge moet aanvoel.

By Judas lei dit tot hierdie brief. By ons kan dit tot ander dade lei. Maar baie keer word gesê: Ek sien nie die noodsaak daarvan nie. Die tyd is nog nie ryp nie. Dit gee te veel moeilikheid.

Op grond van hierdie argument is baie kerke, ampsdraers en gemeentelede op ’n dooie spoor geplaas. Die liefde dring hulle nie tot alles nie en hul barmhartigheid het grense. “Laissez faire, laissez aller.” Laat maar loop.

Die gevolg is dat indringers en plakkers onwettig op die kerklike werf kom en hulle daar vestig. En wys jy met ’n vinger na hulle dan is almal kwaad vir jou. Die indringers vra met ’n beroep op die liefde toleransie: “Ons is ook gereformeerd. Jerusalem is tog die stad van vrede?”

Die Verpligte Inhoud van Hierdie Brief🔗

Maar wat lees ons nou by Judas? Die verpligte inhoud van sy brief handel oor: Om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

  • Wat is bedoel met “geloof”?
     
  • Wat is bedoel met “eenmaal”?
     
  • Wat is bedoel met “oorgelewer”?
     
  • Wat is bedoel met “om kragtig te stry”?

Geloof🔗

Ons kan spreek van die geloof waarmee ons glo. Maar mens kan ook spreek van die geloof wat jy glo. Dus die geloofsinhoud. Die laaste is hier bedoel. Maar dan so dat dit kragtig aanvaar word deur die hart. Jy stry nie vir formules nie, maar vir dit wat vir jou waarde het. Die noodsaak wat Judas dus sien, is om op te roep, te vermaan om vir die inhoud van die geloofsbelydenis kragtig op te kom.

Wanneer ons geloof en werke onderskei, credenda en agenda, konfessie en etiek, dan gaan die geloofsbelydenis, die konfessie, altyd voorop. Van daaruit kry die lewe gestalte.

Maar dan is dit nie so dat mens gerus kan wees as ons ’n kerkorde en ’n belydenis het nie en as in artikel 1 van die statute staan dat die grondslag die belydenis is nie. Judas weet dat dit die eiendom van elkeen, met name van die ampsdraers, moet wees.

Petrus 1: 1 groet hulle wat ’n ewe kosbare geloof het. Dit is ook weer die geloofsbelydenis. Ons het ’n gemeenskaplike heil en daarom ’n gemeenskaplike belydenis, of “geloof”. En daarom moet dit ook gemeenskaplike eiendom wees.

Ons leef in ’n demokratiese tyd. Maar meeste mense wil net demokraties wees as hulle geld of invloed sien. Dat die geloofsbelydenis gemeenskaplike eiendom is, iets om voor te stry dit wil hulle liewers nie.

Daarom: Ken ons die belydenis? Ken die ampsdraers die belydenis (met insluiting van die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls)? Is dit so dat katkisante en ons ouers besef dat die katkisasie daar is om die geloofsbelydenis in te prent sodat daarvoor gestry sal word? Besef ons dat die belydenis ook by die nagmaal die inset van die handeling is? In die formulier is die belydenis nie deel van die gebed nie, maar dit is ’n daad van die gemeente vóór die nagmaal.

Eenmaal🔗

Die woord “eenmaal” word baie maklik gebruik: “Dis nou eenmaal so.” “Ek het nou eenmaal ’n hekel aan hom.” Maar “eenmaal” beteken: een keer, eens vir altyd. Engels: “once and for all.” So staan dit in Hebreërs: Christus het een keer gesterf. En so is dit ook my die belydenis. Dit is eenkeer oorgelewer, definitief. Ons het nie ’n nuwe geloofsbelydenis nodig nie, en ’n nuwe aanvulling van die Bybel nie, Sola Scriptura staan hier. Die geloofsbelydenis is definitief oorgelewer.

Oorgelewer🔗

“Oorgelewer” is oorgedra. Deur die apostels aan die heiliges, die Jerusalemse gemeente. So sê Paulus dit ook: Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het. Dit is ontsaglik belangrik dat die woord “eenmaal” daar bystaan. In vers 5 kom dit terug. Julle weet dit eenmaal, vir altyd, definitief. Herhaling is nie nodig nie, aanvulling ook nie.

Christus het eenmaal gesterf. Die geloof is eenmaal oorgelewer. Dit is nie nodig dat Christus nog ’n keer sterf nie. Maar dit is ook nie nodig dat daar iets by die geloof bykom nie. Die oorlewering het plaasgevind. Daar is nie ’n oop kanon nie. Daar is nie ’n aanvullende openbaring nie.

Om te Stry🔗

En so kry die “om te stry” sin. Dit is om te handhaaf en te hou. Stry teen supplemente by die geloof. Stry teen oorwoekerings, aangroeisels, toevoegings tot die geloof.

Kyk nou na die situasie in Judas se dae. Valse profete dring in as plakkers op die kerkwerf en voeg vreemde bymengsels aan die geloof toe. Hulle saai rewolusie. Kyk na die situasie in ons dae. Orals kerklike plakkers, indringers, wat die geloof van bymengsels voorsien.

