Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Kan die moderne Christendom bly staan?

Sowat 'n maand gelede het 'n aantal geleerde teoloë van oor die hele land bymekaar gekom vir 'n seminaar oor die agtergrond van die Nuwe Testament. Dit was niks vreemds nie. Wat wel opgeval het, was dat 'n groot deel van die gesprek gedraai het om die vraag: Bestaan God werklik? En: Het ons in die Bybel die vaste waarheid van die evangelie?

Ongelowige gelowiges?🔗

Opsigself is dit al verbasend dat teoloë (dus: gelowiges) oor hierdie vrae debat voer. Wat egter verbysterend is, is dat daar op die seminaar enkele geleerdes was wie se antwoord op hierdie vrae duidelik nee was: Nee, God bestaan nie! En die Bybel — nou ja, dit is niks meer nie as 'n klomp boeke waarin mense hulle eie gedagtes oor 'n god neergeskryf het! Volgens hierdie geleerdes vind ons nie in die Bybel die waarheid oor God nie, omdat God in elk geval nie bestaan nie!

Skokkend? Ontstellend? Nog meer as dit: hierdie mense se standpunt is simptoom van 'n siek Christendom. Werklikwaar, as daarbinne die Christendom teoloë gehuisves word wat die bestaan van God Drie-enig betwis, dan is dit met ons soos die profeet Jesaja geskryf het: "Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank" (Jes. 1:5).

In ieder geval bring dit ons uit by 'n herwaardering van die moderne Christendom. Dit lyk of die moderne Christendom 'n koerslose en gesiglose maaksel van mense geword het. En dan die vraag: Moet ons ons beywer vir die uitbreiding van so 'n Christendom? Indien wel, waarmee is ons dan eintlik besig?

Die fokus vanaf Christus na die Christen🔗

Waarom het die Christendom koers verloor? 'n Moontlike antwoord is dat die fokus met verloop van tyd verskuif het vanaf Christus na die Christen, vanaf God na die mens. Die mens (Christen) het die middelpunt van die bestaan van die moderne Christendom geword, en daarom is dit van minder belang of "Christene" in die bestaan van God glo of nie, en of hulle hul krag in Christus vind of nie.

Uiteindelik word so 'n Christendom saamgebind nie deur 'n gemeenskaplike geloof in Jesus Christus nie, maar in 'n gemeenskaplike lewenstyl, wat as "die Christelike lewenstyl" met "Christelike waardes" bekend staan.

Die finale uiteinde van so 'n Christendom is dat dit nie net ongeloof huisves nie, maar ook vyandskap teen die ware geloof. Die apostel Petrus het in vooruitsig gestel dat so 'n toestand sal ontstaan, waar hy geskrywe het: "Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van die wederkoms..?" (2 Pet. 3:3). Duidelik bedoel hy dat hierdie spotters nie van buite af sal kom nie, maar uit eie geledere. Kan so 'n Christendom bly staan?

Werklik, hoe kan 'n Christendom wat in eie geledere twyfel het oor die bestaan van God, die aanslae van ons tyd trotseer? Hoe kan so 'n Christendom die krisistye wat vir die kerk voorlê, die hoof bied? 'n Mens dink onwillekeurig aan Jesus se woorde: "As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie" (Mark. 3:24).

Vir die gelowige is die antwoord voor die hand liggend. Oorlewing in hierdie onsekere tye hang nie af van die Christendom nie, maar van Christus. Daarom moet ons nie eenheid met 'n inherent kranklike Christendom soek nie, maar eenheid met Christus. Wie met Christus een is, is ook met mekaar een. Die ware Christendom word dus nie gevind in 'n gemeenskaplike lewenstyl of lewenswaardes nie, maar in 'n gemeenskaplike geloof.

In ieder geval is ons krag nie geleë in die getalle van die baie "Christene" met wie ons moontlik die hand kan vat nie. Ons krag is geleë in God — die ewige onveranderlike, almagtige God van hemel en aarde; God Drie-enig wat Hom in onbetwisbare waarheid in sy Woord aan ons openbaar; die God in wie ons glo en in wie ons ons krag vind (1 Kor. 2:5).