Bron: Die Kerkblad, 1989. 6 bladsye.

Judas Iskariot, Sy Verraaier

Bloot die noem van sy naam gryp elke Christen vir eeue lank aan. Die naam vertel van die apostel wat sy Meester verraai het. Ons sien hoe die Saligmaker van die wêreld as 'n geboeide van die tuin van Get­semane weggelei word – deur die daad van een van Sy dissipels. Ons dink aan daardie vreeslike nag en die soen van verraad. Die naam Judas vertel alleen van hom wat hom aan die aller ernstigste sonde skuldig gemaak het. Hier is alle vertroue geskok. Judas Is­kariot … dit is die een wat Jesus verraai het!

Verskillende mense het al ver­skillende dinge van Judas gesê. Dikwels word wat goed is, kwaad genoem en wat kwaad was, goed. Dante, die Middeleeuse digter be­skryf hom in die aller ellendigste toestand in die hel. 'n Ander noem hom selfs die grootste gelowige!

Die Christen-gelowige mag Judas Iskariot egter alleen beoordeel volgens God se Woord. Ons mag nie teenoor die oordeel van God 'n menslike barmhartigheid stel nie. God se vonnis oor hom was regver­dig. Daaraan moet ons ons hou.

Wat sê die Heilige Skrif?🔗

Daar is baie buite-Bybelse verhale oor Judas Iskariot. Selfs Papias, 'n biskop van Hiërapolis in die 2de eeu, het eienaardige dinge oor hom geskryf. Maar ons moet baie versig­tig wees. Dit is alleen die Heilige Skrif wat ons hier kan lei. En dan nog sal baie vrae nooit beantwoord kan word nie. Selfs in die Bybel is daar nie 'n deurlopende beskrywing van Judas se lewe nie. Inteendeel, slegs nou en dan verskyn hierdie dissipel in die Evangelies op die toneel. As persoon het hy alleen betekenis in soverre sy lewe met Jesus Christus in verband staan. Daarom is daar niks meer beskryf as wat nodig was vir die werk van Christus nie. Ons vind alleen los taferele uit sy lewe. Hier en daar 'n greep.

Soos die Lig van 'n Vuurtoring🔗

Die geskiedenis van Judas Iskariot kan ons vergelyk met die lig van 'n vuurtoring in die wye oseaan: nou en dan 'n ligstraal en dan weer skielik duisternis. Of nee, so mag ons dit nie sê nie. Ons moet die beeld omkeer: die skitterende stralende lig van die Evangelie word plotse­ling nou en dan deur die donkerte onderbreek.

Wat ons opval, is dat daar in die Skrif niks goeds van Judas vertel word nie. Alles wat ons van hom lees, is alleen sonde en ongeregtigheid. Gelukkig vir die volk van die Here, kon die duisternis van Judas nie die glans van die Son van Geregtigheid verdonker nie. Die Evangelie van Jesus Christus is die helder lig wat alle duisternis verlig.

Kariot, Judas se Geboorteplek🔗

Gaan saam met my in die gees na die plek Hebron. Hoog in die Berge van Judea in die Suide lê hierdie dorp, 951 meter bo seespieël. Hierdie bergwêreld lyk soos 'n wêreld van verlatenheid. Kaal kalkrotse met baie spelonke toon iets vreesagtig. Dit is 'n droë wêreld. En daar op die punt van die bergrug waar die landskap weer afdaal na die suide, daar vind ons die ruïnes van die ou dorpie Kariot. Dáár, op hierdie plek, ongeveer in die tyd toe Jesus in Bethlehem gebore is, is hier ook 'n seun gebore. Dit was in die huis van 'n man met die naam van Simon (Johannes 6:71). En toe gee Simon en sy vrou aan hierdie seuntjie 'n mooi naam: Judas, volgens die stam­vader van die stam Juda. Blykbaar het hulle groot verwagtings van hierdie seun gekoester. Die naam Judas beteken: Hy sal God loof!

Ag, hoe vreeslik is die verwag­tings oor hierdie seun beskaam. Hy sou die man word wat Jesus sou verraai. Judas Iskariot – man van Kariot – van wie Jesus sê:

Wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.

Die Onverwagte Vraag🔗

Toe Jesus hierdie woorde in Matteus 6:24 uitgespreek het, kom die onmiddellike vraag van Judas Iskariot: "Is dit miskien ek, Rabbi?"

Jesus kon nie 'n leuen vertel nie. Die antwoord aan Judas is mee­doënloos: "Dit is soos jy sê!" (Matteus 26:25).

Op sekere dag het Judas vir Jesus ontmoet. Ons weet nie presies hoe dit gebeur het nie. Waarskynlik was dit toe Jesus in die openbaar begin optree het. Waarskynlik was Judas baie geïmponeer deur Jesus se op­trede. En toe het Jesus se oë op Judas geval. Hy het hom tot een van sy dissipels geroep. Dadelik het Judas alles agtergelaat en Jesus ge­volg. Hy het een van die twaalf ge­word.

Waar Jesus Gegaan het, het Hy Gegaan🔗

Die verraaier het een van die apostels geword. Hy het aan Jesus "behoort". Waar Jesus gaan, het Judas gegaan. Hy het saam met Hom geëet. Hy het saam met Hom geloop. Hy het saam met Hom ge­rus. Waarskynlik saam met Hom oornag. Daar was 'n band tussen hulle. Judas het Jesus se brood geëet (Johannes 13: 18). Volgens die uiterlike lewe was daar één lewe, één wandel, één omgang. Uiterlik het Judas Iskariot by Jesus behoort.

Judas die Apostel🔗

Judas het Jesus se apostel geword. Met die res van die twaalf het hy in die apostelamp gestaan. Dit was 'n bediening wat aan hom toevertrou is (Handelinge 1:17). Saam met die ander het Judas van Jesus gepreek. Saam met die ander apostels is hy uitgestuur, het hy krag oor die duiwels ontvang en kon hy siekes ge­nees. Hy het die koninkryk van God verkondig en hy kon dus buitenge­wone kragte doen (Lukas 9:1, 2; Matteus 10:1). Ook Judas Iskariot het die Woord van die Here ontvang dat dit vir Sodom en Gomorra in die dag van die oordeel verdraagliker sou wees as die stad wat Jesus nie ont­vang nie (Matteus 10:15). Hy het na Jesus teruggekeer en het van alles wat hy ondervind het getuig (Lukas 9:10). Ook het Judas stilswyend met die belydenis van die ander apostels ingestem. Judas Iskariot het al Jesus se wonders gesien. Hy het al Jesus se woorde gehoor. Hy het al die voorregte van die ander dissipels gedeel. Tussen hom en die ander apostels was daar uiterlik geen onderskeid gewees nie.

So sien ons Judas Iskariot as een van die twaalf saam met Jesus op die lewenspad.

Die Enigste uit Juda🔗

Daar was tog 'n kleinigheid wat Judas van die ander dissipels onder­skei het. Hy was die enigste uit die suide van die land, uit Judea. Hy was dus in 'n sekere sin 'n enkeling tussen die ander elf dissipels wat al­mal Galileërs was. Hy moes soos 'n Hollander onder elf Afrikaners voel, of soos 'n Afrikaner tussen elf Hollanders (Grosheide se beeld is Hollander en Fries). Daar is baie aanknopingspunte en tog is daar ook verskille. Dit lyk egter nie of hierdie verskille tussen die man van Juda en die ander van Galilea enige struikelblokke was nie.

Orde en Geldsake🔗

Saam met Jesus was dit 'n gesel­skap van dertien manne wat dag vir dag saam moes leef. Daar moes 'n ordereëling wees. Iemand moes as 'n vertroueling bv. die geldsake in orde hou. En hierdie man wat gekies is, was Judas Iskariot. Hy moes die beurs met almal se geld vir hulle daaglikse versorging dra. Maar juis hierdie feit dat hy oor die geldbeurs beskik het, sou vir hom 'n ver­soeking word. Hy het 'n dief geword en het van die geld gevat (Johannes 12:6).

Op die Oewer van die Meer🔗

In die dae van Jesus het daar wonderlike dinge op die noordelike oewers van die see van Tiberias ge­beur. Dit is 'n pragtige omgewing. Rondom die helder varswatermeer is die hoë, groen kalkagtige heuwels. Digby die oewer groei palms en vye, wingerdstokke en olywe. Hier, op hierdie pragtige oewer het die skares uit Galilea saamgestroom om na Jesus te luister. En op een van hierdie berge digby die meer het Jesus gesit om die skare aan sy voete te onderrig (Matteus 5). In die hele Kanaän is daar nie so 'n unieke, bekoorlike plek nie, so lieflik.