Wat is dan die taak? Om in naam van die barmhartigheid en die vrede en die liefde alle kragte in te span om die ou geloof (belydenis) te handhaaf. Dit moet ook om ander te kan red, in barmhartigheid te kan verlos van verkeerde beginsels. Kyk na verse 22 en 23.

Ampsdraers moet dus juis vanuit die barmhartigheid die geloof sentraal stel. Van ’n ampsdraer word nie meer gevra as van ’n gewone gemeentelid nie. Maar wel is dit so dat hierdie geloofstryd ’n minimum-eis is om ampsdraers te wees.

Hierby moet ons nie net aan ouderlinge dink nie, maar net so goed aan diakens. Die mening heers soms dat die ouderling die stoere figuur is, heeltemal tuis in die dogmatiek, en dat die diaken kom met ligter lektuur en blommetjies.

Dit is ’n totale misvatting. Die ouderlinge kom in die kielsog van die prediking, so kom die diakens in die lyn van die amptelike bearbeiding deur die ouderlinge. Hulle taak is aanvullend, maar hul uitgangspunt moet dieselfde wees. Anders kom daar ’n “social gospel”, ’n humanitêre benadering van mense, los van die geloofsinhoud. Ook diakens is soldate, opgestel in die heilige oorlog. Hulle het dieselfde taak om te stry vir die geloof wat aan die heiliges oorgelewer is.

Vanuit ons teks word ook die adres (vers 1) baie duidelik. As ons die vertaling “geheilig” handhaaf, dan kry ons drie dinge: geheilig, bewaar (gereserveer), geroep. Om te heilig is om apart te sit. Om te bewaar druk dieselfde uit. Om te roep dui die aparte, spesiale taak aan.

Die kerk bestaan dus uit mense wat roeping het. Waartoe? Tot die heilige oorlog. Om te stry, jou in te span vir die geloof wat eenmaal, “once and for all”, aan die destydse Jerusalemse heiliges oorgelewer is. Roeping het ons dus almal.

Wat is dit? Roeping om te stry, ja. Maar waar kom dit vandaan? Is dit omdat jy daar iets voor voel, omdat jy ’n inwendige roeping het? ’n Inwendige stem?

Nee. Roeping is roeping deur die Woord. Ons is nie geroepenes tot die heilige oorlog omdat ons van nature sulke goeie mense is nie. Ons is uit vrye genade geroep, gekies, waardig geag.

Waardig geag om vandag te mag stry. Te mag stry vir die behoud van ons jeug. Te mag stry vir die deurwerking van die Woord. Te mag stry om ons volk terug te roep wat ongeïnteresseerd is in die stryd vir die geloof, die konfessie en daarvan ook vervreem is deur kerkloosheid en kategismusverdringing.

Die leer is op die trupad onder ons volk. Wat is ons antwoord? O ja, dan is jy ’n barse en grimmige man as jy dit sentraal stel. Judas is nie verniet ongewild nie.

As ons werklik ons Heiland liefhet, dan kan ons nie draadsitters wees nie. Dan het ons alles daarvoor oor.

Eenmaal is Christus gekruisig, eenmaal het Hy opgestaan. Eenmaal is die geloof oorgelewer. En daar mag niks meer bykom nie. Maar wat ons het, laat ons dit vashou.

Om vas te hou, beteken nie om dit in die argief te bêre nie. Maar: om te stry om dit te handhaaf en te hou.

Dit waarvoor jy nie hoef te stry nie, ken en waardeer jy nie. Daarom staan daar in die bevestigingsformu­lier dat die ouderlinge moet oefen in die bepeinsing van die verborgenhede van die geloof en in die ywerige - dis ’n woord uit Judas vers 3! - ondersoek van die Woord om goed wag te kan hou teen die wolwe wat onder die kudde van Christus mag inkom.

Sodra dit formaliteite word, is die kerk lamgelê. Dan word die stryd ’n stryd van mense met stokperdjies. Daarna word elkeen ingeprent dat dit snaakse mense is met snaakse stokperdjies. En daarna sterf daardie stokperdjie-mense en die strydlose Christendom neem oor. Dan sterf die Christendom self en die materialisme, pragmatisme, postmodernisme of nihilisme neem oor.

Daarom ’n beroep op almal. U is geheilig en bewaar en geroep. Die barmhartigheid en vrede en liefde van God in Christus vra aan u: Stry die goeie stryd van die geloof (1 Tim. 6: 12). Ly desnoods verdrukking soos ’n goeie soldaat van Jesus Christus (2 Tim. 2: 3).

Dit is ’n betroubare woord: As ons met Hom gesterf het, sal ons met Hom lewe. As ons Hom verloën, sal Hy ons verloën (2 Tim. 2: 11, 12).

“U volk gereed tot dapper krygsmansdade, sal met U uittrek op die dag van stryd. Hul sal verskyn in heil'ge feesgewade, In diensplig een en al gewilligheid.” (Ps 110: 3)