Op hierdie plek het Jesus ook die menigtes met vyf brode en twee visse gevoed (Johannes 6) ! Dit het die skare so beïndruk dat hulle Jesus sommer daar en dan wou Koning maak. Maar Hy het hulle ontwyk en eers die volgende dag vind hulle Hom weer by die sinagoge van Kapernaum. Hier openbaar Hy Homself as die brood wat vanuit die hemel neergedaal het.

Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel en my bloed is die ware drank.Johannes 6: 53 ev.

Hierdie prediking van Jesus het groot verontwaardiging ontlok. Dit was vir baie van Jesus se dissipels darem te erg (Johannes 6:60). Deur Jesus se prediking het daar 'n skeiding onder die mense gekom. Maar ook onder die enger kring van die twaalf dissipels het daar 'n skeiding begin. 'n Slang het onder hulle gekom.

Die Slang in die Hart van Judas🔗

Die duiwel het in die hart van Judas Iskariot begin inkruip. Al het hy nog te voet saam met Jesus gewandel, was sy hart nie meer by Hom nie. Judas het 'n huigelaar geword. En Jesus wou hierdie huigelary ont­masker. Van die begin af het Jesus geweet wie dit is wat nie in Hom glo nie en wie Hom sou verraai (Johannes 6:64). Juis toe so baie volgelinge vir Jesus verlaat het, het Hy vir die twaalf gevra: "Wil julle nie ook weggaan nie?" (vers 66).

Petrus het toe namens die ander geantwoord:

Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.Johannes 6:68, 69

Maar Judas sê nie 'n woord nie. Hy bly ook by Jesus. En toe spreek Jesus hierdie dramatiese woord: "Het Ek nie self julle twaalf uitge­kies nie? En een van julle is 'n duiwel!" (vers 70).

Hier is die begin van 'n vreeslike geskiedenis, hier op die pragtige oewer van die see van Tiberias.

Na die gebeurtenisse by die See van Galilea (Johannes 6) toe Judas skynheilig gekies het om by Jesus te bly, sou die krisis in sy verhouding met Jesus verskerp word. Openlik sou die mense dit nie raaksien nie, maar Judas self het dit geweet, dat hy nie meer by Jesus hoort nie. Hy het Jesus nou anders gesien. Sy hart was nie meer by Jesus nie. Maar daar was tog nog dinge wat hom aan Jesus en die ander dissipels gebind het: die geldbeurs wat hy gedra het. Hieruit het Judas vir homself geld geweet (Johannes 12:6).

Die Begin van die Einde … van Jesus en van Judas🔗

Vir 'n lang tyd hoor ons niks meer van Judas Iskariot nie, tot kort voor Jesus se kruisdood, naby die einde van Jesus se lewe. Maar dit is ook naby die einde van Judas se lewe. Juis in hierdie laaste fase is dit kompleet of Jesus en Judas se lewens deurmekaar gestrengei word. Merkwaardig, in die lydens­geskiedenis, kom geen een van die dissipels se naam so dikwels voor as die van Judas Iskariot nie. Dit kan nie anders nie, want hy is dan juis die een wat Jesus sou verraai!

Christus se lyding het begin. Hy het vir die laaste keer na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier, die Paasfees waarin Hy self die Lam sou wees wat geoffer moes word.

Ses dae voor hierdie Paasfees, kom Jesus en sy dissipels by die dorpie Litanie aan. Sy vriende onthaal Hom met 'n ete. Dit is in die huis van Simon vir wie Jesus van melaatsheid genees het. Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, is een van die vriende. Martha, Lasa­rus se suster, bedien die gaste. Miskien was dit feesmaal om die opwekking van Lasarus te vier. Ons weet nie met sekerheid nie. En toe het Maria, die ander suster 'n merkwaardige ding gedoen.

Maria Salf die Voete van Jesus🔗

Terwyl die mense eet kom Maria met 'n halfliter egte, baie duur nardusolie en gooi dit op Jesus se voete uit. En toe droog sy Jesus se voete met haar hare af (Johannes 12:3). Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie. Alles vertel van 'n merkwaardige toewyding en eerbetoon aan Jesus.

Maar ewe skielik verbreek Judas Iskariot die stilte. Deur hom gaan die duiwel toeslaan. Sy liefde vir geld kan dit nie uithou nie. Hy het ook goeie kennis van aardse sake en het ook dadelik 'n berekening van die reukolie se waarde gemaak – 300 silwer muntstukke. 'n Baie groot bedrag. En met 'n vroomheid asof hy hom oor die armes ontferm, verwyt hy hierdie vermorsing, want die reukolie kon verkoop word en die geld aan hulle gegee word vers 6).

Meteen is die breuk tussen Jesus en Judas groter. Dit kom na buite. Nader, nader na die einde … Jesus het geweet: Judas was nie oor die armes bekommer nie, maar hy was 'n dief en het van die geld uit hulle gemeenskaplike beurs geneem. Hy wou meer geld hê. Met 'n openlike teregwysing gryp Jesus in:

Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om my te salf vir my begrafnis.Johannes 12:7

Vir die eerste keer het Judas homself in die openbaar verraai.

Die 30 Silwermuntstukke (Matteus 26:15)🔗

By Betanië het die skeiding tussen Jesus en Judas heeltemal geword. Nou het die duiwel hom heeltemal in sy mag gekry. Die plan van verraad is toe in die hart van Judas geplant (Johannes 13:2). Hy verlaat die gesel­skap om na Jerusalem te gaan, waarskynlik met een of ander voorwendsel. Nou het hy net een koers: na die tempel, na die priesterhoofde! Hy weet goed dat hulle Jesus wil vang en doodmaak.

En daar kry Judas die priester­hoofde. Hulle was juis besig met hulle sameswering. Hy stap sommer binne en onderbreek hulle geselskap. Dit bars uit sy mond: "Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom?" (Matteus 26:15).

En toe word die prys betaal — die prys vir Jesus: 30 silwermuntstuk­ke. (Opmerking deur die vertaler: vir Maria is die prys van die reuk­olie nie te hoog nie: 300 silwermunt­stukke; Judas verkoop Jesus vir slegs 30. Vgl. ook Sagaria 11:12, 13). Dit is die prys van 'n slaaf.

Wat 'n vreugde vir die priesters! Te goed om waar te wees. Hulle was bly (Markus 14:11). Hulle was juis op daardie oomblik besig om Jesus se dood te beplan (Markus 14:1). Dat hulle nou werklik, ongevraagd, een van Jesus se dissipels kry om die werk te doen, is presies wat hulle nodig het!

Die pad van die verraad het nou die finale fase bereik. Vir Judas is daar nou geen ander doel meer nie as om Jesus in die hande van sy vyande oor te lewer nie. Nou moet daar aanhoudend op die regte ge­leentheid geloer word (Matteus 26:16). Maar dit kan nie gebeur voordat Jesus se uur gekom het nie, Dit is alles in die raad van God.

Nee, Judas het nooit hierdie bloedgeld verdien nie, want dit Was nie nodig om Hom hardhandig te vang nie — Hy het homself oorgegee! (Johannes 18:1-8).

Jesus was Judas se Voete🔗

Van nou af het Judas slegs een plan: Om Jesus te laat vang. Hy let op elke geleentheid. Hy luister na elke woord van die Meester. Maar Jesus laat nie vir Judas los nie. Selfs toe Judas met die plan van verraad rondloop, toe het Jesus hom nog gewaarsku. Dit het in die saal van die Paasfees gebeur, toe Hy die voete van sy dissipels gewas het – ook Judas se voete!

Toe Jesus by Petrus kom, weier hierdie dissipel eers, maar vra dringend om ook sy hande en gesig te was (Johannes 13:9).

In Jesus se antwoord wys hy nie alleen die enigste pad van redding aan nie, maar hy betrek direk vir Judas! Judas het niks gepraat nie, maar Jesus ruk hom tot die ernstige besef van sy toestand. Die verraaier word nogeens gewaarsku:

Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoe later niks meer as sy voete te was nie, En julle is nou skoon, maar nie almal nie.Johannes 13:10

Hier staan verder dat Jesus geweet het wie Hom sou verraaier en daarom het Hy gesê: "Julle is nie almal skoon nie."

Maar Judas het hom nie bekeer nier. Die Satan het hom ook nie losge­laat nie. Hy gaan net eenvoudig sterker op die pad van verraad.

Ons word nou toeskouers van die laaste fase van Judas se verraad. En toe het dit gebeur: Daardie ont­settende laaste woord wat Jesus tot Judas gespreek het. Dit was aan die Nagmaalstafel. (Grosheide stel die moontlikheid dat Judas nie die Nagmaal gevier het nie, maar kies tog die standpunt dit wel so was volgens die Evangelie van Lukas. Vertaler). Hier het Jesus sy verraaier presies uitgewys!

Aan die Eettafel🔗

Jesus en sy dissipels moes die Paasfees vier. 'n Goeie vriend het "'n groot bovertrek wat klaar daarvoor ingerig is" (Lukas 22:11, 12) beskikbaar gestel. Petrus en Johannes het toe nog verder alles in orde gebring.

Hulle was dertien manne aan die een tafel. Volgens die eeu-oue ge­bruik was al die voedsel waaronder die Paaslam gereed. Ook die beker met die kan wyn het daar gestaan. Ook speserye met ongesuurde brood. Ook die boek van die Psalms was by so 'n Paasfees beskikbaar, want daaruit moes gesing word. Op Oosterse manier het die manne soos op rusbanke aangeleun.

Judas was een van hulle. Hy het alles meegemaak. Hy het ook van die Paaslam geëet. Hy het ook uit daardie beker waarmee die Nag­maal ingestel is gedrink (Lukas 22:17). Jesus se woorde moet deur die hele wêreld gehoor word: "Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël met my bloed, wat vir julle vergiet word" (vers 20). Maar onmiddellik daarna kom die skok­kende ontmaskering juis aan die Nagmaalstafel: "Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel" (vers 21).

Jesus het hewig ontsteld geword (Johannes 13:21). Ook ontsteltenis onder die dissipels. Hulle begin mekaar uitvra wie tog so iets sou doen?

"Dit is tog nie ek nie, Here?"🔗

Die vrae van die dissipels het nog nie genoeg duidelikheid gegee nie. Judas is ook so behendig dat nie­mand hom verdink nie. Almal is onthuts. Een na die ander vra aan Jesus: "Dit is tog nie ek nie, Here?" (Matteus 26:22). Met oortuiging roep ook Judas uit: "Is dit miskien ek, Rabbi?" (vers 25). Die twyfel word ondraaglik.

Maar Petrus neem soos gewoonlik inisiatief. Onopsigtelik knik hy vir Johannes wat teen die bors van Jesus gelê het. (Onthou dat mense in die Ooste teen mekaar aanleun by die eettafel). Johannes begryp Petrus se wenk. Nou gaan hy nie meer vra "is dit ek" nie, maar reguit:

Here, wie is dit? Jesus antwoord: Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood wat ek in die sous ingesteek het, sal gee.Johannes 13:26

Waarskynlik het niemand anders behalwe Johannes en Petrus hierdie antwoord gehoor nie. Onthou dit was 'n eetmaal van der­tien mense en hulle gesels met mekaar.

En toe gebeur dit: Jesus doop 'n stukkie brood in die skottel met dadels en vye en gee dit aan Judas Iskariot. (In sy aantekeninge gee Grosheide 'n uiteensetting van die bak met dadels en vye, die sg. 'Charoset' wat deel van die Paas­maaltyd was. — Vertaler).

"Dit was nag"🔗

Tussen Jesus en Judas is alles nou opgeklaar. Die slottoneel van die groot drama het aangebreek. Daar is nie meer baie tyd nie. Jesus jaag eintlik vir Judas aan: "Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!" (Johannes 13:27). Die ware Paaslam moet geslag word! Niemand van die ander het hierdie woorde begryp nie. Die Skrif sê dat party gedink het Jesus stuur vir Judas om iets te gaan koop wat verder vir die Paas­fees nodig is of dat hy iets vir die armes moes gee (vers 29).

En daar gaan Judas. "Dit was nag" (vers 30). Die satansmagte gaan nou met geweld toeslaan. Hul­le gaan in die donker werk. En onder die son van 'n nuwe dag sal daar 'n kruis buitekant Jerusalem staan. Vir Jesus gaan die duisternis toesak. Maar vir Judas Iskariot is dit die ewige donker nag. Get­semane … die soen van ver­raad … die 30 silwer geldstukke wat aan die priesters in die tempel teruggegooi word … Judas se selfmoord.

Jesus gee sy lewe vir ander … Judas neem sy lewe vir homself